Die seën van Jehovah maak ryk
“’n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom.”—MATTHEÜS 19:23, NAV.
1, 2. Watter teenstelling kan tussen verskillende soorte rykdom getref word?
GESTEL iemand deel jou mee: “Jy het ryk geword.” Baie sou in die wolke wees om dit te hoor as dit beteken dat hulle ryk is aan geld, grond of luuksebesittings. Maar beskou die kwessie van rykdom uit hierdie standpunt: “Die seën van die HERE—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.”—Spreuke 10:22.
2 In God se handelinge met die eertydse aartsvaders en die nasie Israel het hy hulle getrouheid met voorspoed geseën (Genesis 13:2; Deuteronomium 28:11, 12; Job 42:10-12). Koning Salomo was een wat so geseën is. Hy het buitengewoon ryk geword. Tog het hy deur die ondervinding geleer dat ’n lewe wat om materiële rykdom draai “tevergeefs en ’n gejaag na wind” was (Prediker 2:4-11; 1 Konings 3:11-13; 9:14, 28; 10:10). Toe Salomo dus geskryf het: “Die seën van die Here—dit maak ryk”, het hy nie materiële rykdom beklemtoon nie. Hy het die waarheid gestel dat as jy God se seën het jou lewe onvergelyklik ryker is as dié van persone wat hom nie dien nie. Hoe so?
3. In watter opsigte is jy waarlik ryk as jy God se seëninge geniet?
3 As jy ’n Christen is, kan jy nou Jehovah se goedkeuring geniet en seëninge soos goddelike wysheid van hom ontvang. Jy kan aanvaar word in ’n gemeente van Christene wat soos ’n gesin is, wat basies gelukkig en vol vertroue is en wat in jou belangstel. God se wette beskerm jou teen baie siektes en gevare. Jy het ook rede om te hoop op goddelike beskerming deur die “groot verdrukking” wat vir hierdie goddelose stelsel voorlê—en dan op lewe in die eindelose Paradys wat daarna op die aarde sal wees. Met sulke wonderlike seëninge en vooruitsigte kan jy dus waarlik sê: “Ek is ryk!”—Mattheüs 24:21, 22.
4. Hoe kan jy jou geestelike rykdom belemmer? (Openbaring 3:17, 18).
4 Ander soorte rykdom—geld of materiële rykdom—kan egter verhinder dat jy “ryk” is aan Jehovah se seëninge. Min van ons (hetsy ons gerieflik daaraan toe is of beperkte middele het) sou geredelik erken: ‘Daar bestaan ’n groot gevaar dat ek deur die liefde vir geld verlei kan word.’ Onthou egter die waarskuwing: “Die geldgierigheid [“liefde vir geld”, NW] is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Timotheüs 6:10). Dit is geskrywe op ’n tydstip toe alle goedgekeurde Christene met God se gees gesalf is as ’n teken dat hulle hemelse heersers saam met Christus sou word. Talle van hulle het waarskynlik apostels en ander wat met Jesus gewandel het persoonlik ontmoet. Hoe groot is die gevaar tog vir ons as geld party van húlle laat ‘afdwaal’ het!—2 Korinthiërs 5:5; Romeine 8:17, 23.
Die ryk man en die kameel
5. Wat was Jesus se beskouing van rykdom?
5 Jesus het dikwels die gevaar van rykdom aangeroer, want dit is ’n gevaar wat almal in die gesig staar, diegene wat ryk is en diegene wat nie ryk is nie (Mattheüs 6:24-32; Lukas 6:24; 12:15-21). Kyk wat Jesus by een geleentheid gesê het, soos opgeteken in Mattheüs 19:16-24, Markus 10:17-30 en Lukas 18:18-30, en gebruik dit as ’n grondslag vir persoonlike ondersoek. Hou gerus sommer nou op en lees een of al hierdie verslae.
6, 7. (a) Watter gesprek het tussen Jesus en ’n jongman plaasgevind? (b) Watter raad het Jesus daarna gegee?
6 ’n Jong owerste het na Jesus toe gekom en gevra: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” Jesus het hom na die Wet verwys en so getoon dat Jehovah nie versuim het om aan te dui wat nodig is nie. Die man het geantwoord dat hy God se gebooie ‘van sy jeug af’ onderhou het. Dit was asof hy by die deur tot die lewe was, maar hy het aangevoel dat hy nog iets kortkom. Miskien het hy gedink dat daar nog iets goeds, die een of ander heldedaad, was wat die laaste stap deur die deur tot die ewige lewe sou wees. Jesus se antwoord het verreikende implikasies: “Verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My.” Wat het gebeur? “Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk [of, het baie besittings gehad].” Die man het dus weggegaan.—Lukas 18:18, 21-23; Markus 10:22.
7 Daarna het Jesus gesê: “Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan. Want dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Lukas 18:24, 25). Was daardie raad slegs vir daardie ryk owerste bedoel? Of is jy daarby betrokke, hetsy jy ryk of arm is? Kom ons kyk.
8. (a) Watter soort persoon was die jong Joodse owerste? (b) Watter tekortkoming het hy gehad, en waarom moet ons daarin belangstel?
8 Dit sal jou dalk help om daardie jong owerste se situasie te verstaan as jy jou ’n moderne ekwivalent voorstel—’n eerbare jong Christen met goeie Bybelkennis, rein sedes en uit ’n welgestelde gesin. Jy beny miskien so ’n persoon vandag. Maar Jesus het ’n ernstige tekortkoming in die jong Jood gevind: Sy rykdom en besittings was te belangrik in sy lewe. Jesus het dus die voormelde raad gegee. Jy kan sien waarom hierdie Bybelverslag vir ons almal is, hetsy ryk of arm. Geld en besittings kan vir enigeen van ons te belangrik word, hetsy ons dit reeds het of net begeer om dit te hê.
9. Hoe weet ons dat Jesus nie welgesteldheid as sodanig veroordeel het nie?
9 Jesus het nie gesê dat ’n persoon met materiële rykdom God nie kon dien nie. Talle het dit gedoen. Daardie jong Jood het dit in sekere mate gedoen. Daar was die tollenaar Saggeüs wat “’n ryk man” was (Lukas 19:2-10). Party gesalfde Christene in die eerste eeu was ryk en het gevolglik die besondere uitdaging gehad om “vrygewig, mededeelsaam” te wees (1 Timotheüs 6:17, 18; Jakobus 1:9, 10). En daar is vandag ook ryk Christene. Hulle gee dikwels mildelik ter ondersteuning van die Koninkrykswerk, stel hulle huise vir vergaderinge oop en gebruik hulle voertuie in die bediening. Waarom het Jesus dan daardie woorde oor die ryk man en die kameel gebesig? Wat kan ons daaruit leer?
10. Wat kan ons aflei uit Jesus se raad by daardie geleentheid?
10 Soos jy kan besef, is dit een ding om God te begin aanbid; dit is iets anders om tot die einde getrou te bly (Mattheüs 24:13; Filippense 3:12-14). Jesus het dit moontlik in gedagte gehad toe hy gesê het: “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Markus 10: 25). Geen kameel kan deur die ogie van ’n naald beur nie, dus het Jesus klaarblyklik ’n hiperbool gebruik, ’n oordrywing wat nie letterlik opgeneem moet word nie. Dit toon egter hoe moeilik dit vir ’n ryk man is om iets te doen. Wat? Nie net om God te begin dien nie, nee, maar ‘om in die koninkryk in te gaan’, om die ewige lewe te verkry. Ongeag wat jou finansiële posisie is, Jesus se raad kan jou help in jou denke, jou geestelike vooruitgang en om die ewige lewe te verkry.
Waarom is dit so moeilik vir die rykes?
11. Hoe het Jesus se predikingswerk die armes en die rykes geraak?
11 Deur die predikingswerk wat Jesus en die apostels gedoen het, is ‘die evangelie aan die armes verkondig’ (Mattheüs 11:5). Daar was geen diskriminasie teen die rykes nie. En tog lyk dit asof meer armes hulle geestelike behoefte besef het en aan die boodskap van hoop gehoor gegee het (Mattheüs 5:3, 6, vgl. NW; 9:35, 36). Die ryk Jode was meer tevrede met die toedrag van sake soos dit was. (Vergelyk Lukas 6:20, 24, 25.) Daar was nietemin destyds uitsonderings, en daar is vandag uitsonderings. Party ryk persone aanvaar die Bybel se boodskap en dien God. Die uiteinde kan vir hulle wonderlik wees. Dit was vir Paulus, wat nie toegelaat het dat sy posisie in die lewe hom terughou nie (Filippense 3:4-8). Jesus het desondanks gesê dat dit vir die rykes moeiliker sou wees.
“Die bedrieglike krag van die rykdom”
12, 13. (a) Watter punt oor sorge het Jesus in ’n illustrasie gestel? (b) Waarom is daar ’n bykomende hindernis vir die rykes?
12 In sy illustrasie van saad wat op verskillende soorte grond val, het Jesus gesê dat party “in die dorings geval [het], en die dorings het opgekom en dit verstik”. Hy het verduidelik: “By wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding [“bedrieglike krag”, NW] van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar” (Mattheüs 13:7, 22). Feitlik alle mense ervaar “die sorg van hierdie wêreld” in ’n mate. Dit is maklik om te sien waarom dit die geval is met ’n persoon wat verarm, werkloos of gestrem is. Die persoon wat gerieflik daaraan toe is, het moontlik nie dieselfde sorge nie, maar selfs hy of sy kan baie besorg wees oor die uitwerking van inflasie, veranderinge in belasting of die gevaar van diefstal. Die rykes sowel as die armes kan derhalwe sorge hê.—Mattheüs 6:19-21.
13 Jesus het getoon dat party ook deur “die bedrieglike krag van die rykdom” verhinder sou word. Dit kan alverterend wees om finansiële sukses te behaal. Die miljoenêr Aristotle Onassis het eenkeer gesê: “Wanneer jy ’n sekere punt bereik, word geld onbelangrik. Dit is sukses wat saak maak. Die verstandige ding vir my sou wees om nou op te hou. Maar ek kan nie. Ek moet voortdurend hoër en hoër mik—net vir die opwinding.” ’n Christen kan dit eweneens opwindend vind om teen die maatskappyleer op te sukkel. Of hy kan verlok word om sy onderneming uit te brei lank nadat hy die stadium bereik het wat hy vroeër in sy lewe as “genoeg” sou beskou het. In plaas van sy werk te verminder (of af te tree) sodat hy ’n voltydse bedienaar kan word, ‘breek hy sy skure [of huise] af en bou groteres’. (Kyk Lukas 12:15-21.) Kan dit met jou gebeur? Dink jy dat God sou meen dat enigiemand in daardie situasie hom heelhartig dien?—Mattheüs 22:37.
14. Hoe kan daar toegelig word dat rykdom vir ’n Christen ’n hindernis kan wees? (Spreuke 28:20).
14 Daar is nog ander maniere waarop rykdom (of die begeerte om dit te bekom) ’n Christen kan verhinder om “die ewige lewe te beërwe”. Een is dat die liefde vir rykdom hom kan beweeg om wêreldse taktiek aan te wend, soos om nie al sy wins aan te gee nie of ander oneerlike maar algemene taktiek te gebruik. Of as mede-Christene wat eerlik en hardwerkend is vir hom werk, kan hy sy persoonlike gewin bo hulle geestelikheid stel. Om te verseker dat hulle in hulle werk aanbly, kan hy hulle byvoorbeeld aanspoor om ’n duurder lewenstyl aan te neem (of selfs skuld aan te gaan vir luukse-artikels). En aangesien hy hulle baas is, kan hierdie verhouding in gemeentelike omgang oorgedra word.
15. Hoe kon party vroeë Christene dalk die nadelige uitwerking van rykdom ervaar het? (Psalm 73:3-8, 12, 27, 28).
15 Party ryk Christene in die eerste eeu kon onder diegene gewees het wat voor “die bedrieglike krag van die rykdom” geswig het. Jakobus het geskryf van ‘die ellendes wat oor julle rykes kom’. Hulle het duur klere gehad, goud en silwer vergaar deur werknemers te min te betaal en het vet geword in weelde (Jakobus 5:1-5). Dit is vandag dieselfde. Weelde maak dit dikwels vir ’n persoon moontlik om ryk voedsel en drank te hê wat sy liggaam kan benadeel. Dit kan hom ook in staat stel om voortdurend te reis, iets wat hom van die plaaslike gemeente afskei. Dit wil nie sê dat mooi klere, juwele, voedsel en reise op sigself nadelig is nie. Die “rykes” van wie Jakobus geskryf het, is egter nie deur sulke dinge gehelp nie; weens hulle lae geestelikheid en posisie voor God het hulle rede gehad om te ‘ween en te huil oor die ellendes wat kom’.
16. Waarom het Jesus sulke duidelike raad oor rykdom gegee, en wat moet jy jou afvra?
16 Jesus het beslis geweet watter pyn en hindernisse in die weg van geestelikheid die rykes dikwels ondervind. Hy het ook geweet dat waardevolle dinge kan vergaan of waardeloos kan word, iets wat nooit met Christelike rykdom sal gebeur nie (Spreuke 11:28; Markus 10:29, 30). Jesus het ons almal dus ’n groot diens bewys deur te waarsku: “Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan” (Lukas 18:24). Sy waarskuwing kan ons tot voordeel strek al het ons baie min geld. Hoe? Deurdat ons enige ambisie wat ons het om nou ryk te word, onderdruk. Christene glo dat Jesus die waarheid gepraat het. Ons glo en lewe volgens wat Jesus oor sy Vader, oor die einde van hierdie stelsel en oor die aankweek van liefde gesê het. Hierdie Waarheidspreker het ook gesê: “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Mattheüs 19:24). Glo jy dit waarlik? Toon jou dade, lewenstyl en gesindheid dat jy dit glo?
Bly ryk—op God se manier
17. Wat doen talle Christene sodat hulle deur Jehovah verryk kan word?
17 Getuienis van dwarsoor die wêreld toon dat verreweg die meerderheid van God se knegte raad soos die in Mattheüs 19:16-24 ter harte neem. Talle jong Christene neem hulle voor om die voltydse bediening na te streef sodra hulle die gebruiklike skoolopleiding voltooi het. Vrouens wat sekulêre werk kan doen om die gesin se inkomste aan te vul, bestee eerder meer tyd aan Christenbedrywighede en verryk hulleself en ander geestelik. Selfs party mans wat die Skriftuurlike verantwoordelikheid het om materieel vir hulle gesinne te sorg, vind maniere om ’n groter aandeel in die bediening te hê.
18, 19. Watter stappe het party gedoen wat Jehovah se seën verlang?
18 Een ouere man in sy middel-dertigerjare erken dat “die gedagte om ’n voltydse bedienaar te wees by my altyd net lippetaal was”. Hy het meer as R50 000 per jaar verdien, en boonop ’n onkosterekening en ’n maatskappymotor gehad. Toe is hy gevra om die toespraak “Stel en bereik gepaste doelwitte” by die byeenkoms in 1983 te hou. Hy erken: “Toe ek die materiaal gretig deurgelees het, was ek so verleë en skaam dat my gewete my verskriklik gepla het.” Voor die byeenkoms het hy en sy vrou hulle situasie bespreek. Hy het weldra ’n deeltydse werk gekry en by sy vrou in die pionierdiens aangesluit. Hulle is steeds in die pionierdiens en geniet talle geestelike seëninge.
19 Ander het verhuis van gebiede waar daar ’n oorvloed finansiële moontlikhede is na plekke waar hulle hulle geestelike bedrywighede kon uitbrei. ’n Kanadese egpaar skryf oor hulle pionierdiens in Latyns-Amerika: “Hoewel die broers hier baie arm is, is hulle baie ywerig vir die waarheid. Hulle is dalk arm in ’n wêreldlike sin, maar geestelik is hulle miljoenêrs. Ons het 38 verkondigers, waarvan 10 gewone pioniers is. Dubbele vergaderinge is nodig omdat so baie dit bywoon—gemiddeld tussen 110 en 140. Die twee ouere manne en drie bedieningsknegte moet al hierdie vergaderinge behartig. Ons leer van voor af van ons nederige broers hier wat dit beteken om Jehovah werklik eerste in ons lewe te stel. Hulle wys vir ons dat Jehovah heelhartig gedien kan word, wat ons omstandighede ook al is.”
20. Hoe moet ons in ons hart daaroor voel om materieel ryk te wees?
20 Sulke Christene het geen grondige rede om ’n ryk persoon, hetsy buite of binne die gemeente, te beny of om met materialistiese ambisies behep te wees nie. Hulle besef dat ’n bietjie geld vir die normale lewe nodig is (Prediker 5:3; 7:12). Maar hulle besef ook dat Jesus die waarheid gepraat het—die rykes kom voor talle geestelike hindernisse, uitdagings en gevare te staan. Een moeilike uitdaging is vir “die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God”.—1 Timotheüs 6:17.
21. Wat is die lot van diegene wat geestelike rykdom nastreef?
21 Ongelukkig het die jong owerste wat met Jesus gepraat het nie daardie uitdaging die hoof gebied nie. Ander soos hy het God ’n tyd lank gedien, maar het later weens hulle rykdom pyn en geestelike ondergang ondervind. In teenstelling hiermee is daar die miljoene getroue Christene wat steeds bewys dat “die seën van die Here—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie” (Spreuke 10:22). Hulle lewe is sinvol; hulle het waardevolle doelwitte en ervaar bevrediging. Hulle goeie werke sal vir ewig duur en hulle nou en in die toekoms groot vreugde verskaf. Laat elkeen van ons daarna strewe om op daardie manier ryk te wees.—Filippense 4:1; 1 Thessalonicense 2:19, 20.
Gedagtes vir bespreking
◻ Van watter soort rykdom praat Spreuke 10:22?
◻ Wat was die punt van Jesus se kommentaar oor die ryk man en die kameel?
◻ Waarom is die lewe dikwels vir ryk mense moeiliker?
◻ Hoe kan ons daarna streef om op God se manier ryk te wees?
[Venster op bladsy 10]
Rykdom en die gesin
MOENIE jou gesin oor die hoof sien wanneer jy oor die moontlike uitwerking van rykdom dink nie. Beskou hierdie berigte:
Uit Kanada kom ’n berig van psigiaters wat die kinders van die skat-skatrykes bestudeer het: “Die lewe verveel hulle. Hulle het geen doelwitte benewens om hulleself te behaag nie en kan selfs die geringste frustrasie nie verdra nie. Hulle ervaar min emosies van enige aard. Hulle hoofstrewes is om dinge te koop, te reis en nuwe bronne van opwinding te soek.”
The New York Times het van ’n voormalige miljoenêr gesê: “Hy sê dat hy sy gesin sien verander het namate hy suksesvoller in die sakewêreld geword en rykdom vergaar het. ‘My vrou en dogter het mense volgens hulle geld getakseer en as ek die een dogter ’n huis van [R600 000] gegee het, moes ek die ander dogter [R600 000] gee.’” Nadat hy ’n hartaanval gehad “en gesien het wat rykdom aan sy vrou en kinders gedoen het”, het hy sy lewenswyse verander.
Arnold Hottinger het oor ’n olieryke land in die Midde-Ooste gesê: ‘Rykdom as patologie is ook iets bekends vir die talle buitelandse geneeshere wat hierheen kom om ’n hoë inkomste te verdien. Nêrens, berig hulle, is psigosomatiese kwale so algemeen soos hier nie—kwale wat werklike lyding meebring, maar nie veroorsaak word deur enige aantoonbare gebrek in die fisiese organisme nie. Volgens hulle is daar jongmense wat alle tekens van bejaardheid toon, en ou mense wat soos jeugdiges optree.’