Wat gedoen word sodat die dag van afrekening tot ons voordeel strek
1. Waarom sal die nasies nie tydens Armageddon seëvier nie, en hoe sal daar op die dag van afrekening met hulle afgereken word?
DIE “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon lê onverbiddelik vir al die aardse nasies voor. Alhoewel hulle swaarder as ooit tevore vir globale oorlogvoering bewapen is, kan daar nooit verwag word dat hulle oor die almagtige God sal seëvier nie. As Opperbevelhebber van al die hemelse leërs sal hy die oorwinning aan sy groot Veldmaarskalk, Jesus Christus, gee, want hierdie een is die “Koning van die konings en die Here van die here”. Hy sal in beheer wees tydens die finale dag van afrekening met al die geopponeerde nasies. Wanneer hulle op die skaal van goddelike geregtigheid geweeg word, sal hulle te lig bevind word. Daar sal met hulle afgereken word deur hulle vir ewig te vernietig.—Openb. 19:11-21; 17:14.
2. Waarom is die woorde van Psalm 45:7, 8 na die geveg aan die Koning gerig, en wat voorspel die feit dat hy die septer swaai vir die mensdom?
2 Die oorwinning te Armageddon sal die universele soewereiniteit van die almagtige God regverdig. Omdat hy Jesus Christus met welslae gebruik om hierdie oorwinning te behaal, sal God hom waardig beskou om sy hemelse troon te behou. Solank as wat God bestaan, sal die troon van sy gesalfde Koning Jesus Christus bestaan. Hierdie belangrike feit word beklemtoon deur die woorde van Psalm 45:7, 8 (vgl. NW), wat die psalmis aan die Koning rig: “[God is] u troon . . . vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer. U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het . . . God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.” Ons herken hierdie woorde as die wat deur die apostel Paulus aangehaal is om te bewys dat Christus voortrefliker as die engele is (Hebr. 1:7-9). Omdat hy geregtigheid liefgehad het en goddeloosheid of ongeregtigheid gehaat het, sou Christus se septer gewis ten behoewe van regverdigheid geswaai word. Dit voorspel iets goeds vir die mensdom.
3. Wie was die “metgeselle” van Jesus Christus, en waarom is hy met meer “vreugde-olie” as hulle gesalf?
3 As ’n man op aarde het Jesus konings as voorvaders gehad. Die psalmis meld dat hy aardse voorvaders sou hê. Talle van hulle, van koning Jojagin terug tot by koning Dawid, was sy “metgeselle”, daar hulle ’n aandeel gehad het aan die koninkryk wat deur God opgerig is en op “die troon van [Jehovah]” gesit het (1 Kron. 29:23; 2 Kron. 13:5, 8; Matt. 1:6-12). Daardie koninklike voorvaders het hulle ongetwyfeld verheug in hulle koningskap oor God se uitverkore volk. Maar nie een van daardie koninklike “metgeselle” kon hulle verheug tot die mate wat die verheerlikte Jesus Christus hom kon verheug nie. Sy koningskap is baie voortrefliker as hulle s’n, daar dit hemels is, ja, hoër as die engele. Jehovah, die God van Jesus Christus, het hom met meer “vreugde-olie” gesalf weens sy volmaakte, onverderflike toewyding aan God se geregtigheid.
HUWELIK EN KINDERS
4, 5. Wat toon die psalmis in Psalm 45:9-15a dat die seëvierende Koning vervolgens doen, en waarom verbaas dit ons dalk?
4 Nadat Jesus Christus ’n seëvierende oorlog teen sy vyande op aarde gevoer het, kan hy aandag skenk aan vreedsame strewes. Die geïnspireerde psalmis beeld hom uit as iemand wat trou en ’n gesin grootmaak. Dit verbaas jou dalk, want die Seun van God het nie ’n man op aarde geword om met een van die dogters van die mense te trou nie. Hy het nie die weg van sekere engele-“seuns van God” in die dae van Noag ingeslaan nie (Gen. 6:1-4). ’n Persoon kan dus wonder hoe die volgende woorde van Psalm 45 waar kan wees:
5 “Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly. Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir. Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader; en as die Koning u skoonheid begeer—want Hy is u Heer—buig u dan voor Hom neer. En, o dogter van Tirus—met geskenke sal hulle u guns soek, ja, die rykstes van die mense. Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei.”—Ps. 45:9-15a.
