Sien om na die belange van die bejaardes
“Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.”—FILIPPENSE 2:4.
1, 2. (a) Hoe het die eerste-eeuse bestuursliggaam belangstelling in die behoeftes van die bejaardes getoon? (b) Watter bewys is daar dat die predikingswerk nie verwaarloos is nie?
KORT na die Pinkster van 33 G.J. het daar in die Christengemeente “’n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging [voedselverdeling onder die behoeftiges] oor die hoof gesien is”. ’n Aantal van hierdie weduwees was ongetwyfeld bejaard en nie in staat om vir hulself te sorg nie. Die apostels het in ieder geval ingegryp en gesê: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel.”—Handelinge 6:1-3.
2 Die vroeë Christene het dus die versorging van die behoeftiges as ’n “nodige saak” beskou. Jare later het die dissipel Jakobus geskryf: “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dit: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek” (Jakobus 1:27). Het dit dan beteken dat die allerbelangrikste predikingswerk verwaarloos is? Nee, want die verslag in Handelinge sê “die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder” nadat die noodlenigingswerk vir weduwees behoorlik georganiseer is.—Handelinge 6:7.
3. Watter aansporing word in Filippense 2:4 aangetref, en waarom is dit vandag besonder gepas?
3 Ons lewe vandag in “swaar tye” (2 Timotheüs 3:1). Die strewe om te voldoen aan die eise van die gesinslewe en sekulêre werk laat ons moontlik min energie—of begeerte—om na die behoeftes van die bejaardes om te sien. Daarom vermaan Filippense 2:4 ons heel gepas: “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.” Hoe kan dit op ’n gebalanseerde, praktiese wyse gedoen word?
Eer weduwees
4. (a) Waarom en hoe het die eerste-eeuse gemeente weduwees ‘geëer’? (b) Was sulke voorsienings altyd nodig?
4 In 1 Timotheüs hoofstuk 5 toon Paulus hoe die vroeë Christene na bejaarde weduwees in die gemeente omgesien het. Hy het Timotheüs vermaan: “Eer die weduwees wat waarlik weduwees is” (Vers 3). Bejaarde weduwees is uitgesonder as diegene wat besonder verdienstelik was om eer in die vorm van gereelde finansiële steun te ontvang. Sulkes het geen sigbare bestaansmiddel gehad nie en kon slegs ‘op God hoop en nag en dag in smekinge en gebede bly’ (Vers 5). Hoe is hulle gebede om voedsel verhoor? Deur middel van die gemeente. Verdienstelike weduwees is op ’n georganiseerde wyse van ’n beskeie bestaan voorsien. Indien ’n weduwee ’n inkomste gehad het of familielede wat vir haar kon sorg, was sulke voorsienings natuurlik onnodig.—Vers 4, 16.
5. (a) Hoe was sommige weduwees moontlik “losbandig”? (b) Was die gemeente verplig om sulkes te onderhou?
5 “Maar [die weduwee] wat losbandig is”, het Paulus vermaan, “is lewendig [geestelik] dood” (Vers 6). Paulus verduidelik nie hoe sommige, soos die Kingdom lnterlinear dit letterlik weergee, “hulle sinlik gedra” het nie. Sommige het moontlik ’n stryd gevoer teen hulle ‘wellus’ (Vers 11). Maar volgens Liddell & Scott’s Greek-English Lexicon kan “hulle sinlik gedra” ook beteken het dat hulle ‘gemaklik of in buitensporige gerief of verwenning lewe’. Sommige wou dalk destyds gehad het dat die gemeente hulle moet verryk, ’n oordadige, genotsugtige lewe van buitensporigheid moes finansier. Hoe dit ook al sy, Paulus dui aan dat sulke persone nie aan die vereistes voldoen het om gemeentelike hulp te ontvang nie.
6, 7. en voetnoot. (a) Wat was “die lys”? (b) Waarom het diegene onder sestig nie vir onderhoud in aanmerking gekom nie? (c) Hoe het Paulus jong weduwees gehelp om nie onder ’n ongunstige oordeel” te kom nie?
