God se bedienaars bewys hulle bekwaamheid
“En wie is tot hierdie dinge bekwaam?”—2 Korinthiërs 2:16
1. Watter vraag kan in alle opregtheid in vandag se godsdienstig verdeelde wêreld gestel word?
IN VANDAG se godsdienstig verdeelde wêreld kan hierdie vraag in alle opregtheid gestel word: “Wie is werklik ’n gemagtigde bedienaar van God? Die apostel Paulus het eweneens gevra: “Wie is tot hierdie dinge bekwaam?” Toe hulle uitgedaag is, kon Paulus en sy medewerkers sê: “Ons is”! (2 Korinthiërs 2:16, 17). Maar wie het vandag ’n vaste grondslag, die reg en die moed om te antwoord: “Ons is”?
2. Wat is die kern van Paulus se woorde in 2 Korinthiërs 2:14-17?
2 Kom ons kyk na hierdie woorde van Paulus aan Christene in Korinthe voordat ons daardie vraag beantwoord: “Maar aan God die dank! . . . Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur die bereik wat gered word, sowel as die wat verlore gaan. Vir die wat verlore gaan, is dit ’n doodsreuk wat dood bring; vir die wat gered word, is dit ’n lewensgeur wat lewe wek. En wie is tot sulke dinge in staat? Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.”—2 Korinthiërs 2:14-17, NAV; kyk The Watchtower, 1 Mei 1944, bladsye 133-4.
3. (a) Hoe moet ons voel oor die gedagte om vir selfsugtige gewin met God se Woord handel te dryf? (b) Wat het Paulus gedoen sodat hy nie ’n finansiële las sou word vir diegene vir wie hy gepreek het nie?
3 Smousery met God se Woord vir selfsugtige gewin—wat ’n weersinwekkende gedagte! Paulus het nie finansiële gewin gesoek deur daardie Woord te verkondig sodat hy ’n luilekker lewe kon lei en uiteindelik uit die bediening kon tree en vir die res van sy lewe kon ontspan nie. Hy was bereid om tente te maak as byverdienste om vir homself te sorg en sy metgeselle in Jehovah se diens te help (Handelinge 18:1-4). Paulus het nie ’n finansiële las geword vir diegene aan wie hy die goeie nuus verkondig het nie. Hy kon die Korinthiese Christene dus vra: “Het ek sonde gedoen deur my te verneder sodat julle verhoog kan word, omdat ek die evangelie van God kosteloos aan julle verkondig het?” (2 Korinthiërs 11:7). Daardie vraag moes met ’n besliste nee beantwoord word!
4. Hoe volg Jehovah se Getuies Paulus se voorbeeld ten opsigte van God se Woord na?
4 Jehovah se Getuies volg vandag die apostel se goeie voorbeeld na deur nie met die kosbare Woord van God handel te dryf nie, maar dit aan almal beskikbaar te stel. Hulle kommersialiseer nie iets so heiligs nie. Hulle het dus nie besoldigde geestelikes nie, hulle openbare sprekers vra nie betaling vir lesings nie en ’n kollektebord word nooit by hulle vergaderinge omgestuur nie. As iemand ’n bydrae tot die werk wil maak, kan hy enige bedrag, selfs een soos die weduwee se “twee geldstukkies van baie geringe waarde”, in ’n bydraebussie by die Koninkryksaal of elders gooi (Lukas 21:1-4, NW). Sulke vrywillige bydraes word gebruik om onkoste te dek en nie ’n individu te verryk nie. Selfs privaat huise word vry oopgestel vir vergaderinge van Jehovah se Getuies.—Filemon 1, 2.
“Voldoende bekwaam”
5. Wie het Jehovah se Getuies vir heilige diens bekwaam?
5 Maar wie het vandag Jehovah se Getuies bekwaam om so ’n Skriftuurlike voorbeeld te volg ondanks al die vervolging en teenstand wat hulle voortdurend verduur? Niemand anders as die Persoon wat Paulus en sy metgeselle voldoende bekwaam het vir heilige diens kan hiervoor verantwoordelik wees nie. Let op Paulus se suiwere motief in teenstelling met ’n godsdienstige smous se beweegrede waar hy verduidelik het: “Maar as uit opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus” (2 Korinthiërs 2: 17). Dit is hoe Jehovah se Getuies vandag spreek. Maar beveel ons onsself as bedienaars aan? Hoef ons aanbevelingsbriewe van ander te publiseer?
6. (a) Waarom dink die Christendom se geestelikes dat hulle “voldoende bekwaam” is? (b) Maar op watter grondslag berus ’n persoon se bekwaamheid vir die ware Christelike bediening?
6 Paulus het ontken dat bekwaamheid vir sy bediening iets is wat hy ontwikkel het. Hy het gesê: “Ons bekwaamheid is uit God, wat ons ook [voldoende] bekwaam gemaak het as dienaars van ’n nuwe testament” (2 Korinthiërs 3:4-6, vgl. NW). Anders as Paulus beweer die geestelikes van die valse Christendom dat hulle “voldoende bekwaam” is omdat hulle aan teologiese kweekskole gegradueer het. Hulle ontken derhalwe dat diegene wat nie aan kweekskole gestudeer het nie bekwame bedienaars is met gesag om te onderrig. Maar Paulus se spesiale opleiding in Judaïsme het hom nie vir die Christelike bediening met betrekking tot die nuwe verbond bekwaam nie. Jesus het ook nie ’n teologiese kweekskool geopen wat sy 12 apostels of enigiemand anders moes bywoon nie. Vandag moet ’n persoon se voldoende bekwaamheid vir die ware Christelike bediening insgelyks van Jehovah, die grootste Onderrigter, kom. So ’n bedienaar sou natuurlik onweerlegbare bewys moet voorlê.
“Wie het U hierdie gesag gegee?”
7. In watter opsig het die godsdiensleiers van Nikodemus verskil wat hulle beskouing van Jesus se gesag betref?
7 Godsdiensleiers het selfs die reg van God se Seun om die goeie nuus te verkondig en wonderdade te verrig, bevraagteken. In die tempel het “die owerpriesters en die ouderlinge van die volk na Hom [gekom] terwyl Hy besig was om te leer, en [gesê]: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?” (Mattheüs 21:23). Hulle het geweier om tot dieselfde gevolgtrekking te kom as die Joodse owerste Nikodemus toe hy vir Jesus gesê het: “Rabbi, ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met Hom is nie.”—Johannes 3:1, 2.
8. Hoe het Joodse leiers, na meer as drie jaar van Jesus se bediening, gereageer op bewys van sy identiteit en gesag?
8 Jesus kon vir sy uitdagers gesê het: ‘Laat my werke vir hulleself spreek!’ Na meer as drie jaar van sy openbare loopbaan het die owerpriesters en ouderlinge talle tekens gehad waarvolgens hulle tot ’n juiste slotsom kon kom omtrent Jesus se identiteit en reg om wonderwerke te doen en die waarheid van God se Koninkryk te leer. Hulle was eenvoudig te hardnekkig om al die getuienis te aanvaar wat Jehovah voorsien het ter bewys dat Jesus die beloofde Messias was.
9, 10. (a) Waarom moet dit Jehovah se Getuies nie verbaas as hulle bekwaamheid as bedienaars vandag in twyfel getrek word nie? (b) Hoe het Jesus gereageer toe godsdiensleiers sy gesag uitgedaag het, en watter uitwerking het dit gehad?
9 In die lig van wat met Jesus gebeur het, verbaas dit Jehovah se Getuies nie dat hulle bekwaamheid as gemagtigde bedienaars van sy Vader vandag deur godsdiensleiers in twyfel getrek word nie. Aangesien diegene wat Jesus se gesag uitgedaag het sy talle wonderwerke geïgnoreer het, het hy ’n vraag gestel wat hulle in ’n hoek gejaag het. En sy hedendaagse dissipels kan dieselfde doen in die geval van diegene wat opsetlik die werke van daardie dissipels misken.
10 Toe die owerpriesters en ouderlinge Jesus gevra het: “Wie het U hierdie gesag gegee?” het hy nie ’n abstrakte vraag gestel nie, maar gesê: “Ek sal julle ook een ding vra, en as julle dit vir My sê, sal Ek julle ook vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, waar was dit vandaan, uit die hemel of uit mense?” Die verslag gaan voort: “En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel—dan sal Hy ons vra: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? En as ons sê: Uit mense—dan moet ons oppas vir die menigte, want almal hou Johannes vir ’n profeet. Toe antwoord hulle Jesus en sê: Ons weet nie. Hy sê toe ook vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie” (Mattheüs 21:23-27). Vandag kan Jehovah se Getuies aan die geestelikes Skriftuurlike vrae stel met dieselfde gevolg.a
11. Watter werk het Jehovah se volk voor 1914 gedoen, en hoe is hulle kritici die swye opgele?
11 Sedert 1876 het Jehovah se volk die wêreld, en veral die Christendom, in kennis gestel dat die Tye van die Nasies in die noordelike herfs van 1914 sou eindig (Lukas 21:24). Die geestelikes kon nie hierdie voorwerk van nagenoeg 40 jaar—’n werk wat ooreenkom met die van Johannes die Doper—ignoreer nie. Daardie geestelikes het gretig gewag om hierdie joernaal se redakteur aan te val indien 1914 sou verstryk sonder enige buitengewone gebeure wat sou beantwoord aan die waaromtrent hy gewaarsku het. Maar op 28 Julie 1914 is hulle die swye opgelê toe die vrede met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog verpletter is!
12. Watter ontberinge was daar gedurende en ná die Eerste Wêreldoorlog?
12 Die oorlog se verwoesting en die onttrekking van baie manne aan landbouwerk het voedselskaarstes tot gevolg gehad. Aardbewings het verskeie dele van die aarde geskud en baie skade en lyding veroorsaak. In 1915 het ’n aardbewing in Avezzano, Italië, 29 970 gedood, en ’n geweldige aardbewing in 1920 in die provinsie Kansu, China, het 200 000 laat sterf. In 1923 het meer as 140 000 in die aardbewing in Groot-Kanto in Japan gesterf. Op die hakke van die oorlog het die Spaanse griep gevolg wat in een jaar meer lewens geëis het as die oorlog van vier jaar. Die vervolging van Jehovah se knegte gedurende daardie Eerste Wêreldoorlog, wat ’n hoogtepunt bereik het met nege maande se onregverdige opsluiting van die President en die sekretarispenningmeester van die Wagtoringgenootskap en ses van hulle medewerkers, moet nie oor die hoof gesien word nie.
13. Wat het Jehovah se Getuies vir die Christendom se geestelikes gevra, en wat sou hierdie kritici moes erken as hulle eerlik sou antwoord?
13 Sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog het Jehovah se Getuies die Christendom se geestelikes gevra: ‘Is die rampspoedige gebeure wat ons aarde van 1914 af teister ’n vervulling van Jesus se profesie in Mattheüs 24:3-13?’ As daardie geestelikes eerlik ja geantwoord het, sou hulle moes erken dat Jesus Christus in 1914 sy hemelse Koninkryk ontvang het. Aangesien Jesus gesê het dat ‘die wêreld hom nie meer sal sien nie’ en hy nou ’n onsterflike geespersoon is, is sy “koms” of “teenwoordigheid” natuurlik onsigbaar (Johannes 14:19; Mattheüs 24:3; 1 Petrus 3:18, NW). Maar as hulle dit sou erken, sou die geestelikes nie kon aanvoer dat die wêreldskokkende gebeure van 1914-18 bloot ’n gewone uitbarsting tussen nasies in die loop van die geskiedenis is nie.
14. (a) Aan watter werk sou godsdiensleiers verplig wees om deel te neem as hulle die feite sou erken? (b) Watter plaasvervanger vir die Koninkryk sou hulle moes verwerp, maar watter weg het hulle ingeslaan?
14 As die geestelikes van die Christendom sou erken dat die gebeure van 1914-18 die begin van die einde van die ou stelsel gekenmerk het, sou hulle boonop verplig wees om ander dele van “die teken” van Jesus se “teenwoordigheid” te erken en ’n aandeel te hê aan die vervulling van sy woorde: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Mattheüs 24: 14). Dit sou beteken dat hulle moes preek, nie die Evangelie wat hulle eeue lank verkondig het nie, maar die goeie nuus van die Koninkryk wat aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 in die hemel opgerig is. Hulle sou die Volkebond as “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde” moes verwerp en hom en sy opvolger, die Verenigde Volke, as ‘die gruwel van die verwoesting wat in die heiligdom staan’, beskou (Mattheüs 24:15). Maar tot 1985 het die geestelikes van die Christendom geweier om die Volkebond en die Verenigde Volke as daardie “gruwel” te bestempel.
15. Watter toekoms lê vir die geestelikes voor, maar wat doen Jehovah se Getuies?
15 Die Christendom se geestelikes weier dus om standpunt vir Jehovah se Koninkryk deur Jesus Christus in te neem. Hulle sal weens hulle versuim om dit te ondersteun in die naderende “groot verdrukking” vernietig word. Jehovah se Getuies daarenteen het Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, verlaat en verkondig die Koninkryksboodskap in 203 lande. Hierdie ongeëwenaarde werk is ’n buitengewone aspek van “die teken” wat bewys dat Jesus in 1914 as hemelse Koning ingehuldig is om te midde van sy vyande te heers.—Mattheüs 24:3, 14, 21; Psalm 110:1, 2; Openbaring 18:1-5.
Is ’n aanbeveling nodig?
16. Watter vrae ontstaan oor aanbeveling, en wat het Paulus hieroor gesê?
16 Beveel ons onsself sonder grond as Jehovah se gesalfde getuies aan? Of bewerkstellig ons sake slim om so ’n aanbeveling op Jesus se “ander skape” toe te pas? (Johannes 10:16). Paulus het nie so iets gedoen nie, maar kon vir daardie Korinthiërs wat weens sy onvermoeide pogings Christene geword het, sê: “Begin ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle? Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik ’n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.”—2 Korinthiërs 3:1-3.
17. Waarom kan daar gesê word dat Paulus voldoende bekwaam was vir die bediening, en wat kan in hierdie opsig van Jehovah se Getuies gesê word?
17 Onder leiding van Jehovah se gees het Paulus ’n aantal Bybelboeke geskryf en talle tot die Christelike godsdiens bekeer. Hy was dus ongetwyfeld voldoende bekwaam vir die Christelike bediening. In ’n hedendaagse parallel het die gesalfde oorblyfsel van Christus se dissipels, hoewel nie geïnspireer soos Paulus nie, baie Bybellektuur gepubliseer, veral sedert hierdie tydskrif vir die eerste keer in 1879 uitgegee is. Van 1920 af het hulle duisendmiljoene boeke, boekies, tydskrifte en traktate in baie tale gedruk. Die lektuur word teen verlaagde pryse versprei en baie daarvan word gratis aan die armes gegee. Die Wagtoringgenootskap reël ook gratis Bybellesings en stuur sendelinge na onbearbeide gebiede dwarsoor die wêreld. Tienduisende het gunstig gereageer op die gedrukte en mondelinge boodskap en het hulle toewyding aan Jehovah God deur doop gesimboliseer, veral sedert 1935 toe daar vir die eerste keer getoon is dat ’n onbeperkte “groot menigte” van Jesus se “ander skape” na die ewige lewe in ’n herstelde paradys op aarde kan uitsien.—Openbaring 7:9-17; Lukas 23:43.
18. Waarop kan die gesalfde oorblyfsel die aandag vestig as hulle bekwaamheid as bedienaars bevraagteken word?
18 Gestel die geestelikes sou dus die gesalfde oorblyfsel uitdaag om sertifikate as Doktore in die Godgeleerdheid voor te lê. Wat dan? Wel, hierdie knegte van Jehovah kan baie belangriker bewyse lewer! Hulle kan die aandag vestig op meer as twee-en-’n-halfmiljoen “ander skape” aardwyd en sê: ‘Daar is ons bewysbrief!’ Hulle kan Paulus se woorde aan die lede van die “groot menigte” rig en sê: “Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense” (2 Korinthiërs 3:2). Laat die Christendom se geestelikes daardie lewende brief lees wat bestaan uit toegewyde, gedoopte Christene wat Jehovah God dag en nag in sy tempel dien en wat help om ‘hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies te verkondig’ (Mattheüs 24: 14). Soos die gesalfde oorblyfsel bewys hulle dat hulle voldoende bekwaam is vir die Christelike bediening.
19. Watter unieke aanbevelingsbrief sal deur Armageddon behoue bly?
19 Hierdie unieke aanbevelingsbrief sal nie in die naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by die simboliese plek Armageddon uitgewis word nie (Openbaring 16:14-16). Dit sal eerder deur die almagtige God bewaar en beskerm word sodat dit na Armageddon in die stelsel onder Christus die Koning vertoon kan word. Wat ’n kragtige brief sal daardie “groot menigte” tog wees vir die miljarde menslike dode wat Jehovah God, deur Jesus Christus, dan dwarsoor die wêreld uit die grafte sal opwek! Gesalfde oorblyfsel, hou dus aan skrywe! En julle, die “groot menigte” van die Goeie Herder se “ander skape”, hou aan om hulle by te staan!
[Voetnote]
a Kyk byvoorbeeld paragraaf 13 en 14 hieronder
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe volg Jehovah se Getuies Paulus na deur nie met God se Woord handel te dryf nie?
◻ Wat is die grondslag vir ’n persoon se bekwaamheid vir die ware Christelike bediening?
◻ Aan watter werk sou godsdiensleiers verplig wees om deel te neem as hulle die feite sou erken?
◻ Op watter unieke brief kan die gesalfde oorblyfsel die aandag vestig as bewys dat hulle voldoende bekwaam is as bedienaars?
[Prent op bladsy 23]
Jesus het sy dissipels geleer om bedienaars te wees, maar hy het nie teologiese kweekskole opgerig nie
[Prent op bladsy 25]
As bekwame bedienaars verkondig Jehovah se Getuies die goeie nuus van die opgerigte Koninkryk. Doen jy dit?