Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 7/1 bl. 13-17
  • Wie het werklik die waarheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie het werklik die waarheid?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WANDEL IN DIE WAARHEID
  • ‘PATRONE’ VIR ONS TYD
  • “AAN HULLE VRUGTE”
  • WIE HET WERKLIK VANDAG DIE WAARHEID?
  • Christene aanbid met gees en waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Ek sal in u waarheid wandel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • ‘Gaan voort om die weg van die waarheid te volg’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Volg die God van waarheid na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 7/1 bl. 13-17

Wie het werklik die waarheid?

“Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil”.—Ps. 25:5.

1. Wat beteken die woord waarheid, en waarom kan daar gesê word dat Jehovah die grondslag van waarheid is?

DIE woord waarheid word gedefinieer as dit wat in ooreenstemming is met die feite, met die werklikheid. Dit slaan op wat reg en eg is. Die bron of grondslag van waarheid is die almagtige Skepper van die heelal, Jehovah God. Hy ken die waarheid omtrent elke aspek van sy skepping. Hy weet wat reg en wat verkeerd is, wat goed en wat sleg is. Hy ken die waarheid omtrent gebeure van die verlede en weet waarom dit gebeur het, asook die betekenis van huidige wêreldtoestande. Hy ken ook die waarheid oor die toekoms, aangesien hy alreeds bepaal het wat dit gaan wees.—Jes. 14:24.

2. Hoe beskryf die Bybel Jehovah se waaragtigheid?

2 Om sulke redes beskryf die psalmis die Skepper as “Jehovah die God van waarheid” (Ps. 31:5, NW). Wanneer God spreek, is sy woorde dus altyd betroubaar: “U woord is die waarheid” (Joh. 17:17). Wanneer hy instruksies vir menslike gedrag gee, is hulle altyd reg: “Al u gebooie is waarheid” (Ps. 119:151). Wanneer hy iets beloof, kan ons daarop peil trek: “Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE . . . gespreek het, het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom” (Jos. 21:45). Die Bybel sê dus van God: “Regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!”—Openb. 15:3.

WANDEL IN DIE WAARHEID

3, 4. (a) Hoe wandel ’n persoon in die waarheid? (b) Waarom wil Jehovah hê dat mense in die waarheid moet wandel?

3 Dit is logies dat die God van waarheid sal wil hê dat sy menseskepping in die waarheid moet wandel. Hoe word dit gedoen? Deur ’n juiste kennis te verkry van wie God is en wat sy voornemens is; deur dan te leer wat hy wil hê ons moet doen, en dit te doen (Joh. 17:3; 1 Joh. 2:3, 4). Dit beteken inderdaad dat om in die waarheid te wandel ’n lewenswyse word, “die Weg”, soos die Bybel dit stel.—Hand. 9:2.

4 Een rede waarom God wil hê dat mense in die waarheid moet wandel, is omdat dit die Skepper verheerlik en verbly wanneer sy menseskepping sy voortreflike eienskappe weerspieël. (Vergelyk Genesis 1:26, 27; Spreuke 23:24, 25.) ’n Ander rede is dat God weet wat die beste vir mense is aangesien hy hulle gemaak het. Gevolglik verkry diegene wat sy instruksies gehoorsaam die grootste voordele, selfs ewige voordele, vir hulself en vir ander (Jes. 48:17). Nog ’n rede is dat mense, deur in die waarheid te wandel, bevoorreg is om verbonde te wees aan die volk wat God gebruik om waarheidsoekers omtrent sy voornemens in te lig. Dit is soos die Bybeltye waarvan Amos geskryf het: “Die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”—Amos 3:7.

5. Watter ander belangrike rede is daar om in die waarheid te wandel?

5 Daar is nog ’n belangrike rede waarom ons in die waarheid moet wandel. ’n Persoon wat dit doen, toon in die openbaar dat hy die regmatigheid van Jehovah se universele heerskappy verdedig. Dit is in twyfel getrek deur Satan die Duiwel, die geesskepsel wat ’n rebel geword het (Gen. 3:1-4; Openb. 12:9). Sy uitdaging het die hoon ingesluit dat God nie persone kon voortbring wat aan hom en sy waarhede lojaal sou bly nie (Job 1:6-12). Standvastigheid vir die waarheid onder enige druk toon dat daar mense met integriteit is wat nie ’n vergelyk sal tref nie (Spr. 27:11). ’n Persoon wat andersyds nie in die waarheid wandel nie, doen veel meer as om bloot in dwaling te wandel. Hy skaar hom met of sonder opset aan die kant van Satan, die ‘vader van die leuen’, “die god van hierdie wêreld” wat ‘die ongelowiges se sinne verblind het’.—Joh. 8:44; 2 Kor. 4:4.

6. Hoe gaan waarheid deeglik wêreldwyd gevestig word? Lees Spreuke 12:19.

6 Die God van waarheid het egter ’n tydgrens gestel vir die toelating van onwaarheid en die goddeloosheid wat daaruit voortspruit (Spr. 12:19; Pred. 3:1). God het hom voorgeneem om hierdie sataniese stelsel, tesame met almal wat dit voorstaan en verkies, te verbrysel wanneer die tyd verstryk (Dan. 2:44; Openb. 19:17-21). “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word”, het Jesus voorspel (Matt. 15:13). Dit sal die weg baan vir God se nuwe stelsel ‘waarin geregtigheid sal woon’ (2 Pet. 3:13). Dit sal ’n aardse gemeenskap beteken wat op waarheid gegrond is, ’n aarde wat slegs deur waarheidliewende mense bewoon word!

7. Wat moet ons gesindheid wees as ons die waarheid liefhet?

7 Indien ons dus ’n liefde het vir wat reg is en in God se nuwe orde wil lewe, is dit noodsaaklik dat ons in die waarheid wandel. Ons moet die gesindheid hê van die psalmis wat gebid het: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my” (Ps. 25:4, 5). Ons moet eweneens ag slaan op die profeet Samuel se raad aan eertydse Israel: “Julle mag nie afwyk nie, want dan gaan julle agter nietige afgode aan wat nie kan help of red nie, . . . Vrees net die HERE en dien Hom getrou [in waarheid, NW] met julle hele hart.”—1 Sam. 12:21, 24.

‘PATRONE’ VIR ONS TYD

8, 9. (a) Hoe het Israel baat gevind wanneer hulle in die waarheid gewandel het, in teenstelling met omliggende nasies? (b) Wat het gebeur toe Israel opgehou het om in die waarheid te wandel?

8 God se handelinge met mense in die verlede bied ‘patrone’ of voorbeelde vir ons. Daaruit leer ons hoe God inderdaad handel met diegene wat in die waarheid wandel en met diegene wat dit nie doen nie (1 Kor. 10:11; Rom. 15:4). Een patroon waaruit ons kan leer, is dié van eertydse Israel. Daardie nasie is begunstig deurdat God se wette aan hulle gegee is. Solank die Israeliete in sy waarhede gewandel het, is hulle ryklik geseën. Hulle het byvoorbeeld nie die prooi van vyandelike nasies geword nie (Deut. 28:7). Hulle gewasse en kuddes was oorvloedig (Deut. 11:8-15). Hulle maatskaplike stelsel was so ordelik en hoogs ontwikkel dat daar geen nodigheid vir tronke was nie (Ex. 22:1-15). Hulle is nie geteister deur siekte-epidemies wat goddelose nasies getref het nie (Deut. 7:15). En indien hulle aangehou het om in die waarheid te wandel—“geseënd sal jy wees bo al die volke”, het Jehovah hulle belowe (Deut. 7:14). Kyk, in teenstelling hiermee, na die verdorwe toestand van die omliggende Kanaänitiese nasies, soos beskryf in die “Bible Handbook” deur Henry H. Halley:

“Die Kanaäniete het deur onsedelike oorgawe—as ’n godsdiensritus—in die teenwoordigheid van hulle gode aanbid; en dan het hulle hulle eersgeborenes vermoor as ’n offerande aan hierdie selfde gode.

“Dit wil voorkom of die land Kanaän grotendeels ’n soort Sodom en Gomorra op nasionale skaal geword het . . . Het ’n beskawing wat so gruwelik vieslik en wreed was enige reg gehad om langer te bestaan? . . .

“Argeoloë wat opgrawings in die ruïnes van Kanaänitiese stede doen, is verbaas dat God hulle nie selfs vroeër vernietig het nie.”

9 Israel het egter nie in die waarheid bly wandel nie. Gevolglik het God sy steun aan die nasie onttrek. Dit is waarom Jesus by die tempel vir Israel gesê het: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:38). Hy het ook gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem word en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Matt. 21:43). Hulle sou nie langer God se begunstigde volk, sy getuies, wees nie.

10. Hoe het ’n nuwe geestelike nasie ditself in die eerste eeu geopenbaar?

10 In die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling het God ’n nuwe geestelike nasie geskep. Dit was die Christengemeente, ’n organisasie wat uit mense van talle verskillende nasionaliteite bestaan het (Hand. 10:34, 35; 13:46). God se aangestelde woordvoerder, Jesus, het die grondslag daarvoor gelê en gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6). Deur sy leer en prestasies het hy bewys dat hy werklik die waarheid en God se steun gehad het (Matt. 3:16, 17; 15:30, 31; Hand. 2:22). Die eerste-eeuse Christene het ook hiervan bewys gelewer, daar hulle duidelik as God se getuies geïdentifiseer is (Hand. 1:8; 2:1-4, 43). Van die waarhede wat nou deur daardie Christene voortgevloei het, het die apostel Paulus gesê: “God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar.” In teenstelling hiermee het hy gesê dat “niemand van die heersers van hierdie wêreld [hierdie wysheid] geken het nie” (1 Kor. 2:8, 10). Dit het gebeur net soos Jesus gesê het, naamlik “dat U [God] hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het”.—Matt. 11:25.

11, 12. (a) Hoe het die Bybel die herstelling van ware aanbidding in ons tyd voorspel? (b) Wat was die doelwitte van hierdie herstelling?

11 Teen die einde van daardie eerste eeu het God nog iets gedoen. Hy het die geïnspireerde skriftelike verslag voltooi wat later gebruik sou word as grondslag om vas te stel wat die waarheid is (2 Tim. 3:16, 17). Die voltooide Skrif het talle profesieë, geskiedenis wat vooruit geskryf is, bevat (2 Pet. 1:21). Daardie profesieë het getoon dat ’n tydperk van afvalligheid van die waarheid na die dood van die apostels sou intree (Hand. 20:29). Maar hulle het ook getoon dat daar later, tydens die “einde van die dae” net voor hierdie stelsel se einde, ’n herstelling van ware aanbidding sou wees (Jes. 2:1-4; Miga 3:12-4:5). Jesus het gesê dat mense in twee groepe verdeel sou word: diegene wat goed doen aan Christus se broers wat in die waarheid wandel, sal beloon word met “ewige lewe”; die wat dit nie doen nie, sal weggaan in die “ewige straf”.—Matt. 25:31-46; 2 Joh. 4; 3 Joh. 3, 4.

12 Die byeenbringing en herorganisering van die Christengemeente in hedendaagse tye sou om verskeie redes geskied. Hierdie gemeente sou, om maar een ding te meld, verenigde instruksies van God ontvang: “Dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel”, sê die profesie in Jesaja 2:3 (ook Miga 4:2). Deur in die waarheid te wandel, sou hierdie knegte van God die regmatigheid van sy universele bewind verdedig, hom vereer en genot verskaf en talle voordele vir hulself verkry (Spr. 12:22). God sou hulle weer as sy hedendaagse getuies gebruik en hulle toerus om sy boodskap na hierdie huidige geslag te dra.

13. Het Jehovah ooit op enige tydstip meer as een organisasie op aarde gebruik?

13 Sou God meer as een organisasie gebruik om sy waarhede tydens hierdie “laaste dae” te verkondig? Wel, het God ooit meer as een gedurende enige ander oordeelstydperk gebruik? Het enige ander bote met mense daarin, benewens Noag se ark, in Noag se dag God se beskerming geniet en die vloed oorleef? Nee, slegs die ark en diegene daarin het (1 Pet 3:20). Was daar twee Christenorganisasies in die eerste eeu? Nee, God het met net een gehandel. Net so is daar in ons dag steeds “een Here, een geloof, een doop” (Ef. 4:5). Dat daar slegs een verenigde gemeente kan wees, blyk uit Paulus se woorde dat “almal eenstemmig [moet] wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie”.—1 Kor. 1:10.

“AAN HULLE VRUGTE”

14. Hoe kan ’n persoon vasstel wie vandag werklik die waarheid het?

14 Hoe kan ons vasstel wie vandag werklik die waarheid het en aldus kwalifiseer om deur God gebruik te word as sy getuies op aarde? ’n Basiese beginsel om tussen die ware en die valse te onderskei, is deur Jesus Christus gegee toe hy gesê het: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. . . . So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Matt. 7:16, 17). Ja, daar moet “vrug” of blyke wees dat God se kragtige heilige gees inderdaad hierdie volk steun. Watter soort vrug sou daardie krag van God in sy knegte voortbring? Sy Woord antwoord: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”—Gal. 5:22.

15. Walter verband bestaan daar tussen liefde vir God en sy naam?

15 Let veral op die “vrug” wat eerste gemeld word, naamlik liefde. Een manier waarop God se ware knegte dit moet betoon, is soos Jesus gesê het: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matt. 22:37). Liefde vir God word op ’n aantal maniere bewys. Een hiervan is deur die naam van God lief te hê (Hebr. 6:10; Ps. 69:37; 119:132). Daardie Christene wat uit hierdie wêreld geneem is, moet voorwaar “’n volk. . . . vir sy Naam” word (Hand. 15:14-18). Wie hou vandag God se naam (Jehovah, in Afrikaans) hoog en maak dit dwarsoor die aarde bekend?—Jes. 43:10-12, NW.

16. Hoe word liefde vir God in verband met Koninkryksbelange betoon?

16 Liefde vir God sal ook insluit dat ’n mens aan sy inkomende regering vir die hele aarde, sy hemelse Koninkryk, glo en daaroor praat. Jesus het ons leer bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:9, 10). Wie onder die mensdom maak vandag God se koninkryk die sentrale leerstelling van hulle leer en predikingswerk soos Jesus gedoen het? Wie besoek mense by hulle huise om vir hulle te vertel wat God se koninkryk op aarde gaan doen? Wie voer die opdrag uit wat Jesus gemeld het toe hy voorspel het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom”?—Matt. 24:14.

17. Op watter ander manier word liefde vir God bewys?

17 Liefde vir God word nog op ’n ander manier bewys—deur al sy wette te gehoorsaam (1 Joh. 5:3). Wanneer God se wette en die wette van die mens nie ooreenkom nie, is die Bybelreël vir diegene wat waarlik die waarheid het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand. 5:29). Slegs diegene wat dit doen, geniet die steun van “die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is” (Hand. 5:32). Byvoorbeeld, wanneer Christene vandag God se wette gehoorsaam, is hulle “nie van die wêreld nie” omdat hulle net soos Jesus en die eerste-eeuse Christene neutraal staan ten opsigte van hierdie wêreld se politieke aangeleenthede (Luk. 4:5-8; Joh. 6:15; 15:19; 17:14-16). Wie is diegene wat in ons dag hierdie afsonderlikheid van die wêreld met sy politieke verdorwenheid, sy geweld en sy onsedelikheid handhaaf en wat selfs bereid is om tronk toe te gaan of te sterf omdat hulle Jesus se voetstappe volg?—1 Pet. 2:21; kyk ook Hebreërs hoofstuk 13.

18. Meld nog ’n duidelike kenmerk van diegene wat werklik die waarheid het.

18 Daar is nog ’n ander aspek verbonde aan hierdie “vrug” van die gees, liefde. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Talle ander tekste toon ook dat sulke liefde ’n duidelike kenmerk van God se ware knegte sal wees. Byvoorbeeld:

“Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. . . ons [moet] mekaar . . . liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie.”—1 Joh. 3:10-12.

“As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?”—1 Joh. 4:20, 21.

Watter internasionale groep mense betoon hierdie soort liefde aan mekaar, nie net met woorde nie, maar met dade? Watter groep het gedurende die afgelope eeu hulle tydens oorlog daarvan weerhou om medegelowiges in ander nasies dood te maak en het nie toegelaat dat rasse-, nasionalistiese, kulturele of ekonomiese vooroordele hulle van mekaar skei nie?

WIE HET WERKLIK VANDAG DIE WAARHEID?

19. Wie het vandag werklik die waarheid, en waarom sê jy so?

19 Wat toon die getuienis aangaande hierdie belangrike vrug van God se gees, liefde? Wie voldoen aan die vereistes? Waar sien ons ’n groot menigte mense uit alle nasionaliteite en rasse saam in Jehovah se naam verenig om hom lojaal te dien en vir ander van sy koninkryk te vertel? Ja, waar vind ons ’n ware, wêreldwye broederskap wat deur liefde saamgesnoer word? (Openb. 7:9, 10; Kol. 3:14). Die godsdienspublikasie “Interpretation” sê die volgende in ’n hoofstuk met die titel “Die Bybel en hedendaagse gelowe, Jehovah se Getuies”:

“Wat hulle organisasie en getuieniswerk betref, kom hulle [Jehovah se Getuies] net so na as enige groep aan die primitiewe Christengemeenskap.

“Hulle afsydigheid van die wêreld, dringendheid in die predikingswerk en doofheid vir aanvalle van die wêreld, is van die soort wat diegene het wat vas glo dat hulle onder die uitverkorenes is en wat onvoorwaardelik trou aan God gesweer het.

“Daar is min ander groepe wat die Skrif so omvattend tydens hulle boodskappe, mondelings sowel as skriftelik, gebruik soos hulle. Min ander groepe kry soveel diens van wat ons die lekedom noem om die werk van die organisasie voort te sit.”

20. Wat moet alle persone met ’n liefde vir die waarheid doen?

20 ’n Onbevooroordeelde ondersoek van God se Woord en ’n vergelyking daarvan met die leerstellings en gebruike van Jehovah se Getuies, sal die getuienis voorsien dat God se gees hulle inderdaad steun en dat hy hulle gebruik as sy instrument om vandag die waarheid te verkondig. Alle persone met ’n liefde vir die waarheid word egter genooi om ondersoek in te stel na hierdie bewering dat Jehovah se Getuies werklik die waarheid het. Wanneer hulle dit doen, moet hulle die voorbeeld volg van daardie persone in die eerste eeu wat na die boodskap van die apostels geluister het: “Hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”—Hand. 17:11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel