’n Koninkryks-“teken” vervul
WAT ’N SKOK! In 1914 G.J. is hierdie aarde getref deur ’n skokgolf waarvan dit nooit herstel het nie. Want die Eerste Wêreldoorlog het die mensdom in swaar tye gedompel wat tot vandag toe voortduur. Soos die Engelse filosoof Bertrand Russell dit gestel het: “Sedert 1914 steier die wêreld soos ’n dronk man in die rigting van ’n ramp.” En meer as 50 jaar na 1914 het die staatsman Konrad Adenauer van Duitsland gesê: “Gedagtes en beelde skiet my verstand te binne, . . . gedagtes oor dae voor die jaar 1914 toe daar ware vrede, rus en veiligheid op hierdie aarde was—’n tyd toe ons nie vrees geken het nie. . . . Sedert 1914 het veiligheid en rus uit die lewens van mense verdwyn.”
Wat ’n keerpunt was daardie jaar 1914 tog! Toe die vernaamste nasies van die aarde by volskaalse oorlogvoering betrokke geraak het, is bestaande regeringsvorms tot in die fondamente geskud. Tot op daardie tyd is ’n groot deel van die aarde deur koninkryke met werklike konings regeer. Maar die een na die ander het hierdie koninkryke gewankel en geval. Russiese tsaredom is die nekslag toegedien, en is spoedig deur ateïstiese Kommunisme vervang. Sosialistiese regerings het opgang gemaak.
Maar wat het dit alles met God se koninkryk te doen? Toe Jesus hier op die aarde was, het sy dissipels baie in daardie koninkryk belang gestel. Een keer het hulle vir hom gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms [teenwoordigheid, NW] en van die voleinding van die wêreld?” Hierdie “teenwoordigheid” verwys na wanneer hy teenwoordig is as heersende koning met die doel om die nasies op aarde te oordeel. Hoe weet ons dit? Want toe hy sy dissipels se vraag beantwoord, het Jesus gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word” (Matt. 24:3; 25:31, 32). Sy “teenwoordigheid” is dus in die geesteryk. Dit is waarom daar ’n sigbare teken gegee word om aan mense op aarde te toon dat hy as Koning begin regeer het.
Laat ons enkele van die aspekte van die “teken” wat Jesus gegee het, ondersoek. Terwyl ons dit doen, kan ons ons afvra: Wys hierdie dinge waarlik ons tye sedert 1914 haarfyn aan as “die voleinding van die wêreld”? Jesus het eerstens gepraat van
internasionale oorloë, “die een nasie . . . teen die ander . . . en die een koninkryk teen die ander” (Matt. 24:7, 8). Sedert 1914 het die twee wêreldoorloë alleen 69 miljoen lewens geëis. En nou staan ons op die randjie van kernoorlog. Dit is betekenisvol dat die Verenigde State se voormalige Minister van Buitelandse Sake Henry A. Kissinger op 10 Januarie 1977, net voordat hy sy amp neergelê het, gesê het: “Die Amerikaanse volk moet verstaan dat strategiese kernwapens die hele mensdom konfronteer met ’n nuwe situasie, naamlik dat die mensdom homself vir die eerste keer in die geskiedenis letterlik kan vernietig.” Wat ’n skrikwekkende moontlikheid is dit tog! Voorwaar, die vervulling van nog ’n aspek van Jesus se “teken” is duidelik vir almal om te sien:
“Daar sal . . . op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid [wees] . . . en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom.”—Luk. 21:25, 26.
Die onrus op die aarde toon dat die vasgestelde “tye van die nasies” om onafhanklik van God te regeer in 1914 verstryk het. Ons lewe in die tyd van wêreldomvattende benoudheid wat die vervanging van menseregering deur God se koninkryk, tot die ewige voordeel van die mensdom, onmiddellik voorafgaan.—Luk. 21:24.
ANDER ASPEKTE VAN DIE “TEKEN”
Jesus se “teken” het egter nog talle meer aspekte. Hy het gesê dat die “voleinding van die wêreld” gekenmerk sal word deur “hongersnode”. Op die hakke van die Eerste Wêreldoorlog het verskriklike hongersnode die lewens van miljoene geëis, en nou laat die bevolkingsontploffing van die twintigste eeu, gepaard met administratiewe verdeeldheid en hebsug, vyfhonderdmiljoen mense ondervoed of sterwend weens hongerte. Jesus het ook gepraat van “aardbewings op verskillende plekke” (Matt. 24:7). Dié is sekerlik opvallend sedert 1914, met die een in Tangsjan, China, in 1976, bo-aan die lys. Van laasgenoemde het Huo Kua-feng, voorsitter van die Kommuniste-party, gesê: “Dit het ’n verlies van lewe en eiendom veroorsaak wat selde in die geskiedenis gesien is.” Meer as 655 000 is gedood en 790 000 is beseer, sodat die totale lewensverlies in aardbewings sedert 1914 heelwat meer as 1 500 000 persone beloop. Daar was voorwaar ’n menigte aardbewings sedert 1914—as deel van die “teken”.
Ruimte laat ons nie toe om al die aspekte van Jesus se “teken” hier te bespreek nie. Maar dit kan duidelik gesien word. Selfs pouse van die Rooms-Katolieke Kerk het hulle dan glad uitgespreek oor die belangrikheid van die “teken”. In sy ensikliek van 1 November 1914 het pous Benedictus XV gesê dat die Eerste Wêreldoorlog die “begin van die wêreld se doodsmarte” is. En sy opvolger, pous Pius XI het in die Ensikliek “Miserentissimus Redemptor” die treurige toestand van die wêreld hersien en tot die slotsom gekom: “Dit is inderdaad onmoontlik om nie te dink dat hierdie dinge waarlik tekens van die laaste dae is soos dit deur Onse Here aangekondig is nie.” Waarom het die Katolieke Kerk dan nie Jesus se verdere woorde in verband met die “teken” gehoorsaam nie? Jesus het gesê: “En hierdie evangelie [goeie nuus] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matt. 24:14.
Ongelukkig het Katolisisme sowel as Protestantisme versuim om aan die wêreld bekend te maak dat God se koninkryk nou ophande is. Dit is aan die Christengetuies van Jehovah oorgelaat om daardie werk te doen. En soos een hedendaagse geskiedskrywer gesê het: “Jehovah se Getuies het letterlik die aarde met hulle getuieniswerk gevul.”a
Dit is nou die tyd om die dringendste aandag aan Jesus se profesie te skenk. En waarom is dit die geval? Dit is omdat ons al ver gevorder het in die geslag wat die begin van hierdie “smarte” van die mensdom gesien het (Matt. 24:8). Ons kom vinnig nader aan die klimaks van die “teken” waarvan Jesus gesê het:
“Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”—Matt. 24:21, 22, 34.
Wil jy onder die begunstigdes wees wanneer die finale verdrukking toeslaan? Dan moet jy uitvind hoe God se koninkryk jou kan baat!
Op bladsy 11 begin ons met ’n nadere ondersoek oor hoe die groot behoefte aan hierdie Koninkryksregering ontstaan het, die vereistes waaraan die Koning daarvan moet voldoen, en waarom dit duisende jare geduur het vir God om vir die Koninkryk voor te berei.
[Voetnoot]
a C. S. Braden, These Also Believe, 1950.