Die eksotiese guanabana
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
STEL jou voor hoe heerlik ’n kombinasie van aarbeie, kaneel, mango’s en pynappels smaak! Dit is hoe party die guanabana (uitgespreek gua·naʹba·na) beskryf. As jy nie in die trope woon nie, het jy dit waarskynlik nog nooit geëet nie. Die guanabana, wat ook die suursak (Annona muricata) genoem word, is ’n ovaalvormige groen vrug met doringrige uitgroeisels en sappige wit vleis waarin daar blink, donkerbruin pitte is.
Die suursakboom is immergroen en gevoelig vir ryp. Sy blomme word deur klein insekte, soos miere en sekere kewers, bestuif. Omdat die blomme nie nektar en helder kleure het nie, lok dit nie baie insekte om dit te bestuif nie. Die blomme is ook digogaam, dit wil sê die stamper en meeldrade word nie gelyktydig ryp nie. Vir kommersiële doeleindes moet dit dus met die hand bestuif word. Anders sal die boom net tussen 12 en 20 vrugte per seisoen dra. Guanabanas word gepluk net voor hulle ten volle ontwikkel het en hulle word baie gou ryp. Gevolglik is hulle redelik maklik bederfbaar.
Die guanabana, wat tot vyf kilogram kan weeg, is ’n goeie bron van niasien, riboflavien en vitamien C, en ongeveer 12 persent van die vrug is suiker. Maar vir die meeste mense is die vrug ’n bietjie te suur om te eet as dit nie versoet word nie. Die eetbare vleis word fyngemaak en deur ’n sif gedruk en hoofsaaklik in verfrissende vrugtedrankies en sorbets gebruik. ’n Tee wat van die blare gemaak word, is tradisioneel vir disenterie, verkoues en slegte spysvertering gedrink. In Mexiko is die tee as ’n kramp- en saamtrekmiddel gebruik. Die plant se wortels word as ’n wurmmiddel gebruik om parasitiese wurms dood te maak of af te dryf, en die sade word as ’n parasietafweermiddel of ’n insekdoder gebruik.
As die guanabana in jou omgewing beskikbaar is, kan jy dit gerus probeer. Jy sal dit beslis baie geniet!
[Venster/Prente op bladsy 15]
Guanabana-sorbet
2 koppies guanabana-puree
1 eetlepel suurlemoensap
7⁄8 koppie suiker
1 koppie water
1 koppie dun room
1. Druk die vleis van die guanabana deur ’n vergiettes, sif of kaasdoek om dit ’n puree te maak. 2. Meng die suiker en water, en kook dit vyf minute lank. Laat afkoel tot louwarm. 3. Voeg die puree, room en suurlemoensap by. 4. Gooi die mengsel in ’n vlak pan, bedek en vries tot amper hard. Klits goed. Sit dit weer in die vrieskas, en vries tot hard.
[Erkenning]
Bladsy 14 bo: Geo Coppens, CIRAD-FLHOR/IPGRI; bladsy 15 regs bo: IPGRI-Americas