HOOFSTUK 17
Hy leer Nikodemus in die nag
JESUS PRAAT MET NIKODEMUS
WAT DIT BETEKEN OM “WEER GEBORE” TE WORD
Terwyl Jesus in Jerusalem is vir die Pasga van 30 HJ, doen hy buitengewone tekens, of wonderwerke. Daarom stel baie mense geloof in hom. Nikodemus, ’n Fariseër en ’n lid van die Joodse Hoë Raad wat die Sanhedrin genoem word, is beïndruk. Hy wil meer weet en besoek Jesus in die nag, dalk omdat hy bang is dat die ander Joodse leiers op hom sal neersien as hulle uitvind dat hy met Jesus praat.
Nikodemus sê: “Rabbi, ons weet dat u as ’n leermeester van God af gekom het, want niemand kan hierdie wonderwerke doen wat u doen tensy God met hom is nie.” Jesus sê vir Nikodemus dat ’n mens nie in die Koninkryk van God kan ingaan as hy nie “weer gebore” word nie. – Johannes 3:2, 3.
Maar hoe kan ’n mens weer gebore word? “Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy ma se baarmoeder ingaan en gebore word nie, of hoe?” vra Nikodemus. – Johannes 3:4.
Nee, dit is nie wat dit beteken om weer gebore te word nie. Jesus verduidelik: “As iemand nie uit water en gees gebore word nie, kan hy nie in die Koninkryk van God ingaan nie” (Johannes 3:5). Toe Jesus gedoop is en heilige gees op hom gekom het, is hy dus “uit water en gees” gebore. Op daardie oomblik was daar ook ’n stem wat uit die hemel gesê het: “Dit is my geliefde Seun, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:16, 17). Op hierdie manier het God aangekondig dat Jesus nou ’n geesseun geword het met die vooruitsig om in die hemelse Koninkryk in te gaan. Later, by Pinkster 33 HJ, sal heilige gees op ander gedoopte persone uitgestort word, en hulle sal dus weer gebore word as geesverwekte seuns van God. – Handelinge 2:1-4.
Dit is moeilik vir Nikodemus om te verstaan wat Jesus vir hom oor die Koninkryk leer. Daarom gee Jesus hom nog inligting oor sy spesiale rol as God se menslike Seun. Jesus sê: “Net soos Moses die slang in die wildernis opgelig het, so moet die Seun van die mens opgelig word, sodat elkeen wat in hom glo, die ewige lewe kan hê.” – Johannes 3:14, 15.
Lank gelede moes daardie Israeliete wat deur giftige slange gepik is, na die koperslang kyk om gered te word (Numeri 21:9). Net so moet alle mense geloof in God se Seun beoefen om gered te word van hulle sterwende toestand en om die ewige lewe te kry. Jesus beklemtoon Jehovah se liefdevolle rol hierin en sê vir Nikodemus: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Hier in Jerusalem, sowat ses maande nadat Jesus met sy bediening begin het, maak hy dit dus duidelik dat hy die weg na redding vir die mens is.
Jesus sê vir Nikodemus: “God het nie sy Seun in die wêreld uitgestuur om die wêreld te oordeel nie.” Dit beteken dat hy nie gestuur is om die wêreld te veroordeel en alle mense tot die dood te vonnis nie. Jesus sê eerder dat hy gestuur is “sodat die wêreld deur middel van hom gered kan word”. – Johannes 3:17.
Omdat Nikodemus bang is, het hy in die nag na Jesus toe gekom. Dit is dus interessant dat Jesus hulle gesprek afsluit deur vir hom te sê: “Die lig [naamlik Jesus deur sy lewenswyse en leringe] het in die wêreld ingekom, maar die mense was liewer vir die duisternis as vir die lig, want hulle doen wat sleg is. Dit is hoekom hulle geoordeel sal word. Want enigiemand wat walglike dinge doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy werke nie bekend sal word nie. Maar enigiemand wat doen wat goed is, kom na die lig, sodat sy werke bekend gemaak kan word as werke wat in ooreenstemming met God gedoen is.” – Johannes 3:19-21.
Hierdie Fariseër en onderrigter van Israel, Nikodemus, het nou baie gehoor oor wat God vir die mensdom in gedagte het en die rol wat Jesus daarin speel. Dit is nou sy verantwoordelikheid om goed hieroor na te dink.