Ware Christene is Koninkrykspredikers
“Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—MATTHEÜS 24:14.
1, 2. (a) Waarom moet die Koninkryksboodskap nou wêreldwyd verkondig word? (b) Watter vrae moet elke getuie van Jehovah homself afvra?
KONDIG JEHOVAH SE KONINKRYK AAN. Dit is al dekades lank die hoofdoel van hierdie blad. Trouens, dit is ’n deel van sy geregistreerde titel. En dit is noodsaaklik dat die Koninkryksboodskap nou wêreldwyd verkondig word. Waarom? Weens dit wat Jesus Christus gesê het nadat hy ander aspekte van “die teken” van sy onsigbare “teenwoordigheid” en die einde van die stelsel opgenoem het. Jesus het gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:3, 14, NAV; kyk ook NW.
2 Vandag is “die einde” inderdaad naby. Daarom kan elke toegewyde getuie van Jehovah homself gerus afvra: Hoe voel ek oor die Koninkryksprediking? Neem ek gereeld daaraan deel? En voer ek my bediening met vaardigheid en ywer uit?
Die opdrag om te preek
3. Wat dui Jesus se woorde in Mattheüs 5:14-16 in verband met sy volgelinge aan?
3 Geen ware Christen kan tereg die bevoorregte werk ontduik om die “evangelie”, of goeie nuus, aan ander te verkondig nie. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ’n mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheüs 5:14-16). Dit het aangedui dat Jesus se dissipels Koninkrykspredikers sou wees.
4. Wat is van die grootste Koninkryksverkondiger gesê?
4 Aangaande die grootste Koninkryksprediker is daar gesê: “Toe onse Here die koninkryk verkondig het, het Hy begin . . . om die Bediening daarvan te reël en te organiseer . . . Hy het die profetiese bediening begin . . . en sowel die Twaalf as die Sewentig deelgenote daarvan gemaak. Terwyl Hy die komende koninkryk verkondig en ‘tekens’ gedoen het, het Hy hulle voor Hom uitgestuur met ’n soortgelyke boodskap en soortgelyke vermoëns. Deur ’n wonderlike kursus van noukeurige onderrigting . . . het Hy hulle ondertussen opgelei vir posisies van groter verantwoordelikheid wat later aan hulle gegee sou word.”—A Church History deur Milo Mahan.
5. Wat het Jesus in verband met Koninkryksprediking gedoen?
5 Jesus het sy apostels en die 70 dissipels wat hy uitgestuur het behoorlik onderrig (Lukas 6:12-16; 10:1-22). Daarbenewens het ons Voorbeeld self “die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig”. Saam met hom was die apostels en sekere vroue “wat Hom . . . met hulle besittings gedien het” (Lukas 8:1-3). Ja, Jesus was ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus en het stappe gedoen om ’n organisasie vir Koninkryksprediking op die been te bring.
6. Watter opdrag het Jesus voor sy hemelvaart aan sy volgelinge gegee?
6 Na ’n bediening van drie en ’n half jaar het Jesus sy aardse loopbaan voltooi. Maar voor sy hemelvaart het hy aan sy volgelinge hierdie opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:19, 20). Hulle sou inderdaad Koninkrykspredikers wees.
7. Waarom sou Jesus se dissipels sukses behaal as sy getuies, al het dit hulle aanvanklik aan juiste kennis in verband met die Koninkryk ontbreek?
7 Net voor Jesus die aarde verlaat het, het sy dissipels gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” In antwoord het hy vir hulle gesê: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie.” Al het dit die dissipels destyds aan juiste kennis in verband met die Koninkryk ontbreek, kon Jesus hulle as verkondigers daarvan aanstel, want hulle sou die nodige hulp hê om hulle opdrag uit te voer. “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom,” het Jesus bygevoeg, “en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1: 6-8). Onder die leiding van die heilige gees sou Jesus se volgelinge uiteindelik besef dat die Koninkryk ’n hemelse regering sou wees (Johannes 16:12, 13). En met verloop van tyd sou die feite aangaande daardie Koninkryk “tot aan die uiterste van die aarde” verkondig word.
8. Hoe suksesvol was die eerste-eeuse predikingswerk?
8 Daardie getuies het hulle baie goed van hulle taak gekwyt. Jehovah was natuurlik met hulle, en hulle het die steun van die verheerlikte Jesus Christus gehad (Handelinge 8:1-8; 11:19-21). Geen wonder nie dat die apostel Paulus reeds in die jaar 60 of 61 G.J. kon sê dat die “evangelie” al klaar “in die ganse mensdom onder die hemel” verkondig is!—Kolossense 1:23.
