Hoofstuk 63
Verdere teregwysing
TERWYL Jesus en sy apostels nog in die huis in Kapernaüm is, word iets buiten die apostels se redekaweling oor wie die grootste is, bespreek. Dit is ’n gebeurtenis wat moontlik ook op pad terug na Kapernaüm plaasgevind het, toe Jesus nie teenwoordig was nie. Die apostel Johannes doen verslag: “Ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie.”
Johannes beskou die apostels blykbaar as ’n eksklusiewe span genesers wat die alleenreg het om te genees. Hy meen dus dat die man verkeerd gehandel het toe hy kragtige werke gedoen het omdat hy nie tot hulle groep behoort het nie.
Maar Jesus vermaan hulle: “Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat ’n krag in my Naam sal doen en gou van My sal kan kwaadspreek nie; want wie nie teen ons is nie, is vir ons. Want elkeen wat vir julle in my Naam ’n beker water gee om te drink, omdat julle aan Christus behoort, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.”
Dit was nie vir hierdie man nodig om Jesus liggaamlik te volg om aan sy kant te wees nie. Die Christengemeente was nog nie gestig nie; die feit dat hy nie tot hulle groep behoort het nie, het derhalwe nie beteken dat hy van ’n afsonderlike gemeente was nie. Die man het werklik geloof in Jesus se naam gehad en kon gevolglik demone uitdryf. Hy het iets gedoen wat gunstig vergelyk het met die werke wat Jesus gesê het ’n beloning verdien. Jesus toon dat die man, omdat hy dit gedoen het, nie sy loon sal verloor nie.
Maar sê nou die apostels se woorde en handelinge het die man laat struikel? Dit sou ’n baie ernstige saak wees! Jesus merk op: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom as ’n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.”
Jesus sê dat sy volgelinge enigiets wat hulle kan laat struikel uit hulle lewe moet verwyder, al is dit so kosbaar soos ’n hand, ’n voet of ’n oog. Dit is beter om sonder hierdie kosbare ding te wees en die Koninkryk van God in te gaan as om daaraan vas te hou en in Gehenna (’n brandende vullishoop naby Jerusalem), wat ewige vernieting simboliseer, gegooi te word.
Jesus waarsku ook: “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” Dan lig hy toe hoe kosbaar die “kleintjies” is deur te vertel van ’n man wat honderd skape besit, maar een verloor. Jesus verduidelik dat die man die 99 skape sal laat staan om die verlore skaap te gaan soek, en dat hy, wanneer hy hom vind, blyer sal wees oor hom as oor die ander 99. “So”, sê Jesus dan ten slotte, “is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.”
Jesus dink moontlik aan sy apostels se redekaweling onder mekaar wanneer hy hulle aanspoor: “Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.” Sout maak onsmaaklike voedsel smaakliker. Figuurlike sout maak dus ’n mens se woorde makliker om te aanvaar. As ’n mens sulke sout in jou het, sal dit die vrede help bewaar.
Weens menslike onvolmaaktheid sal ernstige geskille egter met tye voorkom. Jesus gee ook riglyne oor hoe ons dit moet hanteer. “As jou broeder teen jou sondig”, sê Jesus, “gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin.” As hy nie luister nie, maan Jesus: “Neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.”
Jesus sê dat die saak slegs as ’n laaste uitweg na “die gemeente” geneem moet word, dit wil sê, na verantwoordelike gemeentelike opsieners wat ’n regterlike uitspraak kan lewer. As die sondaar hom nie aan hulle uitspraak wil onderwerp nie, sê Jesus ten slotte: “Laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.”
Opsieners moet hulle streng by die voorskrifte in Jehovah se Woord hou wanneer hulle so ’n besluit neem. Wanneer hulle vind dat iemand skuldig is en straf verdien, sal die beslissing dus alreeds “in die hemel gebonde wees”. En wanneer hulle iets “op die aarde ontbind”, dit wil sê, iemand onskuldig bevind, sal dit alreeds “in die hemel ontbonde wees”. Met betrekking tot sulke regterlike beraadslaginge sê Jesus: “Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” Mattheüs 18:6-20; Markus 9:38-50; Lukas 9:49, 50.
▪ Waarom was dit in Jesus se tyd nie nodig om hom te vergesel nie?
▪ Hoe ernstig is dit om ’n kleintjie te laat struikel, en hoe lig Jesus die belangrikheid van sulke kleintjies toe?
▪ Wat gee waarskynlik aanleiding daartoe dat Jesus sy apostels aanspoor om sout in hulle te hê?
▪ Wat beteken die woorde ‘bind’ en ‘ontbind’?