‘Die oordeelsuur’ het aangebreek
OPENBARING, die laaste boek in die Bybel, sê vir ons dat ’n engel wat in die middel van die hemel vlieg, “ewige goeie nuus [het] om as blye tyding bekend te maak”. Hy sê met ’n harde stem: “Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek” (Openbaring 14:6, 7). Daardie ‘oordeelsuur’ sluit die tyd in wanneer God se oordeel uitgespreek word sowel as wanneer dit voltrek word. ’n “Uur” is ’n betreklike kort tydjie. Die voltrekking van die oordeel kom as die klimaks van “die laaste dae”, waarin ons nou lewe.—2 Timoteus 3:1.
‘Die oordeelsuur’ sal goeie nuus wees vir liefhebbers van regverdigheid. Dit sal ’n tyd wees wanneer God verligting sal bring vir sy knegte wat gely het weens hierdie gewelddadige, liefdelose stelsel van dinge.
Nou, voordat ‘die oordeelsuur’ tot ’n einde kom met die vernietiging van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge, word ons aangespoor: “Vrees God en gee hom heerlikheid.” Doen jy dit? Dit behels baie meer as om net te sê: “Ek glo aan God” (Matteus 7:21-23; Jakobus 2:19, 20). ’n Behoorlike vrees vir God moet ons met ontsag vir hom vervul. Dit moet ons slegte dinge laat vermy (Spreuke 8:13). Dit moet ons help om lief te wees vir wat goed is en te haat wat sleg is (Amos 5:14, 15). As ons God eer, sal ons met groot respek na hom luister. Ons sal nie te besig wees met ander dinge om sy Woord, die Bybel, gereeld te lees nie. Ons sal te alle tye en met ons hele hart op hom vertrou (Psalm 62:8; Spreuke 3:5, 6). Diegene wat hom werklik eer, erken dat hy, as die Skepper van die hemel en die aarde, die Universele Soewerein is, en uit liefde onderwerp hulle hulle aan hom as die Soewerein van hulle lewe. As ons besef dat ons meer aandag aan hierdie sake moet gee, moet ons dit sonder versuim doen.
Die tydperk waarin die oordeel waarvan die engel gepraat het, voltrek gaan word, staan ook bekend as “die dag van Jehovah”. So ’n “dag” het in 607 v.G.J. oor eertydse Jerusalem gekom omdat sy inwoners nie ag geslaan het op Jehovah se waarskuwings deur middel van sy profete nie. Deur Jehovah se dag in hulle gedagtes uit te stel, het hulle hulle lewe in selfs groter gevaar gestel. Jehovah het hulle gewaarsku: “Dit is naby en kom baie vinnig nader” (Sefanja 1:14). ’n Ander “dag van Jehovah” het in 539 v.G.J. oor eertydse Babilon gekom (Jesaja 13:1, 6). Die Babiloniërs het op hulle verskansings en op hulle gode vertrou en het die waarskuwings geïgnoreer wat deur middel van Jehovah se profete gegee is. Maar in een nag is die groot stad Babilon deur die Meders en die Perse verower.
Waarvoor het ons vandag te staan gekom? Nog ’n “dag van Jehovah” en een met verreikender gevolge (2 Petrus 3:11-14). God se oordeel is oor “Babilon die Grote” uitgespreek. Volgens Openbaring 14:8 verklaar ’n engel: “Babilon die Grote het geval.” Dít het reeds gebeur. Sy kan aanbidders van Jehovah nie meer gevange hou nie. Haar verdorwenheid en betrokkenheid by oorlog is wêreldwyd blootgelê. Nou is haar finale vernietiging naby. Daarom spoor die Bybel alle mense aan: “Gaan uit haar [Babilon die Grote] uit . . . as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie. Want haar sondes het tot aan die hemel opgehoop en God het haar ongeregtighede onthou.”—Openbaring 18:4, 5.
Wat is Babilon die Grote? Dit is die wêreldwye godsdiensstelsel wat dieselfde kenmerke as eertydse Babilon het (Openbaring, hoofstukke 17, 18). Kom ons kyk na ’n paar van die ooreenkomste:
• Die priesters van eertydse Babilon was diep betrokke by die nasie se politieke aangeleenthede. Dit geld vandag ook vir baie godsdienste.
• Babilon se priesters het dikwels die nasie se oorlogvoering gesteun. Hedendaagse godsdienste is dikwels aan die voorpunt van dié wat soldate seën wanneer die nasies by oorlog betrokke raak.
• Die leringe en gebruike van eertydse Babilon het die nasie in growwe onsedelikheid laat verval. Wanneer godsdiensleiers vandag die Bybel se sedelike standaarde opsy skuif, vier onsedelikheid hoogty onder geestelikes sowel as lidmate. Dit is ook opmerkenswaardig dat Babilon die Grote, omdat sy met die wêreld en sy politieke stelsels hoereer, in Openbaring as ’n hoer uitgebeeld word.
• Die Bybel sê ook dat Babilon die Grote “in skaamtelose weelde” lewe. In eertydse Babilon het die tempelorganisasie groot grondeiendom verkry, en die priesters het ’n vername rol in handelsbedrywighede gespeel. Benewens plekke van aanbidding het Babilon die Grote vandag uitgebreide sakebelange en baie eiendom. Haar leringe en vakansiedae bring groot rykdom vir haar en vir ander in die sakewêreld in.
• Die gebruik van beelde en toorkuns was iets algemeens in eertydse Babilon, soos dit ook vandag in baie plekke is. Die dood is as ’n oorgang na ’n ander soort lewe beskou. Babilon was vol tempels en kapelle ter ere van sy gode, maar die Babiloniërs het aanbidders van Jehovah teëgestaan. Dieselfde opvattings en gebruike identifiseer Babilon die Grote.
In antieke tye het Jehovah magtige politieke en militêre nasies beweeg om diegene wat hom en sy wil voortdurend verontagsaam het, te straf. Gevolglik is Samaria in 740 v.G.J. deur die Assiriërs vernietig. Jerusalem is in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs en in 70 G.J. deur die Romeine verwoes. Babilon is op sy beurt in 539 v.G.J. deur die Meders en die Perse verower. Die Bybel voorspel omtrent ons dag dat politieke regerings soos ’n wilde dier teen “die hoer” sal draai en haar naak sal maak, sodat haar ware karakter blootgelê sal word. Hulle sal haar heeltemal vernietig.—Openbaring 17:16.
Sal die regerings van die wêreld werklik so iets doen? Die Bybel sê dat ‘God dit in hulle harte sal sit’ (Openbaring 17:17). Dit sal ’n skielike, onverwagse, skokkende gebeurtenis wees, nie iets wat voorsien kan word of geleidelik sal plaasvind nie.
Wat moet jy doen? Vra jou af: ‘Klou ek nog steeds aan ’n godsdiensorganisasie vas wat besoedel is met leringe en gebruike wat dit as deel van Babilon die Grote kenmerk?’ Al behoort jy nie aan so ’n organisasie nie, kan jy jou afvra: ‘Het ek toegelaat dat die gees van Babilon die Grote my beïnvloed?’ Watter soort gees is dit? ’n Gees van verdraagsaamheid ten opsigte van losse sedes, liefde vir materiële besittings en genietinge eerder as liefde vir God of opsetlike verontagsaming (selfs in skynbaar klein dingetjies) van die Woord van Jehovah. Dink noukeurig na oor jou antwoord.
As ons Jehovah se guns wil geniet, is dit noodsaaklik dat ons in ons optrede sowel as in die begeertes van ons hart toon dat ons werklik geen deel van Babilon die Grote is nie. Daar is geen tyd om te aarsel nie. Die Bybel waarsku ons dat die einde skielik sal kom en sê: “Babilon, die groot stad, [sal] met ’n vaart neergeslinger word, en sy sal nooit weer gevind word nie.”—Openbaring 18:21.
Maar dit is nie al nie. Gedurende dié ‘oordeelsuur’ gaan Jehovah God ook die wêreldwye politieke stelsel, sy heersers en almal wat Sy regmatige heerskappy deur middel van Sy hemelse Koninkryk in die hande van Jesus Christus ignoreer, tot verantwoording roep (Openbaring 13:1, 2; 19:19-21). Die profetiese visioen wat in Daniël 2:20-45 opgeteken staan, beeld politieke heerskappy vanaf die tyd van eertydse Babilon tot die hede uit as ’n reusagtige beeld wat van goud, silwer, koper, yster en klei gemaak is. Die profesie het van ons dag voorspel: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie.” En van wat daardie Koninkryk nog gedurende Jehovah se ‘oordeelsuur’ gaan doen, sê die Bybel: “Dit sal al hierdie [mensgemaakte] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Daniël 2:44.
Die Bybel waarsku ware aanbidders dat hulle nie “die dinge in die wêreld”—die lewenswyse wat voorgestaan word deur hierdie wêreld wat van die ware God vervreemd is—moet liefhê nie (1 Johannes 2:15-17). Toon jou besluite en dade dat jy onvoorwaardelik aan die kant van God se Koninkryk is? Stel jy dit werklik eerste in jou lewe?—Matteus 6:33; Johannes 17:16, 17.
[Venster op bladsy 14]
Wanneer sal die einde kom?
“Die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”—Matteus 24:44.
“Hou . . . aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.”—Matteus 25:13.
“Dit sal nie laat wees nie.”—Habakuk 2:3.
[Venster op bladsy 14]
Sou dit ’n verskil maak as jy geweet het?
Sou dit ’n verskil maak aan die manier waarop jy jou lewe lei as jy sonder twyfel geweet het dat die naderende voltrekking van God se oordeel eers oor ’n paar jaar sal plaasvind? Het jy toegelaat dat jy traag word in Jehovah se diens omdat die einde van hierdie ou stelsel nie so gou gekom het as wat jy verwag het nie?—Hebreërs 10:36-38.
Die feit dat ons nie die presiese tyd weet nie, gee ons die geleentheid om te toon dat ons God uit rein beweegredes dien. Diegene wat Jehovah ken, besef dat God, wat sien wat die hart is, nie beïndruk sal word deur ’n vertoon van ywer op die nippertjie nie.—Jeremia 17:10; Hebreërs 4:13.
Jehovah kom altyd eerste vir diegene wat hom werklik liefhet. Soos ander mense doen ware Christene moontlik sekulêre werk. Hulle doel is egter nie om ryk te word nie, maar om genoeg materiële dinge te hê en ’n bietjie ekstra om met ander te deel (Efesiërs 4:28; 1 Timoteus 6:7-12). Hulle geniet ook heilsame ontspanning en ’n verandering van roetine, maar hulle begeerte is om verkwik te word, nie net om dieselfde as al die ander mense te doen nie (Markus 6:31; Romeine 12:2). Soos Jesus Christus skep hulle behae daarin om God se wil te doen.—Psalm 37:4; 40:8.
Ware Christene wil vir ewig lewe en Jehovah vir ewig dien. Daardie vooruitsig is nie minder kosbaar omdat hulle ’n bietjie langer vir sekere seëninge moet wag as wat party gedink het nie.
[Venster/Prent op bladsy 15]
Die geskil oor soewereiniteit
Om te verstaan waarom God soveel lyding toelaat, moet ons die geskil oor soewereiniteit verstaan. Wat is soewereiniteit? Dit is oppergesag.
Omdat Jehovah die Skepper is, het hy die reg om oor die aarde en almal wat daarop woon, te regeer. Maar die Bybel verduidelik dat Jehovah se soewereiniteit vroeg in die mensegeskiedenis betwis is. Satan die Duiwel het beweer dat Jehovah onnodig beperkend was, dat Hy vir ons eerste ouers gelieg het oor wat sou gebeur as hulle God se wet ignoreer en dinge op hulle eie manier doen en dat dit werklik beter sou wees as hulle hulleself onafhanklik van God regeer.—Genesis, hoofstukke 2, 3.
As God die opstandelinge daar en dan vernietig het, sou dit sy krag getoon het, maar dit sou nie die geskille wat geopper is, besleg het nie. Pleks van die opstandelinge dadelik te vernietig, het Jehovah alle intelligente skepsele die geleentheid gegee om die gevolge van opstandigheid te sien. Hoewel dit lyding meegebring het, het dit ook die geleentheid geskep vir ons om gebore te word.
Daarbenewens het Jehovah, hoewel dit ’n groot opoffering van hom geverg het, liefdevol voorsiening gemaak dat mense wat hom gehoorsaam en geloof beoefen in die losprysoffer van sy Seun, bevry kan word van sonde asook die gevolge daarvan en in die Paradys kan lewe. Indien nodig, kan dit deur middel van ’n opstanding uit die dode wees.
Omdat God tyd toegelaat het sodat die geskil besleg kan word, het dit God se knegte ook die geleentheid gegee om te toon dat hulle God se liefde kan beantwoord en hulle onkreukbaarheid aan Jehovah in alle omstandighede kan bewys. Dit is noodsaaklik dat die geskil oor goddelike soewereiniteit, asook die verwante geskil oor die mens se onkreukbaarheid, besleg word, sodat daar behoorlike respek vir wette in die heelal sal wees. Sonder daardie respek sal ware vrede nooit moontlik wees nie.a
[Voetnote]
a Hierdie geskille en die implikasies daarvan word meer in besonderhede bespreek in die boek Kom nader aan Jehovah, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.
[Prent]
Die wêreldwye stelsel van politieke heerskappy sal tot ’n einde kom