9. Wat is die vernaamste werk van die Christengemeente, soos hier aangetoon word?
9 In verband met die getuieniswerk is daar geskryf: “Die verkondiging van die evangelie is . . . nie een van baie werksaamhede waarmee die Kerk van die N[uwe] T[estament] gemoeid is nie, maar dit is sy grondliggende, sy essensiële werksaamheid. . . . Let wel, Jesus het nie [in Handelinge 1:8] gesê: Julle sal van my getuig, of Julle sal oor my getuienis lewer nie, maar: Julle sal my getuies wees. Die gebruik van die werkwoord ‘om te wees’ het hier ’n waarde wat met volle en letterlike erns opgeneem moet word. Die uitdrukking [in Grieks] sê nie bloot wat die Kerk sou doen nie, maar wat die Kerk sou wees. . . . Die Kerk van Jesus Christus is . . . ’n liggaam van getuies” (Pentecost and the Missionary Witness of the Church, deur Harry R. Boer, bladsye 110-114). Ja, die vernaamste werk van die ware Christengemeente is om te getuig.
Deur goddelike bestiering
10, 11. (a) Hoe is eerste-eeuse Koninkryksverkondigers georganiseer? (b) Wat het gebeur toe nuwe omstandighede ontstaan het?
10 Eerste-eeuse Koninkryksverkondigers het leiding van ’n bestuursliggaam ontvang. Reisende ouderlinge het in die organisasie gedien, en gemeentelike pligte is deur opsieners en bedieningsknegte behartig (Handelinge 15:1, 2, 22-36; Filippense 1:1). Maar wat het gebeur toe nuwe omstandighede ontstaan het?
11 Wel, kyk wat kort na Pinkster van 33 G.J. plaasgevind het. Griekssprekende Jode het teen Hebreeussprekende Jode begin murmureer “omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is”. Om die probleem op te los, het die apostels “sewe manne . . . van goeie getuienis” aangestel om vir die uitdeel van voedsel te sorg (Handelinge 6:1-8). Hieroor lees ons: “Aanvanklik was die onpartydige uitdeel van die daaglikse, openbare maaltye, vir sover ons meegedeel word, al waarvoor die ‘sewe’ afgesonder is, maar ander pligte sou natuurlik bygevoeg word soos hulle ontstaan het, want ofskoon die beginsels van die nuwe geloof onveranderlik was, is die reëlings en aanbiedingsvorme waardeur daardie beginsels die doeltreffendste bevestig en uitgebrei kon word aan die wysheid en praktiese ondervinding van opeenvolgende geslagte oorgelaat . . . Die aanpassing en wysiging van ontbeerlike besonderhede . . . is onmisbaar in enige groot organisasie.”—Hours With the Bible, New Testament Series, deel II, deur Cunningham Geikie.
12. (a) Wat het tot die vooruitgang van die vroeë Christelike godsdiens bygedra? (b) Waar en hoe is Jesus se volgelinge vir die eerste keer Christene genoem?
12 Gebedsvertroue op God, tesame met “die wysheid en praktiese ondervinding” van die bestuursliggaam, het bygedra tot die vooruitgang van die vroeë Christelike godsdiens. En dinge het inderdaad deur goddelike bestiering gebeur. Van Jesus se vroeë volgelinge is daar byvoorbeeld gesê dat hulle tot “die Weg” behoort (Handelinge 9:1, 2). Maar moontlik reeds in 44 G.J., in Antiochië, Sirie, “is die dissipels deur goddelike bestiering Christene genoem” (Handelinge 11:26, NW). Dit was ’n Godgegewe naam wat hulle geredelik aanvaar het.—1 Petrus 4:16.a
13. Wat het die vroeë Christene in hulle Koninkryksprediking gebruik, net soos Jehovah se Getuies vandag moderne uitgewersmetodes gebruik?
13 Onder daardie vroeë Christene was daar ook ander ontwikkelinge wat aan goddelike bestiering te danke was. Net soos Jehovah se Getuies nou van moderne uitgewersmetodes gebruik maak, so het die vroeë Christene byvoorbeeld baanbrekerswerk gedoen met die gebruik van die kodeks—iets wat hulle baie gehelp het in hulle ywerige Koninkryksprediking. In hierdie verband het C. C. McCown geskryf: “Die doel van die Christene se godsdiensboeke, sowel die Ou Testament as die nuwe geskrifte . . . was nie sodat die welgesteldes dit op hulle gemak kon lees nie. Hardwerkende sakemense wou soveel moontlik in ’n boek inkry. Hulle en die ywerige Christensendelinge wou vinnig na hierdie of daardie bewysteks kon verwys, sonder om lang stukke papirus hoef af te rol.”—The Biblical Archaeologist Reader, bladsy 261.
14. Watter geleenthede het Jesus se apostels aangegryp om te preek?
14 Die vermoë ‘om vinnig na hierdie of daardie bewysteks te verwys’ was baie belangrik as gevolg van die Koninkrykspredikingsmetodes van die vroeë Christene. Soms het hulle natuurlik informeel vir mense getuig, soos Jehovah se Getuies baiemaal vandag doen. Hieroor is daar gesê: “Een van die sonderlinge kenmerke van die apostoliese prediking was die insidentele aard daarvan. ’n Apostel het nie vir ’n groot geleentheid gewag nie. Sy enigste plegtige geleentheid was wanneer hy, soos Paulus voor Felix, as gevangene voor ’n heerser in purpergewaad verskyn het om van homself rekenskap te gee en hom te verantwoord op die aanklag van wetsoortreding. Hy was nie sonder geleenthede nie, maar dié het hulle voorgedoen in die gevangenis, langs die pad en in die nederige huis waar hy oornag herberg ontvang het. . . . Hy het gemeen dat sy boodskap merendeels vir individue was, ofskoon hy ewe bereid was om dit vir die menigte aan te bied. Hy was ewe tuis voor enige gehoor. Hy het nie die voorbeeld van Christus vergeet nie, . . . [wie se] stoa die stowwerige grootpad, die besige straat of die klipperige strand van Joods-Galilea was . . . [Die apostels] het nie vergeet nie dat hy hulle, vroeg in sy omgang met hulle, spesiale instruksies gegee het in verband met die beste metodes om sy leringe te verkondig, dat hy later hierdie eerste lesse deur nog lesse bekragtig het en dat hy, net voor sy hemelvaart, vir hulle die wêreld gegee het as hulle saailand en elke skepsel as hulle toehoorder.”—History of the Christian Church, deur John F. Hurst, deel I, bladsy 96.
“Van huis tot huis”
15. Hoe het die apostels die predikingswerk gedoen in die dae nä Pinkster van 33 G.J.?
15 In die dae ná Pinkster van 33 G.J. het Jesus se dissipels alreeds ’n uitmuntende metode gebruik om die “evangelie” te verkondig. Wat het die vervolgde apostels gedoen nadat hulle ter wille van Jesus Christus se naam oneer gely het? “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is”! (Handelinge 5:41, 42). Ja, die apostels het van huis tot huis getuig.
16. In watter soort predikingswerk het Paulus die ouere manne van Efese opgelei?
16 Later kon die apostel Paulus aangestelde ouere manne van Efese herinner: “Ek [het] niks agtergehou . . . van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise [“van huis tot huis”, NW], terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus” (Handelinge 20:20, 21). Paulus het nie bedoel dat hy aangestelde ouere manne in hulle huise onderrig het nie. Hy het eerder vir ongelowige Jode en Grieke gepreek oor bekering tot Jehovah God en geloof in Jesus Christus. Dit ly geen twyfel nie dat Paulus daardie ouere manne ook geleer het om van huis tot huis te getuig.
17. Wat het verskillende geleerdes aangaande Paulus se bediening van huis tot huis in Efese gesê?
17 In verband met die apostel se bediening in Efese is daar gesê: “Dit was Paulus se gewoonte om in sy ambag te werk van sonop tot 11 vm. (Handelinge 20:34-35), teen welke tyd Tirannus met sy onderrigting klaar was; dan het hy van 11 vm. tot 4 nm. in die saal gepreek, konferensies met helpers gehou, privaat samesprekings met kandidate gevoer en uitbreiding na die binneland beplan; daarna het hy ’n evangelistiese werwingsveldtog van huis tot huis onderneem wat van 4 nm. tot laat in die nag geduur het (Handelinge 20:20-21, 31)” (A. E. Bailey). Ander geleerdes het gesê: “Hy was nie daarmee tevrede om bloot toesprake in die openbaar te hou en van ander metodes af te sien nie, maar het ywerig sy groot werk op persoonlike vlak, van huis tot huis, gedoen en letterlik die hemelse waarheid tuisgebring na die huise en harte van die Efesiërs” (A. A. Livermore). “In die openbaar en van huis tot huis, in die stad en deur die hele provinsie, het hy die evangelie verkondig” (E. M. Blaiklock). “Dit is opmerkenswaardig dat hierdie prediker der predikers van huis tot huis gepreek en nie sy besoeke blote kuiertjies gemaak het nie.”—A. T. Robertson.
