Die Bybel se beskouing
Wat beteken dit om die ander wang te draai?
IN SY beroemde Bergpredikasie het Jesus Christus gesê: “Moenie die een wat goddeloos is, teëstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang klap, draai die ander een ook na hom toe.”—Matteus 5:39.
Wat het hy bedoel? Het hy Christene aangespoor om passiewe slagoffers te word? Moet Christene maar net in stilte ly en geen wetlike beskerming probeer verkry nie?
Wat Jesus bedoel het
Om te verstaan wat Jesus bedoel het, moet ons die konteks van sy woorde ondersoek, sowel as aan wie hy dit gerig het. Jesus het sy raad hierbo begin deur te verwys na iets in die Heilige Skrif waarmee sy toehoorders reeds bekend was. Hy het gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Oog vir oog en tand vir tand.’”—Matteus 5:38.
Die Skrifgedeeltes waarna Jesus verwys het, word in Eksodus 21:24 en Levitikus 24:20 gevind. Interessant genoeg, in ooreenstemming met God se Wet is die “oog vir oog”-straf wat in hierdie tekste genoem word, eers na behore toegepas nadat ’n oortreder verhoor is voor die priesters en regters wat die omstandighede en die mate van voorbedagtheid van die oortreding opgeweeg het.—Deuteronomium 19:15-21.
Mettertyd het die Jode die toepassing van hierdie wet verdraai. ’n Negentiende-eeuse kommentaar op die Bybel deur Adam Clarke sê: “Dit lyk asof die Jode hierdie wet [oog vir oog, tand vir tand] gebruik het om persoonlike wrokke en al die gruweldade wat weens ’n wraakgierige gees gepleeg is, te regverdig. Wraak is dikwels tot die absolute uiterste gevoer, en meer kwaad is vergeld as wat oorspronklik gely is.” Die Skrif het egter nie persoonlike vendettas goedgekeur nie.
Jesus se lering in sy Bergpredikasie dat ‘die ander wang gedraai moet word’, weerspieël die ware gees van God se Wet aan Israel. Jesus het nie bedoel dat sy volgelinge, as hulle op die een wang geslaan word, steierend moet opstaan en die ander wang moet draai om ook geslaan te word nie. In Bybeltye was ’n klap, net soos vandag dikwels die geval is, nie bedoel om iemand fisies te beseer nie, maar om hom te beledig en ’n reaksie, ’n konfrontasie, uit te lok.
Klaarblyklik het Jesus bedoel dat as een persoon ’n ander tot ’n konfrontasie probeer uitlok met ’n letterlike klap—of met bytende sarkasme—die persoon wat die klap ontvang het, nie met gelyke munt moet terugbetaal nie. Hy moet eerder probeer verhoed dat ’n bose kringloop ontstaan waarin kwaad vir kwaad vergeld word.—Romeine 12:17.
Jesus se woorde was baie soortgelyk aan dié van koning Salomo: “Moenie sê nie: ‘Net soos hy aan my gedoen het, so gaan ek aan hom doen. Ek sal elkeen volgens sy optrede vergeld’” (Spreuke 24:29). ’n Volgeling van Jesus sal die ander wang draai in die sin dat hy ander nie toelaat om hom te dwing om by ’n konfrontasie betrokke te raak nie.—Galasiërs 5:26.
Wat van selfverdediging?
Om die ander wang te draai, beteken nie dat ’n Christen hom nie teen gewelddadige aanvallers sal verdedig nie. Jesus het nie gesê dat ons ons nie moet verdedig nie, maar eerder dat ons nie aanvallend moet optree nie en dat ons ons nie moet laat uitlok om wraak te neem nie. Hoewel dit wys is om wanneer moontlik die aftog te blaas om ’n bakleiery te vermy, is dit gepas om stappe te doen om ons te beskerm en om die polisie se hulp in te roep as ons ’n slagoffer van ’n misdaad is.
Jesus se vroeë volgelinge het dieselfde beginsel toegepas toe hulle hulle wetlike regte verdedig het. Die apostel Paulus het byvoorbeeld van die regstelsel van sy tyd gebruik gemaak om sy reg te beskerm om die predikingsopdrag uit te voer wat Jesus aan Sy volgelinge gegee het (Matteus 28:19, 20). Gedurende ’n predikingsreis in die stad Filippi is Paulus en sy medesendeling, Silas, deur die burgerlike owerheid in hegtenis geneem en daarvan beskuldig dat hulle die wet verbreek het.
Die twee is toe in die openbaar geslaan en sonder enige verhoor in die gevangenis gegooi. Toe Paulus die geleentheid gekry het, het hy hom beroep op sy regte as ’n Romeinse burger. Toe die owerheid hoor dat hy ’n Romeinse burger is, het hulle bang geword vir die gevolge en Paulus en Silas gesoebat om weg te gaan sonder om moeilikheid te maak. Paulus het dus ’n presedent gestel toe hy ‘die goeie nuus verdedig en wetlik bevestig’ het.—Handelinge 16:19-24, 35-40; Filippense 1:7.
Soos Paulus moes Jehovah se Getuies al herhaaldelik regstryde in howe voer om hulle reg te verdedig om hulle Christelike bedrywighede voort te sit. Dit is ook die geval in lande wat normaalweg beweer dat hulle burgers godsdiensvryheid geniet. Ook wanneer dit by misdaad en persoonlike veiligheid kom, word daar nie van Jehovah se Getuies verwag om die ander wang te draai nie—om mishandeling te verduur sonder om hulle te verdedig nie. Hulle doen wetlike stappe om hulle te verdedig.
As Christene doen die Getuies dus tereg stappe om sekere wetlike regte vas te stel, hoewel hulle weet dat sulke maatreëls dikwels beperkte resultate het. Soos Jesus laat hulle hierdie sake dus in God se hande, vol vertroue dat Hy sal optree met volle kennis van die feite en dat enige vergelding van Hom volmaakte geregtigheid sal weerspieël (Matteus 26:51-53; Judas 9). Ware Christene hou in gedagte dat die wraak Jehovah toekom.—Romeine 12:17-19.
HET JY AL GEWONDER?
● Watter optrede moet Christene vermy?—Romeine 12:17.
● Verbied die Bybel dat ’n mens regstappe doen om jou te verdedig?—Filippense 1:7.
● Watter vertroue het Jesus in sy Vader gehad?—Matteus 26:51-53.