Die begeerte om geliefd te wees
Lank gelede het ’n meisie met die naam Lea in ’n stad gewoon wat in die hedendaagse Turkye geleë was. Lea was nie besonder mooi nie, maar haar jonger suster, Ragel, was beeldskoon.
RAGEL het ’n man ontmoet wat haar so liefgehad het dat hy ooreengekom het om sewe jaar lank vir haar vader te werk sodat hy met haar kon trou. Maar op die huweliksnag het die meisies se pa Lea met haar suster laat plekke ruil. Ons weet nie hoe Lea oor haar vader se plan gevoel het nie, maar sy moes geweet het dat dit beslis nie die ideale manier is om jou huwelik te begin nie.
Toe die pas getroude man besef wat gebeur het, het hy beswaar gemaak. Die vader het verduidelik dat dit gebruiklik is dat die ouer dogter eerste trou. Gevolglik het Lea deur bedrog in die huwelik getree met ’n man wat eintlik haar jonger suster liefgehad het, en met wie hy ook getrou het. Hoe hartseer moes dit Lea tog gemaak het om te sien hoe haar suster die meeste van sy liefde ontvang! Lea het geen romantiese staaltjies gehad om oor haar hofmakery te vertel nie en het min, indien enige, gelukkige herinneringe aan haar troudag gehad. Hoe moes sy tog nie daarna gesmag het om soos Ragel bemin te word nie! Daarom het Lea, deels weens omstandighede waaroor sy min beheer gehad het, seker dikwels ongeliefd en verstote gevoel.a
Daar is vandag baie wat hulle in ’n sekere mate met Lea kan vereenselwig. Ons het almal ’n diepgewortelde behoefte om liefde te gee en te ontvang. Dalk hunker ons na ’n maat wat ons sal liefhê. Ons wil ook die liefde van ons ouers, ons kinders, ons broers en susters en ons vriende hê. Soos Lea, sien ons dalk hoe ander die liefde vind wat ons ontwyk.
Van kleins af hoor ons romantiese verhale van pragtige mense wat verlief raak en lank en gelukkig saamleef. Sangers besing die liefde; digters raak liries daaroor. Maar ’n navorser wat die onderwerp bestudeer, het geskryf: “Daar is feitlik geen aktiwiteit, geen onderneming, wat met soveel hoop en verwagting aangepak word, en tog so dikwels faal, soos die liefde nie.” Trouens, dit is dikwels ons hegste verhoudings wat die sorgwekkendste is—wat eerder pyn veroorsaak as wat dit blywende vreugde verskaf. In etlike lande loop sowat 40 persent van alle huwelike tans op ’n egskeiding uit, en baie egpare wat nie skei nie, is allesbehalwe gelukkig.
Baie lande het ook ’n toename gesien in enkelouer- en disfunksionele gesinne, waarin ook kinders slagoffers geword het. Tog het veral kinders die emosionele veiligheid van ’n hartlike, liefdevolle gesinsmilieu nodig. Wat het dus van liefde geword? Waar kan ons van hierdie kosbare eienskap leer? Die volgende artikels sal hierdie vrae ondersoek.
[Voetnoot]
a Hierdie verslag is in hoofstukke 29 en 30 van die Bybelboek Genesis opgeteken.