18. (a) Waarom sou jy sê dat daar ’n stewige Skriftuurlike grondslag vir die huis-tot-huisbediening van Jehovah se Getuies is? (b) Waar en hoe verkondig Jehovah se Getuies die Koninkryksboodskap, net soos Jesus en sy vroeë dissipels gedoen het?
18 Jesus se apostels het in 33 G.J. van huis tot huis getuig. Dit was ’n deel van Paulus se bediening in Efese en ongetwyfeld elders. Daar is dus ’n stewige Skriftuurlike grondslag vir die huis-tot-huisbediening van Jehovah se Getuies. En dit geld vir talle ander metodes wat hulle gebruik om die Koninkryksboodskap uit te dra. McClintock en Strong se Cyclopedia lewer hierdie interessante kommentaar: “Onse Here en sy apostels het predikingsplekke gevind oral waar mense byeengebring kon word. Die berghelling, die oewers van seë en riviere, die openbare straat, privaat huise, die voorportaal van die Tempel, die Joodse sinagoge en allerhande ander plekke is geskik gevind vir die verkondiging van die Evangelie” (Deel VIII, bladsy 483). Soos Jesus en sy vroeë dissipels verkondig Jehovah se Getuies die Koninkryksboodskap in “die openbare straat, privaat huise . . . en allerhande ander plekke”. Hulle doen byvoorbeeld tydskrifwerk op straat (met hierdie tydskrif en sy medeblad Ontwaak!) en is veral bekend vir hulle prediking van huis tot huis.
19. Hoe word besluite geneem oor die predikingsmetodes wat Jehovah se Getuies vandag gebruik?
19 Die basiese vorme van die bediening wat nou deur Jehovah se Getuies gebruik word, was goed gevestig in die eerste eeu. Bowendien is dit gepas dat die hedendaagse Bestuursliggaam van gesalfde Christene besluit watter predikingsmetodes vandag geskik is. Sulke besluite kan deels op “die wysheid en praktiese ondervinding” van hierdie manne gegrond wees. Maar bowenal neem hulle besluite soos die eerste-eeuse, Christelike bestuursliggaam dit gedoen het. Daar word gebid om die leiding van God en sy heilige gees, en Skriftuurlike presedente word gevolg wanneer daar bepaal word watter predikingsmetodes in hierdie “laaste dae” die geskikste is.—2 Timotheüs 3:1; Handelinge 15:23, 28.
20. (a) Waarom kan ons seker wees dat die predikingsmetodes van Jehovah se Getuies goddelike goedkeuring geniet? (b) Watter beskouing moet al Jehovah se knegte van die Koninkryksprediking hê?
20 Dit is duidelik dat die predikingsmetodes wat Jehovah se Getuies gebruik aan goddelike bestiering te danke is, want God het hierdie metodes met groot voorspoed en seëninge bekroon (Spreuke 10:22). ’n Menigte skaar hulle aan die kant van ware aanbidding en sluit by die oorblyfsel van Jesus se gesalfde volgelinge aan as deel van die enigste organisasie wat Jehovah se heilige naam eer en onbevrees die goeie nuus van die opgerigte hemelse Koninkryk verkondig. Mag al Jehovah se knegte dan aanhou om hulle in te span in die werk om dissipels te maak terwyl hierdie stelsel sy einde nader. Dit moet ons getrou doen, want ware Christene is onteenseglik Koninkrykspredikers.
[Voetnote]
a Kyk bladsy 316 van Aid to Bible Understanding, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word.
Wat is jou siening?
◻ Waarom moet die Koninkryksboodskap nou aardwyd verkondig word?
◻ Wat is die vernaamste werk van alle ware Christene?
◻ Waarom kan daar gesê word dat dinge onder Jehovah se knegte deur goddelike bestiering gebeur?
◻ Watter stewige grondslag is daar vir die huis-tot-huisprediking van Jehovah se Getuies?
[Prent op bladsy 11]
Jesus het vir sy volgelinge gesê: ‘Gaan heen, maak dissipels.’ Hou jy jou ywerig besig met hierdie vernaamste werk van alle ware Christene?
[Prent op bladsy 13]
Getuig jy gereeld van huis tot huis? Jesus se vroeë apostels het. So ook die ywerige Koninkryksverkondiger Paulus