6. Wie is hierdie “Koning se dogter” wat na die Koning gebring word, en waar pas Johannes die Doper by die saak in?
6 Wie is die “Koning se dogter” wat na die verlangende koning gebring word sodat hulle kan trou terwyl formele instrumentale musiek die geleentheid opvrolik? Sy is voorwaar die dogter van ’n Koning, naamlik Jehovah God, die “Koning van die heiliges” (Openb. 15:3). Gevolglik is sy ’n prinses. Sy is die verheerlikte Christengemeente van 144 000 lede, wat as ’n eenheid, as ’n saamgestelde liggaam beskou word. Johannes die Doper het die geëerde voorreg gehad om die eerste lede van hierdie bruidsgroep aan Jesus Christus op aarde voor te stel. Johannes het gesê: “Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.”—Joh. 3:29; 1:35-42; Openb. 14:1-5.
7. Aan wie het die apostels mense verbind wanneer hulle dissipels van hulle gemaak het, en wat maak hulle almal saam in die hemel uit?
7 Deur dissipels van Christus te maak het die apostel Paulus en ander apostels hierdie persone eweneens soos ’n “reine maagd” aan Jesus Christus as die “een man” verbind (2 Kor. 11:2). Net soos ’n verloofde meisie haar ouers se huis verlaat om by haar man aan te sluit en saam met hom te lewe, moet die dissipels wat in die huwelik aan die hemelse Bruidegom beloof is, hulle eie aardse mense en aardse vader se huis vergeet en hulle liefde op hulle hemelse Verloofde, Jesus Christus, toespits. Nadat hulle hulle aardse weg getrou in maagdelike reinheid voltooi het, moet hulle op hulle Bruidegom se stem wag wanneer hy hulle in ’n opstanding uit die dode roep (1 Thess. 4:16, 17; Joh. 6:54). In die hemel maak die 144 000 saam die “dogter” van Jehovah die Koning uit, want deur Sy gees het hy hulle as hulle Pleegvader verwek. Saam maak hulle die Nuwe Jerusalem uit wat “die bruid . . . die vrou van die Lam” genoem word. By daardie geleentheid is sy “toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is”.—Openb. 21:2, 9.
8. Wie woon die geleentheid, weens die aard daarvan, tereg by volgens Psalm 45, en wie woon dit ter vervulling van die psalm by?
8 Dit is ’n koninklike geleentheid, hierdie huwelik van ’n Koning se seun met ’n Koning se dogter. Dit maak dit gepas dat lede van die koninklike familie dit bywoon, ’n “koningin” sowel as prinsesse. Net soos ’n vorstelike “vrou” van hierdie “Koning van die heiliges” verheug God se hele hemelse organisasie haar soos ’n moeder. Al die engele-lede van daardie organisasie verheug hulle eweneens saam soos prinsesse. Al hierdie hemelse skepsele hou in gedagte dat Jehovah God al hierdie dinge moontlik gemaak het, en dus sê hulle: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.”—Openb. 19:7.
9. Waar verheug die “jonkvroue agter haar, haar vriendinne” hulle, en waarom daar?
9 Maar sal daar mense op aarde wees wat hulle saam met die heilige hemele oor hierdie heerlike geleentheid van universele belang verheug? Ja! Psalm 45:15b, 16 toon dit waar dit voorts sê: “Jonkvroue agter haar [die bruid], haar vriendinne, word na U [die Koning-Bruidegom] gebring. Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in.” Waar verheug hierdie maagdelike metgeselle van die bruid hulle? Dit is waar dat daar gesê word dat hulle die paleis van die Koning, wat hemels is, binnegaan. Maar trou hulle met die Koning? Nee! Natuurlik nie, want hulle kom dan nie eens so ver om aan hom verloof te raak nie. Hulle word dus nie deur God se gees tot hemelse lewe verwek nie.—Joh. 3:3, 5.
10. Wie beeld die “jonkvroue agter haar, haar vriendinne” vandag af, en hoe gebeur dit dat hulle op die aarde is wanneer die huwelik in die hemel plaasvind?
10 Die lede van die “Koning se dogter”-klas is hier op aarde, gevolglik wanneer hulle nog mense is, aan Christus verloof. Die bruidsmeisies wat bloot haar gevolg uitmaak en nie met die Bruidegom-Koning gaan trou nie, sal dus ’n aardse klas wees. Hulle maak hulle verskyning op aarde net voordat die hemelse huwelik voltrek word. Hierdie jonkvroue beeld dus die “groot menigte” af wat in hierdie “tyd van die einde” begin verskyn het en wat hulle skaar aan die kant van die oorblyfsel van die bruidsklas voordat dié die aardse toneel verlaat om in die hemel by die Bruidegom Jesus Christus aan te sluit. Heel in ooreenstemming hiermee het die “groot menigte”, wat in Openbaring 7:9-17 voorspel is, in 1935 in aansyn begin kom en met die laaste lede van die geesverwekte bruidsklas begin assosieer. Omdat hulle deur die komende “groot verdrukking” bewaar word, sal hulle lewend hier op aarde wees wanneer die hemelse huwelik plaasvind. By daardie geleentheid sal hulle hulle grootliks verheug.—Ps. 45:16.
“VORSTE IN DIE HELE AARDE”
11. Hang Christus se huidige of toekomstige glorie van enige roem van sy aardse voorvaders af, en hoe toon Psalm 45:17 dat sy huwelik aan die gemeente in die hemel ’n vrugbare is?
11 Toe hy op aarde was, het Jesus Christus beroemde voorvaders gehad. Maar sy huidige en toekomstige glorie hang nie af van enige roem wat deur sulke voorvaders verleen word nie. Die dinastie van koning Dawid duur in hom voort, want hy is die Permanente Erfgenaam van koning Dawid en sy koninkryk sal nooit aan ’n opvolger oorgelaat word nie (Luk. 1:31-33). Psalm 45:17 beeld egter sy huwelik aan die gemeente van 144 000 verheerlikte dissipels as ’n vrugbare uit, net soos die huwelik bedoel was om te wees. Hierdie vers, wat aan die Bruidegom-Koning gerig is, sê dus: “In die plek van u vaders sal u seuns wees: U sal hulle aanstel as vorste in die hele land [aarde, NW].”
12. Wat is die hoogste posisie wat hierdie “seuns” op aarde kan bereik, en waarom sal die Koning genoeg van hulle hê om vorste “in die hele aarde” aan te stel?
12 Geeneen van hierdie “seuns” sal die opvolger van die hemelse Koning word nie. ’n Vorstelike posisie op aarde is die hoogste wat enige van hierdie “seuns” kan bereik. Indien daar “vorste in die hele aarde” aangestel moet word, moet daar baie van hulle wees. Die Koning sal genoeg “seuns” vir hierdie doel hê, want benewens sy titel “Sterke God” sal een van sy ander titels “Ewige Vader” wees (Jes. 9:5). Dit is sy volmaakte menseoffer vir die hele mensdom wat hom in staat gestel het om dit te word. Met daardie losprysoffer het hy almal gekoop.
13. Hoe sal die Koning die lewegewende Vader van al die vrygekoopte dode word, en hoe sal die “groot menigte” sy eerste “vorste” vir die Koning oplewer?
13 Gevolglik kan die Koning die lewe-gewer word vir die “groot menigte” bruidsmeisies wat die “groot verdrukking” oorlewe en sy duisendjarige koninkryk binnegaan. Hy kan ook die vader van die hele afgestorwe mensdom, onder andere sy aardse voorvaders, word. Hoe? Deur hulle uit die dode hier op aarde op te wek (Joh. 5:28, 29). Die waardige, Godvresende manne onder al sulke aardse kinders kan “vorste in die hele aarde” gemaak word. Sodoende sal hy sy heerskappy oor die hele aardbol uitoefen. Dit is logies dat die “groot menigte” wat die “groot verdrukking” oorlewe en die eerste aardse onderdane van sy koninkryk word, die eerste “vorste” vir die Koning sal oplewer om as sy aardse verteenwoordigers te dien.
14. Hoe sal ander op aarde in amptelike diens aansluit by hierdie “vorste” uit die “groot menigte”, en wat sal hierdie bedeling vir die hele mensdom waarborg?
14 Wat ’n wonderlike voorreg sal dit tog wees! Later sal ander in amptelike diens aansluit by hierdie “vorste” wat uit die “groot menigte” geneem is, want die voorvaders van Jesus Christus en ander getroue manne van Abel tot Johannes die Doper sal opgewek word en sy vorstelike verteenwoordigers gemaak word. Wat ’n wonderlike, onverderflike regering sal so ’n bedeling tog vir die hele mensdom waarborg! Dit is die broodnodige regering wat Jehovah God voornemens is om op te rig om al vandag se volksregerings, waarmee die seëvierende Koning, Jesus Christus, binnekort gaan afreken, mee te vervang.
15, 16. (a) Waarom wou die psalmis volgens Psalm 45:18 lank lewe? (b) Wie ken die naam van die Koning, en verdien dit om so lank vermeld en geloof te word?
15 Word ons harte nie net soos dié van die eertydse geïnspireerde psalmis geroer deur sulke “goeie” vooruitsigte vir die nabye toekoms nie? Ja, en ons tonge uiter vreugdevol die slotwoorde van die psalmis wat hy gerig het aan die bekoorlike Koning wie se regering deur God se troon gerugsteun word: “U Naam wil ek vermeld van geslag tot geslag; daarom sal die volke U loot vir ewig en altyd.”—Ps. 45:18.
16 Die psalmis wou graag lank lewe—“van geslag tot geslag”—net om die Koning se naam te vermeld. Hy sê nie wat die Koning se naam is nie. Hy het inderdaad die geweet wat die Koning, van wie hy onder inspirasie geskryf het, se naam is nie. Maar ons kan vandag die Koning identifiseer waarvan die psalmis profeties geskryf het, en ons ken sy naam. Dit is Jesus Christus, die Seun van Jehovah God. Verdien sy naam om “van geslag tot geslag” vermeld te word? Die psalmis het voorspel dat daar “volke” sou wees wat so sou dink en wat gevolglik “vir ewig en altyd” die draer van hierdie naam sou loof.
17. Waarvoor is dit dus nou vir ons die gunstige tyd, en wat sal dit vir ons beteken as ons dit doen?
17 Voor ons lê daar vandag die geleentheid om deur die komende dag van afrekening met al die nasies bewaar te word en om die seëninge van God se koninkryk wat hulle gaan vervang, te beërf. In geloof kan ons ons reeds nou al saam met sy gesalfde Koning verheug, want hierdie Koning se oorwinning te Armageddon is gewis en sy bewind van ’n duisend jaar oor ’n gereinigde aarde is seker. Nou—vandag—is dus die gunstige tyd wanneer ons ons by daardie “volke” moet skaar wat die seëvierende Koning “vir ewig en altyd” gaan loof. Dit sal strek tot eer van Jehovah God, sy hemelse Vader, wat self die oppermagtige “Koning van die heiliges” asook die “Koning van die nasies” is. As ons dit doen, sal dit vir ons ’n lewe beteken waartydens ons “vir ewig” Sy gesalfde Koning kan loof en prys. Dit sal ware betekenis aan die lewe gee. Dit sal aan ons ’n verhewe doel gee terwyl ons tot in alle ewigheid lewe.