HOOFSTUK VYFTIEN
“Ek kan nie stilbly nie”
1. Waarom het Jeremia en ander profete van Jehovah nie stilgebly nie?
“HOOR die woord van Jehovah.” Hierdie woorde het vanaf 647 VHJ op die strate en pleine van Jerusalem weerklink. En God se profeet het nie in sy pogings verslap nie. Selfs toe die stad 40 jaar later vernietig is, het hy hierdie vermaning herhaal (Jer. 2:4; 42:15). God die Almagtige het profete gestuur om seker te maak dat die Jode Sy raad kon hoor en berou kon hê. Soos vroeër in hierdie boek getoon is, het Jeremia uitgestaan onder hierdie goddelike woordvoerders. Toe God Jeremia as profeet aangestel het, het Hy vir hom gesê: “Jy moet opstaan en vir hulle alles sê wat ek jou beveel. Moenie . . . met verskrikking vervul word nie” (Jer. 1:17). Die werk was veeleisend. Jeremia het fisiese en emosionele pyn gely, maar ondanks hierdie beproewinge het hy verplig gevoel om sy toewysing uit te voer. Hy het gesê: “My hart is onstuimig in my. Ek kan nie stilbly nie.”—Jer. 4:19.
2, 3. (a) Hoe het Jesus se dissipels Jeremia nagevolg? (b) Waarom moet jy Jeremia se voorbeeld volg?
2 Die manier waarop Jeremia sy profetiese toewysing uitgevoer het, het vir toekomstige knegte van Jehovah ’n voorbeeld gestel (Jak. 5:10). Kort ná Pinkster 33 HJ het die Joodse owerheid die apostels Petrus en Johannes in hegtenis geneem en hulle beveel om op te hou preek. Jy het hulle antwoord gelees. “Ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:19, 20). Nadat die heersers gedreig het dat hulle hulle die volgende keer erger sou behandel, het hulle Petrus en Johannes laat gaan. Jy weet wat gevolg het. Hierdie getroue manne het geweier om op te hou preek.
3 Kan jy sien hoe die woorde van Petrus en Johannes wat in Handelinge 4:20 opgeteken is, Jeremia se ywer weerspieël? As ’n bedienaar van Jehovah God in hierdie beslissende laaste dae is jy sekerlik net so vasbeslote en dink jy: ‘Ek kan nie stilbly nie!’ Kom ons kyk hoe ons so sterk soos Jeremia kan bly om voort te gaan om die goeie nuus te verkondig ondanks verslegtende toestande om ons.
GAAN VOORT ONDANKS ’N GEBREK AAN BELANGSTELLING
4. Watter gesindheid was algemeen in eertydse Jerusalem?
4 Is jy nie oortuig dat God se belofte van ’n wonderlike toekoms onder sy Seun se heerskappy die beste nuus is wat mense kan hoor nie? Tog sê baie vandag soos party Jode eenkeer vir Jeremia gesê het: “Wat die woord betref wat jy in die naam van Jehovah tot ons gespreek het, ons luister nie na jou nie” (Jer. 29:19; 44:16). Jeremia het dikwels soortgelyke stellings gehoor. Jehovah se hedendaagse knegte hoor dit ook, want baie mense sê: “Ek stel nie belang nie.” ’n Algemene gebrek aan belangstelling kan die ywer van Koninkryksverkondigers ondermyn. As dit die geval is in julle gebied, met party in julle gemeente of selfs met jou, wat kan dan gedoen word?
5. (a) Hoe het Jeremia op die mense se gebrek aan belangstelling gereageer? (b) Waarom verkeer diegene wat nie in die goeie nuus belangstel nie, in ernstige gevaar?
5 Beskou die denkwyse wat Jeremia ontwikkel het weens die gebrek aan belangstelling onder die meeste mense van Juda. Vroeg in Jeremia se loopbaan het Jehovah hom ’n voorskou van die komende goddelike oordeel gegee. (Lees Jeremia 4:23-26.) Die profeet kon toe sien dat die lewens van duisende daarvan afgehang het dat hulle die woorde wat hy sou spreek, hoor en in ooreenstemming daarmee optree. Vandag is mense in ’n soortgelyke situasie, ook dié in julle gebied. Aangaande “dié dag” van God se oordeel teen vandag se goddelose wêreld het Jesus gesê: “Dit sal oor almal kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon. Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:34-36). Jy kan uit Jesus se woorde aflei dat diegene wat die goeie nuus verwerp, in ernstige gevaar verkeer.
6. Waarom moet jy aanhou preek, selfs vir dié wat min belangstelling in jou boodskap toon?
6 Maar diegene wat hulle onverskilligheid afskud en luister na Jehovah se woord wat ons bekend maak en gunstig daarop reageer, sal kosbare seëninge ontvang. God maak dit vir ons moontlik om aan vernietiging te ontkom en in sy nuwe wêreld in te gaan. In sekere opsigte kom dit ooreen met Jeremia se bediening. Die inwoners van Juda kon ontkom. (Lees Jeremia 26:2, 3.) Om hulle te help, het Jeremia die volk dekades lank aangespoor om ‘te luister en terug te keer’, om op die woord van die ware God ag te slaan. Ons weet nie hoeveel berou getoon het en hulle lewe verander het as gevolg van die profeet se getuieniswerk nie. Maar party het, en baie in ons tyd het dit ook gedoen. Terwyl ons voortgaan om die goeie nuus te verkondig, hoor ons dikwels hoe die harte van mense wat vroeër onontvanklik was, versag. (Sien die venster “Onverskilligheid kan in belangstelling verander”, op bladsy 184.) Is dit nie ’n bykomende rede om bedrywig te bly in ons lewensreddende bediening van die goeie nuus nie?
Waarom is jy vasbeslote om die goeie nuus te verkondig al toon mense min belangstelling?
TEENSTANDERS KAN GEEN BLYWENDE SKADE AANRIG NIE
7. Hoe het vyande Jeremia se profetiese werk probeer stopsit?
7 ’n Merkwaardige aspek van Jeremia se bediening is hoe dikwels teenstanders hom probeer doodmaak het en sy werk probeer stopsit het. Valse profete het hom in die openbaar weerspreek (Jer. 14:13-16). Wanneer Jeremia in die strate van Jerusalem geloop het, het omstanders hom sleggesê en bespot (Jer. 15:10). Party van sy vyande het bykomende maniere uitgedink om sy geloofwaardigheid af te breek (Jer. 18:18). Ander het ’n intensiewe fluisterveldtog gevoer om opregtes van hart af te keer van die goddelike waarhede wat Jeremia verkondig het (Klaagl. 3:61, 62). Het Jeremia tou opgegooi? Nee, hy het aangehou preek. Hoe het hy dit gedoen?
8. Hoe het Jeremia gereageer toe teenstanders hulle pogings teen hom verskerp het?
8 Jeremia se vernaamste wapen in sy stryd teen al die teenstand was vertroue in Jehovah. Aan die begin van Jeremia se bediening het God vir hom gesê dat Hy hom sou onderskraag en beskerm. (Lees Jeremia 1:18, 19.) Jeremia het vertroue in hierdie belofte gestel, en Jehovah het hom nie in die steek gelaat nie. Terwyl teenstanders druk uitgeoefen en drastieser stappe gedoen het, het hy groter vrymoedigheid, onverskrokkenheid en volharding ontwikkel. Kyk hoe hierdie eienskappe hom gehelp het.
9, 10. Watter voorvalle in Jeremia se lewe moet jou aanspoor om vrymoedig te wees?
9 By een geleentheid het opstandige priesters en profete Jeremia voor die vorste van Juda gesleep om hom te laat doodmaak. Was Jeremia verlam van vrees weens hulle dreigemente? Nee. Sy antwoord het die aantygings van hierdie afvalliges so afdoende weerlê dat sy lewe gespaar is.—Lees Jeremia 26:11-16; Luk. 21:12-15.
10 Soos vroeër gemeld is, het ’n tempelbeampte met die naam Pasgur die profeet in die blok gesit nadat hy na sy kragtige boodskap geluister het. Pasgur het ongetwyfeld gemeen dat dit Jeremia ’n les sou leer en dat hy nou sou stilbly. Die volgende dag het Pasgur hom dus vrygelaat. Maar Jeremia, wat sekerlik baie seer was weens die foltering wat hy ondergaan het, het Pasgur direk aangespreek en Jehovah se oordeel teen hom bekend gemaak. Nee, nie eens marteling het Jeremia stilgemaak nie! (Jer. 20:1-6). Waarom nie? Jeremia self sê vir ons: “Jehovah was met my soos ’n verskriklike magtige. Daarom sal my vervolgers struikel en nie die oorhand kry nie” (Jer. 20:11). Selfs wrede teenstanders het Jeremia nie laat terugdeins nie. Sy vertroue in Jehovah was stewig gegrond, en joune kan ook wees.
11, 12. (a) Hoe het Jeremia gesonde verstand aan die dag gelê toe Hananja hom teëgestaan het? (b) Watter voordeel kan dit inhou as jy jou “onder die kwaad in bedwang hou”?
