HOOFSTUK 6
Die Groot Onderwyser het ander mense gedien
HOU jy daarvan wanneer iemand iets goeds vir jou doen?— Wel, ander mense hou ook daarvan as iemand iets goeds vir hulle doen. Ons almal hou daarvan. Die Groot Onderwyser het dit geweet, en hy het altyd dinge vir mense gedoen. Hy het gesê: ‘Ek het gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien.’—Matteus 20:28.
Wat moet ons dan doen as ons soos die Groot Onderwyser wil wees?— Ons moet ander dien. Ons moet goeie dinge vir hulle doen. Daar is ongelukkig baie mense wat dit nie doen nie. Om die waarheid te sê, die meeste mense wil altyd hê dat ander mense húlle moet dien. Selfs Jesus se volgelinge wou dit eenkeer hê. Elkeen wou die grootste, of die belangrikste, wees.
Eendag het Jesus saam met sy dissipels, sy volgelinge, gereis. Nadat hulle in die stad Kapernaum, naby die See van Galilea, gekom het, het hulle almal in ’n huis ingegaan. Daar het Jesus vir hulle gevra: ‘Waaroor het julle op die pad gestry?’ Hulle het stilgebly, want hulle het op die pad onder mekaar gestry oor wie die grootste is.—Markus 9:33, 34.
Jesus het geweet dat dit nie reg is vir enigeen van sy dissipels om te dink dat hy die grootste is nie. Daarom het hy, soos ons in die eerste hoofstuk van hierdie boek geleer het, ’n klein kindjie tussen hulle laat staan en vir hulle gesê dat hulle nederig moet wees soos daardie kindjie. Maar hulle het nog steeds nie die les geleer nie. Dit is hoekom Jesus kort voor sy dood vir hulle ’n les geleer het wat hulle nooit sou vergeet nie. Wat het hy gedoen?—
Wel, terwyl hulle almal saam geëet het, het Jesus opgestaan, ’n handdoek opgetel en dit om sy heupe vasgebind. Toe het hy ’n skottel gevat en water daarin gegooi. Sy volgelinge het seker gewonder wat hy gaan doen. Terwyl hulle gekyk het, het Jesus van die een na ander gegaan, gekniel en hulle voete gewas. Daarna het hy hulle voete met die handdoek afgedroog. Dink net daaraan! Sê nou jy was daar. Hoe sou jy gevoel het?—
Sy volgelinge het nie gevoel dat dit reg is vir die Groot Onderwyser om hulle so te dien nie. Hulle het sleg gevoel daaroor. Petrus het Jesus selfs probeer keer om hierdie nederige werk vir hom te doen. Maar Jesus het gesê dat dit belangrik is dat hy dit doen.
Vandag was ons nie gewoonlik mekaar se voete nie. Maar toe Jesus op die aarde was, het mense dit gedoen. Weet jy hoekom?— Wel, in die land waar Jesus en sy volgelinge gewoon het, het mense oop sandale gedra. Daarom het hulle voete vol stof geword wanneer hulle op die grondpaaie geloop het. Dit was ’n goeie daad om die stof van iemand se voete af te was wat vir jou in jou huis kom kuier het.
Maar hierdie keer het nie een van Jesus se dissipels aangebied om die ander se voete te was nie. Daarom het Jesus dit self gedoen. Deur dit te doen, het Jesus vir sy volgelinge ’n belangrike les geleer. Dit was belangrik dat hulle hierdie les moes leer. En dit is ’n les wat ons vandag ook moet leer.
Weet jy wat die les is?— Nadat Jesus weer by die tafel gaan sit het, het hy verduidelik: “Weet julle wat ek aan julle gedoen het? Julle spreek my aan as ‘Leermeester’ en ‘Here’, en julle sê dit tereg, want ek is dit. As ek dan, hoewel Here en Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.”—Johannes 13:2-14.
Hier het die Groot Onderwyser gewys hy wou hê dat sy volgelinge mekaar moet dien. Hy wou nie hê dat hulle net aan hulleself moet dink nie. Hy wou nie hê dat hulle moet dink hulle is so belangrik dat ander mense húlle altyd moet dien nie. Hy wou hê dat hulle gewillig moet wees om ander te dien.
Was dit nie ’n goeie les nie?— Sal jy soos die Groot Onderwyser wees en ander mense dien?— Ons kan almal dinge vir ander mense doen. Dit sal hulle bly maak. Maar die beste van alles is dat dit Jesus en sy Vader sal bly maak.
Dit is nie moeilik om ander mense te dien nie. As jy daarvoor soek, sal jy baie dinge sien wat jy vir ander mense kan doen. Dink nou ’n bietjie: Is daar enigiets wat jy kan doen om jou ma te help? Jy weet dat sy baie dinge vir jou en die res van die gesin doen. Kan jy haar help?— Vra haar gerus.
Miskien kan jy die tafel dek voor julle eet. Of miskien kan jy die tafel afdek nadat julle klaar geëet het. Party kinders maak elke dag die vuilgoedblik leeg. Dit maak nie saak wat jy kan doen nie, jy sal ander dien, net soos Jesus gedoen het.
Het jy jonger boeties en sussies wat jy kan dien? Onthou, Jesus, die Groot Onderwyser, het selfs sy volgelinge gedien. As jy jou jonger boeties en sussies dien, volg jy Jesus se voorbeeld. Wat kan jy vir hulle doen?— Miskien kan jy hulle help om te leer om hulle speelgoed weg te pak wanneer hulle klaar gespeel het. Of miskien kan jy hulle help om aan te trek. Of dalk kan jy hulle help om hulle bed op te maak. Kan jy aan enigiets anders dink wat jy vir hulle kan doen?— Hulle sal jou liefhê omdat jy hierdie dinge vir hulle doen, net soos Jesus se volgelinge hom liefgehad het.
By die skool kan jy ook ander mense dien. Dit kan jou skoolmaats of jou onderwyser wees. As iemand sy boeke laat val, sal dit mooi wees as jy hom help om dit op te tel. Jy kan aanbied om die swartbord skoon te maak of om iets anders vir jou onderwyser te doen. Dit is selfs goed as jy net die deur vir iemand oophou.
Jy sal sien dat mense partykeer nie vir jou dankie sê wanneer jy hulle dien nie. Dink jy dit behoort ons te laat ophou om goeie dinge te doen?— Nee! Baie mense het nie vir Jesus dankie gesê vir sy goeie werke nie. Maar dit het hom nie laat ophou om goeie dinge te doen nie.
Laat ons dan nooit ophou om ander mense te dien nie. Laat ons aan die Groot Onderwyser, Jesus, dink en altyd sy voorbeeld probeer volg.
Nog tekste oor hoe ons ander mense kan help, is Spreuke 3:27, 28; Romeine 15:1, 2 en Galasiërs 6:2.