Ware Christene eer bejaardes!
“DIE bejaardes”, sê navorser Suzanne Steinmetz, “is aan die einde van hulle ekonomies produktiewe lewe, waarvolgens ons kultuur individue aanslaan en hulle eerbied, status, respek en beloninge gee.” Die moderne samelewing het dus ’n sombere, negatiewe beskouing van bejaardes. Dit is dus geen wonder dat ons dikwels lees dat hulle verwaarloos en mishandel word nie.
Maar watter beskouing van bejaardes huldig die Bybel? God se Woord erken realisties dat dit nie maklik is om oud te word nie. Die psalmis het gebid: “Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie” (Psalm 71:9). Op sy oudag het hy Jehovah se steun nodiger as ooit tevore gehad. En die Bybel se beskouing is positief, want dit toon dat ook ons aan bejaardes se behoeftes aandag moet gee.
Salomo het bejaardheid weliswaar “die ongelukkige dae” genoem waarin ’n mens “geen behae” sou hê nie (Prediker 12:1-3). Maar “lengte van dae en jare van lewe” word ook in die Bybel met seëninge van God in verband gebring (Spreuke 3:1, 2). Beskou ter toeligting Jehovah se belofte aan Abraham: “Maar jý . . . jy sal in goeie ouderdom begrawe word” (Genesis 15:15). God het getroue Abraham sekerlik nie gevonnis tot droewige, “ongelukkige dae” waarin hy “geen behae” sou hê nie. Abraham het in sy laaste jare vrede en gemoedsrus gevind en met voldoening op ’n lewe in Jehovah se diens teruggekyk. Hy kon ook uitsien na ’n “stad wat vaste fondamente het”, God se Koninkryk (Hebreërs 11:10, NAV). Daarom kon hy “oud en voldaan” sterf.—Genesis 25:8, NW.
Waarom het Salomo bejaardheid dan “die ongelukkige dae” genoem? Salomo het gepraat van die voortdurende agteruitgang van gesondheid wat met bejaardheid gepaard gaan. Maar vir iemand wat versuim het om ‘in die dae van sy jonkheid aan sy Skepper te dink’, is sy hoë leeftyd veral ongelukkig (Prediker 12:1). Omdat hy sy lewe verkwis het, het so ’n bejaarde “geen behae” in die laaste dae van sy lewe nie. Sy goddelose lewenswyse het dalk selfs liggaamlike probleme veroorsaak wat die ongerief van bejaardheid vererger. (Vergelyk Spreuke 5:3-11.) Wanneer hy vooruitkyk, sien hy dus geen toekoms behalwe die graf nie. ’n Persoon wat sy lewe aan God se diens gewy het, ondervind ook “ongelukkige dae” namate sy liggaam verswak. Maar soos Abraham put hy vreugde en voldoening uit die feit dat hy sy lewe goed gebruik het en sy oorblywende krag in God se diens inspan. “Grysheid is ’n luisterryke kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word”, sê die Bybel.—Spreuke 16:31, NW.
Trouens, bejaardheid hou selfs sekere voordele in. “Die jeug en die jonkheid is nietigheid”, sê Salomo. Hoewel jongmense blakend gesond is, het hulle dikwels ’n gebrek aan ervaring en onderskeidingsvermoë. Bejaardes het egter ’n leeftyd van ondervinding. Die bejaarde ‘hou rampspoed weg’, anders as die impulsiewe jongmens wat hom dikwels halsoorkop daarin begewe (Prediker 11:10, vgl. NW; 2 Timotheüs 2:22). Salomo kon gevolglik sê: “Die versiersel van grysaards is grys hare.”—Spreuke 20:29.
Die Bybel eer derhalwe die bejaardes. Hoe beïnvloed dit die manier waarop Christene hulle behandel?
