Verbly jou in jou diens aan Jehovah
“Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.”—Ps. 100:2.
1, 2.Hoe word daar dikwels na geluk gesoek, en wat was Jesus se beskouing van wat geluk bring?
WIL jy graag gelukkig wees? ‘Maar natuurlik’, antwoord jy miskien, ‘wil almal dan nie’? Ja, die meeste mense jaag hulle hele lewe lank geluk na, maar die meeste van die aarde se bewoners vind nooit werklik daardie gemoedsrus, tevredenheid en vreugde wat kenmerkend van ware, blywende geluk is nie. Baie mense wat glo dat materiële dinge hulle gelukkig sal maak, beywer hulle om nog meer besittings te verwerf. Maar is die najaging van materiële dinge die manier om blywende geluk te vind? Indien nie, hoe kan dit dan gevind word?
2 Dit is nie moeilik om op hierdie vrae te antwoord as ons besef dat blywende geluk nie hoofsaaklik van fisiese omstandighede afhang nie. In Jesus se Bergpredikasie word materiële besittings nie eers in sy “saligsprekinge” genoem nie. Hy het eerder gesê: “Gelukkig is die wat bewus is van hulle geestelike behoefte . . . Gelukkig is die wat honger en dors na geregtigheid . . . Gelukkig is die barmhartiges . . . Gelukkig is die vredeliewendes.”—Matt 5:3-9, NW.
3. Is dit werklik moeilik om die weg van ware tevredenheid en geluk te vind?
3 Al dink party ook dat geluk en ware tevredenheid ontwykend is, is dit nie ver van ons af nie, want dit kan nou verbonde aan ware aanbidding van die Skepper, Jehovah God, gevind word. Hy word die “gelukkige God” genoem en aangesien hy die mens na sy beeld geskep het, volg dit dat hy wil hê dat ons ook gelukkig moet wees (1 Tim. 1:11, NW; Gen. 1:27). Hy maak dit maklik moontlik om uit te vind wat sy voorneme met ons is, en wat ons moet doen. Die apostel Paulus het vir ’n groep filosowe van Athene gesê dat God die mens geskep het en dat hy wil hê dat die mens na hom moet “soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie”.—Hand. 17:26, 27.
JESUS SE BESKOUING VAN WAT VREUGDE VERSKAF
4. Waarom kan ons ons vertroue stel in Jesus se raad dat ’n persoon nie vol angs en bekommernis oor materiële dinge moet wees nie?
4 In hierdie wêreld vind baie mense dat dit ’n stryd is om die lewensbenodigdhede te bekom. Maar moet dit so wees? Dit kos inderdaad werk om ’n bestaan te maak. Maar Jesus Christus het getoon dat dit onnodig is om ’n mens te bekommer en die nodige angstig na te jaag (Matt. 6:25). Jesus het geweet waarvan hy praat, want hy het as ’n agent van sy Vader gedien toe die mensdom in die begin geskep is (Kol. 1:15, 16). Hy het God se sorg en voorsienings vir die wat Hom dien, waargeneem en hy kon saamstem met Dawid se stelling: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.”—Ps. 37:25.
5. Was die ekonomiese toestande gedurende en na Jesus se aardse bediening makliker as wat hulle in ons tyd is, sodat sy woorde vandag minder op ons van toepassing is?
5 Jesus het op ’n onstuimige tyd na die Joodse nasie gekom. Hy het geweet dat daar baie moeiliker tye sou kom voordat baie jare verloop het. Omdat hy God se hoogste verteenwoordiger by die mense was, kan ons daarvan seker wees dat hy ernstige, eerlike raad gegee het toe hy gesê het: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matt. 6:31-33.
6. Kan iemand wat op God vertrou om in sy behoeftes te voorsien terugsit en wag dat God daarin moet voorsien?
6 Jesus het geweet dat sy Vader die lewende God is wat in staat en bereid is om sy groter mag te gebruik om vir die een wat hom dien en sy Woord van waarheid uitlewe te sorg. Dit beteken nie dat hy sy dienaar sal voed en klee sonder dat die indiwidu enige poging aanwend nie. Die dienaar van God moet ’n gebalanseerde beskouing hê en vir die nodige dinge werk, maar dit nie ál maak wat hy najaag nie. Hy moet uitvind wat God wil hê hy moet doen deur Sy Woord te ondersoek. Hy moet inderdaad die geestelike deel van sy lewe die vernaamste maak. Dan sal God sy deel doen en die persoon in staat stel om die dinge te kry wat hy nodig het.—Filip. 4:19.
DIE HOOFBRONNE VAN WARE VREUGDE
7. Wat is waarskynlik die vernaamste bron van geluk vir ’n persoon wat die waarheid leer ken?
7 Hierdie versekering en die bewys wat God gelewer het dat hierdie belofte waar is, sal ’n bron van geluk wees. Die vernaamste dinge wat geluk of vreugde verskaf, is: Eerstens, ’n begrip van God se voorneme met die aarde en die mensdom daarop, en die plek wat die indiwidu in daardie voorneme beklee. Dit gee ’n oogmerk, ’n doel aan die lewe, wat baie belangriker vir geluk as blote besittings is.
8. Hoe is die apostel Paulus se woorde in 1 Timotheüs 4:8 tans op ons van toepassing?
8 Die lewe wat God van ’n mens verwag, bevry jou van baie vrese en gevare. Diegene wat behoorlik vir hulle gesinne sorg, materieel sowel as geestelik, smaak vreugde, omdat hulle gewoonlik gelukkiger gesinsverhoudings het. Hulle kinders word groot met ’n doel in die lewe. Dit is baie makliker vir so ’n gesin om te sien hoe vergeefs dit is om geluk in dwelmmiddels, onsedelike omgang en die najaging van doelwitte wat geen blywende loon het nie, te soek. Sodoende spring hulle baie siektes, verstandelik en liggaamlik, vry wat voortspruit uit die losbandige, verkwistende, onnatuurlike lewenswyse wat vandag deur ’n groot aantal mense nagejaag word. In hierdie verband het die apostel Paulus gesê: “Die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.”—1 Tim. 4:8.
9. Watter verdere vreugde, benewens die vreugdes wat reeds opgenoem is, het ’n mens as jy tot ’n kennis van die waarheid kom en daarvolgens leef?
9 Daarbenewens bestaan daar ’n werklike broederskap onder diegene wat God dien. Hulle is miskien nie altyd in die guns van bloedverwante nie. Hulle verloor dalk vriende. Maar Jesus het beloof: “Daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise of broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.”—Mark. 10:29, 30.
10. Wat is ‘n groot geluk wat net diegene wat die goeie nuus verkondig, kan smaak?
10 ’n Oortreffende geluk in ’n lewe wat volgens die Bybel gelei word, is die vreugde om ander te help. In teenstelling met die algemene idee dat ’n mens geluk smaak as jy dinge ontvang, het die Seun van God gesê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Diegene wat hulle lewens daaraan gewy het om hulle medemens op die gebied van die geneeskunde, die onderwys en dergelike strewes te help, het ’n mate van bevrediging en vreugde gesmaak. Maar hierdie vreugdes ewenaar nie die groot vreugde om jou medemens te help om kennis van God te verkry nie. Dit is omdat kennis van God se weë en sy instruksies ’n mens nie net tydelik help nie—maar dwarsdeur hierdie lewe en ’n hoop op toekomstige lewe bied. Wanneer hulle die waarheid leer ken, leer mense hoe om hulle lewens met God se hulp te lei en hulle probleme op te los of die hoof te bied. Hulle kan op hulle beurt ander help om die weg tot die lewe, waarvan die Bybel vertel, te leer ken. Dit alles dra by tot die vreugde van die onderrigter van die goeie nuus, want hy sien die vrug van sy arbeid, aangesien die goeie nuus uitbrei oor ’n gebied wat baie groter is as wat hy self kon dek. Die vroeë gemeente in Thessalonika is ’n voorbeeld hiervan.—1 Thess. 1:8, 9.
11. Beskrywe die vreugde wat Paulus en Silas gehad het terwyl hulle vervolging in Filippi verduur het.
11 As ons vir ander vreugde kan verskaf, het dit ook genoeglike vreugde vir ons ten gevolge. Paulus en Silas was ongetwyfeld verbaas en bly toe Jehovah wonderdadig die deure van die gevangenis waarin hulle in die Macedoniese stad Filippi aangehou is, oopgebreek het. Maar stel jou die vreugde voor wat hulle gehad het toe die tronkbewaarder, nadat hy besef het dat hierdie manne die allerhoogste God verteenwoordig, hulle uit hulle sel gebring en gevra het: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Toe kon Paulus en Silas God se voornemens deur Christus verduidelik, en die gevolg was dat “hy . . . onmiddellik gedoop [is], hy en al sy mense . . . en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.”—Hand. 16:25-34.
CHRISTENE LAAT NIE TOE DAT TEENSTAND HULLE VREUGDE BEDERF NIE
12. Waarom moet ons nie mismoedig wees omdat party die waarheid teenstaan en ons smaad nie?
12 Party mense is egter nie bly om die waarheid te ontvang nie, en hulle kan die vreugde van die een wat die goeie nuus verkondig, bederf. Hulle kan selfs die verspreiding van die goeie nuus beveg en probeer om dit vir die een wat dit verkondig moeilik te maak deur hom en sy beweegredes verkeerd voor te stel. Dit het met die apostel Paulus gebeur. Toe hy in Rome in die gevangenis was, het Paulus nietemin aan die gemeente in Filippi geskrywe: “Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis, maar ander ook uit welwillendheid: die eerste verkondig Christus uit naywer, nie met suiwer bedoelinge nie, met die mening om aan my boeie verdrukking toe te voeg; maar die ander uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie. Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder ’n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.” Hy het bygevoeg dat hulle hulle “in geen opsig [moes] laat afskrik deur die teëstanders nie. Dit is vir hulle wel ’n bewys van bederf, maar vir julle van redding, en dit van God.”—Filip. 1:15-18, 28.
13. Hoe het die apostels in Jerusalem op bittere vervolging aldaar gereageer?
13 By ’n vorige geleentheid, kort na Pinksterdag, 33 G.J., is die hoëpriester en die Sadduseërs “met nydigheid vervul” oor die openbare getuieniswerk van die apostels, veral oor die feit dat baie mense na hulle geluister het en gelowiges geword het. Hulle het hulle in hegtenis laat neem. Hulle is deur ’n engel vrygelaat en later weer gevange geneem. Toe hulle hulle getuienis hoor, “was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring”. Maar toe ’n hooggerespekteerde Fariseër met die naam Gamaliël gewaarsku het: “Laat hulle staan . . . dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie”, het hulle die apostels net laat slaan en hulle beveel om op te hou met hulle verkondiging. Het hierdie noue ontkoming hulle ontmoedig en hulle hulle vreugde laat verloor? Inteendeel: “Hulle het . . . weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.”—Hand. 5:12-42.
14. Kan ons op net soveel hulp van God reken as wat die Christengemeente in die eerste eeu gedoen het?
14 By hierdie geleentheid en by ander het God wonderdadig ingetree om te laat blyk dat hy die werk om die goeie nuus te verkondig ondersteun het (Hand. 12:1-11). Hy ondersteun dit vandag net soveel terwyl Christus en sy engele oor die werk toesig hou. In hedendaagse tye het Jehovah se dienaars wonderbaarlike bevrydinge ondervind. Hulle het gesien hoe die werk om die goeie nuus bekend te maak oopgaan in gebiede wat tot dusver onmoontlik was om te bereik. God het deur sy gees mense wat voorheen bittere teenstanders was na die waarheid getrek, iets wat ’n mens laat dink aan die bekering van Saulus, wat die apostel Paulus geword het (Hand. 9:1-16). Die hedendaagse voorbeelde is nie so opvallend wonderdadig as dié in die vroeë gemeente nie. God se dienaars kan nietemin die almag agter hierdie gevalle sien—“kragtige werke” van Jehovah.—Gal. 3:5, NW.
15. Wil Christene graag vervolg word, of waarom bied hulle dit die hoof?
15 Met hierdie groot krag agter hulle word diegene wat Jehovah waarlik dien nie deur vrees verlam of dermate ontmoedig dat hulle tou opgooi weens die onverskilligheid van die mense met wie hulle praat nie. Hulle is inderdaad bewus van Jesus se woorde aan sy volgelinge: “Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam.” Hulle herinner hulle ook aan die apostel Paulus se waarskuwing: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (Matt. 10:22; 2 Tim. 3:12). Christene soek of begeer nie vervolging nie, hulle hou ook nie daarvan nie, maar hulle bied dit die hoof wanneer dit oor hulle gebring word, daar hulle weet dat volharding tydens beproewinge hulle tot nut sal strek. Hulle neem die posisie van die vroeë Christene in: “Ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop [dit wil sê, hoop om die beloning te ontvang], en die hoop beskaam nie.”—Rom. 5:3, 4.
16, 17. (a) Wat is van die soldate van Israel in hulle stryd teen die heidense nasies verwag? (b) Kan ons op dieselfde ondersteuning reken terwyl ons vir die mense getuig?
16 Die eertydse psalmdigter het die volk van Israel aangemoedig: “Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel” (Ps. 100:2). Hy wou hê dat die hele Israel by die tempel te Jerusalem moes bymekaarkom om aan reine aanbidding deel te neem. Ons kan krag en bemoediging verkry deur die situasie en geloof van diegene wat Jehovah destyds gedien het in oënskou te neem. Hulle moes gehoorsaam bly aan die Wet, wat die hoogste standaard van sedelikheid bevat het en wat deur sy gesondheids- en voedingswette gehelp het om te verhinder dat getroue Jode omgaan met persone wat nie aanbidders van die ware God was nie. Hulle was omring deur hierdie heidense nasies wat hulle skuldig gemaak het aan elke vorm van onsedelikheid, dikwels as deel van hulle onreine afgodediens. Partymaal is daar van hulle verwag om te veg teen hierdie mense wat oor die algemeen begeer het om Israel te vernietig en hulle land te neem.
17 Stel jou voor watter geloof en moed dit geverg het om in die stryd op te trek teen hierdie nasies, wie se soldate geharde krygsmanne was, terwyl die Israeliete meestal hulle tyd aan vreedsame boerderybedrywighede bestee het. Dink hoe jy sou voel indien jy moes optrek om hand teen hand teen hierdie magtige vyandelike krygsmanne te veg. En dit was nie persoonlike krag nie, maar geloof in God wat Israel in staat gestel het om te wen, want wanneer hulle geloof in God verloor het, was hierdie nasies te veel vir hulle. Dit is baie bemoedigend om verhale soos dié in 2 Samuel 23:8-22 te lees en om terwyl ’n mense lees te besef dat hoewel die manne wat daar genoem word ongetwyfeld sterk, bedrywige manne was, dit hulle geloof in God was wat aan hulle die wonderdadige krag en volhardingsvermoë verleen het. Ons het vandag dieselfde kragtige ondersteuning (Matt. 28:20; Openb. 14:6). Daarom moet ons nie moeg word om goed te doen of terugdeins uit vrees nie, want Jehovah “gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen krag het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”—Jes. 40:29-31.
18. Hoe kan ons vreugde as gevolg van ons geloof werklik groter wees as die vreugde wat daardie eertydse getroue manne gesmaak het?
18 Terwyl ons die goeie nuus verkondig, kom ons nie elke uur voor skielike dood te staan soos daardie stryders destyds nie. En ons het ’n vreedsame boodskap wat inslag vind by die harte van diegene wat werklik luister. Ons vreugde kan dus selfs groter wees. In plaas daarvan om met vernietigende wapens van die vlees te veg, het ons wapens van geregtigheid wat, nie mense nie, maar verkeerde leerstellings en gedagtes uitwis en genesing bring. Die vreugde wat dit verskaf aan die harte van diegene wat hoor en glo, vergroot ons vreugde en versterk ons hoop om in die toekoms die voortreflike beloning te verkry.—2 Kor. 6:4, 7; Kol. 3:23, 24.
[Prent op bladsy 477]
Dit kan groot vreugde verskaf as jy ‘n medewerknemer help om Bybelwaarheid te leer