Wat het die wyse man bedoel?
Wysheid se voortrefliker waarde
’n Erfenis is waardevol. Maar van watter waarde sal dit wees as die een wat dit kry nie die insig het om dit behoorlik te bestuur nie? Koning Salomo het geskrywe: “Wysheid is net so goed as ’n erfdeel en ’n voordeel vir die wat die son sien. Want wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe.”—Pred. 7:11, 12.
So word dit getoon dat wysheid groter waarde het as materiële besittings. ’n Persoon met ’n gebrek aan wysheid kan gou ’n erfenis deurbring. Hoewel geld ’n mate van beskerming bied en die besitter daarvan in staat stel om te kry wat hy nodig het, kan dit nogtans verloor of gesteel word. Die ryk persoon kan selfs die skyf van rowers en geweldenaars word. Wysheid, die vermoë om kennis te gebruik om probleme op te los of seker doelwitte te bereik, kan andersyds verhoed dat ’n persoon dwase kanse waag wat sy lewe in gevaar kan stel. Dit kan ’n persoon van ’n vroegtydige dood red en, wanneer dit op behoorlike vrees vir God berus, kan dit daartoe lei dat hy die ewige lewe kry.
Wysheid het bepaald beskermende waarde. Die wyse man het gesê: “Die wysheid versterk die wyse meer as tien maghebbers wat in die stad is” (Pred. 7:19). Weens die beskermende waarde daarvan kan wysheid meer doen as “tien maghebbers”, ’n volledige getal krygsmanne, om die inwoners van ’n beleërde stad te beskerm.
Met die oog op die feit dat alle mense onvolmaak is, kan ons nie klaarkom sonder die wyse leiding wat Jehovah God in sy Woord voorsien het nie. Daar mense sondaars is, skiet hulle ver te kort aan God se volmaakte maatstaf. Salomo het gesê: “Daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie” (Pred. 7:20). Ons moet dus gewis die wysheid wat in die Bybel geopenbaar word ons eie maak. Dit sal ons in staat stel om ons lewe nou sowel as in die toekoms suksesvol te maak.
Dinge wat die mens nie kan verander nie
Baie dinge wat in hierdie onvolmaakte wêreld gebeur, is buite die beheer van die mens. Al is hulle onwenslik, kan hulle nie verander word nie. Koning Salomo het gesê: “Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?” (Pred. 7:13). Met ander woorde, wie onder die mensdom kan die gebreke en onvolmaakthede wat God toelaat, ongedaan maak? Niemand nie, want nie alleen is daar ’n doel agter alles wat die Allerhoogste doen nie, maar daar is ook ’n doel waarom hy toelaat dat ander dinge gebeur.
Daarom beveel Salomo aan: “Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink dan: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie, daarom dat die mens ná sy dood niks meer sal ontdek nie” (Pred. 7:14). Volgens hierdie raad moet ’n persoon ’n dag waardeer wanneer dinge goed gaan en dit toon deur goedheid, milddadigheid, vriendelikheid en blydskap in sy woorde en dade aan die dag te lê. Hy moet ’n goeie dag as ’n gawe van God beskou. Maar sê nou die dag bring onheil, moeilikheid? ’n Persoon kan gerus besef dat God toegelaat het dat die onheil plaasvind. Waarom het hy dit gedoen? Salomo sê dit is sodat die mens ná sy dood [daarna, NW] niks meer sal ontdek nie”.
Die feit dat God toelaat dat ons voor blydskap en moeilikhede te staan kom, gee nie alleen aan ons die geleentheid om lydsaamheid te leer nie, maar moet, soos Salomo aangetoon het, dit ook by ons inskerp dat ons nie kan sê wat die toekoms gaan bring nie. Daar is geen uitsonderings nie; onheil kan die regverdige sowel as die goddelose tref. Trouens, regverdige mense kan ly terwyl goddelose mense oënskynlik voorspoedig is. Salomo het voorts gesê: “Alles het ek gesien in die dae van my nietigheid: daar is ’n regverdige wat ondanks sy regverdigheid omkom, en daar is ’n goddelose wat ondanks sy goddeloosheid lank lewe.”—Pred. 7:15.
Hierdie situasie ontstel natuurlik baie mense. Hulle word selfs vir die Allerhoogste kwaad. Maar dit is iets wat vermy moet word. Ons moet liewer op God vertrou, gedagtig daaraan dat hy ’n God van liefde is (1 Joh. 4:8). Wat hy ook al toelaat, sal iemand nooit blywende skade berokken nie. Die feit dat die goeie sowel as kwade ’n persoon kan tref, moet ons laat besef hoe belangrik dit is om nie op onsself nie, maar op God te vertrou. Hoewel ons sekere dinge nou nie verstaan nie, kan ons verseker wees daarvan dat nadat alles sy volle gang gegaan het, die dinge wat God toegelaat het ’n nuttige doel vir al die betrokkenes sou gedien het.
Die apostel Petrus het dit duidelik getoon toe hy kommentaar gemaak het oor die lyding wat medegelowiges in sy dag verduur het: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus” (1 Pet. 4:12-14). “Mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”—1 Pet. 5:10.