Afknouery—’n Paar oorsake en gevolge
WAT veroorsaak dat ’n kind ander begin afknou? As jy al ooit afgeknou is, sal jy dalk in die versoeking kom om te sê: “Ek gee nie om nie! Daar is geen verskoning vir daardie soort gedrag nie.” En jy is waarskynlik reg. Maar daar is ’n groot verskil tussen ’n rede en ’n verskoning. Die redes waarom ’n kind ’n afknouer word, verskoon nie die verkeerde gedrag nie, maar dit kan ons help om dit te verstaan. En sulke insig kan werklik nuttig wees. Hoe so?
’n Ou spreuk sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn” (Spreuke 19:11). As ons toornig, of woedend, is weens ’n afknouer se gedrag, kan dit ons verblind en ons met frustrasie en selfs haat vervul. Maar insig in sy gedrag kan ons help om ons woede te laat bedaar. Dit kan ons weer beter begrip gee terwyl ons na oplossings soek. Kom ons kyk dus na ’n paar faktore wat tot hierdie onaanvaarbare gedrag aanleiding gee.
Wat gee aanleiding tot afknouery?
In baie gevalle word die afknouer se vormingsjare bederf deur ’n swak ouerlike voorbeeld of deur ernstige verwaarlosing. Baie afknouers kom uit huise waar die ouers koud of afsydig is of hulle kinders in werklikheid geleer het om woede en geweld te gebruik om probleme te hanteer. Kinders wat in so ’n omgewing grootgemaak is, sien dalk nie hulle eie mondelinge aanvalle en fisiese aggressie as afknouery nie; hulle dink moontlik selfs dat hulle gedrag normaal en aanvaarbaar is.
Een 16-jarige meisie wat by die huis deur haar stiefpa en op skool deur ander leerlinge afgeknou is, sê dat sy self ’n afknouer in graad sewe geword het. Sy erken: “Daar het soveel woede in my opgebou dat ek op enigiemand gepik het, maak nie saak wie hy was nie. Wanneer jy seergemaak is, is dit moeilik om die pyn te verwerk. Wanneer jý eers seergemaak is, wil jy ander ook seermaak.” Hoewel sulke fisiese aggressie nie tipies is van meisies wat ander afknou nie, is die onderliggende woede wel.a
Talle skole bring baie leerlinge uit verskillende agtergronde bymekaar wat op uiteenlopende maniere grootgemaak is. Ongelukkig is party kinders aggressief omdat hulle by die huis geleer is dat daar nie ’n beter manier is om hulle sin te kry as om ander te intimideer en mondelings af te knou nie.
Ongelukkig lyk dit of sulke metodes dikwels werk. Shelley Hymel, die adjunkdekaan van opvoedkunde aan die Universiteit van Brits-Columbië, Kanada, bestudeer kindergedrag al twee dekades lank. Sy sê: “Ons het kinders wat besig is om te leer hoe om hulle sin te kry, en ongelukkig werk afknouery. Hulle kry wat hulle wil hê—hulle kry mag, status en aandag.”
Nog ’n faktor wat daartoe bydra dat afknouery floreer, is ’n gebrek aan toesig. Baie slagoffers voel dat hulle nêrens hulp kan soek nie—en dit is jammer dat hulle in die meeste gevalle reg is. Debra Pepler, direkteur van die LaMarsh-sentrum vir Navorsing oor Geweld en Geskilbeslegting by Toronto se York-universiteit, het leerlinge in ’n skoolterreinsituasie bestudeer en gevind dat onderwysers slegs ongeveer 4 persent van voorvalle van afknouery sien en stopsit.
Dr. Pepler meen nogtans dat dit noodsaaklik is om in te gryp. Sy sê: “Kinders kan nie die probleem oplos nie omdat dit gaan oor mag, en elke keer wanneer ’n afknouer op iemand pik, word sy posisie bevestig.”
Waarom word meer gevalle van afknouery dan nie aangemeld nie? Omdat slagoffers van afknouery daarvan oortuig is dat die probleem net sal vererger as hulle dit aanmeld. Baie jongmense is dus gedurende hulle skooljare in ’n so te sê permanente toestand van angs en vrees. Wat het dit tot gevolg?
Fisiese en emosionele gevolge
Volgens ’n verslag deur die Nasionale Vereniging van Skoolsielkundiges in die Verenigde State bly meer as 160 000 kinders daagliks van die skool af weg omdat hulle bang is dat hulle afgeknou sal word. Slagoffers van afknouery hou dalk op om oor skool of ’n sekere klas of bedrywigheid by die skool te praat. Hulle probeer dalk om elke dag laat skool toe te gaan of klasse oor te slaan of selfs verskonings te maak sodat hulle glad nie skool toe hoef te gaan nie.
Hoe kan kinders wat afgeknou word, geïdentifiseer word? Wel, hulle raak dalk buierig, geïrriteerd of gefrustreerd of maak of hulle moeg is en hou hulle afsydig. Hulle raak moontlik aggressief met diegene by die huis of met portuurs en vriende. Onskuldige bystanders wat sien hoe ander afgeknou word, ly ook daaronder. Die situasie maak hulle baie bang, wat hulle leervermoë belemmer.
Maar die tydskrif Pediatrics in Review sê: “Die ernstigste gevolg van afknouery vir slagoffers en die gemeenskap is geweld, wat selfmoord en moord insluit. Die gevoel van magteloosheid onder kinders wat slagoffers is, kan so oorweldigend wees dat party met selfvernietigende dade of dodelike vergelding reageer.”
Dr. Ed Adlaf, ’n wetenskaplike navorser en professor van openbare gesondheidswetenskappe by die Universiteit van Toronto, spreek sy kommer uit dat “die moontlikheid baie groter is dat diegene wat by afknouery betrokke is, nou en in die toekoms emosionele probleme sal hê”. Gedurende die 2001-skooljaar is ’n opname onder meer as 225 000 leerlinge in Ontario gedoen, en tussen ’n kwart en ’n derde van hulle was by een of ander vorm van afknouery betrokke, hetsy as ’n slagoffer of as ’n afknouer. In dieselfde groep het 1 uit 10 dit ernstig oorweeg om selfmoord te pleeg.
Aanhoudende afknouery kan ’n slagoffer se selfvertroue afbreek, ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak en selfs ’n loopbaan vernietig. Slagoffers kan probleme hê met hoofpyne, slaaploosheid, angstigheid en depressie. Party ontwikkel posttraumatiese stresversteuring. Hoewel slagoffers van fisiese aanvalle moontlik heelwat simpatieke ondersteuning sal kry, lok emosionele aanvalle dalk nie dieselfde reaksie uit nie. Die skade is baie minder opvallend. In plaas van te simpatiseer, raak vriende en familielede dalk moeg vir die slagoffer se klagtes.
Afknouery benadeel ook die afknouer self. As dit nie tydens die kinderjare stopgesit word nie, sal hulle waarskynlik as volwassenes ander by die werksplek afknou. Trouens, volgens party studies het diegene wat as kinders afknouers was, gedragspatrone ontwikkel wat hulle nog as volwassenes het. Die kanse dat hulle ’n kriminele rekord sal hê, is groter as dié van diegene wat nie afknouers was nie.
Die uitwerking op die gesin
Afknouery by die werk het ’n uitwerking op huislike stabiliteit en vrede. Dit kan ’n onverklaarbare drang by die slagoffer wek om geliefdes by die huis seer te maak. Verder kan dit daartoe lei dat ’n huweliksmaat of gesinslid teen die afknouer optree in ’n misplaaste vertoon van ondersteuning van die slagoffer. Aan die ander kant kan iemand sy of haar afgeknoude huweliksmaat die skuld vir die probleem gee. Wanneer sulke gevalle van afknouery oor ’n lang tyd voortduur, het party huweliksmaats wat andersins ondersteunend is, se geduld opgeraak. Met verloop van jare is daar ’n groter kans dat die gesin sal verbrokkel.
In sommige gevalle lei afknouery daartoe dat die persoon se loopbaan eindig en hy sy lewensonderhoud verloor, dat huweliksmaats uitmekaar gaan of skei en dat party mense selfs selfmoord pleeg. Tussen die helfte en twee derdes van Australiese slagoffers van afknouery by die werk het gesê dat dit hulle verhouding met mense wat na aan hulle is, soos hulle saamblymaat, huweliksmaat of gesinslede, benadeel.
Die hoë koste van afknouery
Afknouers by die werk kos werkgewers ook baie. Dit kan ’n baas met ’n venynige tong of ’n onderduimse werksmaat wees, en dit kan net so maklik ’n vrou as ’n man wees. Sulke persone is mikrobestuurders wat te veel beheer oor ander wil uitoefen en hulle met negatiewe aanmerkings en voortdurende kritiek afkraak, en hulle verneder hulle slagoffers dikwels voor ander. Afknouers is selde bewus van hulle onbedagsaamheid en vra ook nie dikwels om verskoning vir wat hulle doen nie. Hulle slagoffers is dikwels bevoegde, lojale werkers van wie ander werkers hou.
Werkers wat afgeknou word, se werk ly gewoonlik daaronder. Werksmaats wat sien hoe iemand afgeknou word, is ook minder produktief. Afknouery kan werkers minder lojaal aan hulle werkgewer en hulle werk laat voel. Een verslag beweer dat afknouery nywerhede in die Verenigde Koninkryk jaarliks sowat 24 miljard rand kos. En daar word gesê dat sulke gedrag vir meer as 30 persent van stresverwante siektes verantwoordelik is.
Afknouery het ongetwyfeld ’n wêreldwye uitwerking op die samelewing. Die vraag is: Kan enigiets gedoen word om die probleem teë te werk en stop te sit?
[Voetnoot]
a Meisies of vroue wat ander afknou, is meer geneig om ander byvoorbeeld sosiaal uit te sluit en gerugte oor hulle te versprei. Maar dit lyk of al hoe meer ook fisiese geweld gebruik.
[Prent op bladsy 7]
Afknouery by die werk is alte algemeen
[Prent op bladsy 7]
Slagoffers van voortdurende afknouery kan neerslagtig en eensaam word