Hoofstuk 11
Aardse Jerusalem in teenstelling met hemelse Jerusalem
1. (a) Sal die vernietiging van Jerusalem iets nuuts wees? (b) Waarom sal dit nie vir die hele mensdom ’n ramp wees as Jerusalem weer vernietig word nie?
DIEGENE wat vandag Jode na die vlees is, is vasbeslote dat Jerusalem in die Midde-Ooste vir ewig sal bestaan. Selfs die volke van die Christendom het nog steeds hoë agting vir daardie stad waar Jesus sy bediening beëindig het. Maar verseker al hierdie dinge die voortbestaan van daardie stad? Dit is vantevore vernietig, in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs en in 70 G.J. deur die Romeine. Sal dit vir die hele mensdom ’n ramp wees indien dit weer vernietig sou word? Nee, die mensdom het nie die stad nodig om die seëninge van die Abrahamitiese verbond te kan geniet nie. Selfs van Abraham is daar geskrywe: “Hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.”—Hebreërs 11:10.
2. (a) Hoe toon die apostel Paulus dat daar ’n hoër Jerusalem is? (b) Wie is daardie Jerusalem se Eggenoot, en wie is sy kinders by haar?
2 Die apostel Paulus het geskryf: “Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal” (Galasiërs 4:26). Hy het daar getoon dat hemelse Jerusalem ooreengekom het met Sara en dat dit die gemalin-organisasie van die Grotere Abraham, Jehovah God, is. Die kinders van die “Jerusalem daarbo” is gevolglik die geesverwekte Christene, soos Paulus.
“Jerusalem daarbo” word ’n koninklike stad
3. (a) Wanneer het Jehovah God self begin heers? (b) Waar is Jesus Christus op die troon geplaas, en watter uitwerking het dit op Jehovah se koningskap gehad?
3 Sedert die vasgestelde “tye van die nasies” in 1914 geëindig het, het die “Jerusalem daarbo” koninklik geword (Lukas 21:24). Dit is van toe af dat Psalm 97:1 van toepassing is: “[Jehovah] is Koning; laat die aarde juig.” Psalm 99:1, 2 is eweneens van toepassing: “[Jehovah] is Koning; . . . [Jehovah] is groot in Sion, en verhewe is Hy bo al die volke.” In 1914 het die tyd vir hom aangebreek om ’n einde te maak aan die vertrapping van die Koninkryk in die koninklike geslag van Dawid, soos voorgestel deur die eens koninklike stad Jerusalem. Hy het gevolglik sy Seun, Jesus Christus, in die “Jerusalem daarbo”, ’n hemelse Jerusalem, as Koning aan Sy regterhand op die troon geplaas en dit sodoende ’n koninklike stad gemaak. Jehovah se eie koningskap is versterk of vergroot deur die inhuldiging van Jesus Christus as Koning.
4. As gevolg van watter gebeure het die “Jerusalem daarbo” sedert 1914 ’n koninklike stad geword?
4 Na die geboorte van die hemelse Koninkryk in 1914 en nadat Satan en sy demone uit die hemel gewerp is, was dit dus gepas om aan te kondig: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag” (Openbaring 12:1-10). “Die mag van sy Christus” was vir hom om as Koning in die “Jerusalem daarbo” te regeer. Dit het voorwaar in daardie veelbelowende jaar 1914 ’n koninklike stad geword.
Die dogter van die “Jerusalem daarbo”
5, 6. (a) Watter nuwe simboliese stad sien Johannes in Openbaring 21:1, 2? (b) Deur wie word die koninklike verwelkoming in Sagaria 9:9, 10 gerig, en met watter woorde?
5 Meer as ’n kwarteeu na die vernietiging van Jerusalem deur die Romeinse legioene in 70 G.J. is die apostel Johannes die wonderlike gesigte in die boek Openbaring gegee. In Openbaring 21:1, 2 praat Johannes van ’n “nuwe Jerusalem”. Dit is diegene wat hierdie “nuwe Jerusalem” uitmaak wat die pas ingehuldigde Koning wat in Jehovah se naam kom vreugdevol verwelkom, net soos hulle in Sagaria 9:9, 10 aangesê word om te doen met hierdie woorde:
6 “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel . . . En Ek sal die strydwaens uit Efraim en die perde uit Jerusalem uitroei, en die strydboog sal vernietig word. Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.”
7. Deur wie is daardie profesie gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” vervul, en hoe?
7 Hierdie profesie is deels vervul deur Jesus Christus se triomftog in Jerusalem in in 33 G.J. Sedert 1919 het dit sy finale vervulling op die oorblyfsel van geestelike Israel gehad. Daar bestaan geen verdeeldheid tussen die lede van daardie gesalfde oorblyfsel soos wat daar tussen die stamme van eertydse Efraim en Jerusalem, die hoofstad van die tweestammeryk van Juda, ontstaan het nie. Deur die belange van die Messiaanse Koninkryk eendragtig te bevorder ten einde Jesus se profesie in Mattheüs 24:14 en Markus 13:10 te vervul, hou hulle aan om die triomfantelike Koning, Jesus Christus, te begroet. Gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” onderwerp hulle hulle lojaal in onverbreeklike eenheid aan sy koninklike heerskappy.—Mattheüs 24:3.
8. (a) Wie bly in gebreke om die seëvierende Koning te verwelkom? (b) Waarheen en waarna ruk hulle op?
8 Tot hulle skande bly die sogenaamde Christennasies wat die valse Christendom uitmaak, asook Jerusalem van die Republiek van Israel, in gebreke om die seëvierende Koning wat in Jehovah se naam kom te verwelkom. Daar is nietemin diegene wat getuies is van die Een in wie se naam hy kom en wat Hom jubelend by Sy tempel dien (Jesaja 43:10-12). Hulle geestelike oë is geopen om te sien dat die Republiek van Israel en al die ander nasies binne en buite die VV al ver gevorder het in die opmars na “die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon” (Openbaring 16:16). Die oorlog van die almagtige God is ophande!
9. Hoe vorm die toekoms van aardse Jerusalem ’n skerp kontras met dié van die Nuwe Jerusalem?
9 Aardse Jerusalem se vooruitsigte is droewig, maar dié van die nuwe Jerusalem is rooskleurig. Mettertyd sal “die tien horings” van die politieke “dier”, sowel as die “dier” self, die hoeragtige stelsel, Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, begin haat. Hulle sal uiting gee aan hulle gewelddadige haat vir godsdienstig vereerde, aardse Jerusalem en sal dit asof met ’n verwoestende brand vernietig (Openbaring 17:16). Maar dit sal vir hulle heeltemal onmoontlik wees om die hemelse Nuwe Jerusalem by te kom.
10. Hoe bewandel aardse Jerusalem ’n ander weg as dié van geesverwekte Christene en die “groot menigte”, hulle metgeselle?
10 Saam met die “groot menigte” ander getuies van Jehovah hou die oorblyfsel geesverwekte Christene wat verwag om ’n deel van die hemelse Nuwe Jerusalem te word aan om die Bruidegom-Koning, Jesus Christus, te begroet. In hierdie lojale handelwyse vorm hulle ’n skerp teenstelling met die ou Jerusalem. Sedert die totstandkoming van die Republiek van Israel volg die tans oorheersend Joodse stad Jerusalem in die spore van die inwoners van eerste-eeuse Jerusalem. Onder verblindende godsdiensinvloed hou hy aan om Jesus Christus, die Een met die reg en die mag om in die hemelse Koninkryk te regeer, te verwerp.
11, 12. (a) Deur wie in die besonder is die merkwaardige vervulling van Jesus se profesie in Mattheüs 24:14 verwesenlik? (b) Wat het die Genootskap waaraan hulle verbonde is vandag in die Republiek van Israel?
11 Sedert die einde van die Tye van die Nasies in 1914 heers die “Vredevors” weliswaar onsigbaar vir mense-oë in die hemele. Sedert Jerusalem in die Eerste Wêreldoorlog deur die Britte verower is en Brittanje die mandaat daarvoor by die Volkebond gekry het, word die goeie nuus van die hemelse Koninkryk in die hande van die Messiaanse Seun van koning Dawid nietemin “in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” verkondig, net soos Jesus Christus self voorspel het.—Mattheüs 24:14.
12 Hierdie profesie is op merkwaardige wyse vervul deur Jehovah se Getuies onder die toesig van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. Hierdie Genootskap het selfs ’n takkantoor in Tel Aviv, vanwaar die bedrywighede van Jehovah se Getuies deur die hele gebied van Israel gerig word. Daar is ook gemeentes van bedrywige getuies van Jehovah wat die Koninkryksevangelie nou in daardie land verkondig.
13. (a) Wat kom nadat die evangelie van God se Koninkryk ten volle verkondig is? (b) Sal daar ooit ’n behoefte aan ’n ander aardse Jerusalem bestaan, selfs om Dawid uit die opstanding terug te ontvang?
13 Jesus Christus het voorspel dat “die einde” hierdie wêreldse stelsel sou tref nadat “hierdie evangelie van die koninkryk” ten volle verkondig is (Mattheüs 24:14). Die einde van aardse Jerusalem is dus nou in sig. Dit lyk op hierdie stadium of daar geen nodigheid bestaan om nog ’n Jerusalem op die ou terrein te herbou nie, nie eens om die eertydse koning van Jerusalem, Dawid, deur ’n opstanding uit die dood onder die Duisendjarige Koninkryk van sy koninklike afstammeling, Jesus Christus, te ontvang nie (Johannes 5:28, 29). Hoe dit ook al sy, Dawid sal waarskynlik teruggebring word na die gebied waar hy Jehovah God tevore gedien het.
’n Tyd om bly te wees
14, 15. (a) Hoe beskryf die apostel Johannes die glorieryke Nuwe Jerusalem en hoe dit tot seën van die mensdom uit die hemel neerdaal? (b) Waarom is ons dag ’n tyd om bly te wees, en watter geleentheid vir universele vreugde kom nader?
14 Nuwe Jerusalem word geassosieer met die glorieryke nuwe stelsel. Die apostel Johannes sê: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openbaring 21:1-3). Nuwe Jerusalem gaan dus vir die hele mensdom ’n seën wees.
15 Dit maak ons dag ’n tyd om bly te wees. Iets wat al hierdie blydskap nog groter gaan maak, is ’n naderende geleentheid van universele belang en vir universele vreugde. Dit is die huwelik van die voltallige bruidsklas, die Nuwe Jerusalem, en Jesus Christus die Koning. Soos daar in Openbaring 19:6-9 geskryf staan: “En ek [die apostel Johannes] het iets gehoor soos die stem van ’n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam [Jesus Christus] het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf—salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam.”
16. (a) Van wie word die Nuwe Jerusalem ’n moeder deur haar hemelse huwelik met die Lam? (b) In volle harmonie waarmee sal die Nuwe Jerusalem ’n seën wees?
16 Hierdie huwelik met die Lam Jesus Christus sal vir die figuurlike Nuwe Jerusalem in die hemel onbeskryflike vreugde beteken. Deur middel daarvan sal sy “’n blye moeder van kinders” word (Psalm 113:9). Ja, sy sal die hemelse moeder word van alle mense, lewend en dood, wat haar liefdevolle eggenoot deur sy volmaakte menseoffer 19 eeue gelede vrygekoop het. In volle harmonie met Jehovah se Abrahamitiese verbond van duisende jare gelede sal die Nuwe Jerusalem vir al die geslagte van die aarde ’n seën wees.
[Prent op bladsy 96]
In die nuwe stelsel sal Nuwe Jerusalem die hele mensdom seën