Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 9/1 bl. 22-24
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Soortgelyke materiaal
  • Red jou lewe met bloed—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Bloed—Noodsaaklik vir lewe
    Hoe kan bloed jou lewe red?
  • Laat jou deur die lewende God lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Bloed
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 9/1 bl. 22-24

VRAE van LESERS

• ’n Dokter het gesê dat daar voor ’n operasie bloed uit ’n pasiënt getap kan word en dat dit dan bewaar kan word, ingeval ’n oortapping gedurende die operasie nodig sou wees. Hoe moet ’n Christen sodanige gebruik van sy eie bloed beskou?

Uit die standpunt van diegene in die mediese beroep lyk hierdie prosedure miskien heel prakties. Daar is ernstige gevare daaraan verbonde om ’n oortapping van iemand anders se bloed te aanvaar. Op die oog af is daar minder gevaar daaraan verbonde as ’n persoon ’n oortapping van sy eie bloed ontvang. Daar is dus ’n neiging onder dokters om die prosedure te gebruik wat “outoloë bloedoortapping” genoem word. Dit beteken dat die pasiënt se eie bloed uitgetap en in ’n bloedbank bewaar word sodat dit vir oortappings gebruik kan word wanneer dit nodig is. As die skenker nie die bloed nodig kry nie, kan dit vir ander pasiënte gebruik word.

Soos die inligting op bladsye 17-20 van hierdie tydskrif toon, is bloedoortapping in stryd met die Bybel.a Die Skrif openbaar dat God bloed heilig ag, en sy knegte moet dit dienooreenkomstig behandel. Jehovah God het derhalwe vir die Israeliete gesê dat hulle net twee dinge met bloed kan doen. God het in die eerste plek gesê: “Ek het dit aan julle op die [offer]altaar gegee om vir julle siele versoening te doen.” In die tweede plek, indien ’n dier se bloed nie op die altaar gebruik is nie, moes die Israeliet dit op die grond uitgooi; aldus het hy erken dat lewe van God afkomstig is en dat die bloed wat lewe voorstel nie vir die een of ander persoonlike gebruik aangewend moes word nie (Lev. 17:11-14). Maar was God se knegte onder die Mosaïese wet die enigstes wat bloed so moes behandel? Inteendeel, dit is logies dat ware aanbidders, reeds voor die Wet gegee is, bloed so behandel het.

God het vroeër aan Noag en sy gesin gesê dat mense nie vleis met bloed daarin moes eet nie (Gen. 9:3, 4). Wat sou dus gedoen word? Wanneer ’n dier vir voedsel doodgemaak is, sou sy bloed normaalweg op die grond moes uitloop en aldus mee weggedoen word. Die bloed wat lewe verteenwoordig, het nie aan Noag en sy gesin behoort nie; dit het aan die Lewegewer behoort. Derhalwe sou dit gepas wees om die bloed op die aarde, wat simbolies God se “voetbank” is, uit te gooi.—Jes. 66:1.

Die bevel aan Noag is ook op Christene van toepassing. In die eerste eeu GJ. het die Christen-bestuursliggaam, wat deur die heilige gees ondersteun is, die besluit bekend gemaak dat Christene hulle “van wat verwurg is en van bloed” moet onthou (Hand. 15:19, 28, 29). Wat sou dit in die praktyk beteken? Die uitdrukking “wat verwurg is”, verwys na vleis van diere wat doodgemaak is op ’n manier wat hulle bloed in die vleis laat bly het. Wat van die sinsnede, ‘onthou jul van bloed’? Dit sou verbied dat bloed wat uit so ’n dier uitgeloop het, gebruik word, soos in die geval van party heidene wat bloedwors of ander voedselsoorte wat bloed bevat, gemaak en geëet het of wat die bloed van diere of krygsmanne wat in die arena doodgemaak is, gedrink het. Christene sou geeneen van hierdie dinge doen nie. Wanneer hulle die bloed van ’n dier laat uitloop het, sou hulle doen wat God se knegte in die verlede gedoen het—hulle daarvan onthou. Sodoende kon hulle hulle waardering vir die heiligheid van bloed en lewe onderstreep en ook hulle vertroue op die verdienste van Christus se bloed toon.

Indien mediese personeel voorstel dat ’n Christen toelaat dat daar van sy bloed uitgetap en in ’n bloedbank bewaar word sodat dit later vir oortappingsdoeleindes gebruik kan word, is die Christen derhalwe nie sonder leiding uit die Bybel oor wat die regte handelwyse sal wees nie. Hy kan meld dat daar aan die eertydse Israeliete gesê is dat verwyderde bloed ‘soos water op die grond uitgegooi moes word’, om te toon dat dit vir God was en nie gebruik kon word om die lewe van die een of ander aardse skepsel te onderhou nie (Deut. 12:24). En hy kan wys op die uitdruklike bevel dat Christene hulle moet ‘onthou van bloed’. Hoe kan hy, met die oog hierop, toelaat dat sy bloed in ’n bloedbank bewaar word om later in homself of in ’n ander persoon oorgetap te word?

• Sal dit verkeerd wees om ’n bloedtoets te laat neem?

Op grond van hulle kennis van die Skrif maak die meeste van Jehovah se Getuies, indien nie almal nie, geen beswaar teen sulke toetse nie. Die klein hoeveelheid bloed wat uit die liggaam verwyder word, word nie geëet of in iemand anders ingespuit nie. Dit word maar net ondersoek of getoets voordat daarmee weggedoen word.—Deut. 15:23.

• Is seruminspuitings verenigbaar met die Christelike geloof?

In ons uitgawe van 15 Augustus 1974 het ons in hierdie rubriek ’n breedvoerige behandeling gehad van die gebruik van entstowwe (wat nie bloed bevat nie) en van serums wat van bloed gemaak word. Kyk asseblief vir sodanige besonderhede daardie artikel op bladsye 383, 384.

Dit het erken dat die mediese beroep al hoe minder van heelbloedoortappings gebruik maak. In plaas daarvan word mensebloed verdeel in hoofbestanddele wat oorgetap kan word—rooi selle, wit selle, bloedplaatjies en plasma. Hieroor het ons gesê: “Ons glo dat die gebruik van bloed as ’n [leweonderhoudende] oortapping, of die gebruik van ’n bloedbestanddeel om ’n soortgelyke doel te bereik klaarblyklik in stryd is met die Skriftuurlike gebod om ’n mens te ‘onthou . . . van bloed’ (Hand. 15:20).”

Maar wat van die aanvaarding van seruminspuitings om siektes te bestry, soos die wat gebruik word vir witseerkeel, kaakklem, virushepatitis, hondsdolheid, bloeisiekte en Rh-onverenigbaarheid? Dit val skynbaar in ’n ‘grys gebied’. Party Christene meen dat die gebruik van ’n klein hoeveelheid bloedderivaat vir so ’n doel geen blyk van minagting vir God se wet sou wees nie; hulle gewete sal hulle dit veroorloof. (Vergelyk Lukas 6:1-5.) Ander voel egter gewetensgetrou verplig om serums te weier omdat hulle bloed bevat, al is dit net ’n geringe hoeveelheid. Derhalwe het ons die standpunt ingeneem dat elke indiwidu persoonlik oor hierdie kwessie moet besluit. Ons spoor elkeen aan om daarna te strewe om ’n rein gewete te hê en om gehoor te gee aan God se leiding wat in Sy Woord gevind word.—Ps. 119:105.

• Hoe besorgd moet ’n Christen oor bloed in voedselprodukte wees?

God het vir Noag, en dus vir die hele menslike geslag, gesê: “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. . . . Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie” (Gen. 9:3, 4). Ware aanbidders sal dus wil toesien dat hulle nie vleis eet waarin daar bloed oorgebly het of ander voedselsoorte waarby daar bloed gevoeg is nie.

Dit vereis miskien ’n mate van versigtigheid. In party lande word diere byvoorbeeld gewoonlik verwurg, of op ’n ander manier doodgemaak wat die bloed in hulle laat bly. Waar dit die plaaslike gebruik is, koop Christene gewoonlik net van handelaars, slagters of boere van wie dit bekend is dat hulle vleis verkoop van diere wat behoorlik gebloei is.

In baie lande, soos in die Verenigde State, vereis federale verordeninge in verband met die slag van diere egter dat hulle behoorlik gebloei moet word. Christene in hierdie gebiede het dus weinig rede tot kommer. Hulle kan met ’n geruste gewete vleis eet wat op die markte verkoop word of in die restourante voorgesit word. (Vergelyk 1 Korinthiërs 10:25, 26, waar daar na vleis wat vir afgode geoffer is, verwys word: “Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete. Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.”) Dit kan egter nodig wees om navraag te doen oor vleis van diere wat plaaslik doodgemaak is, soos die vleis van “wilde” diere, ditsy dit van ’n jagter, ’n slaghuis of ’n restourant verkry word.

Maar wat van voedselprodukte wat bloed of die een of ander bloedbestanddeel, soos plasmaproteïen, bevat?

Party regerings vereis dat vervaardigers ’n lys van die bestanddele op die etiket van verwerkte voedsel moet aanbring. Christene wat geruime tyd lank etikette nagegaan het, het miskien opgemerk dat daar in hulle omgewing feitlik nooit bloed in voedsel gebruik word nie. Derhalwe lees hulle moontlik nou tereg net die etikette wanneer daar die een of ander rede bestaan om te vermoed dat bloed by ’n item gevoeg is.

Die Federale Republiek van Duitsland het egter onlangs ’n wet aangeneem wat maatskappye toelaat om, sonder om dit op ’n etiket aan te toon, tot 2 persent (of, in party gevalle, 10 persent) gedroogde bloedplasma te gebruik in “Weense worsies, Frankfortse wors en soortgelyke produkte waaronder patee en roulade . . . frikkadelle, vleisvulsels, frikassee, ragout, vleis in varkvet, . . .” Wat moet die gewetensgetroue Christen in sulke gevalle doen?

Hy kan by die slagter of vervaardiger navraag doen. Daar word berig dat party vervaardigers in een Skandinawiese land in antwoord op sulke navrae geredelik die versekering gegee het dat bloed nie ’n bestanddeel in hulle verwerkte vleiskosse is nie; hulle wil nie klandisie verloor nie. Maar in party plekke is daar aan Getuies wat by slagters of vleisprodusente navraag gedoen het vae of twyfelagtige antwoorde gegee. Daar kan opgemerk word dat, selfs as die wet maatskappye toelaat om bloed by te voeg sonder om dit te sê, dit nie noodwendig beteken dat almal of selfs die meeste van hulle dit doen nie.

Derhalwe moet Christene indiwidueel besluit wat om te doen. Party se gewetens sal hulle miskien beweeg om enigiets wat hulle ernstig in twyfel trek te vermy of om die nodige navraag te doen om hulle gewete gerus te stel (Rom. 14:23). In gevalle waar dit nie moontlik lyk om deur redelike navraag absolute inligting te verkry nie, kan ander Christene miskien so redeneer: ‘Waar daar geen grondige rede is om my te laat dink dat daar bloed aanwesig is nie of as daar geen bepaalde manier is waarop ek dit kan vasstel nie, kan ek met ’n rein gewete “aanhou eet”.’ Hulle moet egter die gewetens van ander in aanmerking neem, soos Paulus ook vermaan het.—1 Kor. 10:28-30; Rom. 14:13-21.

Ware Christene behoort nie onverskillig te staan teenoor bloed nie. Hulle moet alles in hulle vermoë doen om ’n duidelike skending van God se wet te vermy. ’n Diepe eerbied vir daardie wet is van die grootste belang. Deur redelikerwyse alles in hulle vermoë te doen om “hulle [te] onthou van . . . bloed”, openbaar God se volk waardering vir die heiligheid van lewe en van die bloed wat dit verteenwoordig.—Hand. 21:25.

[Voetnoot]

a Kyk “Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood” (1977) vir besonderhede.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel