HOOFSTUK 35
Ons kan wakker word uit die dood!
SAL God ons wil opwek, dit wil sê ons weer lewendig maak, as ons doodgaan?— Die goeie man Job het geglo God wil. Toe Job gedink het dat hy doodgaan, het hy vir God gesê: “U sal roep, en ek sal u antwoord.” Job het gesê Jehovah God sal vurig verlang om hom op te wek, met ander woorde hy sal dit baie graag wil doen.—Job 14:14, 15.
Jesus is net soos Jehovah God, sy Vader. Jesus wil ons help. Toe ’n man wat melaats was, vir hom gesê het: “As u net wil, kan u my rein maak”, het Jesus geantwoord: “Ek wil.” En hy het die siek man van sy melaatsheid genees.—Markus 1:40-42.
Jesus het by sy Vader geleer om vir kinders lief te wees. Lank gelede het Jehovah twee keer sy knegte gebruik om kinders op te wek. Elia het Jehovah gesmeek om die seun op te wek van ’n vrou wat vir Elia goed was. En Jehovah het dit gedoen. Jehovah het ook sy kneg Elisa gebruik om ’n seuntjie op te wek.—1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37.
Is dit nie wonderlik om te weet dat Jehovah so lief is vir ons nie?— Hy dink nie net aan ons wanneer ons lewe nie. Hy onthou ons ook as ons doodgaan. Jesus het gesê dat sy Vader dooies vir wie hy lief is, selfs beskou asof hulle lewendig is! (Lukas 20:38). Die Bybel sê dat ‘nie die dood of die lewe of dinge wat nou hier is of dinge wat nog kom, ons van God se liefde sal kan skei nie’.—Romeine 8:38, 39.
Toe Jesus op die aarde was, het hy gewys dat Jehovah vir kindertjies omgee. Jy sal onthou dat Jesus tyd gemaak het om met kinders oor God te praat. Maar het jy geweet dat God vir Jesus die krag gegee het om kinders uit die dode op te wek?— Kom ons praat oor die keer toe Jesus die 12-jarige dogtertjie van ’n man met die naam Jaïrus opgewek het.
Jaïrus en sy vrou en hulle enigste kind het naby die See van Galilea gebly. Eendag het die jong meisie baie siek geword, en Jaïrus kon sien dat sy gaan sterf. Hy het aan Jesus begin dink, daardie wonderlike man wat Jaïrus gehoor het mense kan gesond maak. Toe het Jaïrus na hom gaan soek. Hy het Jesus langs die See van Galilea gekry waar hy besig was om baie mense te leer.
Jaïrus het tussen die mense deur geloop en by Jesus se voete neergeval. Hy het vir Jesus gesê: ‘My dogtertjie is baie siek. Sal u haar asseblief kom help? Ek smeek u om te kom.’ Jesus het dadelik saam met Jaïrus gegaan. Die skare wat gekom het om die Groot Onderwyser te sien, het saam met hulle gegaan. Maar nadat hulle ’n ent geloop het, het mans van Jaïrus se huis af gekom en vir hom gesê: “U dogter het gesterf! Waarom sou u die leermeester nog langer lastig val?”
Jesus het gehoor toe die mans dit sê. Hy het geweet hoe hartseer dit Jaïrus gemaak het om sy enigste kind te verloor. Daarom het Hy vir hom gesê: ‘Moenie vrees nie. Glo net in God, en jou dogter sal gesond word.’ Hulle het verder gegaan totdat hulle by Jaïrus se huis gekom het. Hier het vriende van die gesin gehuil. Hulle was hartseer omdat hulle vriendinnetjie dood is. Maar Jesus het vir hulle gesê: ‘Hou op huil. Die jong kind het nie gesterf nie, maar slaap.’
Toe Jesus dit sê, het die mense begin lag, want hulle het geweet dat die meisie gesterf het. Hoekom dink jy dan het Jesus gesê sy slaap?— Watter les dink jy wou hy die mense leer?— Hy wou hê hulle moet weet dat die dood soos ’n diep slaap kan wees. Hy wou hulle leer dat hy deur middel van God se krag iemand wat dood is, net so maklik kan opwek as wat ons iemand wat slaap, kan wakker maak.
Jesus het almal uit die huis gestuur, behalwe sy apostels Petrus, Jakobus en Johannes en die meisie se pa en ma. Toe het hy ingegaan waar die jong kind was. Hy het haar hand gevat en gesê: ‘Dogtertjie, staan op!’ En sy het dadelik opgestaan en begin loop! Haar pa en ma was verskriklik bly.—Markus 5:21-24, 35-43; Lukas 8:40-42, 49-56.
Dink nou hieraan. As Jesus daardie dogtertjie kon opwek, kan hy dit dan ook vir ander doen?— Dink jy hy sal dit regtig doen?— Ja, hy sal. Jesus het self gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [my] stem sal hoor en sal uitkom.”—Johannes 5:28, 29.
Dink jy Jesus wil mense opwek?— Nog ’n voorbeeld in die Bybel help om hierdie vraag te beantwoord. Iets wat eendag naby die stad Nain gebeur het, wys hoe Jesus oor mense voel wat by begrafnisse treur.
’n Vrou was in die begrafnisstoet vir haar seun toe die skare Nain verlaat. Haar man het vroeër gesterf, en nou was haar enigste kind dood. Hoe hartseer was sy tog! Baie van die mense van Nain het saamgeloop terwyl haar seun se liggaam uit die stad gedra is. Die vrou het gehuil, en die mense kon niks doen om haar te troos nie.
Jesus en sy dissipels het toevallig op daardie dag na die stad Nain toe gekom. Naby die stadspoort het hulle die skare teëgekom wat op pad was om die vrou se seun te begrawe. Toe Jesus die vrou sien huil, het hy vir haar baie jammer gevoel. Haar groot hartseer het sy hart geraak. Hy wou haar help.
Met teerheid en tog ferm sodat sy geluister het, het hy gesê: “Hou op huil.” Wat hy gedoen het en hoe hy dit gedoen het, het almal met belangstelling na hom laat kyk. Toe Jesus na die liggaam toe gaan, het almal sekerlik gewonder wat hy gaan doen. Jesus het beveel: “Jong man, ek sê vir jou: Staan op!” Hy het dadelik regop gaan sit! En hy het begin praat.—Lukas 7:11-17.
Dink net hoe die vrou moes gevoel het! Hoe sal jy voel as jy iemand wat jy liefhet en wat doodgegaan het, terugontvang?— Wys dit nie dat Jesus regtig lief is vir mense en dat hy hulle wil help nie?— Dink net hoe wonderlik dit in God se nuwe wêreld sal wees om mense tot die lewe terug te verwelkom!—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.
In daardie tyd sal party van dié wat opgewek word, mense wees wat ons voorheen geken het, selfs kinders. Ons sal weet wie hulle is, net soos Jaïrus sy dogter geken het toe Jesus haar opgewek het. Ander sal mense wees wat honderde of duisende jare gelede doodgegaan het. Maar God sal hulle nie vergeet net omdat hulle lank gelede gelewe het nie.
Is dit nie wonderlik om te weet dat Jehovah God en sy Seun, Jesus, so lief is vir ons nie?— Hulle wil hê ons moet lewe, nie net ’n paar jaar lank nie, maar vir ewig!
Lees asseblief van die Bybel se wonderlike hoop vir die dooies in Jesaja 25:8; Handelinge 24:15 en 1 Korintiërs 15:20-22.