Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/15 bl. 28-29
  • Mensevrees verstrik koning Sedekia

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mensevrees verstrik koning Sedekia
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE UITDAGING OM SY WOORD TE HOU
  • HY SWIG WEER VOOR VREES
  • Die najaging van genot verskaf nie ware geluk nie
  • Jerusalem word vernietig
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Dien die “Koning van die nasies” en bly behoue
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Aan “die einde van die dae”
    God se woord vir ons deur Jeremia
  • Watter soort vriende sal jy kies?
    God se woord vir ons deur Jeremia
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/15 bl. 28-29

MENSEVREES VERSTRIK KONING SEDEKIA

GOD se Woord herinner ons tereg aan die volgende: “Die vrees vir die mens span ’n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word” (Spr. 29:25). Weens oorgeërfde swakhede het ’n persoon die neiging om ’n kompromis aan te gaan wanneer gevaar dreig of daar iets onaangenaams op hom wag. Die vrees vir wat mense kan dink of sê, kan dus daartoe lei dat ’n persoon nie doen wat hy weet reg is nie.

’n Christen weet byvoorbeeld dat hy Bybelwaarhede aan ander moet verkondig in navolging van Jesus Christus en sy vroeë volgelinge, onder meer die apostel Paulus wat mense “in die openbaar en van huis tot huis” onderrig het (Luk. 8:1; Hand. 20:20, NW). Maar die vrees vir wat ander kan dink of sê, bring mee dat party hierdie Christelike werk nalaat. Sedekia, die laaste koning van die tweestammeryk van Juda, is ’n kragtige voorbeeld van hoe mensevrees ’n mens tot jou eie nadeel ’n kompromis kan laat aangaan.

DIE UITDAGING OM SY WOORD TE HOU

Sedekia, die seun van koning Josia by sy vrou Hamutal, het eers die naam Mattanja gehad. Toe sy neef, koning Jojagin, deur die Babiloniërs weggevoer is, is Mattanja ’n diensbare koning gemaak wat onderworpe was aan Nebukadnesar, die koning van Babilon. Sy naam is toe deur Nebukadnesar verander na Sedekia, wat beteken “Jehovah is geregtigheid”. Sedekia moes ’n eed in Jehovah se naam aflê dat hy aan Nebukadnesar getrou sou bly. Maar het hy sy geswore belofte gehou?—2 Kon. 24:12, 17, 18; 2 Kron. 36:13; Jer. 37:1.

’n Ruk lank het hy. Maar mettertyd het Sedekia geswig voor die druk deur invloedryke vorste in sy ryk wat mense opgestook het om teen die Babiloniërs in opstand te kom. Hy het dus sy belofte verbreek, teen Nebukadnesar gerebelleer en hom na Egipte gewend vir hulp. Om hierdie opstand te demp, het die koning van Babilon met sy magte teen Jerusalem opgeruk en die stad in die negende jaar van Sedekia se bewind beleër.—Jer. 52:3, 4; Eseg. 17:15.

Dit wil voorkom asof dit aan die begin van hierdie beleëring was dat Sedekia manne na die profeet Jeremia gestuur het om vir hom te vra wat met Jerusalem sou gebeur. Jehovah se woord deur Jeremia het gewaarsku dat alle pogings om die stad te verdedig tot mislukking gedoem was. Jeremia het gesê dat hulle slegs sou ontkom as hulle hulle aan die vyandelike leër oorgegee het.—Jer. 21:1-10.

Maar koning Sedekia en sy amptenare het nog ’n ander keuse gehad as hulle genade wou ontvang. Deur sy profeet Jeremia het Jehovah hierdie vermaning tot hulle gerig: “Verskaf reg in die môre en red die beroofde uit die hand van die verdrukker, sodat my grimmigheid nie uitgaan en brand soos ’n vuur sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge.”—Jer. 21:12.

Tydens die beleëring het Sedekia, sy vorste en ander inwoners van Jerusalem ’n poging aangewend om Jehovah se guns te verkry deur in ooreenstemming met Sy wet te handel. Selfs al was dit nie ’n jubeljaar nie, het hulle ’n ooreenkoms aangegaan om hulle Hebreeuse slawe, manne sowel as vroue, vry te laat en het hulle hulle vrygestel. Maar toe die Egiptiese magte Jerusalem te hulp kom en Babilon die beleëring beëindig het om die Egiptiese bedreiging die hoof te bied, het hulle van plan verander. Hulle het hulle slawe teruggeneem en hulle gedwing om hulle weer te dien. Wat het koning Sedekia hieromtrent gedoen?

