Ebed-Meleg ’n man met moed
EBED-MELEG was nie ’n Israeliet nie, maar ’n Kusitiese eunug. Hy het gedien in die hof van Sedekia, die laaste Judese koning wat in Jerusalem geregeer het. Hoewel hy omring was deur verdorwe, goddelose amptenare, het Ebed-Meleg hom onderskei as ’n moedige, medelydende man met hoë agting vir dit wat reg is.
Op die tydstip dat Ebed-Meleg se voortreflike eienskappe veral geopenbaar is, was die stad Jerusalem deur die Chaldeërs beleër Jehovah se profeet Jeremia het herhaaldelik gesê dat die stad gedoem was en hy het die mense aangespoor om hulself te red deur hulle aan die beleëraars oor te gee. Sy boodskap vanaf die Allerhoogste was: “Wie in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood of die pes, maar wie na die Chaldeërs uitgaan, sal lewe, en sy siel sal vir hom ’n buit wees, en hy sal lewe.” Dit het sekere vorste wat koning Sedekia van raad bedien het woedend gemaak. Hulle was daarop uit om die stad tot elke prys te verdedig en nooit oor te gee nie. Omdat hulle geweier het om te erken dat Jeremia se woorde deur God geïnspireer is, het hulle die profeet beskou as ’n struikelblok in hulle weg om Jerusalem met welslae te verdedig.—Jer. 38:1-3
Hierdie vorste het dus na koning Sedekia gegaan en Jeremia daarvan beskuldig dat hy die moreel van die krygsmanne en die oorblywende bevolking ondermyn. Hulle het versoek dat die profeet gedood word as ’n oproerige wat glad nie in die volk se vrede of welsyn belanggestel het nie (Jer. 38:4). Omdat hy ’n ruggraatlose koning was, het Sedekia hulle versoek toegestaan en gesê: “Kyk, hy is in julle mag, want die koning kan niks teen julle doen nie” (Jer. 38:5). Sedekia het ag geslaan op hulle raad om die stryd teen die Chaldeërs voort te sit, en dus het hy verplig gevoel om voor hulle te swig en hulle toe te laat om ’n man dood te maak wat in hulle oë die bevordering van hulle oorlogoogmerke ondermyn het. Hoewel Sedekia nie spesifiek Jeremia se teregstelling gemagtig het nie, het hy so te sê die doodvonnis oor die profeet uitgespreek deur die vorste alle mag oor sy lewe te gee.
Maar hierdie vorste het dalk ’n sekere vrees gekoester wat hulle daarvan weerhou het om regstreeks bloed te vergiet. Hulle het egter besluit om die profeet sonder geweld dood te maak. Hulle het hom in ’n modderput laat afsak om daar te sterf.—Jer. 38:6.
Terwyl Jeremia op die bevel van die koning in die voorhof van bewaking aangehou is, het hy elke dag ’n skyf brood ontvang (Jer. 37:21). Maar noudat hy in die modderput was, was daardie koninklike bevel nie langer van krag nie. Omdat die voedselvoorraad in Jerusalem so te sê uitgeput was, was daar gewis geen hoop dat iemand vir Jeremia kos sou bring nie. Sy dood was slegs ’n kwessie van tyd.
Toe Ebed-Meleg hoor wat die vorste met die profeet gedoen het, het hy geen gras onder sy voete laat groei nie. Hy het nie versigtig gewag vir ’n geleentheid om ’n private oudiënsie met koning Sedekia te kry nie. Vir die Kusitiese eunug was persoonlike veiligheid nie die hoofsaak nie. ’n Onskuldige man se lewe was op die spel, en dus het Ebed-Meleg gewillig sy eie welsyn tweede gestel. Hy het die koning openlik in die oop gebied langs die Benjaminspoort genader. Hierdie poort was waarskynlik in die noordelike deel van die stad, die rigting waaruit die grootste druk deur die beleërende Chaldeërs uitgeoefen is.—Jer. 38:7.
Moedig het die Kusitiese eunug om Jeremia se lewe gepleit. Hy was nie bang om die optrede van die vorste te veroordeel nie, selfs al het hy geweet dat die een tot wie hy sy versoek rig aan hulle eise toegegee het. Ebed-Meleg het kortliks die feite gestel: “My heer die koning, hierdie manne het verkeerd gehandel in alles wat hulle die profeet Jeremia aangedoen het, wat hulle in die put gegooi het; hy sal tog sterwe van honger op die plek waar hy is; want daar is geen brood meer in die stad nie.”—Jer. 38:9.
Verbasend genoeg het Sedekia sy besluit in verband met Jeremia teruggetrek en Ebed-Meleg gemagtig om die profeet te red. Die koning het gesê: “Neem hiervandaan dertig manne met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die put op voordat hy sterwe” (Jer. 38:10). Dit is onwaarskynlik dat 30 manne nodig was om Jeremia uit die put te trek. Maar in die lig van die intense haat vir die profeet en sy boodskap, was daar ’n sterk moontlikheid dat diegene wat Jeremia dood wou hê hulle met die reddingspoging sou bemoei. Hoewel ’n paar manne oorweldig kan word, sou 30 manne genoeg wees om enige probleme die hoof te bied wat kon ontstaan in verband met die beplande redding.
Ebed-Meleg het dadelik Sedekia se bevel uitgevoer. Die wyse waarop hy dit gedoen het, getuig verder van sy medelye met en besorgdheid oor die profeet. Aangesien die put diep was en Jeremia in die modder ingesak het, sou groot krag nodig wees om hom uit te trek. Toue kon gevolglik in die profeet se vlees ingesny het. En dit is ook moontlik dat Jeremia oorspronklik rof in die put laat sak is. Gevolglik was daar moontlik sere in sy armholtes. Ebed-Meleg het klaarblyklik die saak deeglik oordink. Hy het verslyte en geskeurde lappe geneem en dit met toue na Jeremia laat afsak sodat dit onder die profeet se armholtes en oor die toue geplaas kon word. Die lappe het dus die druk van die toue wat gebruik is om Jeremia uit die put te trek, verminder.—Jer. 38:11-13.
Waarom was Ebed-Meleg so moedig? Alhoewel hy ’n buitelander was wat onder ’n volk gewoon het wat Jehovah God groot smaad aangedoen het, het hy op die Allerhoogste vertrou. Ja, vertroue op Jehovah was die grondslag vir Ebed-Meleg se moedige hulp aan die gehate profeet. Hiervoor het die Kusitiese eunug nie sy beloning verloor nie. Deur Jeremia het Jehovah hom verseker: “Kyk, Ek bring my woorde oor hierdie stad ten kwade en nie ten goede nie, en dit sal voor jou oë vervul word in dié dag. Maar Ek sal jou in dié dag red, . . . en jy sal nie oorgegee word in die hand van die manne vir wie jy bang is nie. Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard nie val nie; maar jou siel sal vir jou ’n buit wees, omdat jy op My vertrou het” (Jer. 39:16-18). Volgens hierdie woorde sou Ebed-Meleg die vernietiging van Jerusalem, wat deur Jeremia voorspel is, aanskou. Hy sou dit egter nie hoef te vrees nie. Net soos Ebed-Meleg Jeremia se lewe as kosbaar beskou het, sou Jehovah God Ebed-Meleg se lewe as kosbaar beskou en hom bewaar.
Wat ’n goeie voorbeeld het Ebed-Meleg tog vir ons gestel deur nie voor mensevrees te swig nie maar deur moedig sy standpunt vir Jehovah se profeet in te neem! Die Allerhoogste het nie Ebed-Meleg se regverdige daad vergeet nie. Hy sal ook nie ons getroue diens, onder andere hulp aan ons broers tydens groot nood, vergeet nie. Die Bybel sê vir ons: “God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien” (Hebr. 6:10). Laat ons ons dus daarop toelê om moedige persone te wees, net soos Ebed-Meleg was.