Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w77 12/15 bl. 565-571
  • Die Christengemeene en hoe dit werk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Christengemeene en hoe dit werk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk—1977
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE GEMEENTE EN SY EENHEID
  • DIE SENTRALE LIGGAAM VAN OUERE MANNE
  • OUERE MANNE IN DIE GEMEENTES
  • BEDIENINGSKNEGTE
  • REISENDE KRING- EN STREEKOPSIENERS
  • VERGADERINGE
  • KONINKRYKSALE EN FINANSIERING
  • Laat die gemeente opgebou word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Opsieners wat as herders oor die kudde toesig hou
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Hoe die Christengemeente georganiseer word
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • “Hou sulke manne in eer”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk—1977
w77 12/15 bl. 565-571

Die Christengemeene en hoe dit werk

DIE mensdom is tans grootliks verdeeld. Godsdienstige, rasse-, nasionale, maatskaplike en taalversperrings kon nie oorkom word nie. Maar hierdie verdeeldheid was nie God se voomeme nie. Aanvanklik was Adam en Eva, die ouers van die mensdom, in volkome eenheid en harmonie met mekaar en, belangriker nog, met God en sy hemelse gesin engeleseuns (Gen. 1:27-31; Job 38:7). God is voornemens om hierdie eenheid en harmonie in die heelal te herstel. Waar die Bybel van “die verborgenheid van [God se] wil” praat, sê dit: “[Dit is] na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—in Hom.”—Ef. 1:9, 10.

Sonder eenheid kan daar geen geluk en vrede op die aarde wees nie. Maar dit kan nie eenheid weens vrees wees soos wat die nasies tans hoop om te bereik om hulleself teen kernoorlog te beskerm nie. Ware vrede moet op hartgrondige eenheid berus—liefde vir mekaar en vir God. Hierdie vereniging in Christus is dus ’n vereniging onder Jehovah God se gesag, ’n erkenning van hom as Soewerein. Gedurende die afgelope 1 900 jaar versamel hy al persone uit alle rasse, nasies en tale om die Christengemeente, met Christus as Hoof, te vorm. In hierdie tyd van die voleinding van die teenswoordige wêreldstelsel van dinge versamel God ook persone wat hoop om hierdie stelsel se einde te oorlewe om vir ewig op die aarde onder God se soewereiniteit te lewe. Bowendien sal Christus gedurende die duisendjarige bewind van sy koninkryk die dode deur ’n opstanding terugbring om almal wat gehoorsaam sal wees in een harmoniese liggaam te verenig.—1 Kor. 15:22, 23.

DIE GEMEENTE EN SY EENHEID

Wat is die gemeente? Die woord “gemeente” is ’n vertaling van die Griekse woord ekklesia, wat letterlik beteken: “’n uitroeping uit”, van ek, “uit”, en klesis, “’n roeping”. Die woord is deur die vroeë Grieke gebruik vir ’n liggaam burgers wat byeengekom het om Staatsaangeleenthede te bespreek. Afrikaanse ekwivalente van die woord is “byeenkoms” en “gemeente”. Party Bybelvertalings gee ekklesia weer as “kerk”. Die ekwivalente Hebreeuse woord is qahal, wat met verwysing na die gemeente van Israel gebruik word.—Vergelyk Psalm 22:23, 26 en Hebreërs 2:12.

Die uitdrukking “gemeente” is, in sy ruimste sin, van toepassing op die hele liggaam van Christendissipels onder Christus as Hoof (Kol. 1:18; Rom. 12:5). Dit word ook in die Bybel met verwysing na plaaslike liggame van Christene gebruik (Hand. 15:41; Openb. 1:4). Elke gemeente moet eenheid binne homself en met die ganse aardomvattende gemeente geniet—hulle is almal soos een. Die soort eenheid wat die gemeente moet hê, word beskrywe in 1 Korinthiërs 1:10: “Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”

