Christelike beskeidenheid—’n blyk van wysheid
“Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.”—ROMEINE 12:3, NAV.
1. Watter feite toon dat beskeidenheid nie vandag waardeer word nie?
HOE min waardeer en openbaar tog vandag beskeidenheid! Dit is die eeu van bittere wedywer en uiterste mededinging. Die rasse, nasies, stamme, korporasies en individue van die wêreld wil almal die beste of bobaas wees. Niemand wil beskeie wees nie. Hierdie gees het selfs die gesinskring beinvloed, soos blyk uit die opstand van jongmense en die vroue vry heidsbeweging.
2. Waarom moet Jehovah se Getuies se gesindheid teenoor beskeidenheid nie dieselfde as die wêreld s’n wees nie?
2 Maar die weg van die wêreld moet nie die weg van ware Christene wees nie. Nee, Jehovah se Getuies besef dat dit hulle verpligting is om die grootste voorbeeld van beskeidenheid wat hierdie wêreld nog ooit gesien het—Jesus Christus, die Seun van God—na te volg. Jesus se volgende opmerkings was tipies van sy beskeidenheid: “Die Seun kan niks uit sy eie doen nie.” “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God” (Johannes 5:19, NAV; Lukas 18:19). Ja, almal wat Jesus Christus se voetstappe noukeurig wil navolg, moet beskeidenheid openbaar. Daarbenewens sal niemand wat dit doen skade ly nie, maar vind dat die weg van Christelike beskeidenheid lonend en waarlik ’n blyk van wysheid is.
3. Hoe word die woord “beskeidenheid” gewoonlik gebruik?
3 Die woord “beskeidenheid” kan beteken “beperk in grootte, hoeveelheid of omvang”. Of dit kan verwys na dit wat kuis is, gekenmerk deur “die afwesigheid van grofheid, onkiesheid of onwelvoeglikheid”. Maar dit kan ook slaan op “bewustheid van ’n mens se beperkinge”, of “vryheid van verwaandheid of ydelheid”.a Die apostel Paulus het medegelowiges onder goddelike inspirasie aangespoor om beskeidenheid aan die dag te lê, want hy het geskryf: “Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het” (Romeine 12:3, NAV). Ja, ons moet iets van onsself dink. Maar ons moenie te veel van onsself dink, te veel waarde heg aan ons natuurlike vermoëns of verkreë voordele nie.
Beskeidenheid en nederigheid nie dieselfde nie
4. (a) Waar kom die Hebreeuse woord wat met “beskeie” weergegee word in die Skrif voor? (b) Watter gevolgtrekking moet ons maak oor die betekenis daarvan in Spreuke 11:2?
4 In baie Bybelvertalings word beskeidenheid met nederigheid verwar. Die Hebreeuse woord wat met “beskeie” weergegee word, kom slegs in Spreuke 11:2 en Miga 6:8 voor. Wat beteken dit? Dit kan sien op beskeidenheid, fatsoenlikheid, kuisheid of persoonlike reinheid. Maar dit kan ook betrekking hê op bewustheid van ’n mens se beperklnge. In Miga 6:8 (NW) kan hierdie Hebreeuse word enige van die twee betekenisse hê, want daar word ons bloot aangespoor om “beskeie met ons God te wandel”. Maar dit is nie die geval in Spreuke 11:2 nie, want dit lui: “Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid.” Hier word ’n teenstelling getref tussen beskeidenheid en vermetelheid. Daar word getoon dat die teenoorgestelde van vermetelheid beskeidenheid is in die sin dat ’n mens jou nie te veel aanmatig nie omdat jy bewus is van jou beperkinge.
5, 6. Hoe kan die verskil tussen nederigheid en beskeidenheid in Jehovah God se geval toegelig word?
5 Daar is ’n verskil tussen nederigheid en beskeidenheid. Die psalmis Dawid het byvoorbeeld van Jehovah God gesê: “U nederigheid sal my groot maak” (Psalm 18:35, NW). Dit was voorwaar te danke aan Jehovah se gewilligheid om homself te verneder of te verlaag om op Dawid ag te slaan en geduldig met hom te handel dat hy ’n groot koning in Israel geword het. Ons lees gevolglik ook aangaande Jehovah: “Wie is soos Jehovah ons God, hy wat sy woning in die hoogte maak? Hy verwerdig hom om op die hemel en die aarde te sien” (Psalm 113:5, 6, NW). Dit ly geen twyfel nie—die Skepper is so hoog verhewe dat hy hom moet verneder om ag te slaan op dinge in die hemele en op die aarde.
6 Maar kan ons sê dat Jehovah beskeie is in die sin dat hy bewus is van sy beperkinge? Natuurlik nie! Daar is geen sprake van beperkinge in God se geval nie, aangesien hy oneindig in wysheid en mag, absoluut volkome en volmaak in geregtigheid en die verpersoonliking van liefde is. Hoegenaamd niemand kan met reg met hom vergelyk word nie.—Jesaja 40:12-31.
7. (a) Waarom kan ons sê dat ’n mens nederig kan wees en tog ’n gebrek aan beskeidenheid kan hê? (b) Hoe blyk dit in die geval van die apostel Petrus?
7 Dit is andersyds vir mense moontlik om nederig te wees en tog nie beskeie te wees nie. Hulle kan nederig, deemoedig, wees en tog nie helder denkvermoëns gebruik om van hulle eie beperkinge bewus te wees nie. Die apostel Petrus, byvoorbeeld, was ongetwyfeld ’n nederige man. Toe hy gesien het hoedat Jesus ’n wonderwerk verrig wat getoon het dat hy selfs lewende skepsele in die see kan beheer, het Petrus voor Jesus se voete neergeval en gesê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man!” (Lukas 5:8). En ons lees dat Jesus sowel as die apostel Paulus Petrus tereggewys het. Maar ons merk nêrens dat Petrus aanstoot aan sulke teregwysings geneem het nie (Mattheüs 16:21-23; Galasiërs 2:11-14; 2 Petrus 3:15, 16). Petrus was ongetwyfeld ’n nederige, deemoedige apostel. Maar was hy werklik beskeie in die sin dat hy bewus was van sy beperkinge? Nie altyd nie. Indien hy beskeie was, sou hy nie volgehou het dat hy nooit sy Heer sou verlaat nie al sou al die ander apostels dit doen—net om bitterlik te faal en Jesus drie keer te verloën!—Markus 14:29, 30, 66-72.
Smarte weens ’n gebrek aan beskeidenheid
8. Waarom kan ons sê dat al die moeilikheid in die heelal ontstaan het weens ’n gebrek aan beskeidenheid?
8 ’n Gebrek aan beskeidenheid het nie alleen smarte vir die apostel Petrus meegebring nie, maar daar kan ook gesê word dat al die smarte in die wêreld—ja, in die heelal—aan ’n gebrek aan beskeidenheid te wyte is. Hoe so? Dit was weens ’n gebrek aan beskeidenheid dat ’n sekere engel Satan die Duiwel geword het. Hy het nie sy beperkinge as ’n geskape individu erken nie. Hy was nie tevrede met die posisie wat Jehovah aan hom gegee het nie, maar wou aan God gelyk wees. Hierdie trotse gesindheid is later geopenbaar toe die Duiwel Jesus al die koninkryke van die wêreld aangebied het in ruil vir net een daad van aanbidding. Maar aanbidding kom slegs Jehovah God toe, iets waaraan Jesus daardie Versoeker herinner het. Satan se gebrek aan beskeidenheid, wat ’n weg van vermetelheid was en is, het hom tot skande gestrek en sal uiteindelik sy vernietiging beteken.—Mattheüs 4:8-10; Hebreërs 2:14.
9. In watter opsigte het Eva ’n gebrek aan beskeidenheid geopenbaar?
9 ’n Gebrek aan beskeidenheid was eweneens Eva, “die moeder van almal wat lewe”, se ondergang (Genesis 3:20, NW). Die gedagte om soos God te wees, om self goed en kwaad te ken, was vir haar aantreklik. Waarom? Omdat sy nie beskeidenheid aan die dag gelê het nie. As sy beskeie gebly het, kon sy in werklikheid vir die Versoeker gesê het: ‘Waarom sou ek soos God wou wees? Ek is volkome tevrede met God se reëling dat ek ’n hulp vir volmaakte Adam moet wees. Ek moet bowendien liewer eers met Adam hieroor praat, aangesien dit hy was wat vir my vertel het van die gebod om nie hierdie vrug te eet nie.’ Maar nee. Eva het beskeidenheid afgeskud ten opsigte van haar Maker en haar man. En ’n gebrek aan beskeidenheid het Eva haar lewe gekos en haar man beïnvloed om ’n noodlottige weg in te slaan. Is beskeidenheid dan belangrik? Ja, dit is so belangrik!—Genesis 3:1-19.
10. Waarom vind ons dit almal moeilik om waarlik beskeie te wees?
10 Ons almal het skynbaar van ons eerste ouers ’n sekere neiging geërf om nie beskeie te wees nie. Na die Vloed het God gesê: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af’ (Genesis 8:21). Toe koning Dawid gevolglik deur ernstige sondes oorval is, kon hy by God pleit: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang” (Psalm 51:7). En dit is waarom Jehovah God deur sy profeet Jeremia kon sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”—Jeremia 17:9.
11. Watter toestande dwarsoor die wêreld kan toegeskryf word aan ’n gebrek aan beskeidenheid?
11 So baie van die moeilikheid in die wêreld is die gevolg van ’n gebrek aan beskeidenheid! Dit raak alle rasse, nasionaliteite, stamme en selfs gesinslede. Nóg die Oosterse nóg die Westerse blok nasies is bereid om hul beperkinge te erken. Elkeen wil bobaas wees. Die mense van een ras dink dat hulle beter is as die van ’n ander. Trouens, daar word berig dat onmin tussen sekere Afrikastamme dikwels ontstaan bloot omdat elke stam daarop uit is om sy vermeende meerderwaardigheid te bewys.
12. (a) Watter skade word aangerig deur ’n gebrek aan beskeidenheid by sommige mans? (b) Wat is die gevolg van ’n gebrek aan beskeidenheid by vroue?
12 Wat van die gebrek aan beskeidenheid in die gesinskring? In baie gevalle het mans sowel as vrouens onenigheid veroorsaak deur hulle gebrek aan beskeidenheid. Vanweë hulle fisiese en ekonomiese voorsprong is mans dikwels geneig om aggressief of baasspelerig op te tree, tot die groot verdriet van die gesin. Dit is ongetwyfeld ’n gedeeltelike verklaring vir die vrouevryheidsbeweging, met sy aantyging van manlike chauvinisme. Maar wat van vroue, en getroude vroue in die besonder? Die met ’n gebrek aan beskeidenheid het dikwels baie ongelukkigheid, soos gebroke huise, gemaai (Galasiërs 6:7, 8). Sulke vroue het die basiese Skriftuurlike vereiste dat hulle ‘aan hulle eie mans onderdanig moet wees soos aan die Here’ geignoreer (Efesiërs 5:21-23, 33; 1 Korinthiërs 11:3, 7-10). Onder vroue van die wêreld is daar ook ’n skreiende en algemene gebrek aan beskeidenheid ten opsigte van kuisheid. Omdat hierdie vroue met hulle fisiese sjarme pronk deur die wyse waarop hulle praat, aantrek en optree, is hulle deels verantwoordelik vir die promiskuïteit, huweliksontrou en gebroke huise wat vandag so algemeen is.
13. Watter vrugte het ’n gebrek aan beskeidenheid vandag onder jongmense voortgebring?
13 Hoewel daar goeie voorbeelde van beskeidenheid onder vandag se jongmense is, openbaar ander ’n skokkende gebrek daaraan. Omdat hulle nie hierdie eienskap aan die dag lê nie, is baie jongmense ongeduldig met ouer persone of staan hulle krities teenoor die foute wat gemaak word deur die lede van die ouer geslag. Maar watter wysheid lê sommige van hierdie jongmense aan die dag waar dit kom by dwelmverslawing, dronkenskap, roekelose bestuur of ’n onsedelike lewenswyse? As sulke jongmense beskeie was, sou hulle na ouer persone geluister het en baat gevind het by die goeie raad wat sulke ervare persone kan gee.
Christelike beskeidenheid—waarlik wys!
14. Waarom is beskeidenheid so gepas in ons verhouding met Jehovah God?
14 Die betoning van Christelike beskeidenheid is waarlik die weg van wysheid. Dit bring eerstens ’n goeie verhouding met Jehovah mee. Trouens, God vereis dat ons beskeie met hom moet wandel (Miga 6:8, NW). Daarbenewens is beskeidenheid aan ons kant uiters gepas as ons dink aan die groot kloof tussen ons en ons almagtige en ewige Maker. Vir hom is die nasies bloot soos ’n stoffie aan die weegskaal en soos ’n druppeltjie wat uit ’n emmer val! (Jesaja 40:15). Beskeidenheid sal meebring dat ons vrees om Jehovah God te mishaag, en dit is inderdaad “die beginsel van die wysheid”.—Psalm 111:10.
15. Hoe kan beskeidenheid ’n Christenbroer help?
15 Beskeidenheid bevorder ook goeie verhoudinge met ons medegetuies van Jehovah. Dit sal ’n Christenbroer daarvan weerhou om vermetel op diensvoorregte aan te dring. Beskeidenheid sal hom bewus hou van sy beperkinge, sy gebrek aan kennis en ondervinding op sekere terreine vergeleke met ander. Dan sal dit vir hom belangriker wees om sy geestelike kwalifikasies te verbeter as om die amp van bedieningskneg of ouere man te beklee. As hy voortgaan om elke geleentheid om sy kennis te verbreed ten volle te benut en om sy medegelowiges te help, sal dit moontlik vir hom ’n verrassing wees wanneer hy aanbeveel word vir en aangestel word in ’n posisie van verantwoordelikheid in die gemeente. Dit was al telkens die geval.
16. Waarom is beskeidenheid die weg van wysheid vir Christinne?
16 Beskeidenheid is ook die weg van wysheid vir die susters in die gemeente. Dit geld nie net ten opsigte van kuisheid nie, al is dit baie belangrik (1 Timotheüs 2:9, 10; Titus 2:3-5). Omdat sy bewus is van haar beperkinge en haar toegewese rol in die gemeente, sal die wyse Christin beskeie let op wat sy sê. Sy sal nie te spraaksaam wees en kritiek uitspreek oor die wyse waarop die aangestelde ouere manne sake hanteer nie.—Vergelyk Judas 8, 9, 16.
17, 18. (a) Waarom moet jongmense beskeidenheid teenoor hulle ouers aan die dag lê? (b) Watter Skriftuurlike voorbeeld word hier verstrek om te toon dat dit wys is om ag te slaan op die raad van ouer persone?
17 Beskeidenheid aan die kant van jongmense is eweneens ’n blyk van wysheid. Jongmense maak hulself by ander bemind wanneer hulle hulle beskeie gedra. God se Woord beveel tereg dat hulle hulle vader en moeder eer en hulle in “alles” gehoorsaam (Kolossense 3:20; Efesiërs 6:1-3). Dit verg beskeidenheid om dit te doen en nie te dink dat jongmense verstandiger as hulle ouers is nie. En is jy nie baie dank aan jou ouers verskuldig nie? Hulle het jou in die wêreld ingebring. Van toe af tot op hede het jou ouers vir jou voedsel, klere, onderdak, onderwys, vermaak en geestelike onderrig voorsien. Sal respek op sigself jou dan nie beweeg om beskeidenheid teenoor hulle te openbaar nie?
18 As jy jou ouers beskeie in jou vertroue neem en hulle raad aanneem, is dit die weg van wysheid. Uit hoofde van hulle ondervinding het hulle gewis meer wysheid as jy. Die wêreld is vol onrus, nie weens ’n gebrek aan kennis nie, maar weens ’n gebrek aan wysheid. “Hulle het die woord van die Here verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?” (Jeremia 8:9). Selfs in ’n persoonlike saak soos die keuse van jou lewenslange huweliksmaat, sal jy wys wees as jy beskeie ag slaan op jou ouers se oordeel, aangesien hulle jou liefhet en jou welsyn op die hart dra. Hulle kan vir jou baie beter raad gee as jou portuurs. Dit sal nou wel nie so vleiend wees nie, maar dit sal vir jou beter wees. Die Bybel toon dat koning Rehabeam van eertydse Israel die grootste deel van sy koninkryk verloor het weens ’n gebrek aan beskeidenheid. Hy het die raad van die ouere manne wat sy vader se raadgewers was in die wind geslaan en verkies om die vleiende raad van sy portuurs, die jongmanne saam met wie hy grootgeword het, te volg. Hulle was net so onervare en kortsigtig soos hy.—1 Konings 12:1-24.
19. Hoe kan beskeidenheid ons goed te staan kom in ons getuieniswerk?
19 Christelike beskeidenheid sal ons ook goed te staan kom wanneer ons vir Jehovah God se naam en Koninkryk getuig, hetsy formeel of informeel. As ons met te veel selfvertroue praat, sal ons miskien sommige hoorders beïndruk, maar baie ander afstoot. Ons moet te alle tye die aandag op Jehovah God en sy Woord vestig, nie op onsself nie. Die volgende raad is baie toepaslik: “Julle moet in julle harte die eer gee aan Christus die Here. As iemand julle vra oor die verwagting wat julle vir die toekoms het, moet julle altyd reg wees om dit aan hom te verduidelik, maar doen dit met beskeidenheid [sagmoedigheid, AB] en met eerbied” (1 Petrus 3:15, 16, Die Lewende Bybel). Beskeidenheid sal dit makliker maak om sagmoedig te wees en groot eerbied te betoon.
20. (a) Wat het ons tot dusver oor beskeidenheid en dle gebrek daaraan geleer? (b) Watter vraag moet nog beantwoord word?
20 Uit die voorgaande kan ons duidelik sien watter groot leed die mensdom aangedoen is weens ’n gebrek aan beskeidenheid. Ons het ook gesien dat beskeidenheid ongetwyfeld die weg van wysheid is. Hierdie feite behoort ons te help om beskeidenheid aan te kweek. Maar watter verdere hulp kan ons vind in ons strewe om Christelike beskeidenheid aan te kweek?
[Voetnoot]
a Webster’s Third New International Dictionary.
Kan jy onthou?
◻ Waarom moet Jehovah se Getuies nie die wêreld se gesindheid teenoor beskeidenheid hê nie?
◻ Hoe kan ’n peroon nederig maar nie beskeie wees nie?
◻ Waarom vind ons dit almal moeilik om waarlik beskeie te wees?
◻ Waarom is dit so gepas dat ons beskeie is in ons verhouding met Jehovah?
◻ Hoe kan beskeidenheid ons in ons getuieniswerk help
[Prent op bladsy 25]
Christelike beskeidenheid het goeie verhoudinge met God en ons medegetuies van Jehovah tot gevolg