Hoofstuk negentien
Jehovah ontheilig die trots van Tirus
1, 2. (a) Watter soort stad was eertydse Tirus? (b) Wat het Jesaja oor Tirus voorspel?
DIE stad was “volmaak in sy prag” en oorvloedig in “allerhande soorte rykdom” (Esegiël 27:4, 12, An American Translation). Sy groot vloot het na afgeleë plekke gereis. Die stad het ‘baie heerlik geword in die hart van die oop see’ en het met sy “waardevolle dinge . . . die konings van die aarde ryk gemaak” (Esegiël 27:25, 33). In die sewende eeu v.G.J. was dit die posisie van Tirus—’n Fenisiese stad aan die oostekant van die Middellandse See.
2 Maar Tirus se vernietiging was naby. Sowat 100 jaar voor Esegiël hierdie stad beskryf het, het die profeet Jesaja voorspel dat hierdie Fenisiese vesting vernietig sou word en dat droefheid sou kom oor diegene wat daarop staatmaak. Jesaja het ook voorspel dat God na verloop van tyd sy aandag op die stad sou rig en dit weer nuwe voorspoed sou skenk. Hoe is die profeet se woorde vervul? En wat kan ons leer uit alles wat met Tirus gebeur het? As ons ’n duidelike begrip het van wat oor daardie stad gekom het en waarom dit gebeur het, sal dit ons geloof in Jehovah en sy beloftes versterk.
“Weeklaag, skepe van Tarsis!”
3, 4. (a) Waar was Tarsis, en wat was die verhouding tussen Tirus en Tarsis? (b) Waarom sal die seevaarders wat met Tarsis handel dryf rede hê om te “weeklaag”?
3 Ná die titel, “die uitspraak oor Tirus” sê Jesaja: “Weeklaag, o skepe van Tarsis! want dit is geplunder, sodat dit nie meer ’n hawe is nie, nie meer ’n plek is om in te gaan nie” (Jesaja 23:1a). Tarsis was vermoedelik ’n deel van Spanje, ver van Tirus aan die ooskus van die Middellandse See.a Maar die Fenisiërs was baie goeie seemanne en hulle skepe was groot en seewaardig. Party geskiedskrywers glo dat die Fenisiërs die eerste mense was wat die verband tussen die maan en die getye opgelet het en wat sterrekunde in navigasie gebruik het. Die groot afstand tussen Tirus en Tarsis was dus geen struikelblok vir hulle nie.
4 In Jesaja se tyd is afgeleë Tarsis ’n mark vir Tirus, moontlik die vernaamste bron van sy rykdom gedurende ’n sekere tyd in sy geskiedenis. Spanje het ryk myne wat baie silwer, yster, tin en ander metale lewer. (Vergelyk Jeremia 10:9; Esegiël 27:12.) “Skepe van Tarsis”, waarskynlik skepe van Tirus wat met Tarsis handel dryf, sal goeie rede hê om te “weeklaag” en oor die vernietiging van hulle hawe van oorsprong te huil.
5. Waar sal seevaarders wat van Tarsis kom van die val van Tirus hoor?
5 Hoe sal seevaarders van die vernietiging van Tirus te hore kom? Jesaja antwoord: “Uit die land Kittim is dit aan hulle geopenbaar” (Jesaja 23:1b). “Die land Kittim” verwys heel moontlik na die eiland Siprus, omtrent 100 kilometer wes van die kus van Fenisië. Dit is die laaste plek waar die skepe wat van Tarsis af oos vaar, sal aandoen voordat hulle by Tirus aankom. Daarom sal die seevaarders hoor dat hulle geliefde stad vernietig is wanneer hulle by Siprus aandoen. Wat ’n skok sal dit tog vir hulle wees! Hulle sal “weeklaag” van verslaenheid en droefheid.
