STUDIE 38
Inleiding wek belangstelling
DIE inleiding is ’n kritieke deel van enige toespraak. As jy werklik die belangstelling van jou gehoor wek, sal hulle meer geneig wees om aandagtig te luister na wat volg. As jou inleiding in die veldbediening nie belangstelling wek nie, sal jy dalk nie jou aanbieding kan voortsit nie. Wanneer jy ’n toespraak by die Koninkryksaal hou, sal die gehoor nie uitloop nie, maar party sal oor ander dinge begin dink as jy nie hulle aandag geboei het nie.
Wanneer jy jou inleiding voorberei, moet jy die volgende doelwitte in gedagte hê: (1) om jou gehoor se aandag te kry, (2) om jou onderwerp duidelik te identifiseer en (3) om te toon waarom die onderwerp vir jou gehoor belangrik is. In sommige gevalle kan hierdie drie doelwitte amper gelyktydig bereik word. Maar soms kan daar afsonderlik aan hulle aandag gegee word, en die volgorde kan anders wees.
Hoe om jou gehoor se aandag te kry. Die feit dat mense bymekaargekom het om na ’n toespraak te luister, beteken nie dat hulle gereed is om hulle onverdeelde aandag aan die onderwerp te gee nie. Waarom nie? Hulle lewe is gevul met baie dinge wat hulle aandag in beslag neem. Hulle is dalk besorg oor ’n probleem by die huis of ’n ander bekommernis. Die uitdaging waarvoor jy as spreker te staan kom, is om die aandag van die gehoor te kry en te boei. Jy kan dit op meer as een manier doen.
Een van die beroemdste toesprake wat nog gehou is, is die Bergpredikasie. Hoe het dit begin? Volgens Lukas se verslag het Jesus gesê: “Gelukkig is julle, armes, . . . gelukkig is julle wat nou honger is, . . . gelukkig is julle wat nou huil, . . . gelukkig is julle wanneer die mense julle haat” (Luk. 6:20-22). Waarom het dit belangstelling gewek? Jesus het in ’n paar woorde sommige van die ernstige probleme genoem waarmee sy toehoorders te kampe gehad het. Daarna het hy, sonder om die probleme breedvoerig te bespreek, getoon dat mense wat sulke probleme het, nogtans gelukkig kan wees, en hy het dit op so ’n manier gedoen dat dié wat na hom geluister het, meer wou hoor.
Vrae kan goed gebruik word om belangstelling te wek, maar dit moet die regte soort vrae wees. As jou vrae toon dat jy bloot oor dinge gaan praat wat jou gehoor al voorheen gehoor het, sal hulle moontlik gou belangstelling verloor. Moenie vrae vra wat jou gehoor in die verleentheid bring of in ’n slegte lig stel nie. Probeer jou vrae eerder op ’n manier stel wat hulle sal laat dink. Pouseer kortliks ná elke vraag sodat dié wat na jou luister, tyd het om aan ’n antwoord te dink. Wanneer hulle voel dat hulle as ’t ware ’n gesprek in hulle gedagtes met jou voer, dan het jy hulle aandag geboei.
Nog ’n goeie manier om die aandag te kry, is deur ’n ondervinding te vertel. Maar jy sal nie jou doel bereik as jy ’n ondervinding vertel wat iemand in die gehoor in die verleentheid bring nie. As die ondervinding wat jy vertel, onthou word, maar die les vergeet word, het jy jou doel gemis. Wanneer ’n ondervinding in die inleiding gebruik word, moet dit die grondslag vir ’n belangrike aspek van die hoofdeel van jou toespraak lê. Hoewel jy dalk besonderhede moet verstrek om die vertelling te laat lewe, moet jy versigtig wees om ondervindinge nie onnodig lank te maak nie.
Party sprekers begin met ’n onlangse nuusberig, ’n aanhaling uit ’n plaaslike koerant of ’n verklaring deur ’n erkende gesaghebbende. Ook dit kan doeltreffend wees as dit werklik by die onderwerp pas en geskik is vir die gehoor.
As jou toespraak deel uitmaak van ’n simposium of ’n deel op ’n Diensvergadering is, is dit gewoonlik goed om jou inleiding kort en saaklik te maak. As jy ’n openbare toespraak hou, moet jy getrou by die aangegewe tyd vir die inleiding bly. Dit is die hoofdeel van die toespraak wat die inligting sal oordra wat van die grootste waarde vir jou gehoor is.
Jy sal soms met ’n gehoor praat wat skepties of selfs vyandiggesind is. Hoe kan jy hulle aandag kry? Stefanus, ’n vroeë Christen wat beskryf is as ’n man “vol gees en wysheid”, is met geweld voor die Joodse Sanhedrin gebring. Daar het hy die Christelike godsdiens meesterlik verdedig. Hoe het hy begin? Op ’n eerbiedige wyse en deur na iets te verwys wat as ’n gemeenskaplike grondslag gedien het. “Manne, broers en vaders, hoor. Die God van heerlikheid het aan ons voorvader Abraham verskyn” (Hand. 6:3; 7:2). Op die Areopagus in Atene het die apostel Paulus sy inleiding by ’n heeltemal ander soort gehoor aangepas en gesê: “Manne van Atene, ek sien dat julle in alles blykbaar meer tot die vrees vir die gode geneig is as ander” (Hand. 17:22). Omdat die inleidings so gepas was, was albei gehore bereid om verder te luister.
Wanneer jy velddiens doen, moet jy ook mense se aandag kry. As jou besoek nie vooraf gereël is nie, sal die huisbewoner dalk met ander dinge besig wees. In sommige wêrelddele word daar van ongenooide gaste verwag om saaklik te wees. Op ander plekke is dit gebruiklik om sekere formaliteite na te kom voordat jy die rede vir jou besoek noem.—Luk. 10:5.
In albei gevalle kan opregte vriendelikheid help om ’n atmosfeer te skep wat dit makliker maak om ’n gesprek te voer. Dit is dikwels goed om te begin met iets wat direk verband hou met ’n saak wat vir die persoon van belang is. Hoe kan jy vasstel wat om te sê? Wel, was die persoon besig met iets toe jy by hom gekom het? Miskien was die persoon besig met sy boerdery, het hy in sy tuin gewerk, ’n motor reggemaak, gekook, wasgoed gewas of kinders versorg. Was hy besig om na iets te kyk—’n koerant of iets wat op straat gebeur? Sien jy iets wat toon dat hy in visvang, sport, musiek, reis, rekenaars of iets anders belangstel? Mense is dikwels besorg oor wat hulle onlangs oor die radio gehoor of op die televisie gesien het. ’n Vraag of ’n kort kommentaar oor so iets kan tot ’n vriendelike gesprek lei.
Die geleentheid toe Jesus met ’n Samaritaanse vrou by ’n put naby Sigar gepraat het, is ’n uitstekende voorbeeld van hoe ’n mens ’n gesprek kan begin met die doel om ’n getuienis te gee.—Joh. 4:5-26.
Jy moet jou inleiding goed voorberei, veral as julle gemeente sy gebied gereeld dek. Anders sal jy dalk nie ’n getuienis kan gee nie.
Identifiseer jou onderwerp. In die Christengemeente sal ’n voorsitter of ’n vorige spreker gewoonlik die titel van jou toespraak aankondig en jou aan die woord stel. Maar dit sal dalk goed wees om jou gehoor tydens jou inleiding aan jou onderwerp te herinner. Dit kan ’n woordelikse herhaling van jou tema wees, maar nie noodwendig nie. Hoe dit ook al sy, die tema behoort stelselmatig in die loop van die toespraak te ontvou. Jy moet op die een of ander manier in jou inleiding die aandag op jou onderwerp vestig.
Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het om te getuig, het hy die boodskap wat hulle moes bekend maak, duidelik geïdentifiseer. “Terwyl julle gaan, preek en sê: ‘Die koninkryk van die hemele het naby gekom’” (Matt. 10:7). Jesus het van ons dag gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal . . . verkondig word” (Matt. 24:14). Ons word aangespoor om ‘die woord te verkondig’, dit wil sê die Bybel te gebruik wanneer ons getuig (2 Tim. 4:2). Maar voordat ons die Bybel oopmaak of oor die Koninkryk begin praat, is dit dikwels nodig om iets te noem wat van aktuele belang is. Jy kan iets sê oor misdaad, werkloosheid, ongeregtigheid, oorlog, hoe om jongmense te help, siekte of die dood. Moet egter nie breedvoerig oor negatiewe sake uitwei nie; jou boodskap is positief. Probeer die gesprek na God se Woord en die Koninkrykshoop stuur.
Toon waarom die onderwerp vir jou gehoor van belang is. As jy in die gemeente gaan praat, kan jy redelik seker wees dat jou gehoor in sekere mate in jou aanbieding sal belangstel. Maar sal hulle luister soos mense wat iets leer wat hulle direk raak? Sal hulle aandag skenk omdat hulle besef dat wat hulle hoor, met hulle situasie in die lewe verband hou en omdat jy ’n begeerte in hulle wek om iets daaraan te doen? Dit sal slegs gebeur as jy werklik jou gehoor—hulle omstandighede, hulle bekommernisse, hulle gesindhede—in ag geneem het toe jy jou toespraak voorberei het. As jy dit gedoen het, sluit dan iets in jou inleiding in wat dit te kenne gee.
Hetsy jy van die verhoog af praat of vir ’n individu getuig, een van die beste maniere om belangstelling in ’n onderwerp te wek, is om jou gehoor te betrek. Toon hoe die onderwerp wat jy bespreek, verband hou met hulle probleme, hulle behoeftes of die vrae wat hulle het. As jy dit duidelik stel dat jy nie net oor algemeenhede gaan praat nie, maar spesifieke aspekte van die saak gaan bespreek, sal hulle selfs aandagtiger luister. Jy moet goed voorberei om dit te kan doen.
Die manier waarop jy dit aanbied. Wat jy in jou inleiding sê, is baie belangrik, maar hoe jy dit sê, kan ook belangstelling wek. Daarom moet jy nie net voorberei wat jy gaan sê nie, maar ook hoe jy dit gaan sê.
Omdat jou woordkeuse belangrik is om jou doel te bereik, sal jy dit dalk nuttig vind om die eerste twee of drie sinne baie deeglik voor te berei. Kort, eenvoudige sinne is gewoonlik die beste. Vir ’n toespraak in die gemeente sal jy dit dalk in jou aantekeninge wil uitskryf, of jy verkies dalk om dit te memoriseer sodat jou openingswoorde die nodige trefkrag sal hê. As jy ’n doeltreffende inleiding aanbied sonder om daardeur te jaag, kan dit jou help om kalm genoeg te word om die res van jou toespraak te hou.
Wanneer om dit voor te berei. Daar is verskillende menings hieroor. Party ervare sprekers glo dat die voorbereiding van ’n toespraak by die inleiding moet begin. Ander wat die openbare spreekkuns bestudeer het, meen dat die inleiding voorberei moet word nadat die hoofdeel van die toespraak voltooi is.
Jy moet beslis weet wat jou onderwerp is en watter hoofpunte jy wil ontwikkel voordat jy ’n gepaste inleiding volledig kan uitwerk. Maar sê nou jy berei jou toespraak van ’n gepubliseerde skets af voor? As jy aan ’n inleiding gedink het nadat jy die skets gelees het, is dit beslis nie verkeerd om dit neer te skryf nie. Onthou ook dat jy jou gehoor sowel as die materiaal in die skets in ag moet neem om ’n doeltreffende inleiding te hê.