Bybelboek nommer 8—Rut
Skrywer: Samuel
Waar geskryf: Israel
Geskrif voltooi: ca. 1090 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 11 jaar van die rigters se regering
1. (a) Waarom is die boek Rut nie net ’n liefdesverhaal nie? (b) Watter besondere vermelding kry Rut in die Bybel?
DIE boek Rut is ’n genotvolle drama wat tot die pragtige liefdesverhaal van Boas en Rut ontwikkel. Dit is egter nie bloot ’n liefdesidille nie. Die doel daarvan is nie vermaak nie. Die boek lê nadruk op Jehovah se voorneme om ’n Koninkrykserfgenaam voort te bring, en dit verheerlik Sy guns, of liefderyke goedheid (Rut 1:8; 2:20; 3:10, vgl. NW). Die ruimheid van Jehovah se liefde word daarin gesien dat hy ’n Moabitiese vrou, ’n voormalige aanbidder van die heidense god Kamos, wat haar tot die ware godsdiens bekeer het, kies om ’n voorouer van Jesus Christus te word. Rut is een van vier vroue wat by name in die geslagslys van Abraham tot Jesus gemeld word (Matt. 1:3, 5, 16). Rut, tesame met Ester, is een van die twee vroue na wie Bybelboeke vernoem is.
2. Wanneer het die gebeure in Rut plaasgevind, wanneer is die boek geskryf, en deur wie?
2 “En in die dae toe die rigters geregeer het . . . ” Met hierdie openingswoorde begin die aangrypende verhaal wat die boek Rut ons vertel. Uit hierdie woorde blyk dit dat die boek later geskryf is, in die tyd van die konings van Israel. Die gebeure in die boek dek egter ’n tydperk van nagenoeg 11 jaar in die tyd van die rigters. Hoewel die naam van die skrywer nie gemeld word nie, was dit heel waarskynlik Samuel, wat blykbaar ook Rigters geskryf het en wat die prominentste getroue figuur aan die begin van die tydperk van die konings was. Aangesien die laaste verse daarop dui dat Dawid reeds op die voorgrond begin tree het, plaas dit die skrywe van die boek in omstreeks 1090 v.G.J. Samuel, wat goed vertroud was met Jehovah se belofte van “’n leeu” uit die stam van Juda en wat deur Jehovah gebruik is om Dawid van daardie stam te salf om koning in Israel te wees, sou ’n lewendige belangstelling daarin hê om ’n verslag oor die geslagsregister tot by Dawid op te stel.—Gen. 49:9, 10; 1 Sam. 16:1, 13; Rut 1:1; 2:4; 4:13, 18-22.
3. Watter feite staaf die kanonisiteit van Rut?
3 Die kanonieke gesag van Rut is nooit bevraagteken nie. Dit is genoegsaam bevestig toe Rut onder inspirasie van Jehovah in die geslagsregister van Jesus in Mattheüs 1:5 ingesluit is. Rut is nog altyd deur die Jode as ’n deel van die Hebreeuse kanon erken. Dit is dus nie verbasend dat fragmente van die boek tussen die ander kanonieke boeke in die Dooie See-rolle gevind is wat in 1947 ontdek is nie. Daarbenewens is Rut in algehele harmonie met Jehovah se Koninkryksvoornemens, asook met die vereistes van die Wet van Moses. Hoewel die Israeliete verbied is om met afgodsaanbiddende Kanaäniete en Moabiete te trou, het dit nie uitlanders soos Rut uitgesluit wat Jehovah se aanbidding aangeneem het nie. In die boek Rut word die wet op lossing en die swaershuwelik tot in die fynste besonderhede in ag geneem.—Deut. 7:1-4; 23:3, 4; 25:5-10.
INHOUD VAN RUT
4. Voor watter besluit kom Rut te staan, en wat toon haar keuse ten opsigte van haar vorm van aanbidding?
4 Rut se besluit om by Naomi te bly (1:1-22). Die verhaal begin gedurende ’n tydperk van hongersnood in Israel. ’n Man van Betlehem, Elimeleg, steek die Jordaan met sy vrou, Naomi, en twee seuns, Maglon en Giljon, oor om hulle ’n tyd lank in die land Moab te vestig. Daar trou die seuns met Moabitiese vroue, Orpa en Rut. Die gesinskring word deur tragiese gebeure verbreek, eers deur die dood van die vader en later deur die dood van sy twee seuns. Drie kinderlose weduwees bly agter, sonder ’n saad vir Elimeleg. Naomi hoor dat Jehovah weer op sy volk ag gee deur aan hulle brood te gee en besluit om na haar geboortestreek Juda terug te keer. Die skoondogters vertrek saam met haar. Naomi smeek hulle om na Moab terug te keer en spreek die wens uit dat Jehovah liefderyke goedheid jeens hulle sal toon deur vir hulle mans uit hulle eie volk te gee. Uiteindelik draai Orpa om “na haar volk en na haar gode toe”, maar Rut, wat opreg en standvastig in haar bekering tot Jehovah se aanbidding is, bly by Naomi. Haar besluit word pragtig uitgedruk in die woorde: “Waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen—net die dood sal skeiding maak tussen my en u” (1:15-17). Die kinderlose weduwee Naomi, wie se naam “My Welbehae” beteken, stel egter voor dat sy Mara, wat “Bitterheid” beteken, genoem word.
5. Watter uitstekende eienskappe openbaar Rut, en hoe moedig Boas haar aan?
5 Rut tel are in Boas se land op (2:1-23). Na hulle aankoms in Betlehem verkry Rut Naomi se toestemming om are tydens die garsoes te gaan optel. Boas, die eienaar van die land, ’n bejaarde Jood en naverwant van haar skoonvader, Elimeleg, merk haar op. Hoewel God se wet Rut die reg gee om are op te tel, openbaar sy sagmoedigheid deur toestemming te vra om in die land te werk (Lev. 19:9, 10). Dit word geredelik toegestaan en Boas sê vir haar om net in sý land saam met sy jong diensmeisies are op te tel. Na hy vir haar gesê het dat hy van haar lojale gedrag teenoor Naomi gehoor het, moedig hy haar aan met die woorde: “Mag die HERE jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het” (Rut 2:12). Daardie aand deel Rut die opbrengs van haar arbeid op onselfsugtige wyse met Naomi en verduidelik sy dat haar sukses met die optel van are aan die welwillendheid van Boas te danke is. Naomi sien die hand van Jehovah hierin en sê: “Mag hy geseënd wees deur die HERE, wat sy guns aan lewende en dode nie onttrek het nie. . . . Die man is ons nabestaande, hy is een van ons lossers” (2:20). Ja, Boas is ’n naverwant, wat in die naam van die oorlede Elimeleg wettig nakomelinge vir Naomi kan verwek. Rut bly are in die lande van Boas optel totdat die garsoes en die koringoes ten einde loop.
6. Hoe versoek Rut ’n huwelik ooreenkomstig die lossingsreg, en hoe reageer Boas?
6 Boas, as losser, trou met Rut (3:1–4:22). Omdat Naomi self te oud is om nakomelinge in die wêreld te bring, beveel sy Rut nou om in haar plek ’n huwelik ooreenkomstig die lossingsreg aan te gaan. Gedurende so ’n belangrike seisoen was dit die gewoonte dat die grondeienaar persoonlik toesig hou wanneer die graan gewan word, wat gewoonlik saans gedoen is om die briesie wat na ’n warm dag gewaai het te benut. Boas sou op die dorsvloer slaap, en dit is waar Rut hom vind. Sy kom stilletjies na hom, maak sy voete oop en gaan lê. Wanneer hy teen middernag wakker word, identifiseer sy haarself en vra sy hom, ooreenkomstig die gebruiklike prosedure wat gevolg word deur vroue wanneer hulle op die reg op ’n swaershuwelik aanspraak maak, om sy kleed oor haar uit te sprei.a Boas sê: “Geseënd is jy deur die HERE, my dogter”, en hy prys haar omdat sy nie uit hartstog of hebsug agter die jong manne aan geloop het nie. Rut is glad nie iemand wat ’n onreine verhouding sou voorstel nie, maar geniet eerder ’n reputasie as “’n deugsame vrou” (3:10, 11). Soos hy haar nou vertel, is daar egter ’n ander losser wat nader verwant is as hy; hy sal die volgende oggend met hom oorleg pleeg. Rut bly tot vroeg die oggend by sy voete lê. Dan gee hy haar gars as geskenk, en sy keer terug na Naomi, wat haar gretig oor die uitslag uitvra.
7. Hoe bewerkstellig Boas die huwelik, en tot watter seën lei dit?
7 Boas gaan vroeg na die stadspoort om die losser te soek. Met tien van die oudstes van die stad as getuies, gee hy hierdie nabestaande die eerste geleentheid om alles te koop wat aan Elimeleg behoort het. Sal hy dit doen? Sy onmiddellike antwoord is ja wanneer dit lyk of hy sy rykdom kan vergroot. Wanneer hy egter verneem dat daar van hom vereis word om ’n swaershuwelik met Rut aan te gaan, begin hy vrees vir sy eie erfdeel en trek hy dan ter wetlike bekragtiging van sy weiering sy sandaal uit. Hy bly naamloos in die Bybelverslag en word net op oneervolle wyse “So-en-so” genoem. Voor dieselfde getuies koop Boas Rut dan as sy vrou. Was dit om ’n selfsugtige rede? Nee, maar sodat ‘die naam van die dooie man nie uitgeroei word nie’ (4:1, 10, NW). Al die toeskouers versoek Jehovah se seën op hierdie liefdevolle reëling, en watter wonderlike seën is dit tog nie! Rut baar vir Boas ’n seun op sy oudag, en Naomi word die pleegmoeder van die kind. Hy word ‘’n seun vir Naomi’ genoem en word die naam Obed gegee.—4:17.
8. Wat toon verder dat die voortbrenging van die Saad van die belofte deur Jehovah gereël word?
8 Die laaste verse van Rut gee die geslagsregister vanaf Peres, deur Boas, tot by Dawid. Party kritici het beweer dat nie al die geslagte genoem word nie, aangesien die tydsverloop te groot vir so min mense is. Is dit waar? Of is elkeen met ’n lang lewensduur en ’n seun op sy oudag geseën? Laasgenoemde gevolgtrekking kan die regte een wees, wat beklemtoon dat die voortbrenging van die beloofde Saad deur Jehovah se reëling en onverdiende goedheid geskied, en nie deur die natuurlike vermoë van die mens nie. Jehovah het sy mag by ander geleenthede op soortgelyke wyse gebruik, soos in die geval van die geboorte van Isak, Samuel en Johannes die Doper.—Gen. 21:1-5; 1 Sam. 1:1-20; Luk. 1:5-24, 57-66.
WAAROM NUTTIG
9. In watter opsigte is die hooffigure in die drama van Rut uitstekende voorbeelde vir ons wat vandag lewe?
9 Hierdie genotvolle verslag is inderdaad nuttig, want dit help liefhebbers van geregtigheid om sterk geloof te bou. Al die hooffigure in hierdie opwindende drama het uitsonderlike geloof in Jehovah getoon, en hulle het “almal deur die geloof getuienis ontvang” (Hebr. 11:39). Hulle het uitstekende voorbeelde geword vir ons wat vandag lewe. Naomi het innige vertroue in die liefderyke goedheid van Jehovah geopenbaar (Rut 1:8, vgl. NW; 2:20). Rut het haar vaderland bereidwillig verlaat om die aanbidding van Jehovah te beoefen; sy het getoon dat sy lojaal en onderdanig, sowel as ’n gewillige werker, was. Dit was Boas se helder insig in Jehovah se wet en sy nederige instemming om Jehovah se wil te doen, asook sy liefde vir die getroue Naomi en die vlytige Rut, wat hom sy voorreg om ’n huwelik ooreenkomstig die lossingsreg aan te gaan, laat aangryp het.
10. Waarom moet die verslag in Rut ons vertroue in die Koninkryksbeloftes versterk?
10 Jehovah se voorsiening van die huwelik, en in hierdie geval van die huwelik ooreenkomstig die lossingsreg, is tot sy eer gebruik. Jehovah was die Reëlaar van die huwelik tussen Boas en Rut, en hy het dit ooreenkomstig sy liefderyke goedheid geseën; hy het dit gebruik om te verseker dat die koninklike geslagslyn van Juda wat tot Dawid en uiteindelik tot die Grotere Dawid, Jesus Christus, gelei het, nie onderbreek word nie. Jehovah se waaksame sorg om die Koninkrykserfgenaam ooreenkomstig sy wetlike voorsiening voort te bring, moet ons oortuiging versterk en ons met vertroue na die vervulling van al die Koninkryksbeloftes laat uitsien. Dit behoort ons te stimuleer om bedrywig te wees in die hedendaagse oeswerk, met vertroue in ’n volkome loon van Jehovah, die God van geestelike Israel, onder wie se ‘vleuels ons kom skuil het’ en wie se Koninkryksvoornemens so glorieryk hulle volkome vervulling nader (2:12). Die boek Rut is nog ’n onontbeerlike skakel in die verslag wat tot daardie Koninkryk lei!
[Voetnoot]
a Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 829.