VASBESLOTE WAT LEWE EN BLOED BETREF
1, 2. Wat gee partymaal daartoe aanleiding dat vrae oor bloed geopper word?
‘REGTER magtig bloedoortappings’, het ’n onlangse koerantopskrif in Virginië, V.S.A., gelui. Die artikel het so begin:
“’n Federale regter het Donderdagoggend die Portsmouthse Vloothospitaal gemagtig om bloedoortappings toe te dien aan ’n ernstig siek vrou wat vier dae geweier het dat hulle dit doen en sodoende glo haar lewe in gevaar gestel het, . . .”
2 Berigte van hierdie aard kom af en toe voor en vestig veel aandag op die waarde van lewe sowel as bloed. Voordat ons uitvind wat die gevolg in bogenoemde geval was, kan ons miskien oor ’n paar fundamentele vrae nadink: Watter diepgaande geloofsoortuigings laat persone soos hierdie vrou bloedoortappings weier? Verwag God se Woord dit werklik van alle Christene? Indien wel, hoe vas sal ons godsdiensoortuigings wees as ’n dokter sê dat ons ’n bloedoortapping moet kry? En is daar miskien aspekte benewens die mediese gebruik van bloed waarin ons beskouing van lewe en bloed belangrik is en selfs ons toekoms kan raak?
LEWE UIT DIE BLOED
3. Watter rede het ons op grond van Openbaring 7:14 om bloed hoog te ag?
3 Die boek Openbaring lig ’n waardering van bloed toe wat vandag deur honderde duisende persone gehuldig word. Nadat hy in ’n gesig die 144 000 aanstaande erfgename van die Messiaanse koninkryk gesien het, het die apostel Johannes “’n groot menigte . . . uit alle nasies” gesien—persone wat die vooruitsig het om vir ewig in ’n herstelde aardse paradys te lewe. Maar hoe kan mense vir ewig lewe, en dit vry van sonde en onvolmaaktheid? Met waardering roep die “groot menigte” uit: “Heil aan onse God . . . en aan die Lam”, Jesus Christus. Hulle besef dat hierdie heil of redding alleen moontlik is omdat hulle “hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”, Jesus.—Openb. 7:9, 10, 14.
4, 5. (a) Waarom sluit die regte gesindheid teenoor lewe en bloed meer in as om maar net te glo? (b) Hoe staaf die Bybel dit?
4 Soos in die vorige artikel opgemerk is, het God van die heel eerste boek in die Bybel af vooruitgewys op die offerandelike vergieting van Jesus se bloed sodat mense die ewige lewe kan verkry (Gen. 3:15; 22:2-10; Jes. 53:10-12). Terwyl daardie offerande nog in die toekoms was, het Jehovah dit duidelik gestel dat sy aanbidders lewe en bloed heilig moet ag. Maar hy het ook vereis dat hulle dade in ooreenstemming met daardie goddelike beskouing moet wees. Is optrede nie te kenne gegee in wat God vir Noag en sy gesin gesê het toe hy hulle die eerste keer toegelaat het om dierevleis te eet nie? God het gesê: “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie” (Gen. 9:3, 4). Wanneer hulle ’n dier vir voedsel doodgemaak het, sou hulle dus doelbewus stappe moes doen om die bloed van die dier te laat uitloop sodat hulle nie bloed sou eet nie.
5 Dit was nie bloot ’n dieetvoorskrif of ’n sinlose godsdiensritus nie. By sodanige gedrag was daar ’n uiters belangrike morele beginsel betrokke: Bloed het lewe verteenwoordig wat van God af kom. En dit is van betekenis dat hy voorts gesê het dat, hoewel ’n dier vir voedsel doodgemaak kon word, dit nie van die mens gegeld het nie. As dierebloed, wat die lewe voorstel, dus as heilig beskou moes word en nie ingeneem moes word om die lewe te onderhou nie, moes menselewe en -bloed klaarblyklik as selfs nog heiliger beskou en behandel word.—Vergelyk Mattheüs 6:26.
6, 7. (a) Op wie is Genesis 9:3, 4 van toepassing? (b) Hoe het die Wetsverbond die vereiste in Genesis 9 bevestig?
6 Aangesien Noag die voorvader van alle mense is, is daar van alle mense verwag om hulle te gedra op ’n wyse wat met die heiligheid van lewe en bloed strook. Baie Bybelgeleerdes het hierdie verband besef. Byvoorbeeld:
“Daar is erken dat bloed die setel van die lewe, en derhalwe iets heiligs, is. . . . Die verbod op bloed het een van die dieetwette van die Mosaïese wet geword, maar omdat dit binne die bepalings van hierdie verbond met Noag ingesluit was, het die latere Jode dit as bindend vir die hele mensdom beskou.”—A New Catholic Commentary on Holy Scripture, bl. 187.
7 Soos hierdie kommentaar opgemerk het, het God, toe hy later vir Israel ’n stel wette voorsien het, hulle ook verbied om bloed te eet. Hy het beveel: “Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel, en jy mag die siel nie saam met vleis eet nie. . . . op die grond moet jy dit uitgooi” (Deut. 12:23, 24; Lev. 17:10, 13). God het nie destyds sy wet teen die inneem van bloed op die res van die mensdom afgedwing nie, net so min as wat hy sy wet teen afgodediens afgedwing het (Hand. 17:30, 31; 14:16). Dus kon ’n Heiden vleis met bloed daarin koop en besluit om dit te eet (Deut. 14:21). Maar ’n aanbidder van die Skepper kon dit nie doen nie. Trouens, as ’n Israeliet later agterkom dat hy onbewustelik vleis geëet het waarvan die bloed nie uitgeloop het nie, moes hy stappe doen om hom van sy onopsetlike sonde te reinig.—Lev. 17:15, 16.
8. Is dit dierebloed wat verbied word, of is dit mensebloed? (2 Sam. 23:14-17).
8 As dierebloed, wat lewe voorstel, nie as voedsel ingeneem moes word nie, sou dit des te meer van mensebloed geld. Ons kan dit maklik sien uit wat gebeur het toe Jesus eenmaal in ’n figuurlike sin gesê het dat mense sy vlees moes eet en sy bloed moes drink. Party Joodse dissipels wat nie ingesien het dat hy maar net simbole gebruik het nie, was geskok en het hom verlaat (Joh. 6:60-66). Ja, die gedagte om bloed in te neem, hetsy dit diere- of mensebloed was, was weersinwekkend vir diegene wat God se beskouing eerbiedig het.
’N CHRISTELIKE VEREISTE
9. Hoe kan daar getoon word dat dit ook op Christene van toepassing is?
9 Maar miskien het jy al die bewering gehoor dat die Bybel se verbod op bloed nie op Christene van toepassing is nie. Wat is die feite? Oor hierdie aangeleentheid is daar in 49 G.J. uitsluitsel gegee by ’n konferensie van die apostels en ander Christen- ouere manne te Jerusalem. Met die versekerde leiding van God se heilige gees het daardie raad besluit dat Christene nie die Mosaïese wet hoef te hou nie. Maar wat van dinge wat verbied is selfs voordat die wet aan Israel gegee is? Die raad het aan die Christengemeente geskrywe:
“Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is [sodat die bloed nog daarin is] en van hoerery.”—Hand. 15:19, 20, 28, 29.
10-12. Watter getuienis toon dat Handelinge 15:28, 29 nie net tydelik onderhou moes word nie?
10 In “Origin and Beginnings of Christianity”a het professor Eduard Meyer opgemerk dat “bloed” in Handelinge 15:29 verwys het na “die gebruik van bloed wat deur die wet verbied is (Gen. 9:4) en wat aan Noag en aldus ook aan die mensdom as ’n geheel opgelê is”. En hoewel baie geestelikes sê dat die vereiste in Handelinge 15:28, 29 net ’n tydelike stap was om te voorkom dat Jode aanstoot neem, berig professor Meyer dat die verbod op die gebruik van bloed meer as ’n eeu en ’n kwart later oor die algemeen deur Christene gehandhaaf is. As bewys haal hy aan wat in 177 G.J. gebeur het, toe godsdiensvyande Christene in Europa daarvan beskuldig het dat hulle babas eet. Een jong vrou het geantwoord: “Hoe kan ons babas eet—ons vir wie dit nie geoorloof is om die bloed van diere te eet nie?”
11 Uit talryke geskrifte uit die tweede en derde eeu blyk dit dat Christene in daardie tydperk besef het dat die verbod nie iets van die verlede was nie; dit was op hulle van toepassing. “The Works of the Rev. Joseph Bingham” voer trouens die volgende punt aan:
“Dit was byna tot die tyd van St. Au[gustinus] die gebruik van die Katolieke Kerk om hom te weerhou van die eet van bloed, ingevolge die reël wat deur die Apostels aan die Heidense bekeerlinge gegee is: derhalwe was alle geestelikes kragtens die oudste wette van die Kerk op straf van degradasie [afsetting uit die amp] verplig om hulle daarvan te weerhou.”
Waarom hou die valse Christendom se kerke hulle dan nie vandag by hierdie “reël” nie? Kommentaar deur Martin Luther wys op die antwoord. Hoewel hy persoonlik geneig was om alle kerkvergaderinge te verwerp het Luther van Handelinge 15 gesê:
“As ons nou ’n kerk wil hê wat voldoen aan die beslissing van hierdie kerkvergadering (en dit is reg, aangesien dit die eerste en vernaamste kerkvergadering is, en deur die apostels self gehou is), moet ons leer en daarop aandring dat geen vors, heer, burger, of boer voortaan gans-, hinde-, takbok- of varkvleis eet wat in bloed gekook is nie, . . . [en] hulle veral moet onthou van rooi wors en bloedwors, . . . Wel, laat enigeen wat wil of kan dan begin om die Christendom in ooreenstemming met hierdie kerkvergadering te bring; ek sal dan met genoeë volg.”
Hy het gemeen dat, aangesien dit moeilik was om die besluit in Handelinge 15:28, 29 te gehoorsaam en dit so algemeen was om dit te negeer, dit onmoontlik sou wees om te verwag dat alle kerkgangers dit onderhou. Dus sou hy dit self ook nie doen nie.
12 Martin Luther en baie in sy dag was miskien onwillig om God se wette te gehoorsaam, en die meeste mense in die valse Christendom is vandag miskien onwillig om dit te doen. Maar nie Jehovah se Christengetuies nie!
BLOED OP MEDIESE GEBIED
13, 14. (a) Hoe kan jy iemand help om te sien dat die Bybel se verbod bloedoortappings op mense dek? (b) Waarom sou dit strook met voorbeelde wat in die Bybel opgeteken is as iemand ’n bloedoortapping weier?
13 Soos ons aan die begin gesien het, is die geneeskunde een gebied waarin gehoorsaamheid aan God se wet oor bloed partymaal ’n geskil word. Die miljoene bloedoortappings wat jaarliks toegedien word, word deur baie as ’n noodsaaklike en lewereddende deel van hedendaagse geneeskunde beskou. Maar in plaas daarvan dat hulle hulle denke en gedrag deur die huidige beskouing van medici laat lei, moet ware Christene eerder God se bevel voor in hulle gedagte hou: ‘onthou julle van bloed.’
14 Toe die Bybel geskrywe is, was daar weliswaar nie bloedoortappings nie. Wat God se Woord sê, dek egter beslis die gebruik om bloed oor te tap. As ’n dokter ’n pasiënt belet om ’n sekere antibiotikum, waarvoor hy allergies is, te gebruik, sou dit nie net beteken dat hy dit nie deur die mond mag inneem nie, maar ook dat hy dit nie deur ’n inspuiting mag inneem nie. Net so beteken God se bevel om jou ‘van bloed te onthou’ dat jy dit nog deur die mond, nog deur inspuitings in die are mag inneem. Bowendien stel die Bybel dit duidelik dat die goddelike wet nie genegeer kon word nie, selfs nie in ’n noodgeval wat ’n bedreiging vir mense se lewens kon inhou nie (1 Sam. 14:31-35). Baie van God se goedgekeurde dienaars was al bereid om gevare te trotseer en selfs om te sterf eerder as om Skriftuurlike beginsels te skend en hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah prys te gee (Dan. 3:8-18; Hebr. 11:35-38). Hulle het volle vertroue gehad in God se vermoë om weer vir hulle die lewe te gee en het die woorde van Jesus Christus geglo: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.”—Joh. 11:25; 5:28, 29.
15. Waarom is dit medies gesproke nie onredelik om bloedoortappings te weier nie?
15 Party persone sal miskien verbaas wees om te verneem dat daar mediese voordele daaraan verbonde kan wees om bloed te weier en te versoek dat alternatiewe behandeling gebruik word. Dit is so omdat al hoe meer getuienis aandui dat daar talle uiteenlopende gevare aan bloedoortappings verbonde is.b Let byvoorbeeld op ’n dokter se antwoord op ’n brief van ’n vrou wat ná ’n opehartoperasie hepatitis gekry het, ’n siekte waaraan daar jaarliks duisende sterf. Dr. Robert Mendelsohn, ’n mediese rubriekskrywer vir ’n koerant, het gesê dat hy nie verbaas was nie, en bygevoeg:
“In party groot mediese sentrums is bloedvervangers met goeie resultate gebruik in [’n] aansienlike aantal opehartoperasies wat uitgevoer is op pasiënte wat Jehovah se Getuies is en wat mensebloedoortappings weier. . . . Miskien moet ons almal wat operasies moet ondergaan waarin bloedoortappings skynbaar nodig sal wees ons snydokters vra of hulle vertroud is met hierdie wetenskaplike verslae. Miskien kan dit aan ons almal dieselfde laer voorkomssyfer van hepatitis na oortappings en ander voordele gee wat tans uitsluitlik deur die Getuies geniet word.”—The Idaho Statesman, 15 Febr. 1978, bl. 8C.
16. Wat toon die ondervinding in verband met operasies wat sonder bloed uitgevoer word?
16 Opehartoperasies is net een van baie operasies wat moedige dokters gevind het sonder bloed gedoen kan word. Dink byvoorbeeld terug aan die geval wat aan die begin gemeld is, die 52-jarige Getuie wat ’n buikoperasie moes ondergaan weens ’n bloeiende maagseer. Toe haar bloedsyfer tot die kritieke telling 4 gedaal het, het ’n federale regter ’n oortapping gemagtig. Maar haar man het haar oorgeplaas na ’n ander hospitaal waar dit die beleid is om die pasiënt se wense te respekteer. Wat was die uitslag? Koerantopskrifte het later aangekondig: “Geloof seëvier vir egpaar wat bloedoortapping geweier het.” Sy het herstel!
17. Watter morele sye van bloedoortappings moet in aanmerking geneem word?
17 Talle bedagsame dokters begin ook die morele sye van die saak insien, en besef dat pasiënte die reg het om te besluit of hulle sekere behandeling wil aanvaar. Dr. D. Goldstein het geskryf: “Al is hy ook hoe seker dat die behandeling wat hy aanbeveel die enigste is wat die lewe sal red, het geen geneesheer die morele reg om ’n pasiënt se godsdiensbeswaar te verontagsaam nie.” Party dokters wat Getuie-kinders behandel het wat kanker gehad het, het verduidelik:
“Ons besluit om gehoor te gee aan hulle versoeke om ons behandeling te beperk deur nie bloedoortappings te gebruik nie, het op twee faktore berus. Eerstens het elkeen van hierdie kinders ’n siekte gehad wat dodelik kon wees, en kon ons nie sonder ’n aansienlike mate van twyfel voorspel dat dit geslaagd sou wees nie. Tweedens het ons erken dat, ten tye van siekte wat lewe in gevaar stel, die ouers se behoefte aan ’n onwankelbare geloof vergroot word.”—Pediatrics, Des. 1977, bl. 919.
18. Hoe is geloof by die saak betrokke as dit by bloedoortappings kom?
18 Die geloof wat ware Christene het, en waarvolgens hulle vasbeslote is om te lewe, behels geloof in die reddingsvermoë van Christus se bloed (Rom. 3:25; Hebr. 13:12; 1 Joh. 5:5, 6). Geen ander bloed sal ooit beskikbaar wees waardeur hulle die ewige lewe kan verkry nie (Hebr. 10:29-31). Hulle ewige lotsbestemming hang dus van hulle getrouheid aan Jehovah af. Dit sluit in dat hulle gehoorsaam moet wees aan wat hy oor bloed sê.
STREWE DAARNA OM VRY TE WEES VAN BLOEDSKULD
19. Watter gesindheid moet Christene teenoor bloedskuld hê? (Ps. 26:9; 55:24).
19 Dit is heeltemal reg dat Christene opreg daarna strewe om enige oortreding van God se wet oor bloed te vermy, ditsy op mediese of op ander gebied. Skending van daardie wet sal ’n mens skuldig maak voor God. Koning Dawid het die gesindheid geopenbaar wat ons moet koester. Hy het gebid: “Red my van bloedskuld, o God, God van my heil.”—Ps. 51:16.
20. Wat is party van die maniere waarop ’n mens bloedskuldig kan word?
20 Baie persone dink aan bloedskuld alleenlik in terme van opsetlike moord. God het dit beslis duidelik laat opteken dat hy sulke bloedvergieting haat (Ps. 5:7; Spr. 6:16, 17). Maar die Skrif toon dat, aangesien lewe heilig is, dit ’n mate van bloedskuld ten gevolge kan hê al word iemand se dood ook onopsetlik veroorsaak (Deut. 22:8; Num. 35:15-33; Ex. 21:29). Bewys ons persoonlik in ons daaglikse lewe dat ons ’n hoë agting vir lewe en bloed het? Sodanige agting moet ons byvoorbeeld beweeg om redelik en versigtig te wees wanneer ons voertuie bestuur, om gehoorsaam te wees aan veiligheidsreëls en om ons voertuig in so ’n toestand te hou dat dit veilig bestuur kan word. Net so moet ’n mens redelike versigtigheid aan die dag lê om gevare in die huis of by die werk uit te skakel sodat die kans dat jyself of ander in ’n ongeluk noodlottig beseer word so gering moontlik is. Is dit jou beskouing?
21. Hoe kan ’n mens vandag onregstreeks bloedskuldig word en watter selfondersoek moet ons dus doen?
21 Nog ’n manier om bloedskuld te vermy het betrekking op organisasies of instellings wat in God se oë bloedskuldig is. God gee byvoorbeeld spesifiek aan Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, die skuld vir die vergieting van die bloed van ware aanbidders (Openb. 17:6; 18:24; 19:2). Sy het ook haar steun toegesê aan politieke en militêre instellings wat deur die eeue heen see van bloed vergiet het. As ons ’n opregte begeerte het om van bloedskuld vry te wees, moet ons ons afskei van hedendaagse organisasies wat deur God veroordeel word en sorg dat ons hulle nie ondersteun nie. Weerspieël ons dit in alle sye van ons lewe?
22, 23 (a) Oor watter ander aspek van bloedskuld moet ons besorgd wees? (Hand. 18:6). (b) Wat moet dus ons vaste besluit wees wat lewe en bloed betref?
22 Ons kan insgelyks toon dat ons vasbeslote is om vry te wees van bloedskuld deur daadwerklik en geesdriftig die Koninkryksboodskap te verkondig (Mark. 13:10). Beskou in hierdie verband God se raad aan die profeet Esegiël voor die val van Jerusalem in 607 v.G.J. God het aan Esegiël gesê dat as hy as ’n wag versuim het om die waarskuwende boodskap te laat hoor, hy aanspreeklik gehou sou word vir die bloed van die Israeliete wat omkom (Eseg. 3:17-21; 33:2-16). Watter voldoening kan ons egter daarin vind om ons Christelike verantwoordelikheid na te kom om die waarheid oor die komende einde van hierdie bose stelsel en van die paradys wat daarop sal volg, bekend te maak! As ’n mens dit doen, laat dit jou voel soos die apostel Paulus, wat vir Christen- ouere manne gesê het: “Ek [is] rein . . . van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Hand. 20:26, 27). Wat ’n voorreg tog! Terwyl ons persoonlik bloedskuld vermy, kan ons ander help om die ewige lewe te verkry deurdat hulle geloof stel in die bloed van Christus.
23 Hoewel die meeste mense miskien onbewus is van wat God sê en bloed moontlik beskou as bloot iets wat menselewe tydelik in stand hou, is dit dus nie met ware Christene die geval nie. Op grond van God se Woord waardeer ons Jehovah se beskouing van lewe en bloed. Laat ons vasbeslote wees om daardie beskouing te handhaaf en om in ooreenstemming daarmee te lewe.
[Voetnote]
a “Ursprung and Anfänge des Christentums” (1962), ble. 186, 187.
b Kyk “Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood” (1977), ble. 41-47, vir besonderhede.
[Prent op bladsy 21]
Vermy bloedskuld weens (1) die eet van bloed, (2) betrokkenheid by bloedskuldige organisasies, of (3) versuim om mense aangaande die oordeelsdag te waarsku