Hoofstuk 22
Deel 5—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
In 1975 is belangrike besluite geneem in verband met die manier waarop daar van toe af oor die bedrywighede van Jehovah se Getuies van hulle wêreldhoofkwartier af toesig gehou sou word. Hulle het toe nie geweet in watter lande daar nog voor die einde van die huidige wêreldstelsel ’n deeglike getuienis gegee sou kon word of hoeveel verkondiging nog gedoen sou word in lande waar hulle al baie jare vryelik gepreek het nie. Maar hulle wou elke geleentheid ten beste benut. Bladsye 502 tot 520 dek sommige van die opwindende ontwikkelinge.
GROOT veranderinge het al in Suid-Amerika plaasgevind. Net ’n paar jaar gelede nog het Jehovah se Getuies in Ecuador met oproerige Katolieke skares te kampe gehad, het Katolieke priesters in Mexiko feitlik as konings in baie dorpies geheers en het die regerings in Argentinië en Brasilië Jehovah se Getuies in die ban gedoen. Maar omstandighede het aansienlik verander. Nou is baie van die mense wat geleer is om die Getuies te vrees of te haat self Getuies van Jehovah. Ander luister graag na die Getuies wanneer hulle hulle besoek om die Bybel se boodskap van vrede aan hulle oor te dra. Jehovah se Getuies is oral bekend en word alom gerespekteer.
Die grootte van hulle byeenkomste en die byeenkomsgangers se Christelike gedrag trek aandag. Twee sulke byeenkomste, wat in 1985 gelyktydig in Sao Paulo en Rio de Janeiro, Brasilië, gehou is, het ’n opkomshoogtepunt van 249 351 gehad. Later het altesaam 389 387 die 23 ander byeenkomste bygewoon wat gehou is om belangstellendes in die res van Brasilië te akkommodeer. Die resultate van die werk wat Jehovah se Getuies as onderrigters van God se Woord in Brasilië gedoen het, kon duidelik gesien word toe 4 825 mense by daardie reeks byeenkomste hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer het. Slegs vyf jaar later, in 1990, moes 110 byeenkomste dwarsdeur Brasilië gehou word om die 548 517 byeenkomsgangers te akkommodeer. Hierdie keer het 13 448 hulle in water laat doop. Regdeur die land het honderdduisende individue en gesinne dit verwelkom om deur Jehovah se Getuies in God se Woord onderrig te word.
En wat van Argentinië? Ná dekades van regeringsbeperkings kon Jehovah se Getuies daar in 1985 weer vryelik vergader. Wat ’n vreugde was dit tog om 97 167 by hulle eerste reeks byeenkomste te hê! Onder die opskrif: “’n Koninkryk wat groei—dié van Jehovah se Getuies”, is daar in ’n plaaslike koerant Ahora verbasing uitgespreek oor die ordelikheid van die byeenkomsskare in Buenos Aires, die algehele afwesigheid van rasse- en maatskaplike vooroordeel onder hulle, hulle vreedsaamheid en die liefde wat hulle openbaar. Toe is daar tot dié slotsom gekom: “Of ons dit met hulle opvattings en leerstellings eens is of nie, hierdie hele skare verdien ons grootste respek.” Baie Argentiniërs het egter meer as dit gedoen. Hulle het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en die vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon om te sien hoe die Getuies Bybelbeginsels in hulle lewe toepas. Daarna het hierdie waarnemers ’n besluit geneem. Gedurende die volgende sewe jaar het tienduisende van hulle hulle lewe aan Jehovah toegewy, en die aantal Getuies in Argentinië het met 71 persent toegeneem!
In Mexiko was die reaksie op die goeie nuus van God se Koninkryk nog merkwaardiger. In die verlede is Jehovah se Getuies daar dikwels deur oproerige skares aangeval wat deur priesters aangehits is. Maar die feit dat die Getuies hulle nie met gelyke munt betaal of probeer wraak neem het nie, het regskapenes diep beïndruk (Rom. 12:17-19). Hulle het ook gesien dat die Getuies alles wat hulle glo op die Bybel, God se geïnspireerde Woord, baseer en nie op mensetradisies nie (Matt. 15:7-9; 2 Tim. 3:16, 17). Hulle kon sien dat die Getuies geloof het wat hulle waarlik onderskraag wanneer hulle met teëspoed te kampe het. Al hoe meer gesinne het dit verwelkom toe Jehovah se Getuies aangebied het om ’n gratis tuisbybelstudie met hulle te hou. Trouens, gedurende 1992 is 12 persent van die Bybelstudies wat wêreldwyd deur die Getuies gehou is in Mexiko gehou, en ’n groot aantal hiervan is met groot gesinne gehou. Gevolglik het die aantal Getuies van Jehovah in Mexiko—nie bloot dié wat hulle vergaderinge bywoon nie, maar dié wat bedrywige openbare verkondigers van God se Koninkryk is—opgeskiet van 80 481 in 1975 tot 354 023 in 1992!
Ook in Europa het buitengewone gebeure tot die verspreiding van die Koninkryksboodskap bygedra.
Verbasende ontwikkelinge in Pole
Hoewel die werk van Jehovah se Getuies in Pole tussen 1939 en 1945 (gedurende die tydperk van Nazi- en Sowjetoorheersing) en weer van Julie 1950 af (onder Sowjetbeheer) verbode was, het Jehovah se Getuies daar nie opgehou preek nie. Hoewel hulle net 1 039 in 1939 was, was daar 18 116 Koninkryksverkondigers in 1950, en hulle het voortgegaan om ywerige (dog versigtige) evangeliedienaars te wees (Matt. 10:16). Byeenkomste is egter op onopsigtelike plekke gehou—in die veld, in skure, in woude. Maar van 1982 af het die Poolse regering hulle toegelaat om eendagbyeenkomste van beskeie grootte in gehuurde fasiliteite te hou.
Toe, in 1985, is die grootste stadions in Pole aan Jehovah se Getuies beskikbaar gestel vir vier groot byeenkomste gedurende Augustus. Toe ’n byeenkomsganger van Oostenryk per vliegtuig daar aangekom het, was hy verbaas om ’n aankondiging oor die luidspreker te hoor wat Jehovah se Getuies vir hulle byeenkoms in Pole verwelkom. ’n Bejaarde Poolse Getuie wat daar was om die besoeker te verwelkom, kon nie die trane van vreugde keer nie, aangesien die aankondiging hom laat besef het in watter mate die regering se gesindheid verander het. Hierdie byeenkomste is deur 94 134 byeenkomsgangers bygewoon, wat groepe uit 16 lande ingesluit het. Het die publiek geweet wat plaasvind? Ja, beslis! Hulle het gedurende en ná hierdie byeenkomste berigte in hulle vernaamste koerante gelees, die byeenkomsskares op televisie gesien en dele van die program tydens nasionale radio-uitsendings gehoor. Baie van hulle het gehou van wat hulle gesien en gehoor het.
Die broers was besig met reëlings vir selfs groter byeenkomste in Pole toe die regering op 12 Mei 1989 wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies as ’n godsdiensvereniging verleen het. Binne drie maande was drie internasionale byeenkomste aan die gang—in Chorzów, Poznan en Warskou—met ’n opkoms van altesaam 166 518. Verbasend genoeg kon duisende Getuies van wat toe die Sowjetunie (USSR) en Tsjeggo-Slowakye was die nodige toestemming verkry om te reis en het hulle die byeenkomste bygewoon. Het die dissipelmaakwerk van Jehovah se Getuies resultate gelewer in hierdie lande waar ateïsme dekades lank sterk deur die Staat voorgestaan is? Die antwoord was duidelik toe 6 093, waaronder baie jongmense, hulle by daardie byeenkomste in water laat doop het.
Die publiek kon duidelik sien dat die Getuies anders is—op ’n baie heilsame manier. In die koerante het hulle verklarings soos die volgende gelees: “Hulle wat Jehovah God dien—soos hulle self sê—beskou hulle samekomste, wat beslis blyk gee van die eenheid onder hulle, as baie belangrik. . . . Byeenkomsgangers stel ’n navolgenswaardige voorbeeld wat ordelikheid, vreedsaamheid en sindelikheid betref” (Życie Warszawy). Party Pole het besluit om meer te doen as net die byeenkomsgangers waar te neem. Hulle wou hê Jehovah se Getuies moet die Bybel met hulle studeer. As gevolg van sulke onderrigting in God se Woord het die aantal Getuies van Jehovah in Pole van 72 887 in 1985 tot 107 876 in 1992 toegeneem; en gedurende die laasgenoemde jaar het hulle meer as 16 800 000 uur daaraan gewy om ander te vertel van die wonderlike hoop wat die Skrif in die vooruitsig stel.
Dit was egter nie net in Pole wat opwindende veranderinge plaasgevind het nie.
Nog deure gaan in Oos-Europa oop
In Hongarye is Jehovah se Getuies in 1989 regstatus verleen. Die gewese Duitse Demokratiese Republiek (DDR) het sy 40 jaar lange verbod op die werk van die Getuies in 1990 opgehef, net vier maande nadat daar begin is om die Berlynse Muur af te breek. Die daaropvolgende maand is die Christelike Vereniging van Jehovah se Getuies in Roemenië amptelik deur die nuwe Roemeense regering erken. In 1991 het die Departement van Justisie in Moskou verklaar dat die Handves van die “Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in die USSR” amptelik geregistreer is. Daardie selfde jaar is wetlike erkenning ook aan die werk van Jehovah se Getuies in Bulgarye verleen. Gedurende 1992 is Jehovah se Getuies in Albanië regstatus verleen.
Hoe het Jehovah se Getuies die vryheid gebruik wat aan hulle gegee is? ’n Joernalis het vir Helmut Martin, die koördineerder van die werk van Jehovah se Getuies in die DDR, gevra: “Gaan julle by die politiek betrokke raak?” Dit was immers wat baie van die Christendom se geestelikes gedoen het. “Nee”, het broer Martin geantwoord, “Jesus het sy dissipels ’n skriftuurlike toewysing gegee, en ons beskou dit as ons belangrikste werk.”—Matt. 24:14; 28:19.
Jehovah se Getuies het beslis nie toe eers na daardie verantwoordelikheid in hierdie deel van die wêreld begin omsien nie. Hoewel hulle baie jare lank hulle werk onder uiters moeilike omstandighede moes doen, het gemeentes (wat in klein groepies vergader het) in die meeste van hierdie lande gefunksioneer en is getuieniswerk gedoen. Maar nou het ’n nuwe geleentheid ontstaan. Hulle kon vergaderinge hou waarheen hulle die publiek vryelik kon nooi. Hulle kon openlik van huis tot huis preek sonder die vrees dat hulle in die tronk gegooi sou word. Hier was lande met ’n totale bevolking van meer as 390 000 000, waar baie werk gedoen moes word. Ten volle daarvan bewus dat ons in die laaste dae van die huidige wêreldstelsel van dinge lewe, het Jehovah se Getuies vinnig opgetree.
Selfs voordat wetlike erkenning verleen is, het lede van die Bestuursliggaam ’n aantal lande besoek om te sien wat gedoen kon word om hulle Christenbroers te help. Nadat die verbooie opgehef is, het hulle na meer van hierdie gebiede gereis om die werk te help organiseer. Binne ’n paar jaar het hulle Getuies in Pole, Hongarye, Roemenië, Tsjeggo-Slowakye, Rusland, die Oekraïne, Estland en Belarus persoonlik ontmoet en met hulle beraadslaag.
Byeenkomste is gereël om Getuies wat in hierdie lande woon, te versterk en die boodskap van God se Koninkryk sterk onder die aandag van die publiek te bring. Minder as vyf maande nadat die verbod deur die destydse DDR opgehef is, is so ’n byeenkoms by Berlyn se Olympia-stadion gehou. Getuies van 64 ander lande het ’n uitnodiging om die byeenkoms by te woon geredelik aanvaar. Hulle het dit as ’n voorreg beskou om daardie geleentheid saam met Christenbroers en -susters te geniet wat dekades lank ondanks hewige vervolging lojaal aan Jehovah gebly het.
Ander byeenkomste is in 1990 sowel as in 1991 regdeur Oos-Europa gehou. Nadat vier plaaslike byeenkomste in 1990 in Hongarye gehou is, is reëlings getref om in 1991 ’n internasionale byeenkoms by die Nép-stadion in Boedapest te hou. Dié byeenkoms is deur 40 601 mense van 35 lande bygewoon. In 1990 kon Jehovah se Getuies vir die eerste keer in meer as 40 jaar openbare byeenkomste in Roemenië hou. Daardie jaar is ’n reeks byeenkomste regdeur die land gehou, en toe twee groter byeenkomste. Daar is nog agt byeenkomste in 1991 gehou, wat deur 34 808 bygewoon is. In 1990 is byeenkomste in elk van die republieke gehou waaruit die destydse Joego-Slawië bestaan het. Hoewel die land deur burgeroorlog bedreig is, het 14 684 Getuies van Jehovah die daaropvolgende jaar ’n internasionale byeenkoms in Zagreb, die hoofstad van Kroasië, gehou. Die polisie was verstom om te sien hoe Kroate, Montenegryne, Serwiërs, Slowene en ander in vrede vergader om na die program te luister.
In wat toe Tsjeggo-Slowakye was, is byeenkomste ook gou gereël. In 1990 is ’n nasionale byeenkoms in Praag deur 23 876 bygewoon. Die bestuur van die stadion was so beïndruk deur wat hulle gesien het dat hulle die grootste fasiliteite in die land aan die Getuies beskikbaar gestel het vir hulle volgende byeenkoms. By daardie geskiedkundige geleentheid in 1991 was die Strahof-stadion in Praag met 74 587 geesdriftige byeenkomsgangers gevul. Tsjeggiese en Slowaakse byeenkomsgangers was verheug en het geesdriftig hande geklap toe die vrystelling van die volledige New World Translation of the Holy Scriptures in hulle eie taal, vir gebruik in die openbare bediening sowel as vir persoonlike en gemeentelike studie, aangekondig is.
Dit was ook in 1991 dat Jehovah se Getuies vir die eerste keer in die geskiedenis openlik byeenkomste kon hou in plekke wat toe in die Sowjetunie was. Ná ’n byeenkoms in Tallinn, Estland, is een in Siberië gehou. Vier is in vername stede in die Oekraïne gehou en een in Kazakstan. Die gesamentlike bywoningsyfer was 74 252. En as gevolg van die onlangse dissipelmaakwerk van Jehovah se Getuies in hierdie gebiede het 7 820 hulle in water laat doop. Dit was nie ’n emosionele besluit wat geneem is omdat hulle opgewonde oor die byeenkoms was nie. Die doopkandidate is maande lank—in sommige gevalle jare lank—noukeurig daarvoor voorberei.
Waar het al hierdie mense vandaan gekom? Dit is duidelik dat daar nie maar kort tevore met die werk van Jehovah se Getuies in daardie deel van die aarde begin is nie. Wagtoringpublikasies is reeds in 1887 aan ’n belangstellende in Rusland gepos. Die eerste president van die Wagtoringgenootskap het Kisjinef (nou in Moldawië) self in 1891 besoek. Bybelstudente het gedurende die twintigerjare in Rusland gaan preek; maar daar was sterk amptelike teëstand en die paar groepe wat belangstelling in die Bybel se boodskap getoon het, was klein. Die situasie het egter gedurende en ná die Tweede Wêreldoorlog verander. Nasionale grense is verander en baie mense is hervestig. Gevolglik het meer as duisend Oekraïnssprekende Getuies van wat vroeër oostelike Pole was hulle in die Sowjetunie bevind. Ander Getuies wat in Roemenië en Tsjeggo-Slowakye gewoon het, het gevind dat die gebiede waar hulle woon nou skielik ’n deel van die Sowjetunie was. Daarbenewens het Russe wat Getuies van Jehovah geword het terwyl hulle in Duitse konsentrasiekampe was na hulle geboorteland teruggekeer, en hulle het die goeie nuus van God se Koninkryk saamgeneem. Teen 1946 was daar 4 797 bedrywige Getuies in die Sowjetunie. Die regering het baie van hulle deur die jare heen van die een plek na die ander verskuif. Party is na gevangeniskampe gestuur. Waar hulle ook al gegaan het, het hulle getuig. Hulle getalle het toegeneem. Selfs voor die regering hulle wetlik erken het, was daar bedrywige groepe van Lviv in die weste af tot by Wladiwostok op die Sowjetunie se oostelike grens, oorkant die Japannese kus.
Baie is nou bereid om te luister
Toe die Getuies in 1991 byeenkomste gehou het in wat toe die USSR was, het die publiek die geleentheid gehad om hulle van naderby te beskou. Hoe het hulle gereageer? In Lviv, Oekraïne, het ’n polisiebeampte vir een van die byeenkomsgangers gesê: “Julle blink uit in die heilsame onderrig wat julle ander gee, julle praat oor God en julle neem nie aan geweld deel nie. Ons het die rede bespreek waarom ons julle vervolg het, en ons het tot die gevolgtrekking gekom dat ons nie na julle geluister het nie en niks omtrent julle geweet het nie.” Maar nou het baie geluister, en Jehovah se Getuies wou hulle help.
Om hulle werk op die doeltreffendste manier in hierdie lande te doen, het hulle Bybellektuur nodig gehad. ’n Groot poging is aangewend om dit vinnig te voorsien. By Selters/Taunus, Duitsland, het Jehovah se Getuies hulle drukkery feitlik verdubbel. Hoewel hierdie uitbreiding nog nie voltooi was nie, is 25 ton lektuur ongeveer twee weke nadat die verbod in die destydse Oos-Duitsland opgehef is van die drukkery in Selters na hierdie gebied gestuur. Vandat die verbooie in Oos-Europese lande opgehef is tot 1992 is altesaam ongeveer 10 000 ton lektuur in 14 hooftale vanuit Duitsland na hierdie verskillende lande gestuur, ’n verdere 698 ton vanuit Italië en nog vanuit Finland.
Aangesien die Getuies in party lande baie jare lank in ’n groot mate afgesonderd was, het hulle ook hulp nodig gehad met aangeleenthede soos gemeentelike toesighouding en organisatoriese administrasie. Om in hierdie dringende behoefte te voorsien, is daar met ervare ouere manne—dié wat, waar moontlik, die landstaal kon praat—in Duitsland, die Verenigde State, Kanada en elders in verbinding getree. Sou hulle bereid wees om na een van hierdie lande in Oos-Europa te verhuis om in hierdie behoefte te help voorsien? Die reaksie was inderdaad bemoedigend! Waar dit voordelig sou wees, is ouere manne wat by die Gileadskool of in die Bedieningsopleidingskool opgelei is ook uitgestuur.
Toe is daar in 1992 ’n merkwaardige internasionale byeenkoms in St. Petersburg, op een na die grootste stad in Rusland, gehou. Ongeveer 17 000 van die byeenkomsgangers was van 27 lande buite Rusland afkomstig. Die byeenkoms is wyd en syd geadverteer. Mense wat nooit tevore van Jehovah se Getuies gehoor het nie, het ook gekom. ’n Opkomshoogtepunt van 46 214 is bereik. Byeenkomsgangers het van alle dele van Rusland gekom, party van so ver oos as Sakhalin-eiland, naby Japan. Groot groepe het van die Oekraïne, Moldawië en ander lande gekom wat voorheen deel van die USSR uitgemaak het. Hulle het goeie nuus saamgebring. Verslae het getoon dat die gemiddelde vergaderingbywoning van gemeentes in stede soos Kiëf, Moskou en St. Petersburg dubbel of meer as dubbel soveel is as die aantal Getuies. Die name van baie mense wat wou hê dat Jehovah se Getuies die Bybel met hulle moet studeer, moes op waglyste gesit word. Ongeveer 600 byeenkomsgangers het van Letland af gekom, en nog meer van Estland af. Daar was meer as honderd van een gemeente in St. Petersburg wat gereed was om by die byeenkoms gedoop te word. Baie van die belangstellendes is jongmense of geleerdes. Waarlik, ’n groot geestelike oes word ingesamel in hierdie ontsaglike gebied wat lank deur die wêreld as ’n vesting van ateïsme beskou is!
Lande wat wit is vir die oes
Namate gesindhede ten opsigte van godsdiensvryheid verander het, het ander lande ook hulle beperkings op die werk van Jehovah se Getuies opgehef of hulle die wetlike erkenning verleen wat lank geweier is. In baie van hierdie plekke was daar ’n groot geestelike oes wat gereed was om ingesamel te word. Toestande was soos dié wat Jesus aan sy dissipels beskryf het toe hy gesê het: “Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle al wit is vir die oes” (Joh. 4:35). Kom ons kyk na net ’n paar plekke in Afrika waar dit die geval was.
In 1969 is die huis-tot-huis-bediening van Jehovah se Getuies in Zambië verbied. Gevolglik het die Getuies daar meer tyd daaraan gewy om tuisbybelstudies met belangstellendes te hou. Ander het ook na die Getuies begin kom sodat hulle onderrig kon word. Beperkings is mettertyd gedeeltelik deur die regering opgehef en vergaderingbywoning het toegeneem. In 1992 het 365 828 in Zambië die Here se Aandmaal bygewoon, 1 uit elke 23 van die bevolking!
Noord van Zambië, in Zaïre, was daar nog duisende wat wou weet wat Jehovah se Getuies oor ’n Christelike lewenswyse en oor God se voorneme vir die mensdom leer. In 1990, toe die omstandighede sodanig was dat die Getuies weer hulle Koninkryksale kon gebruik, het daar op party plekke tot 500 mense na hulle vergaderinge gestroom. Binne twee jaar was die 67 917 Getuies in Zaïre besig om 141 859 tuisbybelstudies met sulke mense te hou.
’n Verstommende aantal lande het die predikingswerk begin toelaat. In 1990 is Wagtoringsendelinge wat 14 jaar tevore uit Benin gedeporteer is amptelik die geleentheid gegee om terug te keer, en die weg is geopen vir ander om te kom. Daardie selfde jaar het die Minister van Justisie in die Kaap-Verdiese Republiek ’n verordening onderteken wat die statute van die plaaslike Vereniging van Jehovah se Getuies goedgekeur en hulle dus wetlike erkenning verleen het. Toe, in 1991, is beperkings op die werk van Jehovah se Getuies opgehef in Mosambiek (waar gewese heersers hulle wreed vervolg het), Ghana (waar hulle bedrywigheid amptelik verbied was) en Ethiopië (waar hulle 34 jaar lank nie openlik kon preek of byeenkomste kon hou nie). Voor die jaar om was, is hulle ook in Niger en die Kongo wetlik erken. Vroeg in 1992 is verbooie opgehef of is wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies verleen in Tsjaad, Kenia, Rwanda, Togo en Angola.
Hierdie lande was gereed vir die geestelike oes. In Angola het die Getuies byvoorbeeld gou ’n vermeerdering van 31 persent gehad; daarbenewens het die ongeveer 19 000 Koninkryksverkondigers daar bykans 53 000 tuisbybelstudies gehou. Om die nodige administratiewe hulp te verleen met hierdie ontsaglike Bybelonderrigprogram in Angola sowel as in Mosambiek (waar baie mense Portugees praat), is bekwame ouere manne van Portugal en Brasilië genooi om na Afrika te verhuis en hulle bediening daar voort te sit. Portugeessprekende sendelinge is na Guinee-Bissau gestuur waar dit onlangs moontlik geword het om die werk vryelik te doen. En bekwame Getuies in Frankryk en ander lande is genooi om die dringende predikings- en dissipelmaakwerk in Benin, Tsjaad en Togo te doen, waar baie mense Frans praat.
Party van daardie gebiede waar daar besonder baie lowers van Jehovah is, is gebiede wat voorheen Rooms-Katolieke vestings was. Buiten Latyns-Amerika was dit ook die geval in Frankryk (waar daar volgens die 1992-rapport 119 674 Getuie-evangeliedienaars was), Spanje (waar daar 92 282 was), die Filippyne (met 114 335), Ierland (met ’n toename in Getuies van 8 tot 10 persent per jaar) en Portugal.
Toe 37 567 in 1978 ’n Getuiebyeenkoms in Lissabon, Portugal, bygewoon het, het die tydskrif Opção gesê: “Vir enigiemand wat al tydens die pelgrimstogte by Fatima was, is hierdie geleentheid in werklikheid baie anders. . . . Hier [by die byeenkoms van Jehovah se Getuies] verdwyn die mistisisme en is dit eerder ’n vergadering waar mense wat in hulle geloof verenig is hulle probleme, hulle geloof en hulle geestelike beskouing bespreek. Hulle optrede teenoor mekaar kenmerk ’n liefdevolle verhouding.” Gedurende die daaropvolgende dekade het die aantal Getuies in Portugal met byna 70 persent toegeneem.
En wat van Italië? ’n Ernstige tekort aan kandidate vir die Katolieke priesterskap het party kweekskole genoodsaak om te sluit. Baie kerke het nie meer hulle eie priester nie. In baie gevalle is gewese kerkgeboue nou winkels of kantore. Ten spyte van al hierdie dinge het die kerk hard gestry om Jehovah se Getuies te stuit. In die verlede het hulle druk op amptenare uitgeoefen om Getuiesendelinge te deporteer en daarop aangedring dat die polisie hulle vergaderinge stopsit. Gedurende die tagtigerjare het plaaslike priesters in sommige gebiede ’n plakker op al die deure (waarvan party dié van Jehovah se Getuies was) laat plak wat sê: “Moenie klop nie. Ons is Katolieke.” Koerantopskrifte het gelui: “Kerk se alarmkreet teen Jehovah se Getuies” en “‘Heilige oorlog’ teen Jehovah se Getuies.”
Toe die eerste-eeuse Joodse priesters die apostels die swye probeer oplê het, het Gamaliël, ’n leermeester in die Wet, wyslik gemaan: “As hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie” (Hand. 5:38, 39). Wat was die uiteinde toe die 20ste-eeuse Rooms-Katolieke priesterdom Jehovah se Getuies die swye probeer oplê het? Die werk van die 120 Getuies in Italië in 1946 is nie verydel nie. Inteendeel, teen 1992 was daar 194 013 bedrywige Getuies in 2 462 gemeentes deur die hele land. Hulle het Italië feitlik vervul met hulle verkondiging van God se Woord. Sedert 1946 het hulle meer as 550 miljoen uur daaraan gewy om met hulle mede-Italianers oor God se Koninkryk te praat. Terwyl hulle dit gedoen het, het hulle miljoene Bybels en meer as 400 miljoen boeke, boekies en tydskrifte wat die Skrif verduidelik by hulle gelaat. Hulle wil seker maak dat die mense van Italië die volle geleentheid het om hulle aan Jehovah se kant te skaar voor Armageddon kom. Hulle hou egter in gedagte wat die apostel Paulus in 2 Korinthiërs 10:4, 5 geskryf het, naamlik: “Die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God.”
Jehovah se Getuies skenk nie net aandag aan gewese Katolieke vestings nie. Hulle weet dat Jesus Christus gesê het: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” (Mark. 13:10). En dit is die werk wat die Getuies doen. Teen 1992 was daar 12 168 wat mense in Indië van God se Koninkryk vertel het. Nog 71 428 het in die Republiek van Korea gepreek. In Japan was daar 171 438, en hulle getalle neem elke maand toe. Hulle het ook voortgegaan om die werk uit te brei na lande waar min of geen predikingswerk nog gedoen is nie.
Gedurende die laat sewentigerjare kon hulle dus vir die eerste keer die Koninkryksboodskap aan mense op die Marquesas-eilande en op Kosrae—albei in die Stille Oseaan—verkondig. Hulle het ook in Bhutan, wat aan die suide van China grens, en die Comore, langs die ooskus van Afrika, gaan preek. Gedurende die tagtigerjare is die predikingswerk deur Jehovah se Getuies vir die eerste keer op die Wallis- en Futuna-eilande sowel as op die eilande Nauru en Rota gerapporteer, wat almal in die suidwestelike Stille Oseaan geleë is. Party van hulle is redelike klein plekkies; maar mense woon daar, en lewens is kosbaar. Jehovah se Getuies is ten volle bewus van Jesus se profesie dat die Koninkryksboodskap “in die hele wêreld” verkondig sal word voor die einde kom.—Matt. 24:14.
Mense word bereik waar en wanneer dit ook al moontlik is
Hoewel die huis-tot-huis-verkondiging steeds die vernaamste manier is waarop Jehovah se Getuies mense bereik, besef hulle dat hulle selfs met hierdie stelselmatige metode nie met almal in aanraking kom nie. Met ’n gevoel van dringendheid probeer hulle voortdurend om mense te bereik waar hulle hulle ook al bevind.—Vergelyk Johannes 4:5-42; Handelinge 16:13, 14.
Wanneer skepe die hawes in Duitsland en Nederland aandoen, selfs vir ’n kort rukkie, probeer Jehovah se Getuies hulle besoek en getuig hulle eers vir die kaptein en dan vir die bemanning. Hulle neem Bybellektuur in baie tale vir die manne saam. In die plaaslike markte van Tsjaad, in Sentraal-Afrika, is dit niks ongewoons om te sien hoe ’n groep van 15 of 20 om een van Jehovah se Getuies saamdrom wat met hulle oor die hoop van God se Koninkryk praat nie. In Auckland, Nieu-Seeland, maak groepe Getuies beurte om op verskillende tye van die dag met stalletjie-eienaars en die duisende mense wat Saterdagoggende die rommelmarkte besoek, te praat. Mense wat by die busterminusse in Guayaquil, Ecuador, in- en uitbeweeg—baie van hulle van afgeleë dele van die land—word deur Getuies genader wat hulle ’n tydige brosjure of La Atalaya en ¡Despertad! aanbied. Dié in New York-stad wat die nagskof werk in eetplekke wat dag en nag oopbly, word by die werk deur Getuies besoek sodat hulle ook die geleentheid kan hê om die goeie nuus te hoor.
Wanneer Jehovah se Getuies per vliegtuig, trein, bus en moltrein reis, praat baie van hulle met medepassasiers oor kosbare Bybelwaarhede. Hulle gebruik ook geleenthede om gedurende die etensuur by hulle sekulêre werk en by die skool te getuig, asook wanneer mense om sakeredes by hulle deur aanklop. Hulle weet dat baie van hierdie mense dalk nie tuis sal wees wanneer die Getuies hulle gereelde besoeke doen nie.
Terwyl hulle vir ander getuig, vergeet hulle nie van gesinslede en ander familie nie. Toe Maria Caamano, ’n Getuie in Argentinië, egter vir haar familie probeer vertel het hoe diep sy geraak is deur wat sy uit die Bybel geleer het, het hulle haar bespot of net nie belanggestel nie. Sy het nie tou opgegooi nie, maar het ’n reis van 1 900 kilometer onderneem om vir ander familielede te gaan getuig. Party het gunstig gereageer. Ander het mettertyd geluister. Gevolglik is daar nou meer as 80 volwassenes en oor die 40 kinders onder haar familielede wat die Bybel se waarhede aangeneem het en dit aan ander verkondig.
Om sy familielede te help, het Michael Regan terugverhuis na sy tuisdorp, Boyle, in die graafskap Roscommon, Ierland. Hy het vir hulle almal getuig. Sy niggie was beïndruk deur die gelukkige gees en heilsame lewenswyse van Michael se kinders. Kort voor lank het sy en haar man tot ’n Bybelstudie ingestem. Toe hulle gedoop is, het haar vader haar sy huis belet. Sy gesindheid het egter geleidelik versag en hy het lektuur geneem—met die bedoeling om die Getuies se “dwaling” bloot te lê. Maar hy het gou besef dat wat hy lees die waarheid is en is mettertyd gedoop. Meer as 20 lede van die familie assosieer nou met die gemeente, en die meeste is reeds gedoop.
Wat van mense in die tronk? Kan hulle baat vind by die boodskap omtrent God se Koninkryk? Jehovah se Getuies slaan hulle nie oor nie. By ’n strafgevangenis in Noord-Amerika het reëlings vir persoonlike Bybelstudies met gevangenes, asook die bywoning van gereelde vergaderinge wat deur Jehovah se Getuies in die gevangenis gehou word, sulke goeie gevolge gehad dat die gevangenisadministrasie toegelaat het dat byeenkomste daar gehou word. Hierdie byeenkomste is nie net deur die gevangenes bygewoon nie, maar ook deur duisende Getuies van buite af. In ander lande word daar ook ywerige pogings aangewend om vir mans en vroue in die tronk te getuig.
Jehovah se Getuies dink nie dat Bybelstudie alle gevangenes sal verander nie. Maar hulle weet uit ondervinding dat party gehelp kan word, en hulle wil hulle die geleentheid gee om die hoop van God se Koninkryk aan te neem.
Herhaalde pogings om harte te raak
Jehovah se Getuies besoek mense herhaaldelik. Net soos Jesus se vroeë dissipels, gaan hulle “voortdurend” terug na mense in hulle toegewese gebiede om die mense se belangstelling in God se Koninkryk te probeer aanwakker (Matt. 10:6, 7, NW). Op party plekke kan hulle al die huise in hulle gebied net een keer per jaar besoek; elders besoek hulle hulle elke paar maande. In die groter Lissabon-gebied in Portugal, waar daar ’n verhouding van 1 Getuie vir elke 160 van die bevolking is, word mense so te sê elke week deur die Getuies besoek. In Venezuela is daar stede waar gebiede gereeld meer as een keer per week gedek word.
Wanneer Jehovah se Getuies mense herhaaldelik besoek, probeer hulle nie die Bybel se boodskap aan hulle opdwing nie. Hulle probeer hulle eenvoudig die geleentheid gee om ’n intelligente besluit te neem. Vandag sê party mense dalk hulle stel nie belang nie; maar drastiese veranderinge in hulle lewe of in wêreldtoestande sal hulle miskien by ’n ander geleentheid ontvankliker maak. Omdat baie mense bevooroordeeld is of eenvoudig te besig is om te luister, het hulle nog nooit eintlik uitgevind wat die Getuies leer nie. Maar herhaalde vriendelike besoeke sal hulle dalk laat luister. Mense is dikwels beïndruk deur die eerlikheid en morele integriteit van Getuies wat in hulle buurt woon of saam met hulle werk. Gevolglik toon party mettertyd genoeg belangstelling om uit te vind waaroor hulle boodskap handel. Nadat so ’n vrou in Venezuela geredelik lektuur geneem en die aanbod van ’n gratis tuisbybelstudie aanvaar het, het sy gesê: “Niemand het nog ooit hierdie dinge aan my verduidelik nie.”
Die Getuies probeer op ’n vriendelike manier om die hart van diegene met wie hulle praat te bereik. In Guadeloupe, waar daar 1 Getuie vir elke 57 van die bevolking in 1992 was, sê huisbewoners dikwels: “Ek stel nie belang nie.” Eric Dodote antwoord daarop: “Ek verstaan, en ek kan my in jou posisie plaas.” Dan sal hy sê: “Maar ek wil jou vra: ‘Sal jy daarvan hou om onder beter toestande te lewe as dié wat vandag bestaan?’” Nadat hy geluister het na wat die huisbewoner sê, gebruik hy die Bybel om te toon hoe God sulke toestande in Sy nuwe wêreld teweeg sal bring.
Gebied word nog deegliker gedek
In onlangse jare het dit in party lande al hoe moeiliker geword om mense tuis te vind. Dikwels werk die man sowel as die vrou, en oor naweke ontspan hulle dalk weg van die huis af. Om hierdie situasie die hoof te bied, doen Jehovah se Getuies in baie lande al hoe meer van hulle huis-tot-huis-getuieniswerk saans. In Brittanje gaan party Getuies nie net saans tussen sesuur en agtuur terug na huise waar niemand tuis was nie, maar ander doen sulke besoeke soggens voor agtuur sodat hulle met die mense kan praat voor hulle werk toe gaan.
Selfs waar mense tuis is, is dit soms baie moeilik om sonder ’n afspraak by hulle uit te kom as gevolg van streng veiligheidsmaatreëls weens misdaad wat so algemeen voorkom. Maar wanneer party in Brasilië met wie daar nie maklik in aanraking gekom kan word nie vroegoggend langs die Copacabana-strand gaan stap, sal hulle dalk deur ’n ywerige Getuie genader word wat net so vroeg daar is en gesprekke met ander aanknoop oor hoe God se Koninkryk die mensdom se probleme gaan oplos. Wanneer mense in Parys, Frankryk, laat smiddae na hulle woonstel terugkeer, sal hulle dalk ’n vriendelike Getuiepaar naby die ingang van die gebou teëkom wat wag om met individuele inwoners te praat wat bereid is om ’n paar minute af te staan om te hoor van die middel wat God gaan gebruik om ware veiligheid te bring. In Honolulu, New York-stad en baie ander plekke word pogings ook aangewend om die inwoners van geboue waar daar streng veiligheidsmaatreëls is per telefoon te bereik.
As die Getuies met iemand in elke huis praat, voel hulle nog steeds nie dat hulle taak afgehandel is nie. Hulle wil met soveel mense as moontlik in elke huis praat. Dit is partykeer moontlik deur besoeke op verskillende dae of op verskillende tye te doen. Toe ’n huisbewoner in Puerto Rico gesê het dat sy nie belangstel nie, het ’n Getuie gevra of daar iemand anders in die huis is met wie sy kan praat. Dit het gelei tot ’n gesprek met die man van die huis, wat reeds 14 jaar siek en grotendeels bedlêend was. Sy hart is verbly deur die hoop wat God se Woord in die vooruitsig stel. Weens sy hernieude belangstelling in die lewe was hy kort voor lank uit die bed en het hy vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon en sy nuutgevonde hoop aan ander verkondig.
’n Groter getuienis namate die einde nader kom
Nog ’n faktor het baie bygedra tot ’n groter getuienis in onlangse jare. Dit is die toename in die aantal Getuies wat as pioniers dien. Vanweë hulle innige begeerte om soveel van hulle tyd as moontlik aan God se diens te wy, asook hulle liefdevolle besorgdheid oor hulle medemens, reël hulle hulle sake sodat hulle elke maand 60, 90, 140 of meer uur aan die veldbediening kan wy. Net soos in die geval van die apostel Paulus toe hy in Korinthe, Griekeland, gepreek het, raak dié wat die pionierdiens betree ‘intens besig met die woord’ en probeer hulle vir soveel mense as moontlik oor die Messiaanse Koninkryk getuig.—Hand. 18:5, NW.
In 1975 was daar wêreldwyd 130 225 pioniers. Teen 1992 was daar gemiddeld 605 610 per maand (gewone, hulp- en spesiale pioniers). Gedurende ’n tydperk toe die aantal Getuies in alle wêrelddele met 105 persent toegeneem het, het dié wat die voltydse bediening betree het dus met 365 persent toegeneem! Gevolglik het die tyd wat aan die getuieniswerk gewy is van ongeveer 382 miljoen tot meer as ’n miljard uur per jaar gestyg!
‘Die kleine het duisend geword’
Jesus Christus het sy volgelinge die opdrag gegee om sy getuies te wees tot aan die uiterste van die aarde (Hand. 1:8). Jehovah het deur die profeet Jesaja voorspel: “Die kleine self sal duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek self‚ Jehovah‚ sal dit op sy tyd bespoedig” (Jes. 60:22, NW). Die verslag toon duidelik dat Jehovah se Getuies die werk doen wat Jesus voorspel het, en hulle het die soort groei ondervind wat God self belowe het.
Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het hulle hoofsaaklik in Noord-Amerika en Europa voorgekom; daar was ’n paar in Afrika; en ander, in kleiner groepies, was oor die aarde versprei. Hulle het toe nog geensins elke land of al die dele van dié lande waar hulle gepreek het met die Koninkryksboodskap bereik nie. Daardie situasie het egter verbasend vinnig verander.
Neem Noord-Amerika as voorbeeld. Die vasteland strek van Kanada in die noorde tot by Panama, met nege lande tussenin. Teen 1945 was daar 81 410 Getuies in hierdie ontsaglike gebied. Vier van die lande het minder as 20 Getuies elk gerapporteer, en in een land was geen georganiseerde predikingswerk nog gedoen nie. Sedertdien is ’n deeglike en volgehoue getuienis in al hierdie lande gegee. In 1992 was daar 1 440 165 Getuies van Jehovah in hierdie deel van die aarde. In die meeste van hierdie lande het elke Getuie nou gemiddeld net ’n paar honderd mense vir wie hy moet getuig. ’n Groot deel van die bevolking word elke paar maande deur die Getuies besoek; baie word elke week besoek. Meer as 1 240 000 tuisbybelstudies word gereeld met individuele en groepe belangstellendes gehou.
Wat van Europa? Hierdie deel van die aarde strek van Skandinawië af suidwaarts tot by die Middellandse See. Met die uitsondering van die grootste deel van die gebied wat vroeër as die Sowjetunie bekend gestaan het, is ’n deeglike getuienis reeds voor die Tweede Wêreldoorlog in Europa gegee. Sedertdien het nuwe geslagte grootgeword en word daar ook vir hulle uit die Skrif getoon dat God se Koninkryk alle menseregerings binnekort sal vervang (Dan. 2:44). Van die paar duisend Getuies wat hulle predikingswerk ten spyte van streng beperkings gedurende die oorlog gedoen het, het die aantal Koninkryksverkondigers in die 47 lande waarvoor rapporte in 1992 gepubliseer is tot 1 176 259 gestyg, met inbegrip van daardie plekke in Europa en Asië wat vroeër deel van die USSR was. In elkeen van die volgende vyf lande was daar ver oor die 100 000 ywerige Getuies: Brittanje, Duitsland, Frankryk, Italië en Pole. En waarmee was al hierdie Getuies besig? Hulle rapport vir 1992 toon dat hulle gedurende dié jaar meer as 230 000 000 uur aan die openbare predikingswerk, besoeke van huis tot huis en tuisbybelstudies gewy het. In die loop van hulle evangelisasiewerk het hierdie Getuies selfs nie eers die klein republiek San Marino, vorstedomme soos Andorra en Liechtenstein, of Gibraltar oorgeslaan nie. Die voorspelde getuienis is waarlik gelewer.
Afrika ontvang ook ’n deeglike getuienis. Die verslae toon dat die goeie nuus 28 lande op daardie vasteland teen 1945 bereik het, maar dat baie min getuieniswerk in werklikheid toe nog in die meeste van hierdie lande gedoen is. Sedertdien is baie werk egter daar gedoen. Teen 1992 was daar 545 044 ywerige Getuies op die vasteland van Afrika wat die goeie nuus in 45 lande verkondig het. Die herdenking van die Here se Aandmaal is daardie jaar deur 1 834 863 bygewoon. Daar was dus nie net verstommende groei nie, maar die potensiaal vir verdere uitbreiding is merkwaardig!
Die rapport vir Suid-Amerika is net so merkwaardig. Hoewel 12 van die 13 lande voor die Tweede Wêreldoorlog met die Bybel se boodskap bereik is, was daar op daardie tydstip net 29 gemeentes op die hele vasteland, en in sommige van die lande was daar nog geen georganiseerde predikingswerk gedoen nie. Die meeste van die Koninkrykspredikingswerk het toe nog voorgelê. Sedertdien het die Getuies daar ywerig gewerk. Diegene wat deur die water van die lewe verfris is, nooi ander hartlik uit: ‘Kom, en neem die water van die lewe verniet’ (Openb. 22:17). In 1992 was daar 683 782 knegte van Jehovah in 10 399 gemeentes in Suid-Amerika wat vreugdevol aan hierdie werk deelgeneem het. Party van hulle het in gebiede gaan werk waar ’n deeglike getuienis nog nie gegee is nie. Ander het herhaaldelik teruggegaan na waar ’n getuienis reeds gegee is om mense aan te spoor om ‘te smaak en te sien dat Jehovah goed is’ (Ps. 34:9). Hulle het gereeld 905 132 tuisbybelstudies gehou om belangstellendes te help om Jehovah se weë hulle eie lewenswyse te maak.
Beskou ook Asië en die baie eilande en eilandgroepe rondom die wêreld. Wat is daar bereik? Tot ná die Tweede Wêreldoorlog is bitter min verkondiging van die Koninkryk in baie van hierdie plekke gedoen. Maar Jesus Christus het voorspel dat hierdie goeie nuus van die Koninkryk ‘in die hele wêreld verkondig sal word tot ’n getuienis vir al die nasies’ (Matt. 24:14). In ooreenstemming daarmee het die verkondiging van die goeie nuus wat vroeër in 76 van hierdie lande, eilande en eilandgroepe gedoen is gedurende die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog na nog 40 uitgebrei en is dit nog deegliker gedoen op plekke waar dit reeds verkondig is. In 1992 was daar 627 537 getroue Getuies in hierdie ontsaglike gebied wat groot vreugde daaruit geput het om Jehovah se “magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk” (Ps. 145:11, 12). Hulle bediening was nie maklik nie. Op party plekke moes hulle ure lank per boot of vliegtuig reis om afgeleë eilande in hulle gebied te bereik. Maar gedurende 1992 het hulle meer as 200 000 000 uur aan die evangelisasiewerk gewy en 685 211 gereelde tuisbybelstudies gehou.
Die belofte dat ‘die kleine duisend sal word’, is ongetwyfeld vervul, en op reuseskaal! In elk van meer as 50 lande waar daar nie eers ’n ‘kleine’ was nie—waar daar in 1919 geen Getuies van Jehovah was nie, waar hulle nog glad nie gepreek het nie—is daar vandag meer as duisend lowers van Jehovah. In party van hierdie lande is daar nou tienduisende, ja, selfs meer as honderdduisend, Getuies van Jehovah wat ywerige verkondigers van God se Koninkryk is! Jehovah se Getuies het wêreldwyd “’n magtige nasie” geword—as ’n verenigde wêreldwye gemeente is hulle meer as die afsonderlike bevolking van ten minste 80 selfbesturende lande van die wêreld.
Hoeveel getuieniswerk is in “ander lande” gedoen?
In 1992 was daar in al hierdie wêrelddele nog steeds 24 “ander lande”—die lande waar die regerings streng beperkings aan die werk van Jehovah se Getuies opgelê het en waarvoor geen breedvoerige rapporte gepubliseer word nie. Baie getuieniswerk is in party van hierdie lande gedoen. Tog is daar betreklik min Getuies in sommige lande. Daar is steeds mense wat nog nie die Koninkryksboodskap gehoor het nie. Maar Jehovah se Getuies is vol vertroue dat die nodige getuienis gegee sal word. Waarom?
Want die Skrif toon dat Jesus Christus self, van sy troon af, die werk rig (Matt. 25:31-33). Onder sy leiding is ’n ‘engel wat in die middel van die lug vlieg’ die verantwoordelikheid toevertrou om ’n ewige evangelie te verkondig en ‘alle nasies en stamme en tale en volke’ aan te spoor om ‘God te vrees en Hom die heerlikheid te gee’ (Openb. 14:6, 7). Daar is geen mag in die hemel of op die aarde wat Jehovah kan keer om diegene wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het na hom te trek nie.—Hand. 13:48, NW; Joh. 6:44.
Daar is geen deel van die aarde wat so afgeleë is dat die Koninkryksboodskap dit nie kan bereik nie. Familielede besoek mekaar. Nuus word per telefoon en per pos oorgedra. Sakemanne, arbeiders, studente en toeriste kom met mense van ander lande in aanraking. Die lewensbelangrike nuus dat Jehovah sy hemelse Koning op die troon geplaas het met gesag oor die nasies word nou, net soos in die verlede, voortdurend op hierdie maniere verkondig. Die engele kan sorg dat dié wat honger en dors na waarheid en regverdigheid bereik word.
As dit die Here se wil is dat meer regstreekse verkondiging van die Koninkryksboodskap in sommige gebiede gedoen word waar die regerings dit tot nou toe verhinder het, kan God toestande meebring wat daardie regerings hulle beleid sal laat verander (Spr. 21:1). En waar geleenthede hulle dalk nog sal voordoen, sal Jehovah se Getuies hulle met graagte beywer om te verseker dat mense in daardie lande soveel hulp as moontlik ontvang om van Jehovah se liefdevolle voorneme te leer. Hulle is vasbeslote om te bly dien totdat Jehovah deur middel van Jesus Christus sê dat die werk voltooi is!
In 1992 het Jehovah se Getuies die predikingswerk in 229 lande gedoen. Teen daardie jaar het die goeie nuus van God se Koninkryk 235 lande op verskillende maniere bereik. Tien van hierdie lande is eers ná 1975 bereik.
Hoe groot is die getuienis wat gegee is? Wel, gedurende die eerste 30 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog het Jehovah se Getuies 4 635 265 939 uur daaraan gewy om Jehovah se naam en Koninkryk te verkondig en ander daarvan te leer. Maar aangesien daar meer Getuies was en meer van hulle die voltydse diens betree het, is 7 858 677 940 uur gedurende die daaropvolgende 15 jaar (net die helfte soveel jaar) daaraan gewy om in die openbaar en van huis tot huis te getuig sowel as tuisbybelstudies te hou. En die werk is met immer toenemende intensiteit gedoen, aangesien hulle nog 951 870 021 uur in hierdie bedrywigheid gedurende 1990/91 en meer as ’n miljard uur die volgende jaar gerapporteer het.
Die hoeveelheid Bybellektuur wat die Getuies versprei het om die Koninkryk te verkondig, asook die aantal tale waarin dit beskikbaar gestel is, het geen gelyke op enige ander gebied waarop die mens hom beywer nie. Die verslae is onvolledig; maar die rapporte wat nog beskikbaar is, toon dat 10 107 565 269 boeke, boekies, brosjures en tydskrifte sowel as tallose miljarde traktate in 294 tale tussen 1920 en 1992 in die hande van belangstellendes geplaas is.
Toe hierdie boek geskryf is, was die wêreldwye getuienis nog nie voltooi nie. Maar die werk wat reeds gedoen is en die omstandighede waaronder dit gedoen is, lewer onteenseglike bewys van die werking van God se gees.
[Lokteks op bladsy 502]
Groot byeenkomste en die Christelike gedrag van die byeenkomsgangers het aandag getrek
[Lokteks op bladsy 505]
“Byeenkomsgangers stel ’n navolgenswaardige voorbeeld wat ordelikheid, vreedsaamheid en sindelikheid betref”
[Lokteks op bladsy 507]
Geskiedkundige byeenkomste is op plekke gehou waar die werk van die Getuies dekades lank verbied was
[Lokteks op bladsy 508]
Duisende tonne Bybellektuur is na Oos-Europese lande gestuur
[Lokteks op bladsy 509]
Bekwame ouere manne het aangebied om na lande te verhuis waar besondere hulp nodig was
[Lokteks op bladsy 516]
Hulle wil met soveel mense as moontlik in elke huis praat
[Lokteks op bladsy 518]
Verstommende groei en die potensiaal vir verdere uitbreiding
[Grafieke/Prente op bladsy 513]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Toename van Koninkryks- verkondigers in die Ooste
Indië
10,000
5,000
1950 1960 1970 1980 1992
Republiek van Korea
60,000
30,000
1950 1960 1970 1980 1992
Japan
150,000
100,000
50,000
1950 1960 1970 1980 1992
[Prent op bladsy 503]
Morumbi-stadion, in Sao Paulo, Brasilië (hier onder), en Maracanã-stadion, in Rio de Janeiro, is in 1985 terselfdertyd gebruik om skares vir die byeenkoms van Jehovah se Getuies te akkommodeer
[Prente op bladsy 504]
Party van die doopkandidate in Chorzów, Pole, in 1989
[Prente op bladsy 506]
’n Paar geskiedkundige byeenkomste in 1991
Praag, Tsjeggo-Slowakye
Tallinn, Estland (regs)
Zagreb, Kroasië (regs)
Boedapest, Hongarye (bo)
Baia-Mare, Roemenië (regs)
Oesolje-Sibirskoje, Rusland (onder)
Alma-Ata, Kazakstan (bo)
Kiëf, Oekraïne (links)
[Prente op bladsy 511]
Internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in St. Petersburg, Rusland, in 1992
’n Hartlike internasionale gees
Uit Rusland
Uit die Oekraïne
Uit Moldawië
Baie jongmense was teenwoordig
M. G. Henschel (links) bespreek die program met Stepan Kozhemba (middel) met behulp van ’n tolk
Byeenkomsgangers uit ander lande het Russiese Bybels vir die Getuies in Rusland gebring
[Prent op bladsy 512]
Die Katolieke Kerk het gedurende die tagtigerjare oorlog teen die Getuies verklaar, soos blyk uit hierdie Italiaanse koerantuitknipsels
[Prent op bladsy 514]
Wanneer skepe die hawe by Rotterdam, Nederland, aandoen, is Getuies daar om met die manne oor God se Koninkryk te praat
[Prent op bladsy 515]
Selfs waar gebied dikwels gedek word, soos hier in Guadeloupe, probeer die Getuies voortdurend om die hart van hulle naaste met die goeie nuus te bereik