‘Moenie gou julle verstand verloor nie’
“Ons vra julle . . . om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees.”—2 THESSALONICENSE 2:1, 2.
1. Watter aangename herinneringe wek dit wanneer ons terugdink aan die tyd toe ons die waarheid geleer het?
WANNEER ons as Christene terugdink aan die tyd toe ons die waarheid uit God se Woord geleer het, wek dit sonder uitsondering aangename herinneringe. Dit was pragtig, redelik, bevredigend. Hoe is ons harte tog nie met waardering vervul toe ons van Jehovah en sy verhewe eienskappe, onder meer sy groot liefde en sy genade, geleer het nie! Ons was verheug toe ons begin omgaan het met medegelowiges wat opregte Christelike liefde toon en Bybelbeginsels naleef.
2. Watter vooruitsigte het ons as Jehovah se knegte, en in watter geestelike situasie bevind ons ons?
2 Hoe dankbaar was ons tog om te leer dat Jehovah binnekort pyn, droefheid en selfs die dood uit die weg gaan ruim (Openbaring 21:3, 4). Dink net daaraan, om vir ewig in volmaakte gesondheid en volkome geluk op ’n paradysaarde te lewe! Dit was byna te goed om te glo. Maar dit was waar. Dit is deur God se Woord bevestig. Dit was opwindend! Ons het ongetwyfeld gevoel soos Jesus se dissipels toe hy ná sy opstanding aan hulle verskyn het. Hulle het vir mekaar gesê: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” (Lukas 24:32). Ja, toe ons die waarheid geleer en ons lewe aan Jehovah toegewy het, het ons ons in ’n geestelike paradys bevind. Wat ’n seën!
3. Hoe probeer die Duiwel en ander teenstanders om ons van die voordele van Jehovah se geestelike paradys te beroof?
3 Maar ons posisie in Jehovah se geestelike paradys is nie iets wat ons as vanselfsprekend kan aanvaar nie. Ons het vrywillig in hierdie paradys ingekom; ons kan uitstap (of uitgesit word) as ons ongelowig word of Jehovah se regverdige wette opsetlik skend. Dit sal natuurlik nie gebeur as ons ons “eerste liefde” sterk hou en as ons al Jehovah se voorsienings om ons geestelik sterk te hou, bly waardeer nie (Openbaring 2:4). Maar die Duiwel en ander teenstanders van ware aanbidding is bedrewe misleiers. Ons moet nooit vergeet dat hulle altyd gereed is om ons ons onkreukbaarheid te laat verbreek as hulle kan nie. Hulle propaganda is daarop gemik om ons geloof af te breek, ons liefde vir God te laat verkoel, twyfel by ons te laat ontstaan—ja, om die geestelike paradys na allesbehalwe ’n paradys te laat lyk.
4. Waartoe kan dit lei as ons toelaat dat ons geloof verswak en dat ernstige twyfelgedagtes ontstaan?
4 Ons kan die punt bereik waar dit vir ons moeilik of selfs onmoontlik is om die geestelike paradys te sien omdat ons ons blind staar op die onvolmaakte mense wat nou daarin is. Die opwinding wat ons ervaar het toe ons die waarheid van God se Woord geleer het, die wonderlike hoop wat ons gekry het, die liefde wat ons vir God en ons geestelike broers opgebou het en die ywer wat ons vir Jehovah se diens gehad het, kan afneem. As ingrypende stappe nie gedoen word om sodanige geestelike agteruitgang te stuit nie, sal God se liefdevolle vereistes weldra onderdrukkend lyk. Die heilsame geestelike voedsel van “die getroue en verstandige dienskneg” kan veragtelik voorkom en die broederskap van Jehovah se liefdevolle knegte kan soos ’n huisgesin van vyande lyk. Dan kan slegs bevrediging, verdorwe bevrediging, verkry word deurdat ’n persoon sy medediensknegte met laster en halwe waarhede begin slaan.—Mattheüs 24:45-51.
5. Hoe kan jou verlies vergelyk met wat Adam en Eva verloor het toe hulle uit die Paradys van Eden verdryf is?
5 Ja, ons kan nie net nou die seëninge van die geestelike paradys verloor nie, maar, ernstiger nog, ons kan ook die hoop verloor om vir ewig in die aardse paradys te lewe. En ons kan dit verbeur om dieselfde rede as wat Adam en Eva die Paradys van Eden verloor het. Hulle het alles gehad wat nodig was om volmaak gelukkig te wees en hulle kon vir ewig gelewe het. Maar onafhanklikheid—’n ander leer—was vir hulle belangriker as gehoorsaamheid aan Jehovah en die seëninge van Eden. Eva is verlei. Hoewel Adam nie verlei is nie, het hy toegelaat dat die mag van die omstandighede, met inbegrip van sy vrou se sterk invloed, hom ook laat sondig. Hulle is derhalwe uit die Paradys verdryf om tot hulle dood ’n ellendige lewe te lei. Hulle het die vooruitsig op die ewige lewe verloor en ’n erfenis van sonde en die dood aan hulle nakomelinge nagelaat (Genesis 3:1-7, 14-19, 24; 1 Timotheüs 2:14; Romeine 5:12). Wat ’n verskriklike prys om vir hulle sogenaamde onafhanklikheid te betaal!
6. (a) Waaroor was Paulus besorg ten opsigte van party in die gemeente in Korinthe? (b) Hoe openbaar die brief aan die gemeente in Thessalonika dieselfde besorgdheid?
6 Die apostel Paulus was oor die volgende besorg: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Korinthiërs 11:3). Paulus het dit nodig geag om te skryf oor onjuiste leringe wat in sy dag versprei is. In sy tweede brief aan die gemeente in Thessalonika het hy geskryf: “Ons vra julle . . . om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van [Jehovah] al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie.”—2 Thessalonicense 2:1-3.
Moet niks met afvalliges te doen hê nie
7. (a) Watter vrae ontstaan wanneer afvallige lektuur deur die pos ontvang word? (b) Waarom is oormoedigheid gevaarlik as jy jou teen die invloed van afvalliges wil beskerm?
7 Wat sal jy doen as jy te staan kom voor afvallige leringe—listige redenering—wat beweer dat wat jy as ’n getuie van Jehovah glo nie die waarheid is nie? Wat sal jy byvoorbeeld doen as jy ’n brief of lektuur ontvang, dit oopmaak en dadelik sien dat dit van ’n afvallige af kom? Sal jy dit uit nuuskierigheid lees, net om te sien wat hy sê? Jy kan selfs redeneer: ‘Dit sal my nie raak nie; ek is te sterk in die waarheid. En buitendien, as ons die waarheid het, hoef ons niks te vrees nie. Die waarheid sal die toets deurstaan.’ Party wat so gedink het, het hulle verstande gevoed met afvallige redenering en slagoffers van ernstige twyfelgedagtes geword. (Vergelyk Jakobus 1:5-8.) Onthou dus die waarskuwing in 1 Korinthiërs 10:12: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
8. Watter bystand het party wat ernstige twyfelgedagtes koester, nodig?
8 Met die liefdevolle hulp van besorgde broers het party, wat as gevolg van afvalliges begin twyfel het, na ’n tydperk van geestelike verwarring en trauma herstel. Maar hulle kon hierdie pyn vermy het. Spreuke 11:9 (NW) sê vir ons: “Deur sy mond stort die afvallige sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdige verlos.” Judas het vir mede-Christene gesê: “Gaan voort om barmhartigheid te toon teenoor sommige wat twyfel; red hulle deur hulle uit die vuur te ruk” (Judas 22, 23, NW). Paulus het vir die opsiener Timotheüs gesê dat hy “die weerspanniges in sagmoedigheid [moet] teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen”.—2 Timotheüs 2:25, 26.
9. Wat is die tragiese uiteinde van diegene wat ware aanbidding verlaat?
9 Dit is tragies dat ander weer in algehele duisternis verval het, en selfs na die Christendom se verkeerde leerstellings teruggekeer het. Die apostel Petrus het geskryf oor die tragiese uiteinde van party wat in die waarheid gewandel het, maar toe afgewyk het. Hy het gesê: “Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste.” Petrus het gesê dat hulle soos die hond is wat na sy eie uitbraaksel omdraai en soos die gewaste sog wat weer in die modder rol.—2 Petrus 2:20-22.
10. (a) Laat Jehovah ons toe om na afvalliges te luister? (b) Waarop kom dit neer as iemand afvallige lektuur lees?
10 Wanneer iemand anders vir ons sê: ‘Moenie dit lees nie’ of ‘Jy moenie daarna luister nie’, het ons miskien lus om sy raad te ignoreer. Maar onthou, in hierdie geval is dit Jehovah wat vir ons in sy Woord sê wat om te doen. En wat sê hy omtrent afvalliges? “Vermy hulle” (Romeine 16:17, 18); ‘moenie met hulle omgaan nie’ (1 Korinthiërs 5:11); en “ontvang [hulle] nie in die huis nie en groet [hulle] nie” (2 Johannes 9, 10). Dit is uitdruklike woorde, duidelike bevele. Gestel ons sou die lektuur van iemand, wat ons weet ’n afvallige is, uit nuuskierigheid lees. Sou dit nie dieselfde wees as om hierdie vyand van ware aanbidding in ons huis in te nooi om te kom sit en sy afvallige idees met ons te deel nie?
11, 12. (a) Watter illustrasie help ons besef dat ons nie afvallige lektuur argeloos kan lees nie? (b) Hoe kan dit toegepas word op Jehovah se besorgdheid oor sy volk?
11 Kom ons lig dit soos volg toe. Wat sou jy doen as jou tienderjarige seun pornografiese materiaal deur die pos ontvang? As hy dit uit nuuskierigheid wou lees, sou jy sê: ‘Ja, seun, lees dit gerus. Dit sal jou nie kwaad doen nie. Ons het jou van kleins af geleer dat onsedelikheid verkeerd is. Buitendien, jy moet weet wat in die wêreld aangaan sodat jy kan sien dat dit werklik sleg is’? Sou jy so redeneer? Beslis nie! Inteendeel, jy sou hom beslis wys op die gevare daarvan om pornografiese lektuur te lees en daarop aandring dat hy dit vernietig. Waarom? Omdat ’n persoon se verstand en hart beïnvloed sal word as hy sy verstand met die verdorwe idees in sulke lektuur voed, al is hy ook hoe sterk in die waarheid. ’n Sluimerende verkeerde begeerte wat diep in die hart geplant is, kan uiteindelik ’n verdorwe geslagsdrif meebring. Die gevolg? Jakobus sê dat verkeerde begeertes sonde baar wanneer dit bevrug geraak het, en sonde lei tot die dood (Jakobus 1:15). Waarom dan die kettingreaksie begin?
12 Wel, as ons so beslis sou optree om ons kinders teen blootstelling aan pornografie te beskerm, moet ons dan nie verwag dat ons liefdevolle hemelse Vader ons op soortgelyke wyse teen geestelike hoerery, waaronder afvalligheid, sou waarsku en beskerm nie? Hy sê: Vermy dit!
13. Wat kan ons doen indien vrae oor wat afvalliges gesê of geskryf het, geopper word terwyl ons aan die predikingswerk deelneem?
13 Maar gestel mense opper vrae of besware soortgelyk aan dié van teenstanders wanneer ons die goeie nuus verkondig. Wat dan? As ’n persoon nie opreg is nie en bloot wil argumenteer, is dit natuurlik die beste om onsself te verskoon en na die volgende huis te gaan. Maar wat kan ons doen as iemand opreg oor sekere bewerings van afvalliges vra? Ons kan eerstens vra wat presies die besorgdheid veroorsaak het. Dit is moontlik net een of twee punte. Dan kan ons ons daarby bepaal en antwoord aan die hand van die Skrif, die Genootskap se publikasies en wat ons waarlik van die onderwerp weet. Ons hoef nie te besluit dat ons ’n boek of blaadjie moet lees wat vol laster en halwe waarhede is om die valse bewerings en leringe van teenstanders te weerlê nie.
Vertroue in Jehovah
14. Watter liefdevolle besorgdheid toon ons hemelse Vader oor ons, en waarom kan ons volkome op hom vertrou?
14 Namate ons voortgaan om geloof op te bou en met Koninkryksdiens besig bly, kan ons met vrymoedigheid op Jehovah vertrou, wetende dat hy, as ons liefdevolle hemelse Vader, net die beste vir ons wil hê. God leer ons; hy waarsku ons. Hy doen dit deur sy Woord en deur middel van duidelike leiding wat deur sy sigbare organisasie voorsien word. As ons ’n liefdevolle ouer om brood en vis sou vra, sal hy ons nie ’n klip of ’n slang gee nie. God sal ons eweneens nie bedrieg of mislei nie (Mattheüs 7:7-11). Maar God sal ons nie teen alle versoekinge of selfs misleidende leuens en duiwelse propaganda beskerm nie. Hy sê van homself: “Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan” (Jesaja 48:17, NAV). Ja, Jehovah ‘onderrig ons tot ons beswil’. Hy vertel ons om weg te bly van afvalliges en hulle leer, en dit is vir ons eie beskerming. Dit beteken ons lewe.
15. Watter waarskuwings het die apostel Paulus gegee oor party wat dissipels wil wegtrek?
15 Die apostel Paulus het ander Christenouere manne gewaarsku: “Uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:30). As ons aanhou om na listige argumente en valse redenasies te luister, kan “verkeerde dinge” reg klink. Hoe langer Eva na die verbode vrug gekyk en na die verdraaide redenasie van die Duiwel geluister het, des te meer is sy oortuig dat hy gelyk gehad het. Paulus het gewaarsku: “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kolossense 2:8). Die apostel het ook gesê: “[Afvalliges] verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.” (Romeine 16:17, 18; vergelyk 2 Korinthiërs 11:13-15.) Die feit dat ’n paar deur daardie soort propaganda weggelok word, beteken natuurlik nie dat ons hulle moet volg nie. Ons moet nietemin altyd op ons hoede wees.
16. Die toepassing van watter Skriftuurlike waarskuwings sal ons help om Satan se pogings te weerstaan om mense te mislei en van ware aanbidding weg te lei?
16 Die Duiwel se taktiek het nie sedert Eden verander nie. Hy gebruik listige vrae en prikkel eiebelang. Petrus het geskryf: “Daar [sal] onder julle valse leraars . . . wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer . . . en uit hebsug sal hulle met verdigte [“vervalste”, NW] woorde voordeel uit julle trek” (2 Petrus 2:1-3). Iets wat vervals is, is bedoel om eg te lyk of te klink. In 2 Timotheüs 2:14-19 het Paulus klem gelê op die belangrikheid om Jehovah se Woord te gebruik om sake reg te stel, maar gewaarsku dat dit nodig is om afval van afvalliges en hulle leer, en dit is vir ons eie beskerming. Dit beteken ons lewe.
16 Die Duiwel se taktiek het nie sedert Eden verander nie. Hy gebruik listige vrae en prikkel eiebelang. Petrus het geskryf: “Daar [sal] onder julle valse leraars . . . wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer . . . en uit hebsug sal hulle met verdigte [“vervalste”, NW] woorde voordeel uit julle trek” (2 Petrus 2:1-3). Iets wat vervals is, is bedoel om eg te lyk of te klink. In 2 Timotheüs 2:14-19 het Paulus klem gelê op die belangrikheid om Jehovah se Woord te gebruik om sake reg te stel, maar gewaarsku dat dit nodig is om afvalliges te vermy wat onheilige, onsinnige praatjies versprei, want hy het gesê: “Hulle woord sal voortwoeker soos ’n kanker.”
17, 18. (a) In watter opsig is afvallige lering soos ’n kanker? (b) Watter waarskuwing gee die apostel Petrus aangaande diegene wat ons van ware aanbidding probeer wegtrek? (c) Watter vrae sal in die volgende Studie beantwoord word?
17 Dit is inderdaad ’n gepaste analogie! Soos kanker, is afvallige redenasies niks anders as ’n geestelike dood wat vinnig versprei nie. En aangesien die gemeentelede soos een liggaam is, bestaan die gevaar dat ander besmet kan word. As die een wat afvallige leringe versprei nie deur liefdevolle maar ferm aanwending van die balsem van God se Woord tot geestelike gesondheid herstel kan word nie, is amputasie van hierdie lid (uitsetting) moontlik die enigste alternatief om die ander lede van die liggaam te beskerm. (Vergelyk Titus 1:10, 11.) Moenie deur dodelike, geestelike kanker besmet word nie! Bly geestelik gesond deur die besmetting met afvallige denke te vermy. Slaan ag op die goeie raad in 2 Petrus 3:17, 18: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.”
18 Maar hoe kan ons ons teen afvalligheid beskerm? Hoe kan ons voorkom dat ons hart ontvanklik word vir afvallige redenering? Hierdie vrae sal in die volgende artikel behandel word.
Onthou jy?
◻ Hoe kan ons die voordele van Jehovah se geestelike paradys verloor?
◻ Waarom is die lees van afvallige publikasies net soos om pornografiese lektuur te lees?
◻ Wat kan ons doen indien ons oor sekere bewerings van afvalliges gevra word?
◻ Waarom is afvallige leringe soos ’n kanker?
[Prent op bladsy 12]
Vernietig jy wyslik afvallige materiaal?