Hoofstuk 52
Jesus voed duisende wonderdadig
DIE 12 apostels het ’n merkwaardige predikingsreis deur die hele Galilea geniet. Nou, kort na Johannes se teregstelling, keer hulle na Jesus terug en vertel van hulle wonderlike ondervindinge. Jesus sien hulle is moeg en so baie mense kom en gaan dat hulle nie eers tyd het om te eet nie en sê: ‘Kom ons gaan alleen na ’n verlate plek waar julle ’n bietjie kan rus.’
Hulle klim in hulle skuit, waarskynlik naby Kapernaüm, en stuur in die rigting van ’n afgeleë plek, klaarblyklik oos van die Jordaan oorkant Betsaida. Baie mense sien egter dat hulle vertrek en ander kom dit te hore. Hulle hardloop almal langs die kus vooruit, en toe die skuit aan wal gaan, is die mense daar om hulle te ontmoet.
Toe Jesus uit die skuit klim en die groot menigte sien, is hy innig jammer vir hulle omdat die mense soos skape sonder ’n herder is. Hy maak hulle siekes dus gesond en begin om hulle baie dinge te leer.
Die tyd gaan vinnig verby, en Jesus se dissipels kom na hom en sê: “Die plek is verlate en dit is reeds laat. Stuur hulle weg, sodat hulle na die buitewyke en dorpe rondom kan gaan om brood vir hulleself te koop, want hulle het niks om te eet nie.”
Maar Jesus antwoord en sê: “Gee julle aan hulle iets om te eet.” Toe, aangesien Jesus reeds weet wat hy gaan doen, stel hy Filippus op die proef deur te vra: “Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?”
Filippus meen dat die situasie onmoontlik is. Daar is ongeveer 5 000 mans en waarskynlik ruim 10 000 mense as die vrouens en kinders bygetel word! Filippus antwoord: “Brood vir tweehonderd pennings [’n penning was destyds ’n dagloon] sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle ’n stukkie kan kry nie.”
Andreas, wat miskien wil toon hoe onmoontlik dit is om so baie mense te voed, sê: “Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het”, en voeg by, “maar wat is dit vir so baie mense?”
Aangesien dit lente is, net voor die Pasga van 32 G.J., is daar baie groen gras. Jesus laat sy dissipels die mense dus aansê om in groepe van 50 en 100 op die gras te gaan sit. Hy neem die vyf brode en twee vissies, kyk na die hemel en bid. Dan begin hy om die brode te breek en die vissies te verdeel. Hy gee dit aan sy dissipels, wat dit op hulle beurt onder die mense versprei. Verbasend genoeg eet al die mense totdat hulle versadig is!
Daarna sê Jesus vir sy dissipels: “Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie.” Wanneer hulle dit doen, vul hulle 12 mandjies met die oorskietkos! Mattheüs 14:13-21; Markus 6:30-44; Lukas 9:10-17;
▪ Waarom soek Jesus ’n afgesonderde plek vir sy apostels?
▪ Waarheen neem Jesus sy dissipels, en waarom kry hulle nie die rus wat hulle nodig het nie?
▪ Waarop dring die dissipels aan toe dit laat word, maar hoe sorg Jesus vir die mense?