6 Toe het Paulus gesê: “’n Weduwee word op die lys [van die wat finansiële hulp ontvang] geplaas wanneer sy nie minder as sestig jaar oud is nie.” In Paulus se dag is ’n vrou van oor die sestig klaarblyklik beskou as een wat nie vir haarself kan sorg nie en wat waarskynlik nie weer sal trou nie.a “Maar”, het Paulus gesê, “jy moet die jong weduwees afwys [“nie in die lys opneem nie”, NAV]; want wanneer hulle tot oneer van Christus wellustig word, wil hulle trou en kom onder ’n oordeel, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het.”—Vers 9 (NW), 11, 12.
7 Indien jonger weduwees in “die lys” opgeneem kon word, sou sommige dalk oorhaastig gesê het dat dit hulle voorneme is om ongetroud te bly. Maar met verloop van tyd sou hulle dit miskien moeilik gevind het om hulle ‘wellus’ te beheers en sou hulle weer wou trou, met die gevolg dat hulle ‘onder ’n oordeel sou kom omdat hulle hul eerste geloof’ om ongetroud te bly ‘verwerp het’. (Vergelyk Prediker 5:1-5.) Paulus het sulke probleme voorkom deur voorts te sê: “Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar.”—Vers 14.
8. (a) Hoe het Paulus se riglyne die gemeente beskerm? (b) Is daar ook na behoeftige jonger weduwees of bejaarde manne omgesien?
8 Die apostel het ook gesê dat slegs diegene met ’n lang reputasie vir goeie Christelike werke in die lys opgeneem mag word (Vers 10). Die gemeente was gevolglik nie ’n “welsynstaat” vir die luies of die hebsugtiges nie (2 Thessalonicense 3:10, 11). Maar wat van bejaarde manne of jonger weduwees? Indien sulkes behoeftig geword het, sou die gemeente ongetwyfeld op ’n individuele grondslag vir hulle gesorg het.—Vergelyk 1 Johannes 3:17, 18.
9. (a) Waarom verskil reëlings vir die versorging van die bejaardes vandag van dié wat in die eerste eeu getref is? (b) Wat help Paulus se bespreking van weduwees in 1 Timotheüs hoofstuk 5 ons om vandag te besef?
9 Sulke reëlings was waarskynlik heeltemal voldoende om te voorsien in die behoeftes van die eerste-eeuse gemeentes. Maar soos The Expositor’s Bible Commentary sê: “Vandag, met inkomste uit versekering, bestaansbeveiliging en werksgeleenthede is die situasie heeltemal anders.” As gevolg van ’n veranderde maatskaplike en ekonomiese situasie, is dit vandag selde vir gemeentes nodig om lyste te hê van bejaarde begunstigdes. Paulus se woorde aan Timotheüs help ons nietemin om die volgende te besef: (1) Die probleme van die bejaardes is vir die hele gemeente—veral die ouere manne—van belang. (2) Die versorging van die bejaardes moet behoorlik georganiseer word. (3) Sulke sorg is beperk tot diegene wat waarlik behoeftig is.
Sien as ouere manne om na hulle belange
10. Hoe kan ouere manne ander vandag voorgaan in die wyse waarop hulle belangstelling in bejaardes toon?
10 Hoe gaan opsieners ander vandag voor in die wyse waarop hulle belangstelling in bejaardes toon? Van tyd tot tyd kan hulle die behoeftes van die bejaardes op die agenda vir hulle vergaderinge sit. Wanneer bepaalde hulp nodig is, kan hulle reël dat dit verleen word. Hulle help moontlik nie persoonlik met die versorging nie aangesien daar dikwels talle gewilliges—jongmense inkluis—in die gemeente is wat kan help. Hulle kan egter noukeurig toesig hou oor sulke sorg, moontlik deur ’n broer aan te stel om die versorging van ’n individu te koördineer.
11. Hoe kan ouere manne hulle vergewis van die behoeftes van die bejaardes?
11 Salomo het vermaan: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape” (Spreuke 27:23). Opsieners kan dus die bejaardes persoonlik besoek om vas te stel hoe om die beste ‘voorsiening te maak in hulle behoeftes’ (Romeine 12:13). ’n Reisende opsiener het dit soos volg gestel: “Sommige bejaardes is baie onafhanklik, en dit help nie om net vir hulle te vra wat gedoen moet word nie. Dit is die beste om te onderskei wat gedoen moet word en die taak aan te pak!” In Japan het sommige opsieners gevind dat ’n tagtigjarige suster baie aandag nodig het. Hulle berig: “Ons sorg nou dat iemand twee keer per dag, soggens en saans, met haar in verbinding tree deur middel van ’n besoek of die telefoon.”—Vergelyk Mattheüs 25:36.
12. (a) Hoe kan ouere manne sorg dat bejaardes by gemeentelike vergaderinge baat vind? (b) Hoe kan bande wat deur die Genootskap gemaak word, benut word?
12 Dit is ook vir opsieners ’n saak van erns dat bejaardes die voordeel van gemeentelike vergaderinge geniet (Hebreërs 10:24, 25). Het party vervoer nodig? Is dit eenvoudig vir sommige onmoontlik om ‘te luister en vergaderinge te verstaan’ omdat hulle nie goed kan hoor nie? (Mattheüs 15:10). Dit sal moontlik prakties wees om oorfone vir hulle aan te bring. Verskeie gemeentes het nou ook vergaderinge wat per telefoonkabel versend word sodat krankes tuis kan luister. Ander neem die vergaderinge op bande op vir diegene wat te siek is om dit by te woon—in sommige gevalle koop hulle die bandopnemers vir hulle. En van bande gepraat, ’n ouere man in Duitsland het gesê: “Ek het verskeie bejaardes besoek wat net voor die beeldradio gesit en na programme gekyk het wat nouliks as geestelik opbouend beskryf kan word.” Spoor hulle gerus aan om eerder te luister na bande wat deur die Genootskap gemaak word, soos die wat Koninkryksmelodieë en Skriflesing bevat.
13. Hoe kan bejaardes gehelp word om bedrywig te bly as Koninkryksverkondigers?
13 Sommige bejaarde lede van die gemeente het ongereelde of onbedrywige predikers geword. Maar ouderdom verhinder nie noodwendig dat ’n mens die “evangelie van die koninkryk” verkondig nie (Mattheüs 24:14). Sommige sal ’n eenvoudige uitnodiging om saam met jou in die velddiens te werk, aanvaar. Jy kan moontlik hulle liefde vir die predikingswerk weer aanvuur deur vir hulle velddiensondervindinge te vertel. As dit vir hulle moeilik is om trappe te klim, kan julle reël dat hulle in woonstelgeboue met hysers of woongebiede sonder trappe werk. Sommige verkondigers kan bejaardes saam met hulle na hulle Bybelstudies neem—of die studie in die bejaarde se huis hou.
14 en venstertjie. (a) Wat kan die ouere manne doen as ’n bejaarde broer of suster ’n groot geldnood ondervind? (b) Hoe het sommige gemeentes in die behoeftes van bejaarde verkondigers voorsien?
14 “Geld is ’n beskutting” (Prediker 7:12). Talle bejaarde broers en susters verkeer in groot geldnood en het geen familielede wat bereid is om hulle te help nie. Maar individue in die gemeente help gewoonlik graag wanneer hulle van die behoefte bewus gemaak word (Jakobus 2:15-17). Die ouere manne kan ook ondersoek instel na watter staats- of maatskaplike dienste, versekeringspolisse, pensioene, ensovoorts beskikbaar is. In sommige lande is dit egter moeilik om sulke dienste te verkry en bestaan daar geen alternatief as om die patroon in 1 Timotheüs hoofstuk 5 te volg en te reël dat die gemeente in sy geheel onderstand verleen nie. (Kyk Georganiseer om ons bediening te vervul, bladsye 122, 123.)
Verkondigers in Nigerië het ’n 82-jarige gewone pionier en sy vrou gereeld met materiële gawes gehelp. Nadat die regering besluit het dat die gebou waar hulle gewoon het, gesloop moes word, het die gemeente hulle genooi om in ’n vertrek langs die Koninkryksaal in te trek totdat ander huisvesting gereël kon word.
In Brasilië het ’n gemeente ’n verpleegster gehuur om vir ’n bejaarde egpaar te sorg. Terselfdertyd is ’n suster toegewys om die huis skoon te hou, hulle kos voor te berei en op ander fisiese maniere vir hulle te sorg. Die gemeente sit elke maand geld vir hulle opsy.
15. (a) Het die hulp wat die gemeente kan verleen perke? (b) Hoe kan die raad in Lukas 11:34 gepas wