Jongmense vra . . .
Hoe kan ek pornografie vermy?
“’n Seun by die skool het ’n prent van ’n kaal meisie aan die binnekant van sy sluitkas se deur gehad. Sy sluitkas was nie ver van myne nie.”—Robert.a
“Ek het op die Internet navorsing gedoen vir ’n skooltaak toe ek skielik op ’n pornografiese webwerf afkom.”—Annette.
TOE jou ouers so oud soos jy was, moes mense wat na pornografie wou kyk, daarna soek. Maar vandag is dit asof pornografie na jou soek. Soos Robert, wat hierbo aangehaal is, val jou oë dalk op ’n skoolmaat se pornografie. Of, soos Annette, sien jy dit dalk per ongeluk op die Internet. Een 19-jarige meisie sê: “Soms snuffel ek op die Internet rond of doen ek aanlyninkopies of kyk ek net na aanlynbankstate en dan, uit die bloute, verskyn daar pornografie!”b
Dit is glad nie ongewoon nie. In een studie het 90 persent van jongmense tussen die ouderdomme van 8 en 16 gesê dat hulle toevallig pornografie op die Internet teëgekom het—in die meeste gevalle terwyl hulle huiswerk gedoen het! Die feit is dat pornografie makliker beskikbaar is as ooit tevore, aangesien daar miljoene webwerwe is wat honderdmiljoene seksueel eksplisiete webblaaie bevat. Dit kan selfs deur middel van ’n selfoon verkry word. “Dis ’n groot ding by my skool”, sê die 16-jarige Denise. “Op Maandae vra die kinders mekaar gewoonlik: ‘Watter prente het jy die naweek op jou selfoon afgelaai?’”
Aangesien soveel mense na pornografie kyk, wonder jy dalk: ‘Is dit werklik so sleg?’ Die antwoord is ja, om verskeie redes. Kyk na net drie hiervan:
◼ Pornografie verlaag diegene wat dit vervaardig sowel as diegene wat daarna kyk.—1 Tessalonisense 4:3-5.
◼ ’n Belangstelling in pornografie boots die onnatuurlike seksuele obsessie na wat die bose geeste in Noag se dag gehad het.—Genesis 6:2; Judas 6, 7.
◼ Om na pornografie te kyk, lei dikwels daartoe dat iemand seksuele sondes pleeg.—Jakobus 1:14, 15.
Pornografie het ’n verwoestende uitwerking op dié wat daardeur verstrik word. Kyk na net twee voorbeelde:
“Ek is op ’n baie jong ouderdom aan pornografie blootgestel, en dit was vir my regtig ’n stryd om my daarvan te bevry. Jare het nou al verbygegaan, maar daardie beelde is onuitwisbaar in my geheue ingebrand. Dis asof die gedagtes altyd in jou agterkop skuil, en dit voel asof jou gewete nooit werklik skoon is nie. Pornografie vernietig jou selfbeeld en kan jou vuil en waardeloos laat voel. Jy het altyd hierdie geheime las wat jy moet dra.”—Erica.
“Ek was 10 jaar lank aan pornografie verslaaf en is nou 14 jaar daarvan bevry. Maar dit is nou nog ’n daaglikse stryd. Die begeerte, hoewel dit baie swakker is, is nog steeds daar. Die nuuskierigheid is nog steeds daar. Die beelde is nog steeds daar. Ek wens ek het nooit op hierdie afskuwelike weg begin nie. Dit het eers so skadeloos gelyk. Maar nou weet ek van beter. Pornografie is skadelik, dit is pervers en dit verlaag almal wat iets daarmee te doen het. Ondanks wat die voorstanders daarvan beweer, is daar niks—hoegenaamd niks—positiefs omtrent pornografie nie.”—Jeff.
Ontleed jou situasie
Hoe kan jy dit vermy om selfs toevallig op pornografie af te kom? Eerstens moet jy jou situasie ontleed.
Hoe dikwels kom jy toevallig op pornografie af?
□ Nooit □ Soms
□ Weekliks □ Daagliks
Waar gebeur dit merendeels?
□ Internet □ Skool
□ TV □ Ander
Is daar enige patroon?
Kyk na die volgende voorbeelde:
Is dit waarskynlik dat sommige van jou skoolmaats vir jou pornografie per e-pos of selfoon sal stuur? As jy dit weet, kan dit jou laat besluit om sulke boodskappe uit te vee sonder om dit oop te maak.
Wanneer jy op die Internet is, verskyn daar opspringvenstertjies (pop-ups) met skakels na ’n ander webwerf wanneer jy sekere woorde in ’n soekenjin intik? As jy weet dat dit kan gebeur, sal dit dalk help as jy meer spesifiek is met die sleutelwoorde wat jy gebruik.
Skryf enige van die omstandighede wat daartoe gelei het dat jy op pornografie afkom, hieronder neer.
․․․․․
Na aanleiding van die bogenoemde, wat kan jy doen om die aantal kere wat jy toevallig op pornografie afkom, te verminder? (Skryf jou gedagtes hier neer.)
․․․․․
Wat doen jy wanneer jy op pornografie afkom?
□ Ek kyk onmiddellik weg.
□ Nuuskierigheid laat my vir ’n oomblik daarna kyk.
□ Ek hou aan om daarna te kyk en soek selfs na meer.
As jy die tweede of derde antwoord gemerk het, watter doel kan jy in hierdie verband stel?
․․․․․
Hoe jy jou daarvan kan bevry
Sommige wat onverwags aan pornografie blootgestel word, word nuuskierig en ontwikkel mettertyd die gewoonte om daarna te kyk. Om met so ’n gewoonte te breek, is nie maklik nie. Jeff, wat vroeër aangehaal is, sê: “Voordat ek die Bybel bestudeer het, het ek baie geëksperimenteer met byna elke bekende dwelm. Maar van al my verslawings was pornografie verreweg die moeilikste verslawing om van los te breek.”
As jy in die gewoonte verval het om na pornografie te kyk, moet jy nie moedeloos word nie. Jy kan hulp kry. Hoe?
◼ Besef wat pornografie werklik is. Dit is niks minders nie as ’n sataniese poging om iets te verlaag wat Jehovah wil hê rein moet wees. As jy pornografie uit hierdie oogpunt beskou, sal dit jou help om ‘die kwaad te haat’.—Psalm 97:10.
◼ Dink aan die gevolge. Pornografie vernietig huwelike. Dit laat mense se agting vir vroue sowel as mans daal. Dit verlaag die persoon wat daarna kyk. Die Bybel sê met goeie rede: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). Skryf een voorbeeld hieronder neer van rampspoed wat jou kan tref as jy gereeld na pornografie kyk.
․․․․․
◼ Wees vasbeslote. “Ek het plegtig belowe om nooit met wellus na ’n meisie te kyk nie”, het die getroue man Job gesê (Job 31:1, Today’s English Version). Hier volg ’n paar ‘plegtige beloftes’ wat jy aan jouself kan maak:
□ Ek sal nie die Internet gebruik wanneer ek alleen in ’n vertrek is nie.
□ Ek sal enige opspringvenstertjie (pop-up) of webwerf met seksueel eksplisiete inhoud onmiddellik toemaak.
□ Ek sal met ’n geestelike ryp vriend gesels as ek ’n terugslag ervaar.
Kan jy aan een of twee ander voornemens dink wat jou in die stryd teen pornografie kan help? Indien wel, maak hieronder ’n lys daarvan.
․․․․․
◼ Bid oor die saak. Die psalmis het tot Jehovah gebid: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie” (Psalm 119:37). Dit kan weliswaar moeilik wees om iets te weerstaan wat vir die sondige vlees aanloklik is. Maar Jehovah God wil hê dat jy suksesvol moet wees, en hy kan jou die “krag wat bo die normale is”, gee sodat jy kan doen wat reg is!—2 Korintiërs 4:7.
◼ Praat met iemand. Voel jy skaam? Heel waarskynlik! Maar dink hoe verlig jy sal wees nadat jy jou hart uitgestort het. Die persoon wat jy in jou vertroue neem, kan wees soos “’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). Om iemand in jou vertroue te neem, is dikwels ’n belangrike stap om met die gewoonte te breek.
As jy die gewoonte het om na pornografie te kyk, skryf die naam van ’n geestelike ryp persoon hieronder neer met wie jy gemaklik sal voel om oor die saak te gesels.
․․․․․
Wees verseker dat jy in die stryd teen pornografie suksesvol kan wees. Trouens, elke keer dat jy weier om daarna te kyk, het jy ’n belangrike oorwinning behaal. Vertel Jehovah van daardie oorwinning, en bedank hom vir die krag wat hy jou gegee het. Onthou altyd dat jy Jehovah se hart bly maak deur die plaag van pornografie te vermy!—Spreuke 27:11.
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra . . . ” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Voetnote]
a Name in hierdie artikel is verander.
b Die term pornografie verwys na seksueel eksplisiete materiaal wat bedoel is om die kyker, leser of luisteraar te prikkel. Dit kan prente sowel as geskrewe of klankmateriaal insluit.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Hoe verlaag pornografie iets wat eerbaar is?
◼ Watter praktiese maatreëls kan jou teen pornografie beskerm?
◼ Hoe sou jy jou broer of suster help as hy of sy ’n probleem met pornografie het?
[Prent op bladsy 12, 13]
Is dit waarskynlik dat sommige van jou skoolmaats vir jou pornografie per selfoon sal stuur?