11 Dit is goed om in gedagte te hou dat Jeremia nie ’n fanatikus was nie. Hy het gesonde verstand aan die dag gelê wanneer hy met teenstanders te doen gehad het. Hy het geweet wanneer om pad te gee. Dink byvoorbeeld aan sy ondervinding met Hananja. Nadat hierdie valse profeet Jehovah se profetiese woord in die openbaar weerspreek het, het Jeremia hom tereggewys en verduidelik hoe om ’n ware profeet te herken. Jeremia het ’n houtjuk gedra om aan te dui dat hulle onder die juk van Babilon sou kom; Hananja het gewelddadig geword en die juk gebreek. Wie het geweet wat Hananja volgende sou doen? Wat het Jeremia dus gedoen? Ons lees: “Die profeet . . . het weggegaan.” Ja, Jeremia het padgegee. Later het hy op Jehovah se bevel teruggegaan en vir Hananja gesê wat God sou teweegbring—slawerny aan die koning van Babilon vir die Jode en die dood vir Hananja.—Jer. 28:1-17.
12 Dit is duidelik uit hierdie geïnspireerde verslag dat dit verstandig van ons sal wees om in die predikingswerk ons vrymoedigheid met gesonde oordeel te kombineer. As iemand by ’n huis weier om skriftuurlike redenering te aanvaar en kwaad word of ons selfs met geweld dreig, kan ons ons beleefd verskoon en na ’n ander huis gaan. Dit is nie nodig om ’n hewige woordewisseling met enigiemand omtrent die goeie nuus van die Koninkryk te hê nie. Deur ons “onder die kwaad in bedwang [te] hou”, laat ons die weg oop om die huisbewoner op ’n gunstiger tyd te help.—Lees 2 Timoteus 2:23-25; Spr. 17:14.
Waarom is vertroue in Jehovah so belangrik wanneer ons die goeie nuus verkondig? Waarom moet ons vrymoedigheid met gesonde oordeel balanseer?
‘MOENIE BANG WEES NIE’
13. Waarom het Jehovah vir Jeremia gesê: “Moenie bang wees [nie]”, en waarom moet ons dit bespreek?
13 Ware aanbidders is geraak deur die verskriklike toestande wat voor Jerusalem se vernietiging in 607 VHJ geheers het. Jy kan dus verstaan waarom God vir Jeremia gesê het: “Moenie bang wees [nie]” (Jer. 1:8; Klaagl. 3:57). En Jehovah het Jeremia dieselfde aanmoedigende woorde aan sy volksgenote laat oordra. (Lees Jeremia 46:27.) Wat kan ons hieruit leer? In hierdie gevaarlike tyd van die einde voel ons dalk van tyd tot tyd bang. Sal ons op sulke tye na Jehovah luister, wat as ’t ware vir ons sê: ‘Moenie bang wees nie’? Vroeër in hierdie boek het ons gesien hoe God Jeremia gedurende daardie waarlik skrikwekkende tyd bewaar het. Kom ons bespreek kortliks wat gebeur het sodat ons ’n les hieruit kan leer.
14, 15. (a) In watter gevaarlike situasie het Jeremia hom bevind? (b) Hoe het Jehovah sy belofte nagekom om Jeremia te beskerm?
14 Toe die Babiloniërs hulle greep op Jerusalem verstewig het, het honger die mense begin teister. Baie het weldra geen voedsel gehad nie (Jer. 37:21). Asof die hongersnood nie genoeg was nie, was Jeremia in ’n plek waaruit hy nie kon kom nie en wat sy graf kon word. Die vorste van Juda het druk op die ruggraatlose koning Sedekia uitgeoefen om met hulle versoek in te stem. Toe het hulle Jeremia in ’n diep reënput laat gooi. Daar was geen water daarin nie, net baie modder. Toe Jeremia in die modder begin wegsink, kon hy geen menslike uitweg sien nie. Sou jy nie bang gevoel het as jy in daardie situasie was nie?—Jer. 38:4-6.
15 Hoewel hy ’n mens was net soos ons, het Jeremia vertroue gestel in Jehovah se woord dat Hy hom nooit sou verlaat nie. (Lees Jeremia 15:20, 21.) Het Jehovah hierdie vertroue beloon? Ons weet met sekerheid hy het. God het Ebed-Meleg beweeg om die vorste teë te gaan en Jeremia te red. Met die koning se toestemming het Ebed-Meleg die profeet uit die reënput opgetrek en hom sodoende van ’n dood in daardie modderdiepte gered.—Jer. 38:7-13.
16. Uit watter gevare het Jehovah sy lojales gered?
16 Selfs toe Jeremia weer op vaste grond was, was hy nie buite gevaar nie. Toe Ebed-Meleg ten behoewe van Jeremia gepleit het, het hy vir die koning gesê: “Hy [sal] weens die hongersnood . . . sterf waar hy is. Want daar is geen brood meer in die stad nie” (Jer. 38:9). Voedsel was so skaars in Jerusalem dat mense hulle tot kannibalisme gewend het. Maar Jehovah het weer ingegryp om sy profeet te red. En Jeremia het aan Ebed-Meleg die versekering oorgedra dat Jehovah hom sou beskerm (Jer. 39:16-18). Jeremia het nie vergeet dat God hom verseker het nie: “Ek is met jou om jou te verlos” (Jer. 1:8). Aangesien God die Almagtige hierdie twee lojale manne beskerm het, sou nie menslike vyande of honger hulle lewe beëindig nie. Hulle het in daardie gedoemde stad aan die dood ontkom. Wat is die punt? Jehovah het beskerming beloof en het sy belofte nagekom.—Jer. 40:1-4.
17. Waarom moet jy geloof stel in Jehovah se belofte dat hy sy knegte sal beskerm?
17 Die vervulling van Jesus se profesie oor die voleinding van die stelsel van dinge beweeg onstuitbaar na sy klimaks. In die nabye toekoms sal daar “tekens in son en maan en sterre wees, en op die aarde angs onder die nasies, wat radeloos is . . . , terwyl die mense flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom” (Luk. 21:25, 26). Ons moet wag om te sien watter vorm hierdie tekens sal aanneem en watter verskrikking dit onder baie sal veroorsaak. Maar wat ook al gebeur, jy hoef nooit te twyfel aan Jehovah se vermoë en begeerte om sy volk te red nie. Die uiteinde van diegene wat nie sy guns geniet nie, sal egter heeltemal anders wees. (Lees Jeremia 8:20; 14:9.) Al lyk dit ook of sy knegte in so ’n hopelose situasie soos onder in ’n nat, donker reënput is, hy kan hulle red! God se woorde aan Ebed-Meleg sal op sy volk van toepassing wees: “‘Ek sal vir seker aan jou ontkoming verskaf, en jy sal nie deur die swaard val nie; en jou siel sal beslis vir jou ’n buit wees, omdat jy op my vertrou het’, is die woord van Jehovah.”—Jer. 39:18.
WOORDE WAT VIR JOU GESKRYF IS
18. (a) Watter woorde het Jeremia se lewe verander? (b) Wat beteken God se opdrag in Jeremia 1:7 vir jou?
18 “Na almal na wie toe ek jou sal stuur, moet jy gaan; en alles wat ek jou sal beveel, moet jy spreek” (Jer. 1:7). Jeremia se lewe het vir altyd verander toe hy hierdie opdrag van God gehoor het. Van daardie oomblik af was dit vir hom ’n saak van die grootste erns om “die woord van Jehovah” bekend te maak. Hierdie uitdrukking kom herhaaldelik dwarsdeur die boek Jeremia voor. In die laaste hoofstuk vertel Jeremia van die verowering van Jerusalem en die ballingskap van sy laaste koning, Sedekia. Ja, Jeremia het aangehou om die mense van Juda te leer en te vermaan om Jehovah te gehoorsaam totdat gebeure duidelik getoon het dat sy werk klaar was.
19, 20. (a) Waarom is Jeremia se diens ’n voorbeeld vir jou? (b) Hoe hou die predikingswerk verband met blydskap en tevredenheid? (c) Watter uitwerking het die bestudering van die boeke Jeremia en Klaagliedere op jou gehad?
19 Daar is baie parallelle tussen Jeremia se toewysing en die openbare bediening van Jehovah se Getuies van vandag. Soos hy, dien jy die ware God gedurende ’n oordeelstyd. Ander verantwoordelikhede eis van jou tyd en energie; maar die verkondiging van die goeie nuus is verreweg die belangrikste werk wat jy in hierdie stelsel van dinge kan doen. Daardeur verheerlik jy God se groot naam en aanvaar jy sy absolute reg en gesag as Universele Soewerein. (Lees Klaagliedere 5:19.) Jy toon ook uitsonderlike naasteliefde deur ander te help om die ware God en sy vereistes vir lewe te leer ken.—Jer. 25:3-6.
20 Aangaande die werk wat Jehovah hom gegee het, het Jeremia gesê: “U woord word vir my die verheuging en die blydskap van my hart; want u naam is oor my uitgeroep, o Jehovah, God van die leërs” (Jer. 15:16). Hierdie blydskap en tevredenheid word vandag voorgehou aan almal wie se hart hulle beweeg om vir die ware God te spreek. Jy het dus goeie rede om, soos Jeremia, aan te hou om Jehovah se boodskap bekend te maak.
Hoe kan die voorbeelde van Jeremia en Ebed-Meleg jou help om moedig te wees? Watter eienskap van Jeremia wil jy navolg wanneer jy preek?