Liefde, die grondslag vir eenheid, is die hoofkenmerk van die ware Christengemeente. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Die Bybel beveel Christene: “Beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van volmaaktheid is” (Kol. 3:14). Om hierdie liefdevolle eenheid te bereik moet alle lede van die gemeente God se geesgeïnspireerde Woord bestudeer en dit gehoorsaam. Aldus verkry hulle die sin en die gees of dryfkrag van Christus en verkry hulle sy siening van sake (Rom. 8:9; 1 Kor. 2:16). Hulle leer God ken—sy persoonlikheid, sy goeie hoedanighede en weë, en kan navolgers van hom word (Ef. 5:1). Dit bring eenheid maar nie eenvormigheid nie. Elke lid van die gemeente ‘beklee hom met die nuwe mens’ maar verloor nie sy eie identiteit nie (Ef. 4:22-24). Hy het nog steeds sy eie smaak, talente en vermoëns. Dit werk genotvolle verskeidenheid en geluk in die gemeente in die hand.

DIE SENTRALE LIGGAAM VAN OUERE MANNE

Verenigde, gesamentlike inspanning is nodig om die bekendmaking van die “goeie nuus” oor die hele aarde te voltooi. Eerste-eeuse Christene het hierdie eenheid geniet, soos die apostel Paulus aan die Christengemeente in die stad Filippi in Macedonië geskryf het: “Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie” (Filip. 1:27). Die eerste-eeuse gemeentes het met die gemeente in Jerusalem saamgewerk. Aangesien dit die oudste gemeente was en die liggaam van ouere manne daarvan die apostels ingesluit het, het die ander gemeentes na hierdie liggaam vir raad en leiding gekyk.

Jehovah se Getuies het vandag pogings aangewend om meer van die manier waarop die eerste Christengemeente gewerk het te wete te kom en om daardie Skriftuurlike patroon te volg. Die meer as 40 000 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele aarde werk met ’n sentrale liggaam van ouere manne te Brooklyn, New York, saam. Hierdie liggaam bestaan uit Christenmanne wat ryp, ervare lede van Christus se gemeente is en uit verskeie nasionaliteite en uit verskeie lande kom. Hulle voldoen ook aan die vereistes, soos in 1 Timotheüs 3:1-7 en Titus 1:5-9 uiteengesit word, om herders en opsieners van die kudde van God te wees.

Die werking van die eerste-eeuse liggaam van ouere manne in Jerusalem word toegelig in Handelinge hoofstuk 15. Soos daar getoon word, het God met sy volk gehandel waar hulle ook al op aarde was—sy hele gemeente. Deur die Hoof van die gemeente, Jesus Christus, het God sy dienaars Paulus en Barnabas, wat in nie-Joodse lande gepreek het, in ’n situasie in gelei wat ’n probleem geskep het: Moet dit van nie-Jode wat die Christelike leer aanneem, verwag word om besny te word voordat hulle in die gemeente aanvaar word? Party Joodse Christene het Ja gesê.

Gevolglik het die apostel Paulus en ander die probleem na Jerusalem geneem waar die res van die apostels en die ouere manne van daardie gemeente gewoon het (Hand. 15:1, 2). Met hierdie hele liggaam daar vergader, het Paulus en Barnabas die vraag aan hulle voorgelê. ’n Bespreking het gevolg waarin Petrus die leiding van die gees in verband met die eerste nie-Joodse bekeerling, Cornelius, beskrywe het (Handelinge hfst. 10). Vervolgens het Paulus en Barnabas op soortgelyke wyse getuig. Daardeur het die heilige gees “getuig” wat God se wil in die aangeleentheid is (Joh. 15:26). Om die vraag Skriftuurlik te beslis het God se gees as herinneraar opgetree en Jakobus, die halfbroer van Jesus Christus, se aandag op Amos 9:11, 12 gevestig, en ook as leraar om Jakobus die betekenis van daardie profesie te laat snap (Joh. 14:26). Die aangeleentheid is dus inderdaad deur heilige gees beslis. Gevolglik is daar ’n brief aan al die gemeentes geskrywe om hulle ooreenkomstig die wil van God te lei.—Hand. 15:22-29.

Deur waar te neem hoe daardie Christelike liggaam in Jerusalem gewerk het, kan ons sien hoe die hedendaagse sentrale liggaam van ouere manne funksioneer. Wanneer daar bykomende hulp benodig word, kies die manne wat die sentrale liggaam van ouere manne uitmaak ander ervare manne wat bevoeg is om saam met hulle op hierdie liggaam te dien. Hierdie liggaam reël ook die beoordeling van aanbevelings vir ouere manne wat deur die gemeentes gemaak word en die aanstelling van manne in hierdie posisies. Nog een van sy funksies is die toesig oor die skryf en/of uitgee van die tydskrifte “Die Wagtoring” en “Ontwaak!”, Bybels en ander Bybelpublikasies deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië en die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van New York, Geink., as regsagentskappe te gebruik.

Benewens die bestuur van hierdie aangeleenthede bly die sentrale liggaam deur middel van takkantore in noue verbinding met die gemeentes oor die hele wêreld. Hulle hou die sendingskool Gilead te Brooklyn, New York, in stand, reël die aanwysing van sendelinge oor die hele aarde en sorg dat bekendmakers van die “goeie nuus” van die Koninkryk afgesonderde plekke bereik. Lede van hierdie liggaam besoek hierdie ander lande van tyd tot tyd. Dit help dat wêreldwye eenheid van denke en optrede gehandhaaf word (1 Kor. 1:10). Hierdie manne assosieer met en dien as ouere manne in plaaslike New Yorkse gemeentes. Hulle is nie heersers of “meesters” van die lewens of geloof van Jehovah se Getuies nie, maar word beskou as broers en gelykes wat ’n plig van rentmeesterskap het.—1 Kor. 4:1, 2; 2 Kor. 1:24; 1 Pet. 4:10.

OUERE MANNE IN DIE GEMEENTES

Elke plaaslike gemeente het op sy beurt sy liggaam van “ouere manne” of “opsieners” (Grieks, episkopoi). Die ouere manne is geensins meerderwaardige persone nie, maar is inderdaad dienaars van die “kudde” van God. Hulle gesindheid en werk word beskrywe deur die apostel Petrus in 1 Petrus 5:1-4, waar hulle “herders” genoem word. Hulle moet die “kudde” in hulle sorg help. Die uitdrukkings wat op hierdie manne toegepas word, is nie titels nie, maar dit dui inderdaad eerder aan dat hulle in werklikheid “ouderlinge”, “ouere manne”, is wat as ryp Christelike manne aangestel is om ’n herderswerk te doen en toesig oor geestelike aangeleenthede te hou. Spesiale titels wat ’n klas “geestelikes” van ’n “lekedom” onderskei, word nie onder Jehovah se Getuies gebruik nie.—Job 32:21, 22.

Manne wat deur elke gemeente aanbeveel word om as ouere manne of opsieners erken te word, word gekies volgens die Skriftuurlike vereistes wat uiteengesit word in 1 Timotheus 3:1-7, Titus 1:5-9 en ander tekste wat die hoedanighede en werk van ware opsieners beskrywe. “Heilige gees” dui aldus vir die sentrale liggaam van ouere manne aan wie hulle moet aanstel “om as herders die gemeente van God te versorg”.—Hand. 20:28.

Die toesig oor die kudde van God is ’n “herders”-werk. Waar hy sê dat hulle “vir die gemeente van God sorg [moet] dra” gebruik die apostel Paulus die Griekse woord epimeléomai, wat beteken “om te sorg”, iets wat voorsorg en voorsiening vereis daar epi ‘die vestiging van die gedagte op die voorwerp wat versorg word’, aandui (1 Tim. 3:5). In Lukas 10:34, 35 word die woord in verband met die goeie Samaritaan se sorg vir die gewonde man gebruik.

Derhalwe is die vernaamste funksie van die ouere manne om goed vir die gemeente se geestelikheid te sorg, om hulle te leer, te help, tereg te wys, te herstel, te vermaan. Die ouere manne is besorg oor die gemeente, nie as ’n massa mense nie, maar oor die geestelike welsyn van elke afsonderlike lid. “Bekwaam om te onderrig” sluit in dat die ouere manne die vermoë moet hê om goeie raad te gee aan indiwidue, egpare en gesinne in verband met die toepassing van die Skrif in hulle lewens en probleme.—1 Tim. 3:2; 2 Tim. 4:2; 2:24, 25.

Die ouere manne van ’n gemeente vergader wanneer dit nodig is om sake waarin daar geskille tussen lede van die gemeente, of waarby daar klagtes van oortreding betrokke is, te verhoor. Hulle moet egter nie as hardvogtige regters beskou word nie, maar liewer as liefdevolle broers wat in die herstel van die oortreder belangstel. Hulle doel is om die betrokkenes te help om hulle probleem volgens die leiding van God se Woord op te los en om die morele reinheid van die gemeente ooreenkomstig die Skrif te handhaaf. Dit verseker dat hulle steeds God se guns geniet en verhoed ook dat daar smaad op God se gemeente gewerp word (1 Pet. 2:15, 16). Barmhartigheid en die goeie geestelike aansien van die gemeente is dus die vernaamste faktore. Geen steen word onaangeroer gelaat om die persoon wat verkeerd gedoen het te ‘win’ om hom te help om te herstel, om van gedrag te verbeter en terug te kom in ’n gesonde geestelike toestand nie (Matt. 18:15). As indiwidue egter Skriftuurlike beginsels erg skend en geen ware berou of begeerte toon om ’n slegte gebruik te laat vaar nie, kan die liggaam van ouere manne optree en die oortreder “uitsit”. Hierdie optrede is ’n afskeiding of beëindiging van geestelike gemeenskap en sosiale intiemheid.—1 Kor. 5:9-13.

Behalwe dat dit verhoed dat die gemeente daarvan beskuldig word dat hulle oortreding vergoelik, kan uitsetting die oortreder help om tot sy sinne te kom (1 Tim. 1:20). So ’n persoon kan, as hy later berou kry en sy verkeerde weg verlaat en versoek om herstel te word, teruggeneem word nadat die liggaam van ouere manne sy veranderde weg en gesindheid in oorweging geneem het (2 Kor. 2:5-8). Terwyl hy nog uitgesit is, word die indiwidu nie mishandel of beledig nie, maar word hy beskou soos Jesus gesê het hy beskou moet word, naamlik “soos ’n man van die nasies”, dit wil sê, soos iemand wat in die wêreld daarbuite is, nie soos ’n lid van die Christengemeente nie.—Matt. 18:17, NW.

BEDIENINGSKNEGTE

“Bedieningsknegte” (Grieks, diakonoi, knegte of bedienaars) word gekies op grond van die vereistes wat in 1 Timotheüs 3:8-13 neergelê word. Hierdie manne werk onder die toesig van die ouere manne om te help om in die gemeente se baie behoeftes te voorsien. Hulle doen dit deur na die state van die gemeente om te sien, die vergaderplekke skoon en goed toegerus te hou en te sorg dat die mense in die gemeenskap stelselmatig met die “goeie nuus” bereik word. Dit vereis weer gebiedskaarte, gebiedstoewysings aan indiwidue en groepe, beplanning sodat alle lede van die gemeente die nodige Bybellektuur het om te getuig en te onderrig, hulp aan nuwelinge om die “goeie nuus” te verkonding, besoeke aan belangstellende persone, hulp aan behoeftiges of siekes, ensovoort. Hulle, sowel as die ouere manne, dien ooreenkomstig die ‘gawes’ wat God goedgevind het om aan hulle te gee (Rom. 12:6-8). Geeneen van die ouere manne of bedieningsknegte ontvang ’n salaris as sodanig nie. Hulle dienste word vry gelewer.

Hoewel vroue deelneem aan die werk om die “goeie nuus” bekend te maak en aan die mense te leer, net soos vroue van die vroeë Christengemeente gedoen het, word geeneen van hulle as ouderlinge aangestel nie. Dit is in ooreenstemming met die apostel Paulus se woorde in 1 Timotheüs 2:12 en 1 Korinthiërs 14:34.

