Jongmense vra
Hoe kan ek my tyd goed bestuur?
“Ek het iemand in ’n grap hoor sê dat, as jy wil hê dat ek teen vieruur iewers moet wees, jy vir my moet sê om drie-uur daar te wees.Toe het ek besef dat ek my tyd beter moet bestuur!”—Ricky.a
HOEVEEL ekstra ure sou jy in ’n dag wou hê? Waarvoor sou jy die ekstra tyd gebruik?
□ Om saam met vriende uit te hang
□ Om te slaap
□ Om te oefen
□ Om te studeer
□ Ander ․․․․․
Hoewel dit wonderlik sou wees om ’n paar ekstra ure in die dag te hê, gaan dit nie gebeur nie! Wat kan jy dus doen? Baie jongmense het gevind dat goeie tydbestuur hulle gehelp het om die paar ekstra ure te vind wat hulle so dringend nodig het. Hulle het ook gesien dat, wanneer hulle hulle tyd goed bestuur, hulle minder stres gehad het, hulle punte verbeter het en dat hulle ouers groter vertroue in hulle gekry het. Kom ons kyk hoe dit jou kan help as jy jou tyd goed bestuur.
Uitdaging #1 Om ’n rooster op te stel
Wat jou dalk sal keer. Die blote gedagte aan ’n rooster laat jou vasgekeer voel! Jy hou daarvan om dinge spontaan te doen, en jy wil nie hê dat elke minuut van jou lewe deur ’n rooster beheer moet word nie.
Redes om dit wel te doen. Koning Salomo het geskryf: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel” (Spreuke 21:5). Salomo was ongetwyfeld ’n besige man. Hy was ’n getroude man, ’n pa en ’n koning—waarskynlik nog voordat hy 20 jaar oud was! En daarna het sy lewe net besiger geraak. Jy het ook nou ’n besige lewe. Maar wanneer jy ouer word, sal dit waarskynlik selfs doller gaan. Hoe gouer jy georganiseerd raak, hoe beter!
Wat jou portuurs sê. “Ongeveer ses maande gelede het ek begin om gereeld ’n rooster op te stel. Ek het dinge makliker probeer maak, en om ’n rooster te hê, was blykbaar die antwoord!”—Joey.
“As ek lysies maak, help dit my om by my rooster te bly. Wanneer ek te veel het om te doen, skryf ek en my ma alles neer om te sien hoe ons mekaar kan help om ons doelwitte te bereik.”—Mallory.
Wat jou sal help. Dink so daaraan: Sê nou julle gaan op ’n reis. Elke gesinslid gooi sommer net sy of haar tas agter in die kar se kattebak. Dit lyk asof daar nie genoeg plek vir alles gaan wees nie. Wat kan jy doen? Jy kan alles uithaal en weer begin deur die grootste tasse eerste in te pak. Daarna sal jy plek vind vir die kleiner tasse.
Dit werk ook so in die lewe. As jy jou tyd eers aan kleiner dingetjies bestee, loop jy die gevaar om nie tyd vir die belangrike dinge te hê nie. Maak eers tyd vir die groter dinge, en jy sal verbaas wees hoeveel meer tyd jy vir die res sal hê!—Filippense 1:10.
Wat is die belangrikste dinge wat jy moet doen?
․․․․․
Gaan nou terug en stel prioriteite—nommer die dinge wat jy moet doen in volgorde van belangrikheid. As jy die groot dinge eerste afhandel, sal jy dalk verbaas wees oor hoeveel tyd jy oorhet om die klein dingetjies te doen. Maar onthou, dit werk nie andersom nie!
Wat jy kan doen. Kry ’n dagboekie, en skryf wat jy moet doen in volgorde van belangrikheid neer. Of dalk sal een van die volgende alternatiewe vir jou werk.
□ Selfoonkalender
□ Notaboekie
□ Rekenaarkalender
□ Tafelkalender
Uitdaging #2 Om by ’n rooster te bly
Wat jou dalk sal keer. Ná skool wil jy net ’n paar minute lank ontspan en TV kyk. Of jy was van plan om te leer, maar jy kry ’n SMS van iemand wat jou nooi om te gaan fliek. Die fliek gaan nie wag nie, maar jy kan jou studietyd uitstel tot vanaand. Jy sê vir jouself: ‘Dit lyk in elk geval asof ek beter doen onder druk.’
Redes om dit wel te doen. Jy sal dalk beter punte kry as jy leer wanneer jou verstand helderder is. En het jy nie al klaar genoeg druk nie? Waarom dit vererger deur laat in die aand vir ’n toets te blok? Wat sal dalk die volgende oggend gebeur? Jy sal moontlik verslaap, meer stres ondervind, haastig by die deur moet uithardloop en moontlik laat wees vir skool.—Spreuke 6:10, 11.
Wat jou portuurs sê. “Ek hou baie daarvan om TV te kyk, ghitaar te speel en saam met my vriende te wees. Daar is niks met hierdie dinge verkeerd nie, maar soms veroorsaak dit dat ek die belangriker dinge afskeep en dan op die ou end moet jaag.”—Julian.
Wat jou sal help. Moenie net beplan vir die dinge wat jy móét doen nie—sit ook dinge op jou rooster wat jy geniet. “Dis makliker om te doen wat ek moet, as ek weet dat ek iets lekkers vir later beplan het”, sê Julian.
’n Ander idee: Jy moet ’n doelwit hê waarna jy streef, en stel dan kleiner doelwitte om seker te maak dat jy nog na daardie doelwit toe werk. Die 16-jarige Joey, wat vroeër gemeld is, sê: “Ek wil mense graag voltyds van die Bybel leer. Hierdie doelwit help my om nou by my rooster te bly wat my vir ’n selfs besiger lewe later voorberei.”
Wat jy kan doen. Wat is een of twee realistiese doelwitte wat jy binne die volgende ses maande kan bereik?
․․․․․
Wat is ’n realistiese doelwit wat jy binne die volgende twee jaar kan bereik, en wat moet jy nou begin doen om hierdie doelwit te bereik?
․․․․․
Uitdaging #3 Om netjies en georganiseerd te wees
Wat jou dalk sal keer. Jy verstaan nie juis hoe dit jou gaan help om jou tyd beter te bestuur as jy netjies en georganiseerd is nie. Buitendien is dit soveel makliker om slordig te wees. Jy kan jou kamer altyd môre skoonmaak—of nooit nie! As die chaos jóú nie pla nie, is dit mos nie ’n probleem nie? Of hoe?
Redes om dit wel te doen. As alles netjies en ordelik is, sal dit jou tyd spaar wanneer jy na iets soek. Dit sal jou ook gemoedsrus gee, wat baie belangrik is.—1 Korintiërs 14:40.
Wat jou portuurs sê. “Soms wanneer ek nie tyd het om my klere weg te sit nie, vind ek dat dinge wat ek nodig het, op die een of ander manier onder al die chaos verdwyn het!”—Mandy.
“Ek het ’n week lank na my beursie gesoek. Dit was nogal stresvol. Ek het dit uiteindelik gekry toe ek my kamer skoonmaak.”—Frank.
Wat jou sal help. Probeer om dinge so gou as moontlik op hulle plek te bêre. As jy dinge gereeld doen eerder as om te wag dat alles hand uit ruk, sal jy vinniger kan skoonmaak en goed makliker kan vind.
Wat jy kan doen. Probeer om netheid ’n gewoonte te maak. Hou alles netjieser, en kyk of dit die lewe makliker maak.
Begin met klein dingetjies—begin vandag! Watter wenke in hierdie artikel vind jy die nuttigste?
․․․․․
Ek sal hierdie wenke ․․․․․ week/weke lank probeer en kyk of dit help.
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Vootnoot]
a Name in hierdie artikel is verander.
IETS OM OOR TE DINK
◼ Hoeveel ure moet jy slaap om jou beste te gee?
◼ Wie kan jy vra om jou met jou rooster te help?
◼ As jy reeds ’n rooster het, watter aanpassings moet jy dalk maak?
[Venster/Prent op bladsy 20, 21]
In ’n week het jongmense tussen 8 en 18 jaar hulle ure soos volg deurgebring:
17
saam met hulle ouers
30
by die skool
44
deur TV te kyk, videospeletjies te speel, SMS’e te stuur en na musiek te luister
WAARAAN BESTEE EK MY TYD?
Tel die ure bymekaar wat jy elke week daaraan bestee om
TV te kyk: ․․․․․
videospeletjies te speel: ․․․․․
die rekenaar te gebruik: ․․․․․
na musiek te luister: ․․․․․
Totaal: ․․․․․
Ure wat ek gerus vir belangriker dinge kan gebruik
[Prent op bladsy 20]
As jy eers aan die klein dingetjies aandag skenk, sal jy nie die belangriker dinge kan inpas nie