“Kyk, Ek maak alles nuut”
1-4. (a) In watter aspekte van ons buitebladprent sou jy graag wou deel? (b) Watter heerlike vooruitsig word hier aan jou voorgehou? (c) Meld enkele Bybeltekste wat so ’n hoop staaf.
KYK na die gelukkige mense op die buiteblad van hierdie brosjure. Sou jy graag een van hulle wou wees? ‘Natuurlik’, sê jy. Want hier is die vrede en harmonie wat deur die hele mensdom begeer word. Mense van alle rasse—swartes, wittes, geles—meng almal soos een gesin. Watter vreugde! Watter eenheid! Hierdie mense bekommer hulle klaarblyklik nie oor kernafvalstowwe of die bedreiging van terrorisme nie. Straalbomwerpers donder nie deur die vreedsame lug bo hierdie lieflike park nie. Daar is geen soldate, geen tenks, geen gewere nie. Nie eens ’n polisieknuppel is nodig om die orde te handhaaf nie. Oorlog en misdadigheid bestaan eenvoudig nie. En daar is geen woningtekort nie, want elkeen het ’n pragtige huis.
2 Kyk net na daardie kinders! Hulle spel is ’n genot om te aanskou. Watter diere om mee te speel! Geen ystertralies is in hierdie park nodig nie, want alle diere verkeer in vrede met die mens en met mekaar. Selfs die leeu en die lam het vriende geword. Kyk daardie helderkleurige voëls wat heen en weer dartel, en hoor hoe hulle pragtige liedere saam met kinders se gelag die lug vul. Geen koutjies nie? Nee, want hier is daar net vryheid en onbeperkte vreugde. Ruik net die geur van daardie blomme, luister na die kabbelende stroom, voel die aangename warmte van die son. O, om maar net aan die vrugte in daardie mandjie te kan proe, want dit is die beste wat die aarde kan voortbring, die allerbeste, soos alles wat in hierdie pragtige, parkagtige tuin gesien en geniet kan word.
3 ‘Maar wag’, sê iemand, ‘waar is die bejaardes? Moet hulle nie ook deel in die genot van hierdie gelukkige gemeenskap nie?’ In werklikheid is die bejaardes wel daar, maar hulle word weer jonk. In hierdie park sterf niemand aan die ouderdom nie. Die jonges word nou volwasse, en word dan niks ouer nie. Hetsy hy 20 jaar oud of 200 jaar oud is, elkeen van die miljoene persone wat in hierdie park woon, verheug hom in die lewenslus van jeugdigheid, in volmaakte gesondheid. Miljoene, sê jy? Ja, miljoene, want hierdie park word tot in elke land uitgebrei. Dit sal oorloop van lewe, vrede en prag tot aan die eindes van ons aarde, van Foedjijama tot die Andes, van Hongkong tot die Middellandse See. Want die hele aarde word in ’n paradyspark verander. Dit sal ’n aardwye, herstelde paradys wees.
4 ‘Ongelooflik’, het jy gesê? Beskou egter eers die feite ter stawing hiervan. Dit is vir jou en jou gesin moontlik om die einde van die teenswoordige, veelbewoë stelsel te oorlewe en om in die Paradys wat in die prentjie op ons buiteblad voorgestel word in te gaan.a
Die boek wat die Paradys verduidelik
5. (a) Watter boek verduidelik hierdie dinge? (b) In watter opsigte is dit ’n besondere boek?
5 Al hierdie heerlike dinge, en die sekerheid daarvan, word verduidelik in ’n boek, die wonderlikste boek wat ooit geskrywe is. Dit word die Bybel genoem. Dit is ’n baie ou boek, daar dele daarvan reeds sowat 3 500 jaar gelede geskryf is. Terselfdertyd is dit die boek wat die meeste op die hoogte van die tyd is waar dit kom by gesonde, praktiese raad vir die hedendaagse lewe. Die profesieë daarvan verwek ’n helder hoop vir die toekoms. Dit is die grootste treffer in die hele geskiedenis, want meer as 2 000 000 000 eksemplare van die hele Bybel of groot dele daarvan is in sowat 1 810 tale versprei.
6. Wat onderskei die Bybel van ander sogenaamd heilige geskrifte?
6 Geen ander heilige boek het so ’n universele verspreiding gehad nie, en die meeste is verreweg nie so oud nie. Die Koran van Islam is minder as 1 400 jaar oud. Boeddha en Confucius het omtrent 2 500 jaar gelede gelewe, en hulle geskrifte dateer uit daardie tyd. Die Geskrifte van Sjinto is hoogstens 1 200 jaar gelede in hulle huidige vorm saamgestel. Die Boek van Mormon is net 160 jaar oud. Geeneen van hierdie heilige boeke kan die mensegeskiedenis akkuraat deur 6 000 jaar heen terugspoor soos die Bybel dit doen nie. Om die oorspronklike godsdiens te verstaan, moet ons dus na die Bybel gaan. Dit is die enigste boek met ’n universele boodskap vir die hele mensdom.
7. Wat het denkende mense van die Bybel gesê?
7 Die wysheid en prag van die Bybelboodskap is deur denkende mense uit alle nasies en uit alle stande geloof. Die beroemde wetenskaplike en ontdekker van die wet van swaartekrag, sir Isaac Newton, het gesê: “Geen wetenskappe word beter bevestig as die Bybel nie.” Patrick Henry, die Amerikaanse revolusieleier beroemd vir die woorde “Gee my vryheid, of gee my die dood”, het ook gesê: “Die Bybel is meer werd as al die ander boeke wat ooit gedruk is.” Selfs die groot Hindoe-wysgeer Mohandas K. Gandhi het eenmaal vir die Britse onderkoning van Indië gesê: “Wanneer u land en my land die leerstellings toepas wat deur Christus in hierdie Bergpredikasie gemeld is, sal ons nie alleen die probleme van ons eie lande nie, maar ook dié van die hele wêreld opgelos het.” Gandhi het gepraat van Mattheüs hoofstukke 5 tot 7 in die Bybel. Lees gerus hierdie hoofstukke en kyk of jy nie deur die kragtige boodskap daarvan aangegryp word nie.
Die Bybel—’n Oosterse boek
8, 9. (a) Waarom is dit verkeerd om die Bybel ’n Westerse boek te noem? (b) Hoe is die Bybel geskryf, en hoe lank het dit geneem? (c) Waarom kan die Bybel ’n biblioteek genoem word? (d) Hoeveel manne is gebruik om die Bybel te skryf? (e) Watter getuienis het party van hierdie manne oor die Bron van die Bybel gelewer?
8 In stryd met die volksopvatting is die Bybel nie ’n produk van die Westerse beskawing nie en verheerlik dit ook nie daardie beskawing nie. Feitlik die hele Bybel is in Oosterse lande geskrywe. Die manne wat dit neergeskrywe het, was almal Oosterlinge. Eenduisend jaar voor Boeddha, in 1513 v.G.J., is Moses, wat in die Midde-Ooste gewoon het, deur God geïnspireer om die eerste boek van die Bybel, Genesis, te skryf. Van hierdie begin af volg die Bybel een harmoniese tema reg tot die laaste boek, Openbaring. Die Bybel is in 98 G.J., omtrent 600 jaar na Boeddha, voltooi. Het jy geweet dat die Bybel uit 66 verskillende boeke bestaan? Ja, die Bybel is op sigself ’n biblioteek!
9 Oor ’n tydperk van 1 600 jaar van Moses se dag af het sowat 40 manne dus ’n aandeel daarin gehad om die harmoniese verhaal van die Bybel op skrif te stel. Hulle getuig dat hulle geskrifte geïnspireer is deur ’n mag verreweg hoër as die sterflike mens. Die Christenapostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid”b (2 Timotheüs 3:16). En die apostel Petrus het verduidelik dat “geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek”.—2 Petrus 1:20, 21; 2 Samuel 23:2; Lukas 1:70.
10. (a) Hoe het die Bybel by ons uitgekom? (b) Waarom kan ons seker wees dat ons steeds die oorspronklike geïnspireerde Bybelteks het?
10 Die manier waarop die Bybel by ons uitgekom het, is ook baie merkwaardig. Duisende jare lank, tot die uitvinding van die drukpers ongeveer 500 jaar gelede, moes kopieë van die Bybel met die hand gemaak word. Geen ander letterkundige werk van die ou tyd is so naarstig oorgeskrywe en weer oorgeskrywe nie. Dit is oor en oor afgeskryf, maar altyd met groot sorg. Die kopiïste het slegs ’n paar geringe foute begaan, en deur hierdie kopieë met mekaar te vergelyk, was dit moontlik om die oorspronklike teks wat deur God geïnspireer is te bepaal. ’n Vooraanstaande gesaghebbende op die gebied van Bybelmanuskripte, sir Frederic Kenyon, sê: “Die laaste grondslag vir enige twyfel dat die Skrif ons bereik het wesenlik soos dit geskrywe is, is nou uit die weg geruim.” Daar bestaan vandag nog sowat 16 000 handgeskrewe kopieë van die Bybel of dele daarvan, waarvan party selfs uit die tweede eeu voor Christus dateer. Bowendien is daar in byna al die tale van die aarde juiste vertalings gemaak uit die Hebreeuse, Aramese en Griekse tale waarin die Bybel oorspronklik geskrywe is.
11. Watter hedendaagse ontdekkings bevestig die Bybelverslag?
11 Party het probeer om die Bybel te diskrediteer deur te sê dat dit vol foute is. In onlangse jare het argeoloë egter in die ruïnes van ou stede van Bybellande opgrawings gedoen en inskripsies en ander getuienis gevind wat oortuigend bewys dat die persone en plekke wat selfs in die oudste Bybelgeskrifte gemeld word werklik bestaan het. Hulle het baie getuienis opgegrawe wat dui op ’n globale vloed, wat volgens die Bybel meer as 4 000 jaar gelede, in Noag se dag, plaasgevind het. Prins Mikasa, ’n welbekende argeoloog, sê hieroor: “Was daar werklik ’n Vloed? . . . Die feit dat die vloed werklik plaasgevind het, is oortuigend bewys.”c
Die God van die Bybel
12. (a) Wat sê sommige spotters oor God? (b) Waarom praat die Bybel van God as ’n Vader? (c) Wat is God se naam volgens die Bybel?
12 Net soos party mense gespot het met die Bybel, spot ander met die feit dat daar ’n almagtige God is (2 Petrus 3:3-7). Hulle sê: ‘Hoe kan ek aan God glo, aangesien ek hom nie kan sien nie? Is daar bewyse dat ’n onsigbare Skepper, hoër as die mens, werklik bestaan? Woon God nie in alles nie?’ Ander sê: ‘Daar is geen God of Boeddha nie.’ Die Bybel toon egter dat net soos ons almal die lewe deur ’n aardse vader ontvang het, ons oorspronklike ouers lewe ontvang het van ’n hemelse Vader, of Skepper, wie se naam Jehovah is.—Psalm 83:18, NW; 100:3; Jesaja 12:2, NW; 26:4, NW.
13. Op watter twee maniere openbaar God hom aan die mensdom?
13 Jehovah het hom op twee uitsonderlike maniere aan die mensdom geopenbaar. Die vernaamste manier is deur die Bybel, wat sy waarheid en sy ewige voornemens bekend maak (Johannes 17:17; 1 Petrus 1:24, 25). Die ander manier is deur sy skepping. Deur die wonderlike dinge om hulle waar te neem, het talle mense tot die besef gekom dat daar ’n Skepper-God moet wees wie se grootse persoonlikheid deur sy werke weerspieël word.—Openbaring 15:3, 4.
14. Wat vertel die Bybel ons van God?
14 Jehovah God is die Outeur van die Bybel. Hy is die Groot Gees wat deur alle ewigheid heen bestaan (Johannes 4:24; Psalm 90:1, 2). Sy naam “Jehovah” vestig die aandag op sy voorneme met sy skepsele. Dit is sy voorneme om daardie groot naam te regverdig deur die goddelose te vernietig en die wat hom liefhet te verlos sodat hulle op ’n paradysaarde kan lewe (Exodus 6:1-7; Jesaja 35:1, 2). Daar hy die almagtige God is, het hy die mag om dit te doen. As die Skepper van die ganse heelal is hy ver bo gewone volksgode en afgode verhewe.—Jesaja 42:5, 8; Psalm 115:1, 4-8.
15. Tot watter slotsom het ’n studie van die skepping intelligente mense gelei?
15 Gedurende onlangse eeue het wetenskaplikes baie tyd daaraan gewy om die skeppingswerke te bestudeer. Tot watter slotsom het hulle gekom? Een van die baanbrekers op die gebied van elektrisiteit, die beroemde Britse fisikus lord Kelvin, het gesê: “Hoe deegliker die wetenskap bestudeer word, hoe verder neem dit ons, myns insiens, weg van enigiets wat met ateïsme ooreenkom.” Hoewel wetenskaplike Albert Einstein, ’n gebore Europeër, na bewering ’n ateïs was, het hy erken: “Dit is vir my genoeg om . . . te peins oor die wonderlike bou van die heelal, waarvan ons net ’n vae idee het, en om op nederige wyse te probeer om ’n oneindig klein deel van die intelligensie wat in die natuur geopenbaar word te begryp.” Die Amerikaanse wetenskaplike en nobelpryswenner Arthur Holly Compton het gesê: “Die ordelike ontvouing van die heelal staaf die waarheid van die indrukwekkendste woorde wat ooit geuiter is—‘In die begin het God.’” Hy het die aanvangswoorde van die Bybel aangehaal.
16. Hoe verheerlik die heelal God se skeppingswysheid en -krag?
16 Die heersers van magtige nasies roem op hulle intelligensie en wetenskaplike prestasies in die verowering van die buitenste ruimte. Maar hoe onbeduidend is hulle ruimtesatelliete tog in vergelyking met die maan in sy baan om die aarde, en die planete in hulle bane om die son! Hoe nietig is die prestasies van hierdie sterflike mense tog in vergelyking met Jehovah se skepping van miljarde hemelse sterrestelsels, wat elkeen miljarde sonne soos ons s’n bevat, en sy groepering en plasing daarvan in die ruimte vir ’n onmeetlike tyd! (Psalm 19:2, 3; Job 26:7, 14). Dit is geen wonder dat Jehovah mense as blote sprinkane en magtige nasies “as niks” beskou nie.—Jesaja 40:13-18, 22.
17. Waarom is dit redelik om aan ’n Skepper te glo?
17 Woon jy in ’n huis? Jy het waarskynlik nie self die huis gebou nie, en jy weet miskien ook nie wie dit gedoen het nie. Die feit dat jy die bouer nie ken nie, verhinder egter nie dat jy die waarheid aanvaar dat ’n intelligente persoon dit gebou het nie. Dit sou baie dwaas wees om te redeneer dat die huis homself gebou het! Sou dit dan nie redelik wees om tot die slotsom te kom dat daar ’n intelligente Skepper moet wees, aangesien die groter heelal en alles daarin oneindig meer intelligensie geverg het nie? Waarlik, net die dwaas sal in sy hart sê: “Daar is geen God nie.”—Psalm 14:1; Hebreërs 3:4.
18. Wat toon dat God ’n persoon is en lof verdien?
18 Die heerlike wonders om ons—die blomme, die voëls, die diere, die wonderbaarlike skepping wat die mens genoem word, die wondere van lewe en geboorte—getuig almal van die onsigbare Meesterintelligensie wat hulle voortgebring het (Romeine 1:20). Waar daar intelligensie is, is daar verstand. Waar daar verstand is, is daar ’n persoon. Die opperste intelligensie is dié van die Opperste Persoon, die Skepper van alle lewende dinge, die Fontein van die lewe (Psalm 36:10). Die Skepper is inderdaad alle lof en bewondering waardig.—Psalm 104:24; Openbaring 4:11.
19. (a) Waarom kan geen nasie vandag op Godgegewe oorwinning in oorlog aanspraak maak nie? (b) Waarom het God geen deel aan die oorloë van die nasies nie?
19 Daar is party wie se geloof in God geskok is deur die moeilike ondervindinge van die Tweede Wêreldoorlog. Elke land het in daardie tyd sy “God” aangeroep, hetsy van die Katolieke of Protestantse gelowe of van die Oosterse gelowe. Kan daar gesê word dat “God” party van hierdie nasies die oorwinning gegee het en toegelaat het dat ander verslaan word? Die Bybel toon dat geeneen van hierdie nasies die ware God aangeroep het nie. Jehovah God, die Skepper van hemel en aarde, is nie verantwoordelik vir die verwarring en oorloë onder die nasies nie (1 Korinthiërs 14:33). Sy gedagtes is ver bo dié van die politieke en militaristiese nasies van die aarde verhewe (Jesaja 55:8, 9). Die ware godsdiens en aanbidding van Jehovah het eweneens geen deel aan die oorloë van die nasies nie. Jehovah is ver bo nasionalistiese gode verhewe. Hy is enig daarin dat hy die God van vredeliewende manne en vroue in alle nasies is. Die Bybel sê dat “God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Handelinge 10:34, 35). In alle nasies leer mense met liefde vir geregtigheid nou wat die Bybel sê en begin hulle om die ware “God wat vrede gee”, die Skepper van die hele mensdom, te aanbid.—Romeine 16:20, NAV; Handelinge 17:24-27.
20. Wat bewys dat die Christendom onchristelik en anti-God is?
20 Party mense wys op die verdeeldheid en skynheiligheid in die godsdienste van die valse Christendom wat beweer dat hulle volgens die Bybel lewe. Hulle sê ook: ‘Hoe kan ek die God van die Bybel glo wanneer die nasies wat die Bybel het onder diegene is wat kernwapens koorsagtig opgaar?’ Die feit is dat hoewel die Bybel altyd waar bly, die nasies van die Christendom so ver van die Bybelse Christelikheid afgedwaal het soos wat die Noordpool van die Suidpool af is. Hulle is huigelagtig wanneer hulle Christelikheid bely. Hulle het die Bybel, maar hulle gehoorsaam nie die leringe daarvan nie. Die Amerikaanse president wat beveel het dat die eerste atoombom op Hirosjima gewerp moes word, het eenmaal uitgeroep: “Ag, as ons maar net ’n Jesaja of ’n St. Paulus gehad het!”—om mense in hierdie wêreldkrisis te lei. As hy dit eens was met Jesaja van die Bybel sou hy nooit ’n atoombom laat werp het nie, want Jesaja het mense aangespoor ‘om van swaarde pikke en van spiese snoeimesse te smee’. Daarbenewens was dit Paulus van die Bybel wat gesê het: “Ons [voer] die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie” (Jesaja 2:4; 2 Korinthiërs 10:3, 4). Maar in plaas van die wyse raad van die Bybel te gehoorsaam, het die nasies van die Christendom in ’n selfvernietigende wapenwedloop verwikkel geraak. Enige beweringe wat hulle maak dat hulle Christene is wat die Bybel gehoorsaam, is vals. Hulle gaan deur God geoordeel word omdat hulle versuim het om sy wil te doen.—Mattheüs 7:18-23; Sefanja 1:17, 18.
Jehovah se skeppingswerke en wonderdade
21. Waarom is dit redelik om nie aan God se wonderwerke te twyfel nie?
21 Jehovah skep en hy verrig wonderwerke. Het jy al ooit gewonder oor die verandering van water in bloed, die skeiding van die Rooi See, die maagdelike geboorte van Jesus en ander wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is? Aangesien die mens ’n beperkte intellektuele vermoë het, sal hy waarskynlik nooit verstaan hoe party van hierdie wonderwerke gebeur het nie, net soos hy die wonder van die son in sy daaglikse opgang en ondergang nie ten volle kan verstaan nie. Die skepping van die mens was ’n wonderwerk. Die hedendaagse mens het nie daardie wonderwerk gesien nie, maar hy weet dat dit gebeur het, want hy bestaan vandag as gevolg daarvan. Alle lewe en die ganse heelal is inderdaad een ewigdurende wonderwerk. Moet ons dus twyfel as God se Woord, die Bybel, sê dat hy spesifieke wonderwerke op spesifieke tye verrig het, al bestaan daar vandag geen nodigheid om dieselfde wonderwerke te verrig nie?
22. Beskryf God se eerste skepping.
22 Jehovah se hele skepping is wonderbaar en wonderlik! Sy heel eerste skepping was egter die wonderbaarlikste. Dit was die skepping van ’n geesseun, sy “Eersgeborene” (Kolossense 1:15). Hierdie hemelse Seun is “die Woord” genoem. Ontelbare eeue na sy skepping het hy aarde toe gekom en is hy “die mens Christus Jesus” genoem (1 Timotheüs 2:5). Toe is daar van hom gesê: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.”—Johannes 1:14.
23. (a) Hoe kan die verhouding tussen God en sy Seun verduidelik word? (b) Wat het Jehovah deur sy Seun geskep?
23 Die verhouding tussen Jehovah en sy Seun kan vergelyk word met dié tussen ’n eienaar-bestuurder en sy seun in ’n werkwinkel, waar die seun help om die artikels te maak wat sy vader ontwerp. Deur sy eersgebore Seun en medewerker het Jehovah baie ander geesskepsele, seuns van God, geskape. Later het hierdie skepsele hulle verheug om te sien hoe Jehovah se Seun, sy Meesterwerker, die stoflike hemele en die aarde waarop ons woon, voortbring. Twyfel jy daaraan dat hierdie dinge geskape is? Duisende jare later het Jehovah ’n getroue man gevra: “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?”—Job 38:4, 7; Johannes 1:3.
24. (a) Watter aardse skepping van Jehovah is besonder, en in watter opsigte? (b) Waarom is dit onredelik om te sê dat die mens van diere geëvolueer het?
24 Mettertyd het Jehovah lewende, stoflike dinge op die aarde geskep—die plante, die bome, die blomme, die visse, die voëls en die diere (Genesis 1:11-13, 20-25). Toe het God vir sy Meesterwerker gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis . . . En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Genesis 1:26, 27). Daar hy na die beeld en gelykenis van God geskape is, met God se grootse eienskappe, naamlik liefde, wysheid, geregtigheid en mag, was die eerste mens baie voortrefliker as die diere. Die mens is in ’n heeltemal ander klas as die diere, daar hy in staat is om te redeneer, vir die toekoms te beplan en die vermoë besit om God te aanbid. Diere het nie verstand om te redeneer nie, maar hulle lewe volgens instink. Hoe onredelik is dit tog om te sê dat daar geen Skepper is nie, maar dat die ryklik begaafde, intelligente skepsel, die mens, uit onintelligente laer diere ontwikkel het!—Psalm 92:7, 8; 139:14.
25, 26. (a) Watter wonderlike vooruitsig het die mens gehad? (b) Waarom sal daar geen probleem van oorbevolking van die aarde wees nie?
25 God het die mens ’n plek gegee in ‘’n tuin in Eden, in die Ooste’. Dit was ’n tuin van genot, soos die tuin op ons buiteblad, hoewel daar nog net die twee mense, Adam en sy vrou, was. Hierdie oorspronklike Paradys bestaan nie meer nie, aangesien dit in die vloed van Noag se dag vernietig is. Maar die omgewing waar dit in die Midde-Ooste geleë was, is bekend, want party van die riviere wat volgens die Bybel daardeur gevloei het, bestaan vandag nog (Genesis 2:7-14). Die mens het die wonderlike geleentheid gehad om hierdie tuin te gebruik as ’n middelpunt waarvandaan hy kon uitsprei om die hele aarde te bewerk en dit ’n globale paradys te maak.—Jesaja 45:12, 18.
26 Omdat God en sy Seun albei werkers is, het God ook aan die mens hier op die aarde werk gegee (Johannes 5:17). Aan Adam en Eva, die eerste man en vrou, het hy gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). Het dit beteken dat die mens moes vermenigvuldig, die aarde vul en dan moes aanhou vermenigvuldig totdat die aarde tot oorlopens toe vol was? Nee. As iemand vir jou sê om ’n koppie vol tee te maak, hou jy nie aan ingooi totdat die koppie oorloop en die tee oor die hele tafel loop nie. Jy maak die koppie vol en hou dan op. Net so het Jehovah se bevel aan die mens, “Vul die aarde”, sy voorneme aangedui dat die mens die aarde gerieflik moes vul, en dan sou die voortbring van mense hier op die aarde ophou. Dit sal geen probleem in ’n volmaakte mensegemeenskap skep nie. Dit is net in vandag se wêreld van onvolmaakte mense dat oorbevolking ’n probleem skep.
Slegte dinge—Waarom laat God dit toe?
27. Watter vrae verg nou ’n antwoord?
27 Waarom is die aarde vandag so vol goddeloosheid, lyding en droefheid as dit God se voorneme is om ’n paradysaarde te bou? Waarom het God hierdie toestande so lank toegelaat as hy die Almagtige is? Is daar hoop op ’n einde aan al ons probleme? Wat sê die Bybel?
28. Hoe het opstand in die paradystuin ontstaan?
28 Die Bybel toon dat die mensdom se probleme begin het toe een van die geesseuns van God teen Jehovah se soewereiniteit, of heerskappy, in opstand gekom het (Romeine 1:20; Psalm 103:22). Hierdie engel was ongetwyfeld onder diegene wat hulle verheug het oor die skepping van die mens. Maar toe het gierigheid en trots in sy hart wortelgeskiet, en hy is verlok deur die begeerte dat Adam en Eva hom in plaas van hulle Skepper, Jehovah, aanbid. Hierdie engel het deur ’n slang gepraat, net soos ’n buikspreker deur ’n pop praat, en het Eva beweeg om aan die almagtige God ongehoorsaam te wees. Haar man was toe saam met haar ongehoorsaam.—Genesis 2:15-17; 3:1-6; Jakobus 1:14, 15.
29. (a) Watter geskille moes besleg word? (b) Hoe het God die uitdaging gehanteer? (c) Hoe kan jy ’n antwoord op Satan se uitdaging voorsien?
29 Daardie opstandige engel is “die ou slang” genoem (Openbaring 12:9; 2 Korinthiërs 11:3). Hy word ook Satan genoem, wat “teenstander” beteken, en Duiwel, wat “lasteraar” beteken. Hy het die regmatigheid en regverdigheid van Jehovah se heerskappy oor die aarde in twyfel getrek, en hy het vir God gesê dat hy, Satan, al die mense van ware aanbidding kon afwend. God het Satan nagenoeg 6 000 jaar toegelaat om sy uitdaging te probeer bewys, sodat die geskil oor Jehovah se soewereiniteit eens en vir altyd besleg kon word. Menseheerskappy onafhanklik van God het heeltemal gefaal. Maar manne en vroue van geloof, onder wie Jesus die uitsonderlike voorbeeld is, het hulle onkreukbaarheid teenoor God onder die swaarste beproewing gehandhaaf en bewys dat Jehovah waaragtig en die Duiwel ’n leuenaar is (Lukas 4:1-13; Job 1:7-12; 2:1-6; 27:5, vgl. NW). Jy kan ook ’n handhawer van onkreukbaarheid wees (Spreuke 27:11). Maar Satan is nie die enigste vyand wat ons teister nie. Watter ander vyand is daar?
Ons vyand—die dood
30. Wat sê die Skrif oor die straf vir die mens as gevolg van ongehoorsaamheid?
30 God het gesê wat die straf vir ongehoorsaamheid sou wees—die dood. Toe hy die vonnis oor die eerste vrou uitgespreek het, het Jehovah gesê: “Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers.” Vir die man Adam het hy gesê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:16-19). Die ongehoorsame paar is uit die Paradys van geluk na die onbewerkte aarde verdryf. Hulle het mettertyd gesterf.—Genesis 5:5.
31. Wat is sonde, en wat is die gevolg daarvan vir die mensdom?
31 Dit was eers nadat hulle volmaaktheid verloor het dat Adam en Eva kinders begin voortbring het. Almal wat vandag lewe, is hulle onvolmaakte nakomelinge, en derhalwe sterf almal. Een Bybelskrywer verduidelik dit met hierdie woorde: “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.” Wat is hierdie “sonde”? Dit beteken om te kort te skiet aan die standaard van volmaaktheid of volkomenheid. Jehovah God keur nie iets wat onvolmaak is goed nie en hou dit nie aan die lewe nie. Aangesien alle mense sonde en onvolmaaktheid van die eerste mens Adam geërf het, “heers” die dood as koning oor hulle (Romeine 5:12, 14, NAV). Die gevalle mens sterf, net soos die diere sterf.—Prediker 3:19-21.
32. Hoe beskryf die Bybel die dood wat ons geërf het?
32 Wat is hierdie “dood”? Die dood is die teenoorgestelde van die lewe. God het die vooruitsig van eindelose lewe op aarde aan die mens voorgehou as hy gehoorsaam sou wees. Hy was egter ongehoorsaam, en die straf was die dood, onbewustheid, nie-bestaan. God het nie gesê dat die mens se lewe na ’n geesteryk of ’n vurige “hel” verplaas sou word as hy ongehoorsaam is en sterwe nie. Hy het die mens gewaarsku: “Jy [sal] sekerlik sterwe.” Dit was die mensemoordenaar, die Duiwel, wat gelieg het deur te sê: “Julle sal gewis nie sterwe nie” (Genesis 2:17; 3:4; Johannes 8:44). Wat alle mense van Adam geërf het, is die dood, ’n terugkeer tot stof.—Prediker 9:5, 10; Psalm 115:17; 146:4.
33. (a) Watter heerlike toekoms wag op die mensdom en die aarde? (b) Watter drie belangrike dinge bring Jehovah deur sy Seun tot stand?
33 Is daar dan geen toekoms vir die mens wat sterf nie? Daar is ’n wonderlike toekoms! Die Bybel toon dat God se voorneme van ’n paradysaarde vir die hele mensdom, met inbegrip van die afgestorwenes, nooit sal misluk nie. Jehovah sê: “Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete.” “Ek sal die plek van my voete heerlik maak” (Jesaja 66:1; 60:13). Uit die oorvloed van sy liefde het Jehovah sy Seun, die Woord, na die aarde gestuur, sodat die wêreld van die mensdom deur hom die lewe kan verkry (Johannes 3:16; 1 Johannes 4:9). Daar is drie belangrike dinge wat ons nou moet bespreek en wat Jehovah deur sy Seun tot stand bring, naamlik: (1) bevryding van die mag van die dood; (2) die opwekking van die dode; en (3) die oprigting van ’n volmaakte regering oor die hele mensdom.
Bevryding van die dood
34, 35. (a) Hoe alleen kon die mens van die dood vrygekoop word? (b) Wat is ’n losprys?
34 Van vervloë tye af het God se profete hulle vertroue uitgespreek, nie in die mens se onsterflikheid nie, maar in die hoop dat God ‘hulle sal loskoop’ van die dood (Hosea 13:14). Maar hoe kon die mens losgekoop word van die bande van die dood? Jehovah se volmaakte geregtigheid het vereis dat ‘lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand’ gegee moes word (Deuteronomium 19:21). Aangesien Adam die hele mensdom die dood laat erf het deur opsetlik aan God ongehoorsaam te wees en sodoende volmaakte menselewe te verloor, moes ’n ander volmaakte mens dus Adam se plaasvervanger wees deur sy volmaakte lewe af te lê om terug te koop wat Adam verloor het.
35 Die regverdige beginsel van ‘lewe vir lewe’ is dwarsdeur die geskiedenis alom aanvaar. Die uitdrukking wat algemeen gebruik word, is “om ’n losprys te betaal”. Wat is ’n losprys? Dit is “’n prys wat betaal word om ’n persoon of ding terug te kry van iemand wat daardie persoon of ding gevange hou. Daar word dus gesê dat krygsgevangenes of slawe losgekoop word wanneer hulle in ruil vir ’n waardevolle beloning vrygestel word. . . . Sy losprys is dit waardeur die party ook al vervang word of wat ook al ter vergoeding vir hom verruil word.”d Sedert Adam se sonde is die hele mensdom soos krygsgevangenes of slawe, onderworpe aan onvolmaaktheid en die dood. ’n Losprys moes voorsien word om hulle te bevry. Ten einde enige geskil nou of later oor die regverdigheid van die losprysoffer te voorkom, sou dit nodig wees om een volmaakte menselewe, dit wil sê, presies die ekwivalent van Adam, op te offer.
36. Hoe het Jehovah ’n volmaakte menselewe as losprys voorsien?
36 Maar waar kon so ’n volmaakte menselewe gevind word? As nakomelinge van die onvolmaakte Adam word alle mense onvolmaak gebore. “Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie” (Psalm 49:8). Jehovah is deur sy innige liefde vir die mensdom beweeg om in die behoefte te voorsien deur sy kosbare ‘eersgebore’ Seun te gee om die nodige offerande te word. Hy het die volmaakte lewe van hierdie geesseun, die Woord, na die baarmoeder van ’n Joodse maagd, Maria, oorgeplaas. Die jong vrou het ontvang en mettertyd die lewe geskenk aan ’n seun wat “Jesus” genoem is (Mattheüs 1:18-25). Dit is logies dat die Skepper van die lewe so ’n wonderbaarlike wonderwerk kon verrig.
37. Hoe het Jesus sy liefde getoon vir alle mense wat die lewe begeer?
37 Jesus het grootgeword, homself vir Jehovah aangebied en is gedoop. God het hom toe opdrag gegee om Sy wil te doen (Mattheüs 3:13, 16, 17). Daar Jesus se aardse lewe uit die hemel gekom het en hy volmaak was, kon hy daardie volmaakte menselewe opoffer en dit gebruik om die mensdom van die dood te bevry (Romeine 6:23; 5:18, 19). Soos hy gesê het: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 10:10, NAV; 15:13). Toe Satan Jesus aan ’n folterpaal om die lewe laat bring het, het Jesus hom aan hierdie wrede dood onderwerp, in die wete dat mense wat geloof beoefen deur middel van sy losprysvoorsiening die lewe sou verkry.—Mattheüs 20:28; 1 Timotheüs 2:5, 6.
Opwekking tot die lewe
38. Hoe is die Seun van God weer lewend gemaak, en watter bewyse het ons daarvoor?
38 Hoewel sy vyande hom doodgemaak het, het die Seun van God nooit sy reg op volmaakte menselewe verloor nie, want hy het sy onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf. Maar hoe kon Jesus hierdie waardevolle ding, die reg op menselewe, ten behoewe van die mensdom gebruik, daar hy dood in die graf was? Dit was hier dat Jehovah nog ’n wonderwerk, die eerste van sy soort, verrig het. Op die derde dag wat Jesus in die graf was, het Jehovah hom uit die dood opgewek as ’n geesskepsel, onsterflik (Romeine 6:9; 1 Petrus 3:18, NW). Om geloof in die opstanding te bou, het Jesus by verskeie geleenthede ’n menseliggaam aangeneem en aan sy dissipels verskyn, eenkeer aan meer as 500 van hulle. Nie een van hulle, of die apostel Paulus wat later deur ’n verskyning van die verheerlikte Jesus verblind is, het enige rede gehad om aan die wonderwerk van sy opstanding te twyfel nie.—1 Korinthiërs 15:3-8; Handelinge 9:1-9.
39. (a) Hoe gebruik Jesus die waarde van sy offerande, en wie vind eerste daarby baat? (b) Van watter ander groot wonderwerk het Jesus gepraat?
39 Na 40 dae het die verrese Jesus na God se teenwoordigheid in die hemele opgevaar om daar die waarde van sy volmaakte mense-offerande as ’n losprys vir die mensdom aan te bied. “Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ’n voetbank van sy voete” (Hebreërs 10:12, 13). Die eerstes wat deur hierdie losprys bevry word, is ’n “klein kuddetjie” getroue Christene “wat aan Christus behoort” (Lukas 12:32; 1 Korinthiërs 15:22, 23). Hulle is ‘gekoop uit die mense’, en in die opstanding word hulle derhalwe geesmetgeselle van Christus in die hemele (Openbaring 14:1-5). Maar wat van die magdom mense wat nou dood lê in hulle grafte? Toe hy op die aarde was, het Jesus gesê dat sy Vader hom die mag gegee het om te oordeel en lewe te gee. Hy het bygevoeg: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte [“gedenkgrafte”, NW] is, sy stem sal hoor en sal uitgaan . . . tot die opstanding” (Johannes 5:26-29). Hy sal hulle tot lewe in die paradysaarde herstel.
40, 41. (a) Verduidelik wat presies bedoel word met “opstanding”. (b) Waarom kan ons geloof in God se opstandingsbelofte hê?
40 Gee ag op Jesus se woorde: “Moenie julle hieroor verwonder nie.” Desnieteenstaande, hoe kan iemand wat lankal dood is uit die dood bevry en weer lewend gemaak word? Het sy liggaam nie tot stof teruggekeer nie? Party van die deeltjies wat daardie liggaam uitgemaak het, is moontlik selfs in ander lewende dinge soos plante en diere opgeneem. Die opstanding beteken egter nie die saamvoeging van dieselfde chemiese elemente nie. Dit beteken dat God dieselfde persoon, met dieselfde persoonlikheid, herskep. Hy bring ’n nuwe liggaam uit die aardse elemente voort, en in daardie liggaam plaas hy dieselfde karaktertrekke, dieselfde onderskeidende eienskappe, dieselfde geheue, dieselfde lewenspatroon wat die persoon tot sy sterfdag opgebou het.
41 Miskien het jou huis waaraan jy baie geheg was, afgebrand. Jy kan egter maklik dieselfde huis laat herbou, want die patroon van al die geliefde besonderhede daarvan is baie duidelik in jou geheue. God, wat die Skepper van die geheue is, kan dan sekerlik die mense herskep wat hy onthou omdat hy hulle liefgehad het (Jesaja 64:8). Dit is waarom die New World Translation die uitdrukking “gedenkgrafte” gebruik. Wanneer God se bestemde tyd aanbreek om die dode weer lewend te maak, sal hy daardie wonderwerk verrig, net soos hy ’n wonderwerk verrig het met die skepping van die eerste mens. Maar hierdie keer sal hy dit herhaaldelik verrig.—Genesis 2:7; Handelinge 24:15.
42. Waarom is ewige lewe op die aarde moontlik en seker?
42 God sal die mensdom laat herleef met die vooruitsig om nooit weer van die aarde af te sterf nie. Maar hoe is die ewige lewe op aarde moontlik? Dit is moontlik en seker, want dit is God se wil en voorneme (Johannes 6:37-40; Mattheüs 6:10). Die enigste rede waarom die mens vandag van die aarde af sterf, is dat hy die dood van Adam geërf het. As ons egter nadink oor die oneindige verskeidenheid wonderlike dinge op aarde wat die mens veronderstel was om te geniet, is ’n kort lewensduur van minder as honderd jaar gans te kort! Toe God hierdie aarde aan die mensekinders gegee het, was dit sy voorneme dat die mens moet aanhou lewe om die prag van Sy skepping te geniet, nie net honderd jaar of selfs duisend jaar lank nie, maar vir ewig!—Psalm 115:16; 133:3.
Die volmaakte regering van vreugde
43. (a) Watter behoefte is daar aan ’n volmaakte regering? (b) Wat is Jehovah se voorneme in hierdie opsig?
43 Omdat ons eerste ouers God se wet verwerp het, het menseregering onder die beheer van Satan gekom. Die Bybel noem Satan gepas “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4). Die oorloë, die wreedhede, die verdorwenheid en die onbestendigheid van die mens se regerings staaf dit. Die Volkebond en die Verenigde Volke het nie daarin geslaag om vrede uit die verwarring te skep nie. Die mensdom roep om ’n regering van vrede. Is dit nie redelik dat die Skepper, wat van voorneme is om die Paradys op hierdie aarde te herstel, ook ’n volmaakte regering vir daardie Paradys sal voorsien nie? Dit is presies wat Jehovah voornemens is om te doen. Die Koning wat Hom in hierdie regering verteenwoordig, is sy “Vredevors”, Christus Jesus. “Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.”—Jesaja 9:5, 6, NAV.
44. (a) Waar sal hierdie regering wees? (b) Uit wie sal dit bestaan?
44 Die Bybel toon dat die volmaakte regering in die hemel sal wees. Vanuit hierdie gunstige posisie sal die koning Jesus Christus die hele aarde doeltreffend in geregtigheid regeer. Daarbenewens sal hy medeheersers in daardie onsigbare, hemelse regering hê. Hulle word gekies uit getroue mense, volgelinge van Jesus wat deur verdrukkinge heen by hom gebly het en vir wie hy gesê het: “Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het” (Lukas 22:28, 29). Dit is net ’n paar uit die mensdom wat hemel toe geneem word om saam met Christus Jesus te heers. Dit is soortgelyk aan die nasies van vandag, waaruit slegs ’n paar persone gekies word om in die ryksdag of parlement te regeer. Die Bybel toon dat Jesus Christus net 144 000 medeheersers sal hê. God se Koninkryk, of hemelse regering, bestaan dus uit Christus Jesus en 144 000 mense wat van die aarde af hemel toe geneem word (Openbaring 14:1-4; 5:9, 10, NAV). En wat van die aarde? Psalm 45:17 sê dat die Koning “vorste in die hele land” sal aanstel. Menslike “vorste”, of regeringsopsieners, sal vanuit die hemel aangestel word weens hulle diepe toegewydheid aan regverdige beginsels.—Vergelyk Jesaja 32:1.
45, 46. (a) Wat was die hooftema van Jesus se prediking op die aarde? (b) Waarom is die volmaakte regering nie onmiddellik opgerig nie? (c) In watter opsig was 1914 ’n besondere jaar in profesie en in wêreldgebeure?
45 Wanneer en hoe word die volmaakte regering opgerig? Toe Jesus op die aarde was, was hierdie Koninkryk die hooftema van sy prediking (Mattheüs 4:17; Lukas 8:1). Hy het egter nie die Koninkryk destyds opgerig nie, en ook nie met sy opstanding nie (Handelinge 1:6-8). Selfs toe hy na die hemel opgevaar het, moes hy nog op Jehovah se vasgestelde tyd wag (Psalm 110:1, 2; Hebreërs 1:13). Bybelprofesie toon dat daardie vasgestelde tyd in 1914 aangebreek het. Iemand sal egter vra: ‘Het 1914 nie eerder die aanvang van groter wêreldweë as van volmaakte regering gesien nie?’ Dit is juis die punt! Daar is ’n noue verband tussen die koms van God se Koninkryk en die rampspoedige gebeurtenisse van onlangse jare, soos ons nou sal sien.
46 Ongeveer 35 jaar lank voor 1914 het Die Wagtoring (nou die godsdienstydskrif met die grootste verspreiding op aarde) die aandag gevestig op 1914 as ’n jaar wat in Bybelprofesie aangedui word. Hierdie profesieë het in 1914 ’n merkwaardige vervulling begin ondergaan. Een van hulle was Jesus se eie profesie, wat 1900 jaar gelede geuiter is, aangaande “die teken” wat aan die voleinding van die wêreld sou verskyn en wat van sy onsigbare teenwoordigheid in koninklike mag sou getuig. In antwoord op sy dissipels se vraag oor hierdie “teken” het hy gesê: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mattheüs 24:3, 7, 8). In treffende vervulling het die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek en vernietiging meegebring wat sewe keer groter was as dié van al die 900 oorloë van die voorafgaande 2 500 jaar! Smarte duur sedertdien voort. Is jy geraak deur die oorlogsvernietiging, die voedseltekorte of enige van die groot aardbewings wat die aarde sedert 1914 teister? Dan is jy ’n ooggetuie van “die teken” van “die tyd van die einde” van hierdie stelsel.—Daniël 12:4.
47. Hoe het gebeure wat “die teken” vervul in onlangse jare toegeneem?
47 Die “smarte” het groter geword gedurende die Tweede Wêreldoorlog, wat vier maal vernietigender as die Eerste Wêreldoorlog was, en reg in die kerneeu in, ter vervulling van Jesus se verdere profesie: “Op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid . . . [terwyl] mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21:25, 26). Die vermeerdering van misdadigheid en boosheid, van ongehoorsaamheid en misdadigheid onder kinders, asook die toename in goddeloosheid en onsedelikheid—al hierdie ontstellende verwikkelinge is voorspel as deel van “die teken” van “die laaste dae” van hierdie bose stelsel.—2 Timotheüs 3:1-5; Mattheüs 24:12.
48. Wie is verantwoordelik vir die weë op aarde, en waarom het hierdie weë sedert 1914 vermeerder?
48 Maar waarom is daar al hierdie benoudheid op aarde as die hemelse regering in 1914 opgerig is? Dit is Satan die Duiwel wat daarvoor verantwoordelik is. Toe Christus Koninkryksmag ontvang het, was sy eerste daad om in die onsigbare hemele teen Satan oorlog te voer. Gevolglik is Satan, “wat die hele wêreld verlei”, saam met sy engele na die omgewing van die aarde geslinger. Omdat hy weet dat sy vernietiging nader kom, verwek hy groot moeilikheid op die aarde. Ja, “wee . . . die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het”.—Openbaring 12:7-9, 12.
49. (a) Wat sal gebeur met “die verderwers van die aarde”? (b) Hoe sal Jehovah sy “strafoordeel” aan die nasies voltrek?
49 Sal daar ’n einde aan hierdie weë kom? Ja!—wanneer die hemelse regering, die Koninkryk van die almagtige God, optree om “die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18; Daniël 2:44). God sal nooit toelaat dat politieke magte, naamchristene of enigiemand anders sy handewerk, die aarde, met hulle kerntoestelle verderf nie. Hy sê eerder: “Dit is my strafoordeel om nasies te versamel, koninkryke te vergader om my grimmigheid oor hulle uit te stort, al die gloed van my toorn” (Sefanja 3:8). Deur sy Christus sal Jehovah groot magte wat hy in die heelal beheer, gebruik om almal wat Satan op die aarde volg uit te wis. Dit sal op globale skaal wees, soortgelyk aan die omvang van die vloed van Noag se dag.—Jeremia 25:31-34; 2 Petrus 3:5-7, 10.
50. (a) Wat is “Armageddon”? (b) Wie alleen sal Armageddon oorlewe?
50 In die Bybel word hierdie vernietiging van goddelose nasies God se slag van Armageddon genoem (Openbaring 16:14-16). Net sagmoedige persone wat Jehovah en geregtigheid soek, sal Armageddon oorlewe tot in God se vreedsame nuwe stelsel (Sefanja 2:3; Jesaja 26:20, 21). Die Bybel sê aangaande hulle: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:11). Die heerlike werk om die Paradys op die aarde te herstel, sal dan begin!
Opleiding om die Paradys in te gaan
51. Waarom is dit nodig dat jy nou optree?
51 Sou jy graag in die Paradys wil lewe? As jy ‘Ja’ antwoord, sal jy verheug wees om te weet dat toe Jesus van vandag se veelbewoë stelsel en “die teken” van die naderende vernietiging daarvan gepraat het hy bygevoeg het: “Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Ten minste party van die geslag wat die “begin van die smarte” in 1914 gesien het, sal lewe om die herstelde Paradys op aarde te sien (Mattheüs 24:3-8, 34). Dit is egter ’n tragiese feit dat die meeste mense vandag op die breë pad is wat na vernietiging lei (Mattheüs 7:13, 14). Daar is min tyd oor vir hulle om te verander. Hoe dankbaar kan jy tog wees dat Jehovah betyds ’n waarskuwing gee! Omdat Jehovah wil hê dat jy moet lewe, sal hy jou help om die regte stappe te doen.—2 Petrus 3:9; Esegiël 18:23.
52. Wat het jy nodig om ’n verstandige keuse ten opsigte van godsdiens te doen?
52 Dis nou dringend nodig dat jy juiste kennis inneem (1 Timotheüs 2:4; Johannes 17:3). Waar kan jy dit kry? Kan dit in sommer enige godsdiens gevind word? Party mense sê dat alle godsdienste na dieselfde doelwit lei, net soos alle paadjies op ’n berg na die kruin lei. Hoe verkeerd het hulle dit tog! Bergklimmers gebruik kaarte, en hulle huur gidse om die regte pad te vind. Daar is eweneens slegs een godsdiens van waarheid wat tot die ewige lewe sal lei, en leiding is nodig om dit te vind.—Handelinge 8:26-31.
53. (a) Wat moet jy aanhou doen om die ewige lewe te kry? (b) Watter versoekings van Satan sal jy moontlik te bowe moet kom?
53 Jehovah se Getuies het hierdie brosjure voorsien om jou te help. Dit het jou reeds gehelp om sommige basiese Bybelwaarhede te verstaan, nie waar nie? Jy het ongetwyfeld seker gemaak dat elke gedagte op God se geïnspireerde Woord gebaseer is. Nou moet jy voortgaan om te leer om jou doel te bereik. Net soos ’n behoorlike sekulêre opvoeding nodig is om ’n persoon toe te rus vir ’n plek in die gemeenskap, is ’n behoorlike Bybelopvoeding nodig om jou toe te rus om die gemeenskap binne te gaan wat tot op die paradysaarde sal oorleef (2 Timotheüs 3:16, 17). Satan sal jou moontlik probeer afwend deur intieme metgeselle jou te laat teenstaan of deur jou tot selfsugtige materialistiese of onsedelike weë te verlei. Moenie voor Satan swig nie. Jou veiligheid asook jou en jou gesin se hele toekoms hang van jou volgehoue studie van die Bybel af.—Mattheüs 10:36; 1 Johannes 2:15-17.
54. Watter ander voorsiening vir opleiding het Jehovah in jou omgewing gemaak?
54 Daar is nog ’n manier om te leer benewens die voortsetting van jou huidige Bybelstudie. Mense in jou omgewing wat belangstel in Bybelopvoeding woon gereeld die vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal by. Almal wat dit bywoon, is daar om onderrig uit die Bybel te ontvang en probeer opreg om beter mense te word. Hulle verwelkom nuwelinge graag en sê: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE [sy plek van aanbidding] . . . dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel” (Jesaja 2:3). Hebreërs 10:24, 25 verstrek goeie redes om Bybelvergaderinge by te woon: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
55. (a) Op watter maniere verskil Jehovah se organisasie van ander? (b) In watter opsig is Jehovah se Getuies verenig soos geen ander volk nie?
55 Wanneer jy met Jehovah se organisasie omgaan, sal jy vind dat die atmosfeer daar baie anders is as dié by tempels en kerke. Daar is geen geldkollektes, geen skindery of getwis en geen diskriminasie weens familieagtergrond of finansiële stand nie. Die uitsonderlikste eienskap onder Jehovah se Getuies is liefde. Hulle het in die eerste plek Jehovah lief, en in die tweede plek het hulle ander mense lief. Dit is kenmerke van ware Christene (Mattheüs 22:37-39; Johannes 13:35). Jy moet hulle vergaderinge bywoon en dit self sien. Hulle eenheid sal jou ongetwyfeld beïndruk. Daar is oor die driemiljoen Getuies wêreldwyd in meer as 200 lande. Nietemin volg Getuies dwarsoor die aarde dieselfde programme by hulle vergaderinge. En danksy die feit dat daar in talle tale gelyktydig gedruk word, bestudeer die meeste van Jehovah se Getuies dwarsoor die wêreld binne ’n paar uur van mekaar dieselfde Skriftuurlike onderwerpe by hulle weeklikse vergaderinge. Die eenheid van Jehovah se organisasie is ’n hedendaagse wonderwerk in hierdie verdeelde wêreld.
56. (a) Watter voordele kan jy ontvang uit omgang met Jehovah se or- ganisasie? (b) Hoe moet jy reageer wanneer probleme ontstaan? (c) Waarom is dit vir jou belangrik om jou lewe aan Jehovah toe te wy?
56 Namate jy gereeld met Jehovah se volk omgaan, sal jy jou met “die nuwe mens” moet beklee en die vrugte van God se gees—“liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”—moet aankweek (Kolossense 3:10, 12-14; Galasiërs 5:22, 23). Dit sal jou diepe tevredenheid verskaf. Jy sal moontlik van tyd tot tyd probleme te bowe moet kom omdat jy in ’n verdorwe wêreld lewe en ook weens jou eie onvolmaakthede. Maar Jehovah sal jou help. Sy Woord verseker diegene wat hom opreg probeer behaag: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6, 7). Jy sal getrek word deur Jehovah se liefde sodat jy hom sal wil dien. Jehovah se Getuies sal jou graag wys hoe jy jou lewe aan hierdie liefdevolle God kan toewy en een van sy bevoorregte getuies kan word (Psalm 104:33; Lukas 9:23). Ja, dit is ’n voorreg. Dink net daaraan! As ’n aanbidder van Jehovah kan jy die ewige lewe in ’n paradys hier op aarde as doelwit nastreef.—Sefanja 2:3; Jesaja 25:6, 8.
57. (a) Watter hegte verhouding sal daar in die nuwe stelsel tussen God en die mensdom wees? (b) Wat is party van die seëninge wat jy dan sal kan geniet?
57 Gaan dus voort om te studeer en te groei in liefde en waardering vir Jehovah God, sy Seun en die hemelse regering van geregtigheid. In ’n beskrywing van die regering van God en die seëninge wat dit oor die mensdom sal uitstort, sê die Bybelprofesie: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” “God self”, wat ver bo die selfsugtige, verderflike menseheerskappy van vandag verhewe is, sal as ’n vriendelike Vader baie naby wees aan almal wat hom in daardie nuwe stelsel liefhet en aanbid. Daar sal inderdaad slegs die een godsdiens wees, die ware aanbidding van Jehovah God, en sy aanbidders sal die hegte verhouding van kinders teenoor die Vader geniet. Wat ’n liefdevolle Vader sal hy tog wees! “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
58. Waarom kan jy seker wees dat Jehovah ‘alles nuut sal maak’?
58 Die groot wonderwerk om ’n paradysaarde onder ’n volmaakte hemelse regering op te rig, sal dan volbring wees. Dit is so seker soos die feit dat die son môre sal opkom en sak. Want die beloftes van Jehovah God, die Skepper van hemel en aarde, is “waaragtig en betroubaar”. Dit is hy wat vanaf sy troon in die hemel sê: “Kyk, Ek maak alles nuut.”—Openbaring 21:5.
Hoe sal jy die volgende vrae ter hersiening van hierdie brosjure beantwoord?
In watter opsigte is die Bybel uitsonderlik?
Wat het jy aangaande God geleer?
Wie is Christus Jesus?
Wie is Satan die Duiwel?
Waarom het God goddeloosheid toegelaat?
Waarom sterf die mens?
Wat is die toestand van die dode?
Wat is die losprys?
Waar en hoe vind die opstanding plaas?
Wat is die Koninkryk, en wat sal dit doen?
Wat is “die teken” van “die voleinding van die wêreld”?
Hoe kan jy vir die ewige lewe in die Paradys voorberei?
[Voetnote]
a Bybelverwysings ter ondersteuning van die voorgaande paragrawe: (1) Handelinge 17:26; Psalm 46:10; Miga 4:3, 4; Jesaja 65:21-23; (2) Jesaja 65:25; 11:6-9; 55:12, 13; Psalm 67:7, 8 NW; (3) Job 33:25; Jesaja 35:5, 6; 33:24; Psalm 104:24; (4) Jesaja 55:11.
b Tensy anders aangedui, kom alle Skrifaanhalings uit ’n hersiene uitgawe van die Afrikaanse Bybel van 1953. Die afkorting NW staan vir New World Translation of the Holy Scriptures—With References, uitgawe van 1984, en die afkorting NAV staan vir die nuwe Afrikaanse vertaling wat in 1983 verskyn het.
c Monarchs and Tombs and Peoples—The Dawn of the Orient, bladsy 25.
d Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, deur J. McClintock en J. Strong, Deel 8, bladsy 908.
[Prente op bladsy 13]
As ’n skepping is die mens baie voortrefliker as die diere
[Prent op bladsy 18]
Jesus was gelyk aan die volmaakte mens Adam