Hoe om eensaamheid die hoof te bied
DIT is nie maklik om eensaamheid die hoof te bied nie. Sterk emosies is ter sprake. Hoe kan ’n mens eensaamheid oorkom? Wat het party gedoen om hierdie sterk gevoel te bowe te kom?
Wat party gedoen het
Helena hou daarvan om alleen te wees wanneer sy sekere besluite neem, maar sy meen dat eensaamheid gevaarlik kan wees. As kind het sy nie genoeg met haar ouers gekommunikeer nie. Sy het nie geweet hoe om hulle aandag te kry nie en het haar in haar kamer toegesluit. Sy sê: “Ek het aan eetversteurings begin ly. Ek was in depressie vasgevang. Ek het vir myself gesê: ‘Waarom moet ek oor my ouers se probleme bekommerd wees as hulle nie oor myne bekommerd is nie?’ Toe het ek gedink dat die huwelik die leemte kon vul wat deur my eensaamheid veroorsaak is. Ek wou trou om uit daardie situasie te kom. Maar ek het na ’n ruk geredeneer: ‘Waarom moet ek iemand anders se lewe versuur? Ek moet my eie gedagtes eers uitpluis!’ Ek het Jehovah se hulp in gebed gevra en my smart voor hom uitgestort.
“In die Bybel het ek baie vertroostende woorde gevind, soos dié in Jesaja 41:10: ‘Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.’ Hierdie woorde het my baie gehelp omdat ek gevoel het asof ek nie ’n pa het nie. Vandag lees ek die Bybel gereeld en bid ek tot my hemelse Vader. Ek het geleer om my eensaamheid te bowe te kom.”
Wanneer ’n mens ’n geliefde aan die dood afstaan, veroorsaak dit droefheid, wat tot eensaamheid kan lei. Luisa, wat 16 jaar oud is, druk haar smart só uit: “My pa is dood toe ek vyf jaar oud was. Ek het by my ouma vertroosting gesoek, maar ek het nooit gevoel dat sy my liefhet nie. Tydens my kinderjare, toe ek dit die nodigste gehad het, het ek nie baie liefde gekry nie. Toe ek so agt of nege jaar oud was, het ek drie keer selfmoord probeer pleeg. Ek het gedink dat dit die beste vir ons gesin sou wees, aangesien my ma gesukkel het om vir my en my drie susters kos op die tafel te sit. Toe het ons met Jehovah se Getuies begin omgaan. ’n Jong egpaar het opregte belangstelling in my getoon. Hulle het dikwels vir my gesê: ‘Ons waardeer jou as persoon en het jou nodig.’ Die woorde ‘Ons het jou nodig’ het my baie versterk. Soms kan ek nie my gevoelens teenoor iemand anders uitdruk nie, maar wanneer ek artikels in Die Wagtoring of Ontwaak! lees, dank ek Jehovah, want deur hierdie publikasies het ek sy liefde gevoel. Ek het al baie veranderinge in my lewe aangebring. Vandag kan ek glimlag, en ek kan my lief en leed met my ma deel. Partykeer dink ek nog aan die verlede, maar nie soos voorheen toe ek selfmoord probeer pleeg het of toe ek opgehou het om met my geliefdes te praat nie. Ek onthou altyd wat die psalmis Dawid gesê het: ‘Ter wille van my broers en my metgeselle sal ek nou sê: “Mag daar vrede in jou wees.”’”—Psalm 122:8.
Martha is al 22 jaar lank geskei en het in daardie tyd ’n kind grootgemaak. “Ek is geneig om waardeloos en eensaam te voel wanneer ek dink dat ek in iets misluk het”, sê sy. Hoe verwerk sy hierdie gevoelens? Sy verduidelik: “Ek het gevind dat die beste manier om dit die hoof te bied, is om dadelik met Jehovah God daaroor te praat. Wanneer ek bid, weet ek dat ek nie alleen is nie. Jehovah verstaan my beter as wat ek myself verstaan. Ek soek ook na maniere om persoonlike belangstelling in ander te toon. Die voltydse bediening help my baie om teen negatiewe gevoelens te stry. Wanneer jy met ander oor die seëninge van God se Koninkryk praat en agterkom dat hulle geen hoop het nie en dat hulle hulle probleme as permanent beskou, besef jy dat jy goeie redes het om aan die lewe te bly en nie tou op te gooi nie.”
Elba, wat 93 jaar oud is en wie se enigste kind as ’n sendeling in ’n ander land dien, vertel ons hoe sy eensaamheid te bowe kom: “Toe my dogter en haar man die uitnodiging ontvang het om die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon, het ek gesien hoe hulle gesigte van vreugde straal, en ek was saam met hulle verheug. Later, toe hulle ’n toewysing ontvang het om in ’n ander land te dien, het ek ’n bietjie selfsugtig begin voel. Ek het geweet dat hulle nie meer naby my sou wees nie en het effens hartseer gevoel. Die situasie was vir my baie soos dié van Jefta en sy enigste dogter wat in Rigters hoofstuk 11 beskryf word. Ek moes met trane tot Jehovah bid en om vergifnis vra. My kinders bly in aanraking met my. Ek weet hulle is baie besig, maar waar hulle ook al dien, maak hulle tyd om my op hoogte van sake te hou deur my van hulle velddiensondervindinge te vertel. Ek lees hulle briewe oor en oor. Dit is asof hulle elke week met my gesels, en ek is so dankbaar daarvoor. Die Christen- ouer manne in my gemeente gee ook gepaste aandag aan dié van ons wat bejaard en siek is, en hulle maak altyd seker dat ons vervoer na die gemeentelike vergaderinge het en voorsien ook in ons ander behoeftes. Ek beskou my geestelike broers en susters as ’n seën van Jehovah.”
Jy kan ook eensaamheid die hoof bied
Hetsy jy jonk of oud, getroud of ongetroud, ’n kind met ouers of ’n weeskind is en hetsy jy geliefdes aan die dood afgestaan het of om ander redes eensaam is, daar is maniere waarop jy jou gevoelens kan verwerk. Jocabed, ’n 18-jarige meisie wie se pa sy gesin van ses verlaat het en na ’n ander land gegaan het, sê: “Moenie stilbly nie! Dit is belangrik dat ons ons gevoelens uitdruk. As ons dit nie doen nie, sal niemand ons verstaan nie.” Sy beveel aan: “Hou op om soveel oor jouself te dink. Soek hulp by volwassenes en nie by jeugdiges wat moontlik in ’n slegter situasie as jy is nie.” Luisa, wat vroeër genoem is, sê: “Opregte gebed tot Jehovah gee ons die hulp wat ons nodig het om uit ’n situasie te kom wat soos ’n doodloopstraat is.” Jorge, wat sy vrou aan die dood afgestaan het, vertel hoe hy eensaamheid die hoof bied: “Volharding is nodig. Om belangstelling in ander te toon, is ’n groot hulp. As ons ‘meegevoel betoon’ wanneer ons met ander gesels, kan dit ons gesprekke betekenisvol maak en ons help om ander mense se mooi eienskappe raak te sien.”—1 Petrus 3:8.
Baie kan gedoen word om teen eensaamheid te stry. Maar sal die dag ooit aanbreek wanneer eensaamheid iets van die verlede is? Indien wel, hoe sal dit gebeur? Die volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
[Lokteks op bladsy 8]
‘Opregte gebed tot Jehovah gee ons die hulp wat ons nodig het om uit ’n doodloopstraat te kom.’—Luisa
[Venster op bladsy 7]
Wat jy omtrent eensaamheid kan doen
◼ Onthou dat jou situasie verander kan word, dat dit nie permanent is nie en dat baie ander in dieselfde situasie verkeer.
◼ Moenie te veel van jouself verwag nie.
◼ Wees oor die algemeen tevrede met wie jy is.
◼ Leer goeie eet- en oefengewoontes aan, en kry genoeg slaap.
◼ Gebruik die tyd wanneer jy alleen is om skeppende dinge te doen en nuwe vaardighede aan te leer.
◼ Wees versigtig om mense wat jy ontmoet, nie op grond van jou vorige ondervindings te oordeel nie.
◼ Waardeer jou vriende en hulle unieke eienskappe. Streef daarna om ’n goeie vriendekring op te bou. Vra wenke van ouer, ervare mense.
◼ Doen iets vir ander—glimlag vir hulle, sê iets aanmoedigends, gesels met hulle oor ’n gedagte uit die Bybel. As jy voel dat ander mense jou nodig het, sal dit jou help om eensaamheid teë te werk.
◼ Moenie oor rolprent- of TV-sterre, mense op die Internet of karakters in boeke fantaseer en jou verbeel dat jy ’n verhouding met hulle het nie.
◼ As jy getroud is, moet jy nie verwag dat jou maat in al jou emosionele behoeftes sal voorsien nie. Leer om te gee en te ontvang, om mekaar te help en te ondersteun.
◼ Leer om met ander te gesels en om met belangstelling te luister. Vestig jou aandag op ander mense en hulle belange. Betoon meegevoel.
◼ Erken dat jy eensaam voel en praat met ’n volwasse vriend of vriendin, iemand wat jy kan vertrou. Moenie in stilte ly nie.
◼ Moenie te veel drink nie, of vermy drank heeltemal. Alkohol los nie jou probleme op nie—later steek hulle net weer kop uit.
◼ Vermy trots. Vergewe diegene wat jou seermaak en probeer die vrede herstel. Wees bereid om nie wantrouig te wees nie.
[Prent op bladsy 6]
Hoe kan ’n mens eensaamheid die hoof bied?