Die koning het geen poging aangewend om die vorste en die mense te keer sodat hulle nie hulle verbond om hulle Hebreeuse slawe te bevry, verbreek nie. Hy het geweet hoe verkeerd hulle handelwyse was. Maar dit was klaarblyklik omdat hy nie hierdie invloedryke manne wou mishaag nie dat hy hulle goddeloosheid deur die vingers gesien het. Jerusalem sou dus beslis deur ’n ramp getref word, want Jehovah sou nie ’n verdorwe volk red nie.—Jer. 34:8-22; 37:5.

Nadat Jeremia in die tronk gestop is op die valse aanklag dat hy na die Chaldeërs wou oorloop, en toe Jerusalem weer beleër is, het Sedekia Jeremia ontbied. In antwoord op die koning se navraag oor die toekoms het Jeremia gesê: “U sal in die hand van die koning van Babel oorgelewer word.” By hierdie geleentheid het Jeremia Sedekia versoek om hom nie weer in die huis van Jonatan op te sluit nie. Die koning het hierdie versoek toegestaan en Jeremia “in die voorhof van bewaking” gesit.—Jer. 37:11-21.

HY SWIG WEER VOOR VREES

Sedekia het geweet dat Jeremia onbillik behandel is. Maar toe die vorste Jeremia later daarvan beskuldig dat hy die volk se moreel ondermyn, het Sedekia niks gedoen om die profeet te beskerm nie. Hy het weer voor vrees geswig en Jeremia aan die vorste oorgelewer met die woorde: “Kyk, hy is in julle mag want die koning kan niks teen julle doen nie.” Die vorste het Jeremia geneem en hom in ’n modderput gegooi om te sterf. Dit was slegs deur die moedige tussenkoms van die Kusitiese hofdienaar Ebed-Meleg dat Jeremia se lewe gespaar is.

Later het Sedekia weer ’n geheime ontmoeting met Jeremia gehad. Weer het Jeremia vir hom gesê dat Jerusalem slegs gered kon word as hulle hulle aan die Babiloniërs oorgee. Maar Sedekia het nie op Jeremia se geïnspireerde raad ag geslaan nie. Waarom nie? Omdat die koning bang was dat hy uitgelewer sou word aan Jode wat reeds na die Babiloniërs oorgeloop het, en dat hierdie Jode hom sou martel. Sy versoek dat Jeremia nie vir die vorste van Juda moes sê waaroor hulle gesels het nie, is ’n aanduiding van sy mensevrees.—Jer. 38:1-28.

Die Babiloniërs het Jerusalem ingeneem, net soos Jeremia voorspel het. In die 11de jaar van Sedekia se bewind het die vyandelike magte deur die stad se mure gebreek. Terwyl dit donker was, het Sedekia en ’n afdeling krygers op die vlug geslaan, maar hulle is op die woestynvlaktes van Jerigo ingehaal. Toe hy voor Nebukadnesar verskyn om gevonnis te word, het Sedekia eers aanskou hoe sy seuns gedood word. Toe is hy verblind en as gevangene na Babilon weggevoer. Mensevrees was voorwaar vir hom ’n strik.—Jer. 52:9-11.

Die geval van Sedekia lig inderdaad die beginsel dat mensevrees ’n strik span, kragtig toe. Wat is die teenmiddel vir mensevrees? Geloof in Jehovah en vrees om hom te mishaag, want in die vrees van die HERE lê ’n sterk sekerheid” (Spr. 14:26). Nog iets wat help om mensevrees teë te werk, is God se heilige gees, want dit is “nie ’n gees van vreesagtigheid . . . nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing”.—2 Tim. 1:7.

Die najaging van genot verskaf nie ware geluk nie

MENSE wat net vir genot begin lewe, raak gou verblind vir hulle verantwoordelikhede teenoor God. Dit is wat gebeur het met sekere Israeliete tot wie die volgende woorde van Jesaja se prolesie gerig is: “Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag laat opbly terwyl die wyn hulle verhit. En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie.”—Jes. 5:11, 12.

Die Israeliete wat hier aangespreek is, se hoofdoelwit in die lewe was die najaging van sinlike genot. Hulle het soggens begin drink en daarmee aangehou tot laat in die nag sodat hulle volkome onder die invloed van wyn gekom het. Verhit deur die alkohol het hulle hulle selfbeheersing verloor en luidrugtig en rumoerig geword. Hulle wanordelike gefuif het gepaard gegaan met musiek, ongetwyfeld sinlike musiek wat gespeel is om hulle hartstog te wek.

Aangesien mense in ’n verbondsverhouding met God so deur genot verstrik kon word, is dit ’n waarskuwing vir Christene om op hulle hoede te wees sodat hulle nie genotsoekers word nie. ’n Persoon se huidige verhouding met Jehovah God kan eenvoudig nie as vanselfsprekend aanvaar word nie, en volgehoue intiemheid met hom is onontbeerlik vir ware geluk.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel