Jesus se lewe en bediening
Reise na Jerusalem
DIT is weer lente. En die tyd het aangebreek vir Josef se gesin om saam met vriende en familie hulle jaarlikse reis na Jerusalem aan te pak om die Paasfees te vier. Daar is die gewone opgewondenheid wanneer hulle op die reis van 105 kilometer vertrek. Jesus is nou 12 jaar oud, en hy sien met groot verwagting na die fees uit.
Vir Jesus en sy gesin is die Paasfees nie net ’n eendaagse geleentheid nie. Hulle bly ook vir die daaropvolgende, sewedaagse Fees van die Ongesuurde Brode, wat hulle as deel van die Paasseisoen beskou. Die hele reis van hulle tuisdorp Nasaret af, tesame met die verblyf in Jerusalem, duur dus ongeveer twee weke. Maar as gevolg van ’n voorval waarby Jesus betrokke is, duur dit vanjaar langer.
Die probleem kom aan die lig tydens die terugreis van Jerusalem af. Josef en Maria aanvaar dat Jesus by die groep familielede of vriende is wat saamreis. Maar toe hy teen die aand nog nie sy verskyning maak nie, gaan soek hulle hom onder hulle reisgenote. Daar is geen spoor van hom nie. Daarop gaan Josef en Maria die hele pad terug Jerusalem toe om hom te soek.
Hulle soek ’n hele dag lank maar sonder welslae. Op die tweede dag kry hulle hom ook nie. Uiteindelik, op die derde dag, gaan hulle na die tempel. Daar, in een van die sale, sien hulle Jesus by die Joodse leraars sit, besig om na hulle te luister en hulle uit te vra.
‘Kind, hoekom het jy dit aan ons gedoen?’ vra Maria. ‘Ek en jou vader was rasend van bekommernis en het oral na jou gesoek!’
Jesus is verbaas dat hulle nie geweet het waar om hom te vind nie. ‘Hoekom het julle na my gesoek?’ vra hy. ‘Het julle nie geweet dat ek hier by my Vader se huis moet wees nie?’
Jesus kan nie verstaan hoekom sy ouers dit nie weet nie. Jesus gaan toe saam met sy ouers terug huis toe en bly onderdanig aan hulle. Hy neem toe in wysheid en fisieke grootte en ook in genade by God en die mense. Ja, Jesus stel van sy kinderdae af ’n goeie voorbeeld, nie net deur geestelike belange na te streef nie, maar ook deur sy ouers te eerbiedig. Lukas 2:40-52; 22:7.
♦ Watter reis het Jesus gereeld in die lente saam met sy gesin onderneem, en hoe lank het dit geduur?
♦ Wat het gedurende die reis gebeur toe Jesus 12 jaar oud was?
♦ Watter voorbeeld het Jesus vir hedendaagse kinders gestel?