Om spesiale opleiding vir die ouere manne te voorsien, word daar van tyd tot tyd ’n skoolkursus op gerieflike plekke aangebied. Alle ouere manne van die gemeentes word na hierdie skole, wat “Koninkryksbedieningskole” genoem word, genooi, waar hulle voorsien word van ’n leerboek wat op hulle behoeftes toegespits is. Bevoegde onderrigters hou die skole. Plaaslike gemeentes verskaf voedsel en huisvesting aan diegene wat van buite die skool se omgewing na die skool toe kom. ’n Soortgelyke skool word voorsien vir die opleiding van “pionier”-Getuies—diegene wat gereeld elke maand negentig uur of meer aan die regstreekse verkondiging van die goeie nuus wy.

REISENDE KRING- EN STREEKOPSIENERS

Ouere manne wat in ’n posisie verkeer om al hulle tyd of ’n groot deel daarvan daaraan te wy om as kringopsieners te werk, word aangestel om sowat twintig gemeentes in ’n gegewe gebied gereeld te besoek. Die kringopsiener se werk is om saam te werk met die ouere manne in die gemeentes wat hy besoek, om probleme wat ontstaan te bespreek en om die gemeente aan te moedig deur gemeenskap en deur met soveel lede van die gemeente moontlik saam te werk in die voortreflike diens om die “goeie nuus” te verkondig. Hy hou ook toesprake waarin hy almal aanspoor om vooruitgang in die geloof te maak.—Rom. 1:11, 12.

Die werk van die streekopsiener is soortgelyk aan dié van die kringopsiener. ’n Streek bestaan gewoonlik uit omtrent twintig kringe of dele daarvan. Die streekopsiener besoek hierdie kringe, waarin daar dan “kringbyeenkomste” in gerieflike stede of in ’n sentrale Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies gehou word. Hy dien as voorsitter by sulke vergaderinge. Hierdie byeenkomste duur gewoonlik twee dae. Opbouende toesprake en besprekings deur die kring- en streekopsieners en ander plaaslike ouere manne handel Skriftuurlik oor die lewe van ’n Christen, sy werk en probleme. Die sentrale liggaam van ouere manne hou toesig oor die opstel van sketse vir programme vir twee sulke byeenkomste per jaar. By hierdie byeenkomste word daar ’n doopdiens gehou.

VERGADERINGE

Jehovah se Getuies hou as ’n gemeente elke week die volgende vergaderinge op vasgestelde tye wat plaaslik die gerieflikste is.

Gemeenteboekstudie. Een maal per week vergader Jehovah se Getuies en persone wat die Bybel saam met hulle bestudeer by huise in hulle verskillende buurte vir ’n studie van een uur; hulle gebruik die Bybel en ’n Bybelhandleiding wat onder die leiding van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies geskryf is. Hier kan ’n persoon ander in sy buurt wat God dien intiem leer ken. Omdat die groep klein is, is dit vir ’n persoon ’n aansporing om met vrymoedigheid te spreek en gewoond te raak daaraan om sy geloof voor ander te bely (Hebr. 13:15). Hy het ook die geleentheid om vrae te stel en antwoorde te kry, met ’n bespreking van tekste ter ondersteuning daarvan. Dit vergroot ’n mens se kennis van die Bybel.—Spr. 27:17.

Die huis waar die gemeenteboekstudie gehou word, dien gewoonlik as ’n vergaderplek vir die groep op ander tye, om daarvandaan die huise van die mense in die buurt met die “goeie nuus” te besoek. Hierdie groepreëling bied persone wat goed vorder met hulle studie van die Bybel die geleentheid om hulp te ontvang met hulle pogings om die “goeie nuus” aan ander te verkondig.

Openbare vergadering. Elke week, gewoonlik op Sondag, kom die gemeente bymekaar om na ’n openbare toespraak te luister. Sketse oor ’n groot verskeidenheid Bybelonderwerpe word voorsien, en bevoegde sprekers, gewoonlik ouere manne, hou die toesprake. As ’n persoon sy Bybel saambring, het hy die geleentheid om die spreker te volg wanneer dié Skriftuurplase aanhaal of noem, en aldus word hy in staat gestel om ’n begrip te kry van wat die Bybel oor die onderwerp leer.

“Wagtoring”-studie. Hierdie vergadering volg gewoonlik op die openbare vergadering. Dit is ’n Bybelstudie met behulp van die tydskrif “Die Wagtoring”. Die prosedure wat hier, met die hele gemeente aanwesig, gevolg word, is soortgelyk aan dié van die klein groepie by die gemeenteboekstudie. Vrae word deur die voorsitter gestel en die gehoor lewer vrywillige kommentaar.

Teokratiese Skool. Elke gemeente hou hierdie skool om al die lede wat ingeskryf het te help om hulleself beter toe te rus om die waarheid effektief met ander te bespreek. Dit rus baie toe om “’n voorbeeld vir die gelowiges in woord” te word terwyl hulle openbare toesprake hou en die gemeente van die verhoog af vermaan en leer. Aan almal in die skool word toesprake oor Bybelonderwerpe toegewys, en almal word deur vriendelike, private raad deur die ouere man wat die skool hou, gehelp om vooruitgang te maak (1 Tim. 4:12, 13, 15; 2 Tim. 2:15). Enigeen wat aan die gemeente verbonde is, mag inskryf. Sodoende raak hulle meer effektief om in die huise van belangstellende persone te praat en te onderrig.

Diensvergadering. Hierdie vergadering, wat gewoonlik nog dieselfde aand op die Teokratiese Skool volg, word so genoem omdat dit spesifiek die aandag op die diens van die Christen teenoor Jehovah God vestig. Dit sluit aangeleenthede van alledaagse lewe asook hoe om die “goeie nuus” aan die mense te verkondig en te leer in. Maniere om Bybelwaarheid aan ander aan te bied, die opleiding en dissiplinering van kinders, gedrag, ondervindings van die Getuies tydens die verkondiging van die “goeie nuus”, hoe om lewensprobleme die hoof te bied, ensovoort, word bespreek. Die program sluit toesprake en groepbesprekings in. Ook word Bybelbesprekings met ander wat ’n horende oor het, en die hou van Bybelstudies in die huise van belangstellendes, by hierdie vergadering gedemonstreer.

KONINKRYKSALE EN FINANSIERING

Jehovah se Getuies noem hulle gemeentelike vergaderplekke “Koninkryksale”. Soms huur hulle plekke, maar dikwels bou die Getuies pragtige, dog eenvoudige, praktiese sale. Oor die algemeen word die meeste van die bouwerk deur die Getuies self gedoen. Die bou en instandhouding van Koninkryksale en alle ander uitgawes van die gemeente word deur vrywillige bydraes van lede van die gemeente gedek. By die vergaderinge van Jehovah se Getuies word daar geen kollekteborde rondgestuur nie, en mense word nooit gevra om geld te gee nie. Daar word ’n bussie vir bydraes in die saal geplaas en elkeen wat graag wil help om onkoste te dek kan bydra soos hy dit goedvind.—Matt. 6:3, 4.

Net so word die wêreldomvattende werk van Jehovah se Getuies ondersteun deur bydraes van diegene wat begeer om te sien dat “hierdie goeie nuus van die koninkryk” verkondig word (Matt. 24:14, NW). Bydraes wat van belangstellendes vir Bybellektuur ontvang word, help om druk- en verspreidingskoste te bestry.

Daar hulle besef dat die “gemeente . . . van die lewende God” “’n pilaar en grondslag van die waarheid” op die aarde is, hou Jehovah se Getuies hulle streng by die Bybel wat die struktuur en funksionering van die gemeente betref. Hulle doel is dat die gemeente waarlik baie persone moet help om God se reëlings te leer ken en om volgens die waarheid te lewe, en om die God van waarheid te verheerlik.—1 Tim. 3:15.

[Prent op bladsy 568]

Liggaam van ouere manne in V.S.A.

[Prente op bladsy 570]

Gesin gaan Koninkryksaal in Australië binne

Getuieniswerk in Brasilië

. . . in die Ivoorkus

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel