Hoofstuk 19
„Ons het gehoor dat God met julle is”
1, 2. (a) Wat voorspel Sagaria 8:23 vir ons dag? (b) Wie is die God wat hier bedoel word, en hoe beklemtoon die Bybel sy naam?
„ONS wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.” Dit is wat die Bybel voorspel het dat mense uit al die nasies in ons dag sal sê (Sagaria 8:23). En wie is hierdie God waarvan die profesie van Sagaria praat? Daar bestaan geen twyfel daaroor nie. In hierdie een kleinerige Bybelboek kom sy naam 135 keer voor. Dit is JEHOVAH!
2 Hy het self aangaande sy persoonlike naam, Jehovah, gesê: „Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag” (Exodus 3:15). Die belangrikheid van daardie naam word aangedui deur die feit dat dit byna 7 000 keer in die volledige Hebreeuse Bybelteks voorkom—baie meer as alle titels soos Here en God tesaam. Soos voorspel, word daardie naam in hierdie „laaste dae” by uitstek met een groep mense geassosieer.
„ONS WIL MET JULLE SAAMGAAN”
3. (a) Wie sou, volgens Sagaria 8:20-23, na Jehovah soek? (b) En deur met wie om te gaan?
3 In verband hiermee het God die profeet Sagaria ten tye van die herbouing van Jehovah se tempel in eertydse Jerusalem geïnspireer om die volgende te skryf: „So sê [Jehovah] van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van [Jehovah] om genade te smeek en [Jehovah] van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal daar baie volke en magtige nasies kom om [Jehovah] van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van [Jehovah] om genade te smeek. So sê [Jehovah] van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”—Sagaria 8:20-23.
4. Waarom is hierdie profesie nie op Judaïsme of die valse Christendom van toepassing nie?
4 Die beperkte vervulling wat daardie profesie van die dae van Serubbabel af in verband met die herboude tempel in Jerusalem ondergaan het, het vooruitgesien op ’n baie groter vervulling in ons dag. In verband met watter volk? Dit sou tog sekerlik nie redelik wees dat diegene wat ‚Jehovah soek’ hulle na mense wend wat bygelowig weier om selfs God se naam uit te spreek, soos die geval is met die natuurlike Jode wat aan hulle tradisionele aanbidding vasklou nie. En dit geld ook vir die valse Christendom, wat die Joodse gebruik navolg om nie die goddelike naam te gebruik nie. Dit is nie na aardse Jerusalem dat mense hulle in ons dag wend om Jehovah te aanbid nie. Soos Jesus voorspel het, het God sy tempel in Jerusalem verlaat. Dit is in 70 G.J. verwoes en is nooit weer herbou nie. Dit bewys vir enige redelike persoon dat God nie met nie-Christelike Israel is nie.—Mattheüs 23:37, 38; vergelyk 1 Konings 9:8, 9.
5. Hoe identifiseer die Skrif (a) die „Jerusalem” wat Jehovah vandag verteenwoordig? (b) die „Joodse man” van wie Sagaria geprofeteer het?
5 Die „Jerusalem” wat Jehovah vandag verteenwoordig, word in Hebreërs 12:22 as „die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem”, beskryf. Net soos eertydse Jerusalem ’n sigbare simbool van Jehovah se heerskappy was, is die „hemelse Jerusalem” God se Messiaanse Koninkryk waarin Jesus Christus aan die einde van die Heidense Tye in 1914 as Koning op die troon geplaas is (1 Kronieke 29:23; Lukas 21:24). Daardie regering het verteenwoordigers hier op aarde, naamlik diegene wat dit lojaal verkondig as die enigste gewisse hoop vir die mensdom. Die eerste persone wat aangekondig het dat die Koninkryk in 1914 opgerig is, was die oorblywende lede van die „klein kuddetjie”. Hulle is, geestelik gesproke, „die Israel van God”. Hulle is die geestelike ‚Jode’ oor wie Sagaria geprofeteer het (Lukas 12:32; Galasiërs 6:16; Romeine 2:28, 29). Weens hulle liefde vir God en hulle waardering vir die verantwoordelikheid om bekend te maak dat Jehovah die ware en almagtige God is, het hulle in 1931 die naam Jehovah se Getuies aangeneem.—Jesaja 43:10-12, NW.
HOE WORD HULLE UITGEKEN?
6. (a) Wat het miljoene mense oortuig van die identiteit van die volk met wie God vandag is? (Behandel die punte een vir een; lees die tekste.) (b) Watter punt(e) het jou die meeste beïndruk?
6 Omdat hierdie geestelike Jode getrou hulle verantwoordelikheid as Jehovah se Getuies nagekom het, is miljoene opregte persone rondom die aarde gehelp om ‚Jehovah te soek’. Hulle het tot die besef gekom dat Jehovah waarlik met hierdie mense is wat sy naam dra. Wat het hulle daarvan oortuig? Baie dinge, waaronder hierdie belangrike aspekte:
(1) Al die oortuigings van Jehovah se Getuies is op die Bybel gegrond—nie bloot op alleenstaande tekste nie, maar op die hele Woord van God. Jehovah se Getuies verkondig nie dinge wat hulle self uitgedink het nie; hulle beantwoord eerder vrae deur te toon wat die Bybel sê. Hulle eer Jehovah deur hom te laat spreek. (Vergelyk Johannes 7:16-18.)
(2) Die Bybel sê dat God self „’n volk uit die heidene vir sy Naam” sal aanneem (Handelinge 15:14). Hulle sal sy naam aanroep en alles in hulle vermoë doen om dit aardwyd bekend te maak (Jesaja 12:4, 5). Jehovah se Getuies is wêreldwyd die volk wat by uitstek met God se persoonlike naam, Jehovah, geassosieer word.
(3) Jehovah se Getuies het ’n oorvloed van versadigende, geestelike voedsel. Die dinge wat hulle uit die Skrif leer en die invloed wat dit op hulle lewensuitkyk het, maak hulle ’n gelukkige volk, in teenstelling met die wêreld in die algemeen. En dit is wat Jehovah van sy knegte voorspel het. (Jesaja 65:13, 14; vergelyk Mattheüs 4:4.)
(4) Jehovah se Getuies gebruik God se Woord as maatstaf vir hulle gedrag en om hulle te lei in hulle besluite oor daaglikse lewensaangeleenthede—in hulle gesinne, by die werk, by die skool, in hulle keuse van vermaak, om gebruike uit te ken wat vermy moet word en om te bepaal watter bedrywighede die grootste waarde het. Jehovah het aan diegene wat dit doen, beloof dat hy ‚hulle paaie sal gelykmaak’ (Spreuke 3:5, 6).
(5) Die toesig oor die gemeentes van Jehovah se Getuies is geskoei op die lees van die eerste-eeuse gemeente van God, waarin ouere manne voorbeelde vir die kudde en medewerkers vir die Koninkryk van God en nie ’n verhewe geestelikeklas was nie (1 Petrus 5:2, 3; 2 Korinthiërs 1:24).
(6) Jehovah se Getuies bemoei hulle nie met die politieke aangeleenthede van die wêreld nie, maar doen die werk wat die Bybel vir ware Christene voorskryf, naamlik om die goeie nuus van God se Koninkryk tot ’n getuienis in die hele wêreld te verkondig voordat die einde kom. (Mattheüs 24:14; vergelyk Johannes 17:16; 18:36.)
(7) Jehovah se Getuies het mekaar werklik lief, soos Jesus gesê het onder sy ware dissipels die geval sou wees. Velkleur, stamagtergrond, ekonomiese omstandighede, nasionaliteit, taal—nie een van hierdie dinge maak dat die een op die ander neerkyk nie. Ondanks menslike onvolmaakthede is hulle almal waarlik verenig as ’n internasionale broederskap, en hulle gee aan God al die eer hiervoor. (Johannes 13:35; vergelyk Handelinge 10:34, 35.)
(8) Soos die vroeë Christene hou Jehovah se Getuies vandag aan om God te dien ten spyte van vervolging. Hulle vertrou op God en betaal nie hulle teenstanders met gelyke munt nie. Soos in die verlede is God nog steeds met sy knegte om hulle uit te red (Jeremia 1:8; Jesaja 54:17).
7. (a) Wie is die „tien man”? (b) Hoe toon hulle dat Jehovah werklik hulle God geword het?
7 Dit is net ’n paar van die redes waarom, soos voorspel, „tien man uit al die tale van die nasies” met opregte oortuiging vir die oorblyfsel van Koninkrykserfgename sê: „Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sagaria 8:23). Die Skrif gebruik „tien” om volkomenheid ten opsigte van aardse sake aan te dui; daarom beeld hierdie „tien man” almal af wat nou saam met Christus se geesgesalfde „broeders” ware aanbidding beoefen. Hulle gaan nie net met die oorblyfsel om by hulle vergaderinge nie, maar identifiseer hulleself as aanbidders van hulle God, Jehovah. Hulle wy hulle lewe deur Jesus Christus aan hom toe, simboliseer dit deur waterdoop en toon sodoende dat hulle hulle ‚by Jehovah aansluit’. Dan neem hulle vreugdevol deel aan die werk wat aardwyd deur sy getuies gedoen word.—Sagaria 2:11; Jesaja 61:5, 6.
NAVOLGENSWAARDIGE VOORBEELDE
8. (a) Wat het die koningin van Skeba beweeg om na Jerusalem te reis? (b) Wat het sy by haar aankoms gedoen, en met watter uitslag? (c) Hoe het mense in ons dag getoon dat hulle soos sy is? (Psalm 2:10-12).
8 Sommige wat hierdie stappe doen, is soos die koningin van Skeba in die dae van Salomo. Van ver af het sy ‚die gerug van Salomo gehoor in verband met die naam van Jehovah’. Sy het self nog nooit met Salomo gepraat nie en was nog nooit by Jehovah se tempel in Jerusalem nie. Sy was nie heeltemal oortuig daarvan dat dit alles so goed kon wees soos sy gehoor het nie. Maar sy het die moeite gedoen om uit te vind en het ongeveer 2 250 kilometer op ’n kameel afgelê om dit te doen. Sy het antwoorde op al haar „moeilike vrae” gekry en uitgeroep: „Kyk, die helfte is my nie meegedeel nie.” Sy kon nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat Jehovah sy aanbidders liefhet nie (1 Konings 10:1-9, vergelyk NAV). Sommige vooraanstaande mense het vandag haar voorbeeld gevolg, en so ook talle met eenvoudiger omstandighede. Hulle sien bewyse dat Jehovah se Getuies geen mens nie maar Jesus Christus, die Grotere Salomo, as hulle Koning aanvaar. Die antwoorde wat hulle uit God se Woord ontvang, bevredig hulle verstande en harte, en hulle voel hulle gedronge om Jehovah te verheerlik.—Vergelyk Lukas 11:31.
9. (a) In watter opsig was Ragab se gesindheid anders as dié van die koningin van Skeba? (b) Wat was opmerklik in verband met die gebeure wat gelei het tot die behoud van Ragab en haar familie? (c) Hoe bewys mense vandag dat hulle soos Ragab is?
9 Ander is soos Ragab van Jerigo, wat reeds deur gerugte wat sy gehoor het oortuig geraak het dat die God van Israel „God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder” is (Josua 2:11). Toe Israelitiese verkenners die land binnegekom het, het sy hulle verwelkom, weggesteek en haar lewe op die spel geplaas om hulle te beskerm. Sy het geloof gehad en daarvan bewys gelewer deur haar werke, naamlik deur haar by Jehovah se volk te skaar (Hebreërs 11:31; Jakobus 2:25). Sy het noukeurig ag geslaan op die instruksies wat gegee is vir haar behoud. Ragab het ook liefdevolle besorgdheid getoon teenoor haar vader en moeder, haar broers en susters, en hulle die kans gegee om gespaar te word indien hulle die vereistes vir oorlewing nagekom het (Josua 2:12, 13, 18, 19). As gevolg daarvan is sy en haar familie gered toe Jerigo en sy Baälaanbiddende inwoners vernietig is (Josua 6:22, 23). Daardie verhaal het groot betekenis vir ons dag. Dit toon dat Jehovah mense sal spaar wat soos Ragab is. Hoe toon hulle dat hulle soos sy is? Hulle stel geloof in Jehovah, vereenselwig hulle met die lede van geestelike Israel, slaan noulettend ag op die instruksies wat deur hierdie kanaal gegee word en probeer opreg om hulle gesin en hulle familielede te help om die wysheid van so ’n weg in te sien.
10. (a) Wat is dit wat mense werklik na Jehovah se Getuies trek, soos Sagaria se profesie aandui? (b) Hoe kan ons deur ons gesindheid en ons dade toon dat ons harte waarlik vol liefde vir Jehovah is?
10 Die eintlike aantrekking wat mense van alle nasies beweeg om hulle by Jehovah se Getuies te skaar, is natuurlik Jehovah God self. Sy Woord vind ingang by hulle. Die vrug wat sy gees in die lewens van sy knegte voortbring, is vir hulle aanloklik. Hoe beter hulle bekend raak met sy eienskappe en sy handelinge met die mensdom, hoe meer hunker hulle na die tyd wanneer God se naam gesuiwer sal wees van al die blaam wat Satan en ongelowige mense daarop gewerp het. Hulle probeer self om so te lewe dat hulle hulle Skepper behaag en dat dit ander sal beweeg om hom te verheerlik (1 Petrus 2:12). Hulle bid van ganser harte soos Jesus sy dissipels geleer het: „Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:9, 10). En in harmonie met hulle gebed verrig hulle heilige diens vir God saam met diegene wat onteenseglik bewys het dat hulle die ‚volk vir Jehovah se naam’ is.