Stres—Jy kan dit die hoof bied!
“DIE stryd om ’n balans te vind tussen werks-, gesins- en ander verpligtinge het in onlangse jare intenser geword.” Dit is wat ’n onlangse boek oor die gesinslewe sê. Ja, ons lewe in stresvolle tye. Dit is egter glad nie verbasend vir studente van die Bybel nie, want dit het voorspel dat dit “kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”.—2 Timoteus 3:1-5.
“Stres is normaal”, sê Jesús, ’n vader van drie. “Daarom moet jy weet hoe om dit onder beheer te hou.” Dit is weliswaar makliker gesê as gedaan. Maar daar is praktiese wenke en Bybelbeginsels wat jou kan help.
Hoe om werkstres die hoof te bied
Ondervind jy stres, moontlik weens toestande by jou werk? As jy in stilte ly, sal dit die situasie dalk net vererger. Soos die Bybel in Spreuke 15:22 sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie.”
Navorsers oor stres by die werksplek beveel aan dat ’n mens “met jou werkgewer praat: as hulle nie weet dat daar ’n probleem is nie, kan hulle jou nie help nie”. Dit beteken nie dat ’n mens aan woede en frustrasie moet uiting gee nie. “Kalmte versag groot sondes”, sê Prediker 10:4. Moenie emosioneel raak nie en vermy ’n benadering wat konfrontasie uitlok. Miskien kan jy jou werkgewer daarvan oortuig dat minder werkstres groter produktiwiteit sal beteken.
Dit geld ook vir ander werkverwante probleme, soos gespanne verhoudings en konflikte tussen werksmaats. Soek na produktiewe maniere om sulke probleme aan te pak, en doen navorsing daaroor indien nodig. ’n Aantal artikels is al in hierdie tydskrif gepubliseer wat jy dalk nuttig sal vind.a As dit nie lyk of die situasie verbeter kan word nie, sal dit dalk raadsaam wees om dit te oorweeg om van werk te verander.
Hoe om finansiële druk te verlig
Die Bybel bevat ook raad wat jou kan help om finansiële druk die hoof te bied. Jesus Christus het gemaan: “Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra” (Matteus 6:25). Hoe is dit moontlik? Deur die vertroue op te bou dat Jehovah God in jou basiese behoeftes sal voorsien (Matteus 6:33). God se belofte is nie net leë woorde nie. Miljoene Christene word vandag daardeur onderskraag.
Jy het natuurlik ook “praktiese wysheid” nodig wanneer dit by geld kom (Spreuke 2:7; Prediker 7:12). Die Bybel herinner ons: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ook kan ons niks uitdra nie. As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:7, 8). Dit is realisties en prakties om te leer om met minder tevrede te wees. Dink weer aan Leandro, wat weens ’n ongeluk permanent in ’n rolstoel beland het. Hy en sy vrou het hulle geld spaarsaam begin gebruik. Leandro verduidelik: “Ons probeer geld spaar. Byvoorbeeld, as ’n lig nie gebruik word nie, skakel ons dit af om elektrisiteit te bespaar. En wanneer ons die motor gebruik, probeer ons verskeie sake met een rit afhandel om brandstof te bespaar.”
Ouers kan kinders help om die regte gesindheid te hê. Leandro se dogter Carmen erken: “Ek is geneig om impulsief te koop, maar my ouers het my gehelp om te onderskei tussen wat werklik nodig is en wat nie nodig is nie. Aan die begin was dit moeilik om daaraan gewoond te raak. Maar ek het geleer om die verskil te sien tussen wat ek graag wil hê en wat ek werklik nodig het.”
Kommunikasie—’n Manier om stres te verlig
Die huis behoort ontvlugting van stres te bied, maar dikwels is dit een van die grootste bronne daarvan. Wat is die rede hiervoor? “Egpare . . . in effens gespanne verhoudings, of dié wat vyandig is”, sê die boek Survival Strategies for Couples, “sê dat ’n gebrek aan kommunikasie een van die algemeenste bronne van onmin is.”
Bybelbeginsels kan egpare help om hulle kommunikasievermoë te verbeter. Die Bybel sê: ‘Daar is ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat’ en: “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!” (Prediker 3:1, 7; Spreuke 15:23). As jy dit weet, sal dit dalk keer dat jy ’n emosionele onderwerp ophaal wanneer jou maat moeg of gespanne is. Is dit nie beter om vir die regte tyd te wag nie—wanneer jou maat waarskynlik meer geneig sal wees om te luister?
As jy ’n moeilike dag by die werk gehad het, is dit weliswaar nie altyd maklik om kalm of geduldig te wees nie. Maar wat kan gebeur wanneer ons aan ons frustrasies uiting gee deur bars met ons huweliksmaat te praat? Die Bybel herinner ons dat ‘’n woord wat pyn veroorsaak, toorn laat opkom’ (Spreuke 15:1). In teenstelling hiermee is “aangename woorde . . . ’n heuningkoek, soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente” (Spreuke 16:24). Dit verg dalk groot vasbeslotenheid om gesprekke met jou huweliksmaat vry van “kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal” te hou (Efesiërs 4:31). Maar die voordele maak dit die moeite werd. Egpare wat kommunikeer, kan ’n bron van wedersydse vertroosting en ondersteuning wees. “By dié wat saam beraadslaag, is wysheid”, sê Spreuke 13:10.b
Die uitdaging van kommunikasie tussen ouers en kinders
Om met kinders te kommunikeer, is ’n uitdaging—veral wanneer ’n mens se tyd beperk is. Die Bybel spoor ouers aan om by elke geleentheid met hulle kinders te praat, soos ‘wanneer hulle in hulle huis sit en wanneer hulle op die pad loop’ (Deuteronomium 6:6-8). “’n Mens moet na geleenthede soek om te gesels”, sê Leandro. “Wanneer ek saam met my seun in die motor is, maak ek gebruik van die geleentheid om met hom te gesels.”
Natuurlik vind nie alle ouers dit maklik om met hulle kinders te kommunikeer nie. Alejandra, ’n moeder van drie, erken: “Ek het nie geweet hoe om te luister nie. Omdat ek nie goed gekommunikeer het nie, het dit my kwaad en skuldig laat voel.” Hoe kan ’n ouer hierin verbeter? Begin deur te leer om “gou [te] wees om te hoor” (Jakobus 1:19). “Om aktief te luister, is ’n uiters doeltreffende manier om stres te verminder”, sê dr. Bettie B. Youngs. Jy moet aandag skenk aan hoe jy luister. Maak oogkontak. Moenie jou kinders se probleme verkleineer nie. Moedig jou kinders aan om oor hulle gevoelens te praat. Vra gepaste vrae. Wees vrygewig met jou betuigings van liefde en vertroue dat hulle die regte ding sal doen (2 Tessalonisense 3:4). Bid saam met jou kinders.
Gesonde kommunikasie verg inspanning. Maar dit kan jou help om stres in jou gesin tot ’n minimum te beperk. Kommunikasie kan jou help om te onderskei of jou kinders stres ondervind. Jy is in ’n beter posisie om jou kinders verstandige leiding te gee as jy hulle gevoelens en omstandighede verstaan. Laastens, kinders wat aangemoedig word om te praat oor die dinge wat vir hulle stres veroorsaak, sal minder geneig wees om deur middel van wangedrag daaraan uiting te gee.
Samewerking—Onontbeerlik om huiswerk te behartig
Wanneer die man sowel as die vrou sekulêr werk, kan huiswerk nog ’n bron van stres word. Sommige werkende moeders kom dié probleem te bowe deur hulle huishoudelike roetine te vereenvoudig. Hulle kom dalk tot die slotsom dat dit nie moontlik of prakties is om groot etes te bedien nie. Onthou Jesus se raad aan ’n vrou wat besig was om ’n groot ete voor te berei: “’n Paar dinge is egter nodig, of net een” (Lukas 10:42). Vereenvoudig dus. Die boek The Single-Parent Family stel voor: “Maak bredies en ander disse wat in een pot voorberei kan word sodat daar minder skoonmaakwerk is.” Ja, as jy jou huishoudelike roetine vereenvoudig, kan dit stres verminder.
Selfs dan is daar dalk baie dinge wat gedoen moet word. ’n Werkende moeder erken: “Toe ek jonk was, kon ek alles hanteer. Noudat ek ouer is, is dit moeiliker. Die gejaagde lewe wat ek gelei het, het sy tol begin eis. As elke gesinslid sy samewerking gee, toon dit bedagsaamheid, en dit help my om die stres onder beheer te hou.” Ja, as almal in die gesin hand bysit, kan huiswerk gedoen word sonder om ’n onredelike swaar las op enigiemand te plaas. ’n Boek oor ouerskap sê: “Om vir kinders takies in die huis te gee, is een van die beste maniere om . . . ’n gevoel van bekwaamheid in hulle te laat ontwikkel. Gereelde takies help hulle om nuttige gewoontes en regte gesindhede teenoor werk aan te leer.” As julle takies in die huis saam doen, kan dit jou ook ’n geleentheid gee om tyd saam met jou kinders deur te bring.
Die jong Julieta sê: “Ek kan sien dat my ma dit waardeer wanneer ek haar werklas verlig. Dit laat my goed en verantwoordelik voel. Dit help my om ons huis te waardeer. Die feit dat ek geleer het om huiswerk te doen, het my vir die toekoms voorberei.” Mary Carmen sê eweneens: “My ouers het ons van kleins af geleer om vir onsself te sorg. Dit het ons baie gehelp.”
Positiewe maniere om stres die hoof te bied
Stres is ’n werklikheid in ons moderne lewe; jy kan dit nie vermy nie. Maar jy kan leer om dit die hoof te bied. (Sien die venster op bladsy 10.) Die toepassing van Bybelbeginsels kan help. As jy byvoorbeeld oorweldig voel deur een of ander situasie, moet jy onthou dat ‘daar ’n vriend is wat sterker aanhang as ’n broer’ (Spreuke 18:24). Praat met ’n volwasse vriend of met jou huweliksmaat. “Moet dit nie opkrop nie”, sê die sosioloog Ronald L. Pitzer. “Praat oor jou gevoelens en bekommernisse met ’n verstandige persoon wat sal verstaan en omgee.”
Die Bybel sê ook dat ’n mens ‘goed moet doen aan sy eie siel’ (Spreuke 11:17). Ja, dit is goed om nie jou eie behoeftes te ignoreer nie. Die Bybel sê: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind” (Prediker 4:6). Om tyd vir jouself opsy te sit kan ’n wonderlike uitwerking op ’n mens hê—al is dit net ’n paar minute vroeg in die oggend sodat jy rustig ’n koppie tee kan geniet, lees, bid of peins.
Matige oefening en ’n gesonde dieet is ook nuttig. ’n Boek oor ouerskap herinner ons: “Wanneer jy van jou kosbare tyd en energie vir jouself gebruik, vul jy in werklikheid jou eie reserwes aan. . . . As ’n mens voortdurend van jouself gee, moet jy seker maak dat daar ook weer iets teruggeplaas word, anders sal jy gevaar loop om emosioneel opgebruik, of selfs heeltemal uitgeput, te raak.”
Daarbenewens help die Bybel ’n mens om eienskappe aan te kweek wat nodig is om stres die hoof te bied, soos “sagmoedigheid”, geduld en goedhartigheid (Galasiërs 5:22, 23; 1 Timoteus 6:11). Verder bied die Bybel hoop—die belofte van ’n komende nuwe wêreld waarin alles wat menslike lyding veroorsaak, sal verbygaan! (Openbaring 21:1-4). Dit is dus verstandig om die gewoonte aan te kweek om die Bybel elke dag te lees. As jy hulp wil hê om met so ’n program te begin, sal Jehovah se Getuies jou met graagte gratis persoonlike hulp gee.
Dit beteken nie dat ’n Christen se lewe heeltemal sonder stres is nie. Maar Jesus het gesê dat dit moontlik is om nie “beswaar [te] word met . . . sorge van die lewe” nie (Lukas 21:34, 35). Verder, as jy Jehovah God as ’n vriend leer ken, kan hy ’n ware toevlug vir jou wees! (Psalm 62:8). Hy kan jou help om die stres wat die lewe oor jou bring, die hoof te bied.
[Voetnote]
a Sien die reeks “Teistering by die werk—Wat kan jy doen?” in die nommer van 8 Mei 2004.
b Vir meer inligting, sien hoofstuk 3 van die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 11]
“Toe ek jonk was, kon ek alles hanteer. Noudat ek ouer is, is dit moeiliker. Die gejaagde lewe wat ek gelei het, het sy tol begin eis”
[Venster/Prente op bladsy 10]
Hoe om stres te verminder
◼ Gee jou liggaam elke dag genoeg rus
◼ Eet gesond. Moet jou nie ooreet nie
◼ Kry behoorlike en gereelde oefening, soos om teen ’n flinke pas te stap
◼ As iets jou kwel, praat met ’n vriend daaroor
◼ Bring meer tyd saam met jou gesin deur
◼ Delegeer of deel huiswerk
◼ Ken jou eie fisiese en emosionele beperkings
◼ Stel realistiese doelwitte; moenie ’n perfeksionis wees nie
◼ Wees georganiseerd; stel ’n gebalanseerde, redelike rooster op
◼ Kweek Christelike eienskappe aan soos sagmoedigheid en geduld
◼ Sit tyd opsy vir jouself
[Prent op bladsy 7]
As jy probleme op ’n respekvolle wyse met jou werkgewer bespreek, kan dit werkstres verminder
[Prent op bladsy 8]
Ouers kan maniere om geld te spaar met hulle kinders bespreek
[Prent op bladsy 8]
Jongmense, praat oor die stres wat jy ondervind met iemand wat jou kan help
[Prent op bladsy 8, 9]
Almal kan hand bysit met die huiswerk