Vrae van lesers
• Waarom het Salomo gesê: “Die HERE het gesê dat Hy in donkerheid wil woon”?—1 Kon. 8:12.
Koning Salomo het hierdie stelling gemaak nadat die priesters die heilige Ark in die Allerheiligste van die tempel neergesit het en toe die wolk daarna die heiligdom gevul het (1 Kon. 8:6-11). Dit was hierdie wolk wat Salomo herinner het aan die wyse waarop Jehovah God vroeër sy teenwoordigheid geopenbaar het. Moses is byvoorbeeld meegedeel: “Kyk, Ek sal in ’n dik wolk na jou toe kom” (Ex. 19:9). Toe hy later hierna verwys het, het Moses gesê: “[Daar was] duisternis, wolke en wolkedonkerheid” (Deut. 4:11). In die lig van die feit dat die Allerhoogste sy teenwoordigheid met ’n wolk geassosieer het, kon Salomo tereg sê dat Jehovah in donkerheid woon’.
• Waarom kon die apostel Paulus sê: “Deur die wet is ek vir die wet dood”?—Gal. 2:19.
Die apostel se woorde is deel van ’n argument wat toon dat ’n persoon homself nie deur “werke van die wet” voor God regverdig kan maak nie. Paulus het geskryf: “Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene [wat nie die Mosaïese wet gehad het nie en wat hulself, na die mening van die Jode, wetteloos gedra het] is nie, terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”—Gal. 2:15, 16.
Die Wet het Paulus bewus gemaak van die feit dat hy dit eenvoudig nie volmaak kon hou nie. Dit het hom veroordeel as ’n sondaar wat die dood verdien. Ongeag hoe nougeset hy die vereistes van die Wet probeer nakom, hy sou vind dat hy te kort skiet (Rom. 7:7-11). “Deur die wet is ek vir die wet dood.” Of, soos “Today’s English Version” dit bewoord: “Maar wat die Wet betref, is ek dood—deur die Wet self gedood—dat ek vir God mag lewe.” Deur in geloof Jehovah se reëling vir redding deur Christus te aanvaar, is Paulus deur God geregverdig om weer te lewe. Hy het dus geestelik lewend geword. As gevolg van sy geloof het die apostel onder die invloed van die heilige gees gekom, en die vrug daarvan is in sy lewe getoon. Dit is waarom Paulus bygevoeg het: “om vir God te lewe”.—Gal. 2:19.
• Tweede Samuel 8:13 sê dat Dawid die Edomiete in die Soutdal verslaan het, maar 1 Kronieke 18:12 skryf die prestasie aan Abisai toe, en Psalm 60:2 sê dat Joab hulle die nederlaag toegedien het. Wat is die rede hiervoor?
Die drie verslae bied waarskynlik die nederlaag van die Edomiete uit verskillende standpunte aan. In 2 Samuel word die oorwinning aan Dawid toegeskryf omdat hy die koning en opperbevelhebber van die Israelitiese leer was en hy die geveg gelas het. Omdat Joab die vernaamste generaal was, skryf Psalm 60:2 die oorwinning aan hom toe. Abisai het as ’n afdelingsbevelvoerder onder Joab gedien en het ongetwyfeld ’n belangrike rol in die militêre kampanje gespeel. Dit verklaar waarom die verslag in Kronieke die oorwinning aan hom toeskryf. Daar is dus geen teenstrydigheid nie. Dit is selfs vandag die gebruik om ’n bepaalde daad toe te skryf aan die persoon wat dit gelas het of aan die een wat ’n belangrike rol by die suksesvolle uitvoering daarvan gespeel het.