6. Beskryf die verhouding tussen Tirus en Sidon.
6 Die mense aan die Fenisiese kus sal ook verslae wees. Die profeet sê: “Bly stil, o inwoners van die kusland. Die koopmanne van Sidon, dié wat oor die see vaar—hulle het jou gevul. En op baie waters was die saad van Sihor, die oes van die Nyl, sy inkomste; en dit het die wins van die nasies geword” (Jesaja 23:2, 3). Die “inwoners van die kusland”—Tirus se bure—sal stil wees weens absolute verstomming oor die rampspoedige val van Tirus. Wie is “die koopmanne van Sidon” wat hierdie inwoners “gevul” het, wat hulle met ander woorde ryk gemaak het? Tirus was oorspronklik ’n kolonie van die hawestad Sidon, net 35 kilometer noord daarvandaan. Op Sidoniese munte word Sidon as die moeder van Tirus beskryf. Hoewel Tirus nou baie ryker as Sidon is, is die stad nog steeds ’n “dogter van Sidon” en die mense wat daar woon, noem hulleself nog steeds Sidoniërs (Jesaja 23:12). Daarom verwys die uitdrukking “die koopmanne van Sidon” waarskynlik na die handelaars van Tirus.
7. Hoe het Sidoniese koopmanne rykdom versprei?
7 Die ryk Sidoniese koopmanne wat aktief handel dryf, deurkruis die Middellandse See. Hulle neem die saad, of graan, van Sihor na baie plekke. Sihor is die tak van die Nyl in die deltastreek van Egipte wat die verste oos lê. (Vergelyk Jeremia 2:18.) “Die oes van die Nyl” sluit ook ander produkte uit Egipte in. Die koop en verkoop van hierdie produkte is vir hierdie seevarende koopmanne sowel as vir die lande met wie hulle handel dryf uiters winsgewend. Die Sidoniese handelaars het baie inkomste vir Tirus ingebring. Hulle sal beslis weeklaag wanneer die stad vernietig word!
8. Watter uitwerking sal die vernietiging van Tirus op Sidon hê?
8 Daarna spreek Jesaja Sidon aan en sê: “Staan beskaamd, o Sidon; want die see, o vesting van die see, het gesê: ‘Ek het nie geboortepyne gehad nie, en ek het nie geboorte gegee nie, en ook het ek nie jong manne grootgemaak, maagde opgevoed nie’” (Jesaja 23:4). Ná die vernietiging van Tirus sal die kus waar die stad vroeër gestaan het kaal en verlate lyk. Dit sal lyk asof die see van benoudheid uitroep, soos ’n moeder wat haar kinders verloor het en so ontsteld is dat sy nou ontken dat sy ooit kinders gehad het. Sidon sal skaam wees oor wat met sy dogter gebeur.
9. Die droefheid wat sal heers ná die val van Tirus sal vergelyk kan word met die verslaenheid wat op watter ander gebeurtenisse gevolg het?
9 Ja, die nuus van die vernietiging van Tirus sal groot droefheid veroorsaak. Jesaja sê: “Net soos by die berig oor Egipte, sal mense eweneens ineenkrimp van pyn by die berig oor Tirus” (Jesaja 23:5). Die pyn van dié wat treur, sal vergelyk kan word met die pyn wat deur die berig oor Egipte veroorsaak is. Watter berig bedoel die profeet? Moontlik die vervulling van sy vroeëre “uitspraak teen Egipte” (Jesaja 19:1-25).b Of moontlik bedoel die profeet die berig van die vernietiging van Farao se leër in Moses se dag, wat ook groot verslaenheid veroorsaak het (Eksodus 15:4, 5, 14-16; Josua 2:9-11). In elk geval, diegene wat van Tirus se vernietiging hoor, sal ineenkrimp van pyn. Hulle word genooi om na verafgeleë Tarsis te vlug en word beveel om luidkeels uiting te gee aan hulle droefheid: “Vaar oor na Tarsis; weeklaag, o inwoners van die kusland.”—Jesaja 23:6.
Uitgelate “sedert sy vroeë tye”
10-12. Beskryf die rykdom, geskiedenis en invloed van Tirus.
10 Tirus is ’n ou stad, soos Jesaja ons herinner wanneer hy vra: “Is dit julle stad wat uitgelate was sedert die dae van lank gelede, sedert sy vroeë tye?” (Jesaja 23:7a). Tirus se welvarende geskiedenis strek ten minste tot in Josua se tyd terug (Josua 19:29). Deur die jare heen het Tirus roem verwerf as ’n vervaardiger van metaalvoorwerpe, glasware en purperkleurstof. Klere van purper uit Tirus is van die duurste wat daar is, en die kosbare tekstiele uit Tirus is gesog onder die adelstand. (Vergelyk Esegiël 27:7, 24.) Tirus is ook ’n handelsentrum vir karavane wat oor land kom sowel as ’n groot invoer-uitvoer-depot.
11 Daarbenewens is die stad militêr gesproke sterk. L. Sprague de Camp skryf: “Hoewel die Fenisiërs nie besonder oorlogsugtig was nie—hulle was handelaars, nie soldate nie—het hulle hulle stede met fanatiese moed en vasberadenheid verdedig. Hierdie eienskappe, tesame met hulle seemag, het die Tiriërs in staat gestel om staande te bly teen die Assiriese leër, wat die sterkste van sy tyd was.”
12 Ja, Tirus laat sy merk op die Mediterreense wêreld. “Sy voete het hom ver weggebring om as ’n vreemdeling te woon” (Jesaja 23:7b). Fenisiërs reis na afgeleë plekke en stig handelsposte en aanloophawens, wat soms kolonies word. Kartago, aan die noordkus van Afrika, is byvoorbeeld ’n kolonie van Tirus. Mettertyd sal dit magtiger as Tirus word en met Rome meeding om invloed in die Mediterreense wêreld.
Sy trots sal ontheilig word
13. Waarom ontstaan die vraag: Wie durf ’n oordeel oor Tirus uitspreek?
13 Met die oog op Tirus se geskiedenis en rykdom is die volgende vraag gepas: “Wie het hierdie besluit teen Tirus geneem, die uitdeler van krone, wie se koopmanne vorste was, wie se handelaars die geëerdes van die aarde was?” (Jesaja 23:8). Wie durf teen die stad praat wat magtige persone tot posisies van hoë gesag in sy kolonies en ander plekke aangestel het—en sodoende “die uitdeler van krone” geword het? Wie durf teen die groot stad praat wie se koopmanne vorste is en wie se handelaars geëerde persone is? Maurice Chehab, voormalige direkteur van oudhede van die Nasionale Museum van Beiroet, Libanon, het gesê: “Van die negende tot die sesde eeu v.C. het Tirus die vername posisie beklee wat Londen aan die begin van die twintigste eeu gehad het.” Wie durf dan teen hierdie stad praat?
14. Wie spreek ’n oordeel oor Tirus uit, en waarom?
14 Die geïnspireerde antwoord sal groot ontsteltenis in Tirus veroorsaak. Jesaja sê: “Jehovah van die leërs het hierdie besluit geneem, om die trots van alle skoonheid te ontheilig, om al die geëerdes van die aarde met veragting te behandel” (Jesaja 23:9). Waarom spreek Jehovah oordeel uit teen hierdie ryk, ou stad? Is dit omdat sy inwoners die valse god Baäl aanbid? Is dit as gevolg van Tirus se verhouding met Isebel—die dogter van koning Etbaäl van Sidon, wat Tirus ingesluit het—wat met koning Agab van Israel getrou het en Jehovah se profete uitgemoor het? (1 Konings 16:29, 31; 18:4, 13, 19). Die antwoord op albei van hierdie vrae is nee. Tirus word veroordeel weens sy aanmatigende trots—hy het homself ten koste van ander volke, onder andere die Israeliete, verryk. In die negende eeu v.G.J. het Jehovah deur die profeet Joël vir Tirus en ander stede gesê: “Julle het die kinders van Juda en die kinders van Jerusalem aan die kinders van die Grieke verkoop, om hulle ver van hulle gebied te verwyder” (Joël 3:6). Kan God dit oor die hoof sien dat Tirus sy verbondsvolk soos blote handelsitems behandel het?
15. Hoe sal Tirus reageer wanneer Jerusalem voor Nebukadnesar val?
15 Al gaan honderd jaar verby, Tirus sal nie verander nie. Wanneer die leër van koning Nebukadnesar van Babilon Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig, juig Tirus: “Ha! Dit [Jerusalem] is gebreek, die deur van die volke! Die neiging sal beslis na my kant toe wees. Ék sal gevul word—dít is verwoes” (Esegiël 26:2). Tirus sal juig en verwag om uit die vernietiging van Jerusalem voordeel te trek. Noudat die Judese hoofstad nie meer ’n mededinger is nie, verwag Tirus meer handelsgeleenthede. Jehovah sal diegene wat hulleself “geëerdes” noem, wat trots saam met die vyande van sy volk staan, met veragting behandel.
16, 17. Wat sal met die inwoners van Tirus gebeur wanneer die stad val? (Sien voetnoot.)
16 Jesaja gaan voort met Jehovah se veroordeling van Tirus: “Stroom oor jou land soos die Nylrivier, o dogter van Tarsis. Daar is geen skeepswerf meer nie. Sy hand het hy oor die see uitgesteek; hy het koninkryke in beroering gebring. Jehovah het teen Fenisië bevel gegee, dat sy vestings verwoes moet word. En hy sê: ‘Jy sal nooit weer jubel nie, o onderdrukte, die maagdelike dogter van Sidon. Staan op, vaar oor na Kittim. Selfs daar sal dit nie vir jou rustig wees nie.’”—Jesaja 23:10-12.
17 Waarom word Tirus die “dogter van Tarsis” genoem? Moontlik omdat Tarsis ná die vernietiging van Tirus die sterkste van die twee stede sal wees.c Die inwoners van die vernietigde Tirus sal verstrooi word soos ’n rivier wat afkom, waarvan die oewers gebreek is en die water oor al die nabygeleë vlaktes spoel. Jesaja se boodskap aan die “dogter van Tarsis” beklemtoon die erns van wat met Tirus sal gebeur. Jehovah self strek sy hand uit en gee die bevel. Niemand kan die uiteinde daarvan verander nie.
18. Waarom word Tirus “die maagdelike dogter van Sidon” genoem, en hoe sal die toestand van hierdie stad verander?
18 Jesaja noem Tirus ook “die maagdelike dogter van Sidon”, wat toon dat Tirus nog nooit voorheen deur buitelandse veroweraars ingeneem, verwoes of onderwerp is nie. (Vergelyk 2 Konings 19:21; Jesaja 47:1; Jeremia 46:11.) Maar nou gaan Tirus vernietig word, en soos vlugtelinge sal party van die inwoners van hierdie stad na die Fenisiese kolonie Kittim oorvaar. Maar aangesien hulle hulle ekonomiese mag verloor het, sal hulle geen rus daar kry nie.
Die Galdeërs sal Tirus plunder
19, 20. Deur wie sal Tirus volgens die profesie oorwin word, en hoe word daardie profesie vervul?
19 Watter politieke moondheid sal Jehovah se oordeel aan Tirus voltrek? Jesaja sê: “Kyk! Die land van die Galdeërs. Dit is die volk—dit was nie Assirië nie—hulle het dit vir die woestynbewoners gegrondves. Hulle het hulle beleëringstorings opgerig; hulle het sy woontorings blootgelê; dit is ’n verbrokkelende puinhoop gemaak. Weeklaag, o skepe van Tarsis, want julle vesting is geplunder” (Jesaja 23:13, 14). Die Galdeërs sal Tirus verower—nie die Assiriërs nie. Hulle sal hulle beleëringstorings oprig, die woonplekke van Tirus met die grond gelykmaak en daardie vesting vir die skepe van Tarsis in ’n verbrokkelende puinhoop verander.
20 Net soos voorspel is, kom Tirus kort ná die val van Jerusalem teen Babilon in opstand, en Nebukadnesar beleër die stad. Hulle verset hulle, want hulle dink hulle is onverowerbaar. Gedurende die beleg word die koppe van die Babiloniese soldate “kaal gemaak” weens die geskaaf van hulle helms, en hulle skouers word “deurgeskaaf” omdat hulle materiaal aandra wat gebruik word om die beleëringswerke te bou (Esegiël 29:18). Die beleg kos Nebukadnesar baie. Die deel van Tirus wat op die vasteland lê, word vernietig, maar hy het nog steeds nie die stad se buit gekry nie. Die grootste deel van Tirus se skatte is na ’n eilandjie amper ’n kilometer van die strand af geneem. Die Galdese koning het nie ’n vloot nie en kan dus nie die eiland inneem nie. Ná 13 jaar gee Tirus oor, maar die stad sal voortbestaan en die vervulling van verdere profesieë sien.
“Sy moet terugkeer na haar hoereloon”
21. Hoe word Tirus “vergeet”, en hoe lank?
21 Jesaja voorspel verder: “In dié dag sal Tirus vergeet word, sewentig jaar lank, soos die dae van een koning” (Jesaja 23:15a). Ná die Babiloniërs die deel van die stad wat op die vasteland lê, vernietig het, sal die eilandstad Tirus “vergeet word”. Net soos die profesie sê, sal die eilandstad Tirus vir die duur van “een koning”—die Babiloniese Ryk—nie ’n belangrike ekonomiese mag wees nie. Deur die woorde van Jeremia sluit Jehovah Tirus in onder die nasies wat uitgesonder gaan word om die wyn van Sy woede te drink. Hy sê: “Hierdie nasies sal die koning van Babilon sewentig jaar lank moet dien” (Jeremia 25:8-17, 22, 27). Die eilandstad Tirus is nie ’n volle 70 jaar aan Babilon onderworpe nie, aangesien die Babiloniese Ryk in 539 v.G.J. tot ’n val kom. Die 70 jaar verteenwoordig klaarblyklik die tydperk toe Babilonië op sy magtigste was—wanneer die Babiloniese koningslyn spog dat hy sy troon selfs bo “die sterre van God” verhef het (Jesaja 14:13). Verskillende nasies kom op verskillende tye onder sy oorheersing. Maar aan die einde van 70 jaar sal daardie oorheersing verbrokkel. Wat sal dan met Tirus gebeur?
22, 23. Wat sal met Tirus gebeur wanneer die Babiloniese oorheersing verby is?
22 Jesaja gaan voort: “Aan die einde van sewentig jaar sal dit met Tirus gaan soos in die lied van ’n prostituut: ‘Neem ’n harp, gaan rond in die stad, o vergete prostituut. Speel so goed as wat jy kan op die snaarinstrumente; maak jou liedere baie, sodat daar aan jou gedink kan word.’ En aan die einde van sewentig jaar sal Jehovah sy aandag op Tirus rig, en sy sal terugkeer na haar hoereloon en prostitusie pleeg met al die koninkryke van die aarde op die aardbodem.”—Jesaja 23:15b-17.
23 Ná die val van Babilon in 539 v.G.J. word Fenisië ’n provinsie van die Medo-Persiese Ryk. Die Persiese koning, Kores die Grote, is ’n verdraagsame heerser. Onder hierdie nuwe heerskappy sal Tirus sy bedrywighede van vroeër hervat en hard probeer om weer erkenning te kry as ’n internasionale handelsentrum—net soos ’n prostituut wat vergete geraak het en haar kliënte verloor het nuwe kliënte probeer lok deur in die stad rond te loop en op haar harp te speel en te sing. Sal Tirus dit regkry? Ja, Jehovah sal dit toelaat. Mettertyd sal die eilandstad so voorspoedig raak dat die profeet Sagaria teen die einde van die sesde eeu v.G.J. sal sê: “Tirus het vir hom ’n skans gebou en silwer soos stof opgehoop en goud soos die modder van die strate.”—Sagaria 9:3.
‘Haar wins sal iets heiligs word’
24, 25. (a) Hoe word Tirus se wins iets heiligs vir Jehovah? (b) Watter profesie inspireer Jehovah oor Tirus, al help hulle God se volk?
24 Hoe merkwaardig is die volgende profetiese woorde tog! “Haar wins en haar hoereloon sal iets heiligs vir Jehovah word. Dit sal nie weggelê of opgespaar word nie, want haar hoereloon sal wees vir dié wat voor Jehovah woon, om tot versadiging toe te eet en vir elegante klere” (Jesaja 23:18). Hoe word Tirus se materiële wins iets heiligs? Jehovah bewerk dinge so dat dit volgens sy wil gebruik word—dat sy volk tot versadiging toe kan eet en dat hulle klere kan hê. Dit gebeur ná die Israeliete uit ballingskap in Babilon na hulle land terugkeer. Die mense van Tirus help hulle deur sederhout te voorsien om die tempel te herbou. Hulle hervat ook handelsbetrekkinge met die stad Jerusalem.—Esra 3:7; Nehemia 13:16.
25 Maar ten spyte hiervan inspireer Jehovah ’n verdere uitspraak teen Tirus. Sagaria maak die volgende voorspelling oor die eilandstad wat nou weer welvarend is: “Kyk! Jehovah sal hom uit sy besitting verdryf, en in die see sal Hy beslis sy krygsmag neerwerp; en met vuur sal hy verteer word” (Sagaria 9:4). Dit word in Julie 332 v.G.J. vervul wanneer Aleksander die Grote daardie trotse stad vernietig.
Vermy materialisme en trots
26. Waarom het God Tirus veroordeel?
26 Jehovah het Tirus veroordeel weens sy trots, ’n eienskap wat hy verafsku. “Verwaande oë” word eerste genoem onder die sewe dinge wat Jehovah haat (Spreuke 6:16-19). Paulus het trots met Satan die Duiwel geassosieer, en Esegiël se beskrywing van die trotse Tirus het elemente wat Satan self beskryf (Esegiël 28:13-15; 1 Timoteus 3:6). Waarom was Tirus trots? Esegiël spreek Tirus aan en sê: “Jou hart het hoogmoedig geword weens jou rykdom” (Esegiël 28:5). Om handel te dryf en geld op te gaar, was vir die stad van die allergrootste belang. Tirus se sukses in hierdie verband het hom ontsettend verwaand gemaak. Deur middel van Esegiël het Jehovah vir “die leier van Tirus” gesê: “Jou hart [het] hoogmoedig geword . . . en jy bly sê: ‘Ek is ’n god. Op die sitplek van god het ek gaan sit.’”—Esegiël 28:2.
27, 28. In watter strik kan mense trap, en hoe het Jesus dit toegelig?
27 Nasies kan voor trots en ’n verkeerde beskouing van rykdom swig—en individue kan ook. Jesus het ’n gelykenis vertel wat getoon het hoe subtiel hierdie strik kan wees. Hy het van ’n ryk man vertel wie se landerye ’n baie goeie opbrengs gelewer het. Die man, wat hoog in sy skik was, het planne gemaak om groter skure te bou vir sy oes en het met groot vreugde uitgesien na ’n lang, gerieflike lewe. Maar dit is nie wat gebeur het nie. God het vir hom gesê: “Onredelike mens, vannag eis hulle jou siel van jou op. Wie gaan dan die dinge kry wat jy opgegaar het?” Ja, die man het gesterf, en sy rykdom het hom niks gebaat nie.—Lukas 12:16-20.
28 Jesus het die gelykenis afgesluit met die woorde: “So gaan dit met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie” (Lukas 12:21). Daar was niks daarmee verkeerd om ryk te wees nie, en dit was ook nie ’n sonde om ’n goeie oes te hê nie. Wat verkeerd was, was dat hierdie man dit as die belangrikste dinge in sy lewe beskou het. Hy het sy hele vertroue in sy rykdom gestel. Hy het nie Jehovah God in ag geneem wanneer hy aan die toekoms gedink het nie.
29, 30. Hoe het Jakobus teen oormatige selfvertroue gewaarsku?
29 Jakobus het dieselfde punt baie duidelik gestel. Hy het gesê: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié stad reis en ’n jaar daar deurbring, en ons sal sake doen en wins maak’, terwyl julle nie weet wat julle lewe môre sal wees nie. Want julle is ’n mis wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn. Julle behoort eerder te sê: ‘As Jehovah wil, sal ons lewe en ook dit of dat doen’” (Jakobus 4:13-15). Daarna het Jakobus getoon wat die verhouding tussen rykdom en trots is toe hy verder gesê het: “[Julle] beroem julle . . . op julle aanmatigende grootpratery. Al sulke geroem is goddeloos.”—Jakobus 4:16.
30 Dit is weer eens nie ’n sonde om sake te doen nie. Die sonde is die trots, die verwaandheid, die oormatige selfvertroue wat kan ontwikkel wanneer ’n mens ryk word. ’n Ou spreuk sê tereg: “Gee my nie armoede of rykdom nie.” Armoede kan die lewe baie moeilik maak. Maar rykdom kan ’n mens God laat “verloën en sê: ‘Wie is Jehovah?’”—Spreuke 30:8, 9.
31. Watter vrae kan ’n Christen hom gerus afvra?
31 Ons lewe in ’n wêreld waar baie voor gierigheid en selfsug geswig het. As gevolg van die heersende kommersiële klimaat in die wêreld word groot nadruk op rykdom geplaas. Daarom sal dit goed wees as ’n Christen homself ondersoek om seker te maak dat hy nie in dieselfde strik trap as die handelstad Tirus nie. Wy hy soveel van sy tyd en energie aan materiële strewes dat hy in werklikheid ’n slaaf van rykdom geword het? (Matteus 6:24). Is hy jaloers op dié wat meer of beter dinge as hy besit? (Galasiërs 5:26). Voel hy dalk, as hy ryk is, dat hy meer aandag of voorregte as ander verdien? (Vergelyk Jakobus 2:1-9.) As hy nie ryk is nie, is hy ‘vasbeslote om ryk te wees’ ongeag wat dit verg? (1 Timoteus 6:9). Is hy so besig met sakebedrywighede dat hy net ’n baie klein deeltjie van sy lewe vir diens aan God oorlaat? (2 Timoteus 2:4). Raak hy so betrokke by die najaging van rykdom dat hy Christelike beginsels in sy sakebedrywighede ignoreer?—1 Timoteus 6:10.
32. Watter waarskuwing het Johannes gegee, en hoe kan ons daarop ag slaan?
32 Ongeag wat ons ekonomiese situasie is, die Koninkryk moet altyd die eerste plek in ons lewe hê. Dit is van die allergrootste belang dat ons nooit hierdie woorde van die apostel Johannes uit die oog verloor nie: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15). Ons het weliswaar van die wêreld se ekonomiese voorsienings nodig om te kan lewe (2 Tessalonisense 3:10). En daarom ‘maak ons van die wêreld gebruik’—maar ons maak nie “ten volle” daarvan gebruik nie (1 Korintiërs 7:31). As ons ’n buitensporige liefde vir materiële dinge—die dinge in die wêreld—het, het ons Jehovah nie meer lief nie. ’n Mens kan nie “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” najaag en terselfdertyd die wil van God doen nie.d En dit is om God se wil te doen wat tot die ewige lewe lei.—1 Johannes 2:16, 17.
33. Hoe kan Christene die strik vermy waarin Tirus getrap het?
33 Tirus het verstrik geraak in die najaging van materiële dinge bo alle ander dinge. Die stad was materieel suksesvol, het baie trots geword en is as gevolg daarvan gestraf. Sy voorbeeld is ’n waarskuwing vir nasies en individue wat vandag lewe. Hoeveel beter is dit tog om ag te slaan op die raad van die apostel Paulus! Hy spoor Christene aan “om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat ons alles ryklik vir ons genot verskaf”.—1 Timoteus 6:17.
[Voetnote]
a Party geleerdes sê dat Tarsis moontlik Sardinië, ’n eiland in die westelike Middellandse See, kan wees. Sardinië was ook ver van Tirus.
b Sien Hoofstuk 15, bladsye 200-207, van hierdie boek.
c Die “dogter van Tarsis” kan andersins na die inwoners van Tarsis verwys. Een naslaanwerk sê: “Die inwoners van Tarsis kan nou vryelik reis en handel dryf soos wanneer die Nyl in alle rigtings vloei.” Maar die klem val nog steeds op die drastiese gevolge van die val van Tirus.
d “Spoggerige vertoon” is ’n vertaling van die Griekse woord a·la·zo·niʹa, wat beskryf word as “’n onheilige en leë veronderstelling wat op die stabiliteit van aardse dinge staatmaak”.—The New Thayer’s Greek-English Lexicon.
[Kaart op bladsy 256]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
EUROPA
SPANJE (Moontlike ligging van TARSIS)
MIDDELLANDSE SEE
SARDINIË
SIPRUS
ASIË
SIDON
TIRUS
AFRIKA
EGIPTE
[Prent op bladsy 250]
Tirus sou voor Babilon swig, nie voor Assirië nie
[Prent op bladsy 256]
Muntstuk met ’n afbeelding van Melkart, die hoofgod van Tirus
[Prent op bladsy 256]
Model van ’n Fenisiese skip