DIE BERGPREDIKASIE Saligsprekinge 4 en 5
DIE vierde ‘saligspreking’ van Jesus se Bergpredikasie lui: “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Matt. 5:6). Lukas se verslag van hierdie stelling lui: “Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word.”—Luk. 6:21.
Uit Lukas se Evangelie alleen kan ’n mens miskien dink dat Jesus uitsluitlik gepraat het van persone wat honger het na stoflike voedsel. Mattheüs stel dit egter duidelik dat hy verwys het na diegene met ’n vurige begeerte na geregtigheid. Hierdie gedagtes kom egter met mekaar ooreen. Persone wat ’n gebrek het aan letterlike voedsel en drank is dikwels pynliker bewus van die grootskaalse onregverdigheid van die huidige stelsel van dinge. Hulle honger of smagting na geregtigheid kan derhalwe des te groter wees.
Die “geregtigheid” waarna Jesus verwys het, beteken die soort regtheid wat ten volle met God se wil en gebooie ooreenstem. Die psalmis het ’n soortgelyke gedagte as die van Jesus uitgespreek toe hy gesê het dat hy “vergaan van verlange” na God se regverdige verordeninge.—Ps. 119:20; vergelyk Jesaja 26:9, 10.
In teenstelling met hierdie saligspreking het Jesus gesê: “Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly” (Luk. 6:25). Diegene wat “vol” is, voel tevrede met die dinge wat hierdie wêreld aanbied. Al beweer hulle miskien dat hulle aan God glo, erken hulle nie dat hulle hom baie nodig het nie en het hulle ook nie ’n begeerte na sy vereistes vir geregtigheid nie (Openb. 3:17). Tye van rampspoed kan egter vir ’n kort rukkie so ’n honger na goddelike leiding laat ontstaan. Dit sal veral die geval wees wanneer God die huidige stelsel van dinge tydens die naderende “groot verdrukking” tot ’n einde bring (Matt. 24:21; Openb. 7:14). Sulke persone wat voorheen selfvoldaan was, sal dan “honger ly”. Hulle wanhopige uitroepe om God se hulp en leiding sal op dowe ore val. (Vergelyk 1 Samuel 28:4-6; Psalm 18:42; Spreuke 1:28-32.) Dan sal hulle nie die woord van Jehovah hoor nie; inteendeel, hulle sal ’n hopelose ‘honger en dors’ daarna ondervind.—Amos 8:11, 12.
Maar Jesus noem diegene wat nou honger en dors na geregtigheid “salig” of “gelukkig”. Waarom? Omdat hulle ten volle “versadig” sal word. Jesus het self veel hiertoe bygedra. Hy het enersyds die geveinsdheid van skynheilige godsdiensleiers “wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is” aan die kaak gestel en andersyds verkondig dat almal wat hulle sondige toestand bely en berouvol om vergifnis vra ’n regverdige posisie voor God kon verkry.—Luk. 18:9-14; vergelyk Mattheüs 5:20; 23:23, 24.
Die verdere versadiging van honger en dors na geregtigheid is deur Jesus se dood en opstanding moontlik gemaak. Ons lees hieromtrent: “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”—Rom. 3:23, 24; vergelyk Jesaja 53:11; Daniël 9:24-27; Openbaring 7:9, 14.
Na Pinkster van 33 G.J. was dit moontlik om hierdie lewensbelangrike honger en dors verder te versadig, omdat die heilige gees toe begin het om “die wêreld [te] oortuig van geregtigheid” (Joh. 16:8). Dit is bewaarheid, aangesien God se gees daarvoor verantwoordelik was dat die Christelike Griekse Skrifte, ’n onmisbare instrument vir “onderwysing in die geregtigheid”, geskryf is (2 Tim. 3:16). Dieselfde werkende krag van God stel mense in staat om hulle te beklee met “die nuwe persoonlikheid”, wat goddelose werke en geveinsdheid met “ware geregtigheid” vervang (Ef. 4:24, NW). Wanneer getroue aanbidders van God die ewige lewe onder volkome regverdige toestande verkry, sal hulle honger en dors na geregtigheid finaal en volkome versadig word.—2 Pet. 3:13; Openb. 21:1-5.
Barmhartigheid aan “die barmhartiges”
Vervolgens in die Bergpredikasie het Jesus gesê: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”—Matt. 5:7.
Barmhartigheid is nie bloot die betoning van liefdadigheid nie, want ’n mens kan dit huigelagtig doen (Matt. 6:1, 2). “Die barmhartiges” is persone wat opreg deur deernis en medelye met die ongelukkiges beweeg word en wat derhalwe in hulle belang optree. Jesus het in hierdie opsig ’n volmaakte voorbeeld gestel. Die Skrif sê herhaaldelik dat Jesus “innig jammer” gevoel het vir mense voordat hy lyding en ontbering op wonderdadige wyse verlig het.—Matt. 14:14; 15:32-38; 20:34; Mark. 1:40-42; Luk. 7:13-15.
Barmhartigheid word op twee maniere betoon: (1) in ’n regterlike sin wanneer mense diegene vergewe wat teen hulle sondig; (2) deur positiewe dade van vriendelikheid, bedagsaamheid en medelye wat verligting bring vir persone wat met moeilike omstandighede te kampe het.
Jehovah is die grootste voorbeeld van iemand wat berouvolle sondaars vryelik vergewe en Christene word aangespoor om hom na te volg (Ex. 34:6, 7; Ps. 103:10; Spr. 28:13; Ef. 4:31-5:2). Persone wat God graag wil behaag, moet bereid wees om op ’n positiewe manier alles in hulle vermoë te doen om slagoffers van moeilike omstandighede te help (Luk. 10:20-37). ’n Besonder goeie manier waarop barmhartigheid betoon kan word, is deur Bybelwaarheid met ander te deel. Ons lees dat toe ’n skare mense Jesus teëgekom het terwyl hy op pad was om ’n bietjie te gaan rus, hy “vir hulle innig jammer gevoel [het], omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer”.—Mark. 6:34.
Die barmhartiges is “salig” of “gelukkig” omdat daar aan hulle “barmhartigheid bewys [sal] word”. In een sin ondervind hulle dit in hulle daaglikse doen en late met hulle medemens. Wanneer ander barmhartig behandel word, spoor dit hulle aan om ook so op te tree (Luk. 6:38). Maar die belangrikste is dat die barmhartiges barmhartigheid van God sal ontvang.
Jakobus skryf in hierdie verband: “Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys nie; en die barmhartigheid roem teen [seëvier oor, NW] die oordeel” (Jak. 2:13). Wanneer hulle deur God geoordeel word, sal persone wat ware medelye betoon het, vind dat die barmhartigheid wat hulle aan ander bewys het as ‘t ware seëvier oor enige ongunstige oordeel wat God andersins miskien oor hulle sou gevel het (2 Tim. 1:16-18). Slegs barmhartige persone sal vergifnis vir sondes en die ewige lewe ontvang. “As julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie,” het Jesus gesê, “sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”—Matt. 6:15; 18:35.