Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 2
Vlug uit Babilon!
In hierdie reeks van agt dele bespreek Ontwaak! ’n uitsonderlike kenmerk van die Bybel—die profesieë, of voorspellings, daarin. Die artikels sal jou help om die volgende vrae te beantwoord: Is Bybelprofesieë bloot die werk van slim mense? Of is daar rede om te glo dat dit deur God geïnspireer is? Ons nooi jou om die bewyse te ondersoek.
IN DIE vorige artikel in hierdie reeks het ons drie Bybelprofesieë bespreek wat oor Abraham se nakomelinge handel. Die getuienis toon dat God hierdie beloftes vervul het deur middel van die eertydse nasie Israel, wat nakomelinge van Abraham was.
Eertydse Babilon was nog ’n nasie wat ’n belangrike rol in Bybelgeskiedenis gespeel het, veral gedurende die sewende eeu VHJ. Kom ons kyk na drie Bybelprofesieë aangaande hierdie koninkryk om te sien of daar bewyse is dat dit deur God geïnspireer is.
Die profeet Moses het die eertydse volk Israel gewaarsku: “As jy Jehovah jou God enigsins vergeet en agter ander gode aan loop en hulle dien en jou voor hulle neerbuig, [sal] julle vir seker . . . vergaan” (Deuteronomium 8:19; 11:8, 9). Nogtans het die Israeliete herhaaldelik teen God in opstand gekom deur hulle tot afgode te wend.—1 Konings 14:22-24.
Ná verloop van tyd het God se geduld opgeraak, en hy het toegelaat dat sy eiesinnige knegte in die hande van die Babiloniërs val. Onder koning Nebukadnesar—word ook Nebukadresar gespel—het Babilon se krygsmag teen Israel opgetrek en Jerusalem beleër. Was hierdie beleëring betekenisvol? Kom ons kyk wat die profeet Jeremia byna 20 jaar voor hierdie gebeurtenis geskryf het.—Jeremia 25:1.
Profesie 1: “Omdat julle [die Israeliete] nie my [God se] woorde gehoorsaam het nie, laat ek . . . Nebukadresar, die koning van Babilon, [haal], en ek sal hulle [die Babiloniërs] bring teen hierdie land en teen sy inwoners . . . En hierdie hele land sal ’n verwoeste plek word, ’n voorwerp van verbasing, en hierdie nasies sal die koning van Babilon sewentig jaar lank moet dien.”—Jeremia 25:8-11.
Vervulling: In 607 VHJ het Nebukadnesar Jerusalem ná ’n lang beleëring verwoes. Hy het ook ander Judese stede verower, insluitende Lagis en Aseka (Jeremia 34:6, 7). Hy het die meeste van die oorlewendes na Babilon weggevoer, waar hulle 70 jaar lank gevange gehou is.
Wat die geskiedenis toon:
● Die Bybel toon dat Nebukadnesar die koning van Babilon was omstreeks die tyd toe Jerusalem vernietig is. Argeologiese bewyse staaf wat die Bybel oor sy bestaan sê. ’n Kamee van onikssteen word uitgestal in Florence, Italië. ’n Inskripsie daarop sê gedeeltelik: “Nebukadnesar, die koning van Babilon, het [hierdie kamee] in sy leeftyd ter ere van sy heer, Merodag, laat maak.” Nebukadnesar het van 624 tot 582 VHJ regeer.
● Die boek The Bible and Archaeology sê dat opgrawings en opmetings in Lagis die volgende bevestig: “Die uiteindelike vernietiging was gewelddadig, en die vuur wat die stad [Lagis] verwoes het, was so erg dat die kalksteen van die geboue in kalk verander het.”
Profesie 2: “Wanneer sewentig jaar in Babilon vervul is, sal ek [Jehovah] my aandag op julle [die Joodse ballinge] rig, en ek sal my goeie woord teenoor julle bevestig deur julle na hierdie plek [die land van Juda] terug te bring.”—Jeremia 29:10.
Vervulling: Nadat die Joodse gevangenes 70 jaar, van 607 tot 537 VHJ, in ballingskap was, het koning Kores van Persië hulle vrygelaat en toegelaat om na hulle vaderland terug te keer om die tempel in Jerusalem te herbou.—Esra 1:2-4.
Wat die geskiedenis toon:
● Is die Israeliete 70 jaar lank in Babilon gevange gehou, soos die Bybel voorspel het? Let op wat ’n vooraanstaande Israeli-argeoloog, Ephraim Stern, gesê het: “Daar is absoluut geen bewyse dat die gebied tussen 604 VHJ en 538 VHJ bewoon is nie. Gedurende hierdie hele tydperk is nie ’n enkele dorp wat deur die Babiloniërs vernietig is, weer bewoon nie.” Hierdie tydperk waartydens die verowerde gebied nie bewoon is en niemand hulle daar hervestig het nie, stem ten nouste ooreen met Israel se ballingskap in Babilon vanaf 607 tot 537 VHJ.—2 Kronieke 36:20, 21.
● Eertydse nasies regoor Mesopotamië het op tablette van sagte klei geskryf. Een kleitablet wat hard geword het en die Kores-silinder genoem word, dateer uit omstreeks 539 VHJ, dieselfde jaar toe koning Kores van Persië die Babiloniese Ryk omvergewerp het. Een inskripsie sê: “Ek is Kores, . . . koning van Babilon.” Dieselfde inskripsie sê verder: “Ek het aan [sekere voormelde] heilige stede oorkant die Tigris, waarvan die heiligdomme al lank in puin lê, die beelde terugbesorg wat (eens) daarin gewoon het . . . Ek het (ook) al hulle (voormalige) inwoners versamel en hulle woonplekke (aan hulle) teruggegee.”
Hierdie sekulêre bron stem ooreen met die Bybelprofesie wat sê dat die Joodse ballinge na hulle vaderland teruggevoer sou word—’n profesie wat sowat 200 jaar vooruit opgeteken is.
Profesie 3: “Babilon, die sieraad van die koninkryke, die prag van die trots van die Galdeërs, sal word soos toe God Sodom en Gomorra verwoes het. Dit sal nooit bewoon word nie.”—Jesaja 13:19, 20.
Vervulling: Sake het ’n dramatiese wending geneem toe Babilon, die magtige wêreldmoondheid, in 539 VHJ deur ’n gesamentlike leër van die Mede en die Perse tot ’n val gebring is.a Die stad het nooit ten volle herstel nie. Dit het stadig agteruitgegaan en uiteindelik ’n verlate woesteny “sonder inwoner” geword.—Jeremia 51:37.
Wat die geskiedenis toon:
● Babilon se verdwyning was so volkome dat die geleerde Tom Boiy vertel van “Westerse geskiedkundiges en reisigers van die sestiende tot die agtiende eeu” wat geweet het van die stad se simboliese waarde, maar gesukkel het om “die presiese ligging” te bepaal.
● In 1919 het H.R. Hall, die kurator van Egiptiese en Assiriese Oudhede by die Britse Museum, Babilon so beskryf: “Dit is ’n hoop verbrokkelde mure . . . wat byna toe is onder die sand.”
Wat kan ons aflei uit ons ondersoek van die vervulling van hierdie profesieë? Dit is sekerlik duidelik dat die Bybel keer op keer bewys het dat dit ’n boek van akkurate profesie is. Die profetiese boodskappe oor Juda en Babilon is tot in die fynste besonderhede vervul!
Jerusalem is vernietig omdat die volk nie ag geslaan het op God se waarskuwings om goddelose gedrag te verwerp nie. Ná die voorspelde 70 jaar van gevangenskap in Babilon, is die Israeliete toegelaat om na Jerusalem terug te keer. Die eertydse stad Babilon het geval op die wyse wat voorspel is, en dit is tot vandag toe onbewoon. Maar daar is nog baie ander profesieë in die Bybel.
Ons volgende nommer sal gebeure in die eerste eeu HJ bespreek wat lank vooruit voorspel is. Hierdie vervulde profesieë sal ons vertroue in die akkuraatheid van die Bybel verder versterk.
[Voetnoot]
a Jesaja het ook sowat 200 jaar vooruit voorspel dat Medië ’n sleutelrol in die verowering van Babilon sou speel.—Sien Jesaja 13:17-19; 21:2.
[Tabel op bladsye 12, 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
TYDLYN VAN BABILON
ca. 732 VHJ: Jesaja voorspel die val van Babilon
(VHJ)
647 Jeremia as profeet aangestel
632 Babilon verower Assirië
625 Nebukadnesar begin regeer
617 Daniël en Esegiël na Babilon geneem
607 Nebukadnesar vernietig Jerusalem
582 Nebukadnesar se bewind eindig
539 Babilon deur die Mede en die Perse verower
537 Joodse gevangenes toegelaat om na Jerusalem terug te keer
Jode word 70 jaar lank in Babilon gevange gehou
[Prent op bladsy 12]
Die Lagis-briewe steun Jeremia se beskrywing van die Babiloniese verowering van Juda
[Prent op bladsy 13]
Die Kores-silinder meld Kores se beleid om gevangenes na hulle vaderland te laat terugkeer
[Foto-erkennings op bladsy 13]
Bladsy 12, Lagis-brief: Photograph taken by courtesy of the British Museum; bladsy 13, Kores-silinder: © The Trustees of the British Museum