‘Staan op’ vir bejaardes
God het respek vir die bejaardes ’n volksbeleid in Israel gemaak. Die Mosaïese Wet het gesê: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer” (Levitikus 19:32). Klaarblyklik het Jode hierdie wet later heeltemal letterlik opgeneem. Dr. Samuel Burder sê in sy boek Oriental Customs: “Volgens die Joodse skrywers het die reël bepaal dat ’n mens vir hulle opstaan wanneer hulle vier el weg is; en weer gaan sit sodra hulle verby is, sodat dit sou lyk asof [jy] bloot uit respek vir hulle opgestaan het.” Sulke respek is nie tot vooraanstaande mans beperk nie. “Respekteer selfs die ou man wat sy geleerdheid verloor het”, het die Talmoed gesê. Een rabbi het aangevoer dat hierdie respek ook ’n onkundige en ongeleerde ou man toekom. “Die blote feit dat hy oud geword het”, het hy geredeneer, “moet aan ’n mate van verdienstelikheid toegeskryf word.”—The Jewish Encyclopedia.
Christene gaan vandag nie meer gebuk onder die bepalings van die Mosaïese Wet nie (Romeine 7:6). Maar dit beteken nie dat hulle nie meer verplig is om spesiale agting vir bejaardes te hê nie. Dit blyk uit die apostel Paulus se instruksies aan die Christenopsiener Timotheüs: “’n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ’n vader, . . . bejaarde vroue soos moeders” (1 Timotheüs 5:1, 2). Paulus het vir jong Timotheüs gesê dat hy gesag het om te “beveel” (1 Timotheüs 1:3). As iemand ouer as hy—veral ’n opsiener—’n oordeelsfout begaan of ’n onjuiste stelling gemaak het, moes Timotheüs hom nietemin nie as ’n mindere “hard bestraf” nie. Hy moes hom eerder eerbiedig ‘soos ’n vader vermaan’. Timotheüs moes ouer vroue in die gemeente eweneens eerbiedig. Ja, hy moes in werklikheid steeds “vir die grys hare . . . opstaan”.
Die Christelike godsdiens is dus ’n godsdiens wat bejaardes respekteer. Tog is dit ironies dat die mishandeling van bejaardes dikwels plaasvind in nasies wat voorgee dat hulle Christelik is. Daar is egter aanbidders wat steeds Bybelstandaarde naleef. Jehovah se Getuies geniet byvoorbeeld die teenwoordigheid van derduisende bejaardes in hulle midde; hulle beskou hulle nie as ’n las nie. Hoewel swak gesondheid moontlik voorkom dat sulke bejaardes so bedrywig soos voorheen is, het talle ’n lang geskiedenis van getroue Christelike diens, en dit spoor jonger Getuies aan om hulle geloof na te volg.—Vergelyk Hebreërs 13:7.
Daar word egter nie van bejaardes verwag om ’n passiewe rol in die gemeente te speel nie. Hulle word aangespoor om ’n goeie voorbeeld te stel deur ‘matig in gewoontes, ernstig, gesond van verstand, gesond in geloof en eerbiedig in hulle gedrag te wees’, en deur hulle wysheid en ervaring geredelik met ander te deel (Titus 2:2, 3, NW). Joël het geprofeteer dat “ou mense” sou tel onder diegene wat die Bybelboodskap verkondig (Joël 2:28). Jy het ongetwyfeld self gesien hoe talle bejaarde Getuies steeds behae daarin skep om daadwerklik aan die prediking van huis tot huis deel te neem.
Bewys aan hulle “oorvloediger” eer
Jehovah se Getuies poog op baie maniere om groter bedagsaamheid teenoor bejaardes te toon. By jaarlikse godsdiensbyeenkomste reël hulle byvoorbeeld dikwels dat sitplekke vir bejaardes opsygesit word. Bedagsaamheid word ook teenoor hulle as individue betoon. In Japan staan een Getuie sy sitplek in die gesinsmotor af sodat ’n 87-jarige vrou gemeentelike vergaderinge kan bywoon. Hoe kom hy self by die vergaderinge? Per fiets. In Brasilië is daar ’n 92-jarige voltydse evangelis. Waarnemers sê dat Getuies aldaar “hom met respek behandel, met hom gesels . . . Hy is ’n nuttige lid van die gemeente”.
Dit beteken nie dat ons nie kan verbeter wat eerbetoning aan die bejaardes betref nie. Paulus het aan Christene in Thessalonika geskryf: “Oor die broederliefde . . . julle doen dit ook aan al die broeders in die hele Macedonië; maar ons vermaan julle, broeders, om oorvloediger te wees” (1 Thessalonicense 4:9, 10). Vandag is soortgelyke raad soms nodig wanneer dit kom by hoe ons bejaardes behandel. Een 85-jarige Christen was byvoorbeeld baie teleurgesteld toe hy nie ’n eksemplaar van ’n nuwe Bybelpublikasie ontvang het nie. Die rede? Hy is feitlik doof en het nie ’n aankondiging gehoor dat almal die boek kan bestel nie; en niemand in die gemeente het daaraan gedink om dit vir hom te bestel nie. Die situasie is natuurlik gou reggestel. Dit lig nietemin toe dat ’n mens veral van bejaardes se behoeftes bewus moet wees.
Daar is talle maniere waarop God se volk dit vandag “oorvloediger” kan doen. Christenvergaderinge bied ’n geleentheid om bejaardes “tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Hebreërs 10:24, 25). En hoewel jonk en oud reeds vryelik by die Koninkryksale van Jehovah se Getuies meng, kan ’n selfs groter poging dalk in hierdie opsig aangewend word. Sommige ouers spoor hulle kinders byvoorbeeld aan om bejaarde gemeentelede eerbiedig te nader en met hulle te gesels.
Bejaardes kan ook steeds op ’n informele grondslag geëer word. Ooreenkomstig die beginsel wat Jesus in Lukas 14:12-14 uiteengesit het, kan ’n groter poging aangewend word om bejaardes na gesellighede te nooi. Al kan hulle dit nie bywoon nie, sal hulle dit beslis waardeer dat jy hulle onthou het. Christene word bowendien vermaan om hulle ‘op gasvryheid toe te lê’ (Romeine 12:13, NAV). Dit hoef nie iets spoggerigs of oordadigs te wees nie. Een Getuie in Duitsland stel voor: “Nooi bejaardes om tee te kom drink, en laat hulle hul ondervindinge uit die verlede vertel.”
Die apostel Paulus het gesê: “Die een moet die ander voorgaan in eerbetoning” (Romeine 12:10). Onder Jehovah se Getuies gee aangestelde gemeentelike ouere manne in die besonder die leiding in eerbetoning aan bejaarde Christene. Die ouere manne kan dikwels vir bejaardes gepaste werkies gee om te doen, soos om nuwelinge as evangeliste op te lei of te help met die onderhoud van Christelike vergaderplekke. Jonger mans wat as gemeentelike ouere manne dien, betoon eer aan ouer opsieners deur hulle nederig om raad te vra en onderskeidingsvermoë te gebruik om uit te vind wat hulle ryp beskouings is (Spreuke 20:5). By vergaderings van sulke ouere manne volg hulle die Bybelse voorbeeld van jong Elihu, onderwerp hulle hul eerbiedig aan ouer, meer ervare manne en bied hulle hul die volle geleentheid om eerste te praat.—Job 32:4.
Dit is weliswaar maklik om ongeduldig te raak met bejaardes omdat hulle dalk nie so vinnig soos jongeres kan beweeg of dink nie. Dr. Robert N. Butler gee ’n goeie beskrywing van sommige van die probleme wat met bejaardheid gepaard gaan: “’n Mens verloor jou liggaamlike uithouvermoë, jou vermoë om by te bly, en dit op sigself kan uiters skrikwekkend wees. ’n Mens kan belangrike sinne soos gehoor of gesig verloor.” Behoort jongeres wat dit besef nie meegevoel en ontferming te toon nie?—1 Petrus 3:8.
Ja, Christene is vandag onder verpligting om ware liefde, besorgdheid en respek teenoor die oueres in hulle midde te toon. En dit word onder Jehovah se Getuies op ’n voorbeeldige wyse gedoen. Maar sê nou bejaarde Christene—of Christene se ouers—word siek of arm. Wie se verantwoordelikheid is dit om hulle te versorg? Die volgende artikels sal ingaan op hoe die Bybel hierdie vrae beantwoord.
[Prente op bladsy 7]
In gemeentes van Jehovah se Getuies vind ouer persone veel bevredigende werk om te doen