Hou lyding enige voordele in?
BAIE mense raak verbitter wanneer hulle intense lyding verduur. Ander wat dieselfde of selfs erger dinge ondervind, bejeën hulle medemens met meer barmhartigheid en teerheid. Daar is eweneens diegene wat selfs God se bestaan loën wanneer hulle aan langdurige ontberinge onderwerp word, terwyl ander met onwankelbare geloof in die Almagtige deur ernstige beproewings kom. Waarom is dit die geval?
Mense raak dikwels verbitterd en hulle geloof kwyn omdat hulle hulself te belangrik ag en nie besef dat hulle sondige mense is wat lewe in ’n wêreld wat God se wet ignoreer nie. Hulle skryf die slegte dinge waarvoor mense die skuld moet kry verkeerdelik aan die Almagtige toe. Hulle leer gevolglik niks voordeligs uit moeilikhede nie, en wanneer daar verligting kom, openbaar hulle dalk selfs onwensliker karaktertrekke as tevore.
As ons wil verhoed dat dit met ons gebeur, moet ons ons dit ten doel stel om baat te vind by alles wat ons oorkom. Dit verg die regte beskouing van menselyding. Die Bybelboek Klaagliedere is van groot nut om hierdie saak in die regte perspektief te stel.
Behou hoop
Die boek self bestaan uit vyf gedigte wat die verskriklike verwoesting wat Jerusalem deur die toedoen van die Babiloniërs ten deel geval het, beklaag of beween. In die derde van hierdie gedigte stort die profeet Jeremia, wat deur God se gees gedryf is, sy diepste gevoelens uit en dra hy dit oor na die hele nasie wat deur ’n man voorgestel word (Klaagliedere 3:1). Hoewel Jeremia saam met die hele nasie gely het, het die ondervinding hom nie verbitter nie. Hy het hoopvol uitgesien na die tyd wanneer God se volk weer Sy guns sou geniet en die dinge wat die nasie oorgekom het as ’n regverdige voltrekking van God se oordeel aanvaar.
Die hoop op toekomstige verlossing het Jeremia onderskraag. Ons lees: “U siel [Jehovah self] sal ongetwyfeld onthou en hom oor my neerbuig. Dit sal ek ter harte neem. Daarom sal ek ’n wagtende gesindheid openbaar” (Klaagliedere 3:20, 21, NW). Daar het geen twyfel by Jeremia bestaan dat Jehovah eindelik Sy berouvolle volk met guns sou bejeën nie. Hulle is weliswaar in ’n volslae nederlaag omvergewerp. Maar Jehovah sou as ‘t ware uit sy hemelhoë posisie afbuk en hulle uit hulle vernederde toestand oplig. Hiermee in gedagte kon Jeremia sy hart vertroos en geduldig wag totdat Jehovah ten behoewe van Sy berouvolle volk optree.
Wanneer ons ’n angswekkende ondervinding het, moet ons dus nie hoop laat vaar nie. Ons moet die feit in gedagte hou dat beproewings ’n begin en ook ’n einde het. Die Allerhoogste sal nooit toelaat dat sy getroue knegte onbepaald ly saam met diegene wat nie sy toegewyde volk is nie. Dit is waarom ons geduldig moet wag totdat Jehovah gewisse verligting verskaf.
Die blote feit dat ’n persoon nog lewe, moet hom rede vir hoop gee. Destyds in Jeremia se dag is die stad Jerusalem en die land Juda verwoes en het baie Israeliete vergaan. Daar was nietemin oorlewendes. Dit het versekering gebied van God se volgehoue barmhartigheid teenoor sy volk. Ons lees: “Dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.”—Klaagliedere 3:22-24.
As dit nie vir God se goedertierenhede, sy medelye en besorgdheid oor sy volk was nie, sou daar geen oorlewendes onder die Israeliete gewees het nie. Maar Jehovah God het barmhartigheid getoon. Sy blyke van barmhartigheid sou gevolglik steeds na sy volk vloei en elke oggend hernieu word. Die feit dat Jehovah se getrouheid groot is, het verseker dat daar op sy barmhartighede gereken kan word. Dit sou bestendig wees, nooit swak of kragteloos nie. Aangesien die Allerhoogste die deel, of erfenis, van sy volk gebly het, het hulle goeie rede gehad om te bly wag op ’n omkeer van die beproewende omstandighede waarin hy toegelaat het dat hulle kom vanweë hulle ontrouheid.
Hoe om geduldig te wag
Wat moet so ’n gewag kenmerk? Die boek Klaagliedere antwoord: “Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE. Dit is goed vir ’n man dat hy die juk in sy jeug dra. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het. Laat hy sy mond in die stof steek—miskien is daar hoop! Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.”—Klaagliedere 3:25-30.
Let daarop dat ’n mens in so ’n tyd van beproewing steeds hoopvol op God moet wag vir verligting en nader aan hom moet kom. ’n Mens moet geduldig wil wees en stil of sonder klagtes wag totdat die Almagtige verlossing of redding bewerk het. Dit is baie nuttig as ’n mens kan leer om ’n juk van lyding so in sy jeug te dra. Waarom? Omdat dit dit vir hom baie makliker maak om later in die lewe so ’n ondervinding te beleef sonder om hoop te laat vaar. Omdat hy weet dat hy tevore groot ontberinge verduur het, het hy ’n grondslag vir hoop dat hy dit weer eens sal kan doen.
Wanneer daar nou ’n juk van beproewing op ’n persoon gesit word, moet hy nie rondloop en kla nie. Nee, hy moet stilsit soos iemand wat rou, en stilbly. Hy moet uitgestrek lê sodat sy mond aan die stof raak. Dit beteken dat hy hom nederig moet onderwerp aan die beproewings wat God hom toelaat om te verduur, en hy moet hoopvol uitsien na die komende verlossing. Hy moet nie teen sy vervolgers in opstand kom nie, maar fisiese en mondelinge smaad geduldig verduur. Dit herinner ons aan die wyse waarop Jesus Christus homself gedra het. Die Bybelverhaal berig: “[Hy] wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel.”—1 Petrus 2:23.
Nog ’n belangrike feit wat in gedagte gehou moet word wanneer ’n mens ly, is dat God nie die haatlike dinge wat mense doen, goedkeur nie. Die Allerhoogste laat egter sekere dinge met ’n goeie doel toe. Dit word mooi uitgedruk met die volgende woorde uit die boek Klaagliedere: “Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie. Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hulle voete vertrap, dat hulle die reg van ’n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste, dat hulle ’n mens onregverdig behandel in sy regsaak—het die HERE dit nie gesien nie?”—Klaagliedere 3:31-36.
In die geval van die ontroue Israeliete het Jehovah God toegelaat dat hulle ’n verskriklike ondervinding deur die toedoen van die Babiloniërs het. Hy het hulle dermate verwerp dat hy toegelaat het dat hulle in ballingskap weggevoer word. Dit was nietemin met ’n goeie doel, naamlik om ’n berouvolle oorblyfsel onder die oorlewendes en hulle nakomelinge te verwek. Dit was teenoor hierdie oorblyfsel dat Jehovah barmhartigheid sou toon. Die Almagtige het dit nie geniet om die Israeliete te straf nie. Dit was nie sy hartewens om hulle te bedroef en te beproef deur hulle aan hulle vyande uit te lewer nie. Jehovah het nie die verskriklike behandeling wat sy volk van hierdie vyande ontvang het, gesteun nie. Hy het nie met goedkeuring neergesien op mense wat krygsgevangenes verdruk het, diegene wat ’n man sy Godgegewe regte ontsê het en diegene wat weier om reg in ’n regsaak te laat geskied nie.
Wanneer ons deur die toedoen van mense ly, moet ons gevolglik nie God die skuld gee vir die oortredings waaraan mense hulle skuldig maak nie. Die Allerhoogste keur nie hulle verdrukking en geweld goed nie. Hulle sal uiteindelik aan hom rekenskap moet gee vir hulle verkeerde dade.
Mense kan andersyds vir hulleself lyding veroorsaak. Die ongelowige Israeliete het Jehovah God die rug toegekeer en sy beskerming en sorg verwerp. Hy het hulle dus tereg aan hulle vyande oorgegee. Hulle het gevolglik geen grondslag gehad om te kla oor wat met hulle gebeur het nie. Dit word beklemtoon in die vraag: “Hoe kan ’n lewende mens hom aan klaery oorgee, ’n sterk man weens sy sonde?” (Klaagliedere 3:39, NW). In plaas van kla, moes die Israeliete hulle berouvol tot Jehovah gekeer het en hom om barmhartigheid gesmeek het. Ons lees: “Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer; laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê: Óns het oortree en ons was wederstrewig.”—Klaagliedere 3:40-42.
Ja, dit was nie die tyd om te mor en te kla nie. Dit was die tyd om hulle weë, hulle lewenswyse of gedrag, noukeurig te bestudeer en te kyk wat die gevolg was. In plaas van hul eie weë tot hul nadeel te bewandel, moes hulle na Jehovah terugkeer en hulle na sy gebooie skik. Uiterlike blyke van berou, die blote opheffing van die hande in gebed, was nie genoeg nie. Hartgrondige berou oor oortredings was nodig.
Wanneer ons ly, moet ons dus ons lewenswyse in oënskou neem. Het ons self vir ons moeilikheid op die hals gehaal deur God se wet te ignoreer? Dan het ons geen grondslag om die Allerhoogste te blameer nie. Ons moet eerder toon dat ons by die pynlike dissipline baat gevind het deur die verkeerde weg te verlaat en ons berouvol tot God te keer. As ons probeer om regskape te leef en nogtans beproewing verduur, moet ons onthou dat God nie die dinge wat boosaards ons aandoen, goedkeur nie. Intussen moet ons ons nederig aan ons beproewings onderwerp en geduldig en sonder klagtes wag totdat Jehovah God verligting verskaf. As ons die raad van God se Woord toepas wanneer ons ly, sal ons daarby baat vind. Ons sal geduld, volharding en volkome vertroue op Jehovah leer. Ons sal nooit die haatlike weë van verdrukkers navolg nie, maar ons sal voortgaan om ons medemens vriendelik en met medelye te behandel.
[Prent op bladsy 23]
Jeremia, wat Klaagliedere gekomponeer het, kon uit ondervinding oor lyding skryf