’n Toevlug vir Bybeldrukwerk
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BELGIË
Byna 500 jaar gelede is van die eerste volledige uitgawes van die Bybel in Antwerpen, België, gedruk. Wat het drukkers van die Bybel na daardie stad gelok? Watter gevare het hulle getrotseer deur die Bybel te druk? Om uit te vind, moet ons teruggaan na die vroeë deel van die 16de eeu.
ANTWERPEN is by die mond van die Schelderivier geleë, 89 kilometer van die Noordsee af. In die 16de eeu, tydens sy sogenaamde goue era, het Antwerpen ’n ongekende ekonomiese bloeityd beleef. Trouens, die stad het vinnig uitgebrei en het Europa se grootste hawe en een van die min stede in Wes-Europa geword met meer as 100 000 inwoners.
Die groei in Antwerpen het handelaars van regoor Europa gelok. Hierdie feit tesame met die toenemende welvaart het bygedra tot ’n verdraagsamer gesindheid aan die kant van die stadsowerheid, met die gevolg dat Antwerpen ’n kweekplek vir nuwe idees geword het. Die verdraagsame klimaat het drukkers gelok wat gevoel het dat dit veilig was om hulle nuwe idees daar te druk en te versprei. Kort voor lank was die 16de-eeuse Antwerpen die tuiste van 271 drukkers, uitgewers en boekhandelaars. Die destydse magistrate het hulle stad met trots beskryf as “’n toevlug en kweekplek vir alle kunste, wetenskappe, nasies en deugde”.
Boeke en monnike word verbrand
Van die nuwe idees wat gedruk en versprei is, was dié van Martin Luther (1483-1546). Hy was die leier van die Hervorming, ’n godsdiensbeweging wat tot die ontstaan van Protestantisme gelei het. Slegs ses maande ná die begin van die Hervorming was Luther se boeke reeds in Antwerpen se boekwinkels. Die Katolieke Kerk was natuurlik nie gelukkig hieroor nie. In Julie 1521 het die kerk die openbare verbranding van 400 sogenaamde ketterse boeke in Antwerpen aangemoedig. Twee jaar later is twee Augustynse monnike van Antwerpen wat met Luther se idees gesimpatiseer het, lewendig op die brandstapel verbrand.
Hierdie aanvalle het nie ’n groep moedige drukkers in Antwerpen gestuit nie. Die moed van daardie drukkers het ’n belangrike rol daarin gespeel om die Bybel vir gewone mense beskikbaar te maak. Wie was party van daardie drukkers?
Van drukker tot martelaar
Adriaen van Berghen was ’n drukker en ’n boekhandelaar. In 1522 is hy in die blok gesit omdat hy Lutherse boeke verkoop het, en kort daarna is hy tot tronkstraf gevonnis. Sy tronkstraf is opgehef, maar hy het dadelik weer begin werk. Hy het weer drukwerk begin doen—hierdie keer ’n Hollandse vertaling van dele van Luther se “Nuwe Testament”. Dit is in 1523 uitgegee, slegs ’n jaar ná Luther se “Nuwe Testament” vir die eerste keer in Duits uitgegee is.
Maar in 1542, toe ’n groot aantal verbode boeke in Van Berghen se huis in Delft, Nederland, gevind is, is hy in hegtenis geneem. Eers het ’n regter hom ’n ligte straf gegee—twee uur op die skavot met “van die verbode boeke om sy nek”. Maar later is Van Berghen se vonnis na die doodstraf verander, en die moedige drukker is met ’n swaard onthoof.
’n Kantaantekening het hom sy lewe gekos
Destyds was die grootste drukker van Hollandse Bybels Jacob van Liesvelt. Hy het altesaam 18 uitgawes van die Bybel in Hollands uitgegee. In 1526 het hy ’n volledige Hollandse Bybel gedruk. Daardie Bybel is gedruk vier jaar voor die eerste volledige gedrukte Bybel in Frans verskyn het en nege jaar voor die eerste volledige gedrukte Bybel in Engels uitgegee is! Van Liesvelt se Bybel was hoofsaaklik gebaseer op Luther se Duitse Bybel wat toe nog nie voltooi was nie.
Van Liesvelt se finale Hollandse uitgawe van 1542 het houtgravures en nuwe kantaantekeninge bevat. Langs Matteus 4:3 was daar byvoorbeeld ’n houtgravure wat die Duiwel uitgebeeld het as ’n bebaarde monnik met ’n rosekrans en bokpote. Maar dit was veral die kantaantekeninge wat die Katolieke Kerk woedend gemaak het. Een aantekening—wat gesê het “Redding kom alleenlik deur Jesus Christus”—is as die grondslag gebruik om Van Liesvelt ter dood te veroordeel. Hoewel Van Liesvelt aangevoer het dat sy Bybel met die kerklike verlof Cum gratia et privilegio gedruk is, is hy in 1545 in Antwerpen onthoof.
Eers goedgekeur, toe verbied
Die bekende Katolieke humanis Jacques Lefèvre d’Étaples was intussen in Frankryk besig om die Bybel van Latyn na Frans te vertaal, hoewel hy ook die oorspronklike Griekse teks geraadpleeg het. D’Étaples wou die Bybel vir gewone mense beskikbaar maak. Hy het geskryf: “Hoewel dit nie nou so is nie, sal die tyd aanbreek wanneer die boodskap oor Christus suiwer sal wees en nie gemeng sal wees met mensetradisies nie.” In 1523 het hy ’n Franse vertaling van die “Nuwe Testament” in Parys uitgegee. Die teoloë van die toonaangewende Sorbonne-universiteit het sy vertaling afgekeur omdat dit in Frans was. Weens hulle aanval het D’Étaples uit Parys gevlug en na Straatsburg in die noordooste van Frankryk gegaan.
As gevolg van hierdie teenstand het drukkers in Frankryk dit nie meer gewaag om die Bybel in Frans te druk nie. Waar kon D’Étaples dan sy Bybel druk? Antwerpen was die logiese keuse. D’Étaples se uitgawe van die Bybel van 1530, wat Merten de Keyser in Antwerpen gedruk het, was die eerste Franse vertaling van die Bybel wat in een bundel verskyn het. Dit is interessant dat De Keyser sy vertaling gedruk het met die goedkeuring van die Katolieke Universiteit van Louvain, België se oudste universiteit, sowel as met die goedkeuring van die Heilige Romeinse keiser Karel V self! En tog is D’Étaples se vertaling in 1546 by ’n lys boeke gevoeg wat Katolieke lesers verbied is om te lees.
“Die Biskop het die boeke gehad . . . en Tyndale die geld”
Gedurende dieselfde tydperk in Engeland wou die geordende priester William Tyndale die Bybel in Engels vertaal. Maar die biskop van Londen, Cuthbert Tunstall, het hom afgewys. Toe Tyndale besef dat hy nie die Bybel in Engeland kan vertaal nie, het hy na Duitsland gevlug. Uiteindelik, in Februarie 1526, het hy daarin geslaag om sy eerste volledige Engelse vertaling van die “Nuwe Testament” te laat druk. Binne ’n maand het die eerste eksemplare van hierdie vertaling reeds in Engeland verskyn.
Biskop Tunstall was egter vasbeslote om te keer dat die gewone mense die Bybel lees. Gevolglik het hy elke eksemplaar van Tyndale se vertaling wat hy in die hande kon kry, verbrand. Tog het die Bybel in omloop gebly. Die biskop het dus gereël om al Tyndale se Bybels deur ’n handelaar met die naam Packington te koop voordat dit die vasteland verlaat en Engeland bereik het. Tyndale het die aanbod aanvaar en die geld gebruik om sy vertaling te verbeter en ’n hersiene uitgawe te druk. “En so is sy saak bevorder”, sê ’n bron van daardie tyd. “Die Biskop het die boeke gehad, Packington die dank en Tyndale die geld.” Derhalwe het die biskop van Londen onwetend Tyndale se werk gefinansier om die Bybel te vertaal!
Tyndale se kontak in Antwerpen
Maar selfs ná al hierdie eksemplare gekoop en verbrand is, het Tyndale se “Nuwe Testament” nog steeds in Engeland ingestroom. Hoe was dit moontlik? Twee moedige drukkers in Antwerpen, Hans en Christopher van Ruremond, het etlike geheime uitgawes van Tyndale se “Nuwe Testament” gedruk. Hoewel hierdie Bybels baie setfoute gehad het, was mense in Engeland heel gewillig om dit te koop.
Maar in 1528 is Hans in Londen opgesluit omdat hy 1 500 eksemplare van Tyndale se “Nuwe Testament” gedruk het en 500 eksemplare in Engeland ingebring het. Hy is waarskynlik in ’n Engelse tronk dood. In 1531 is Hans se broer Christopher ook in Engeland opgesluit omdat hy die “Nuwe Testament” verkoop het. Christopher het heel moontlik ook in ’n tronk gesterf.
“Tyndale se grootste monument” —Gedruk in Antwerpen
Van 1529 tot 1535 het Tyndale die meeste van sy tyd in Antwerpen deurgebring, waar hy sy werk onder gunstiger omstandighede kon doen. Daar, in 1530, het Merten de Keyser Tyndale se vertaling van die Pentateug gedruk, waarin die naam Jehovah vir die eerste keer in Engels verskyn het.
In Mei 1535 is Tyndale in Antwerpen in hegtenis geneem. Terwyl hy in die tronk was, het een van sy leerlinge, Miles Coverdale, Tyndale se vertaling van die Hebreeuse Geskrifte voltooi. Op 6 Oktober 1536 is Tyndale in Vilvoorde, België, aan ’n paal vasgemaak, verwurg en verbrand. Sy laaste woorde was: “Here, open tog die Koning van Engeland se oë!”
Tyndale se nalatenskap
Dit was nie lank ná Tyndale se teregstelling nie dat koning Hendrik VIII van Engeland toestemming gegee het dat ’n Bybelvertaling in kerke gelees word. Dit is deur Matthias Crom gedruk, wat ook van Antwerpen was. Hierdie Bybel, wat algemeen bekend staan as Matthew se Bybel (so genoem na Thomas Matthew), bestaan hoofsaaklik uit Tyndale se vertaling.a Hoe ironies is dit tog dat die biskoppe nou die vertaling gebruik het wat hulle ’n paar jaar vroeër verbrand het—die vertaling waarvoor Tyndale doodgemaak is!
Groot dele van Tyndale se vertaling is in die King James Version bewaar. Gevolglik is baie uitdrukkings in die King James Version wat ’n merk gelaat het op die Engelse taal, deur Tyndale geskep en oorspronklik in Antwerpen gedruk. Bekende uitdrukkings soos “the signs of the times” en “the powers that be” sowel as “Am I my brother’s keeper?” is alles direk uit Tyndale se vertaling deur die vertalers van die King James Version geneem (Genesis 4:9; Matteus 16:3; Romeine 13:1). Volgens professor Latré het Tyndale ’n selfs groter invloed op die Engelse taal as Shakespeare gehad!
In die tweede helfte van die 16de eeu het Antwerpen se klimaat van godsdiensverdraagsaamheid verander en het dit sy posisie as ’n toevlug vir Bybeldrukwerk verloor. Hierdie verandering is hoofsaaklik teweeggebring deur die vervolging wat deur die Teenhervorming van die Katolieke Kerk ontketen is. Die moed en opofferings van daardie vroeë Bybeldrukkers in Antwerpen het nietemin grootliks daartoe bygedra dat God se Woord vandag vir Bybellesers regoor die wêreld beskikbaar is.
[Voetnoot]
a Thomas Matthew was waarskynlik ’n alias vir John Rogers, ’n vriend en medewerker van Tyndale.
[Prente op bladsy 19]
Bo: Setwerk met die hand; Martin Luther vertaal die Bybel; antieke stadskaart van Antwerpen
[Prent op bladsy 20]
Jacob van Liesvelt se boekstalletjie
[Prente op bladsy 21]
Jacques Lefèvre d’Étaples en die titelblad van die uitgawe van sy Bybel van 1530, wat in Antwerpen gedruk is
[Prent op bladsy 21]
Openbare verbranding van Engelse Bybels in Londen
[Prente op bladsy 22]
William Tyndale, ’n bladsy uit sy Bybel en Miles Coverdale
[Foto-erkennings op bladsy 20]
Bladsy 19: Setter: Printer’s Ornaments/by Carol Belanger Grafton/Dover Publications, Inc.; Luther: From the book Bildersaal deutscher Geschichte; kaart: By courtesy of Museum Plantin-Moretus/Stedelijk Prentenkabinet Antwerpen; bladsy 21: Portret: From the book Histoire de la Bible en France; Bybelbladsy: © Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris; verbranding van Bybels: From the book The Parallel Bible, The Holy Bible, 1885; bladsy 22: Tyndale: From the book The Evolution of the English Bible; Coverdale: From the book Our English Bible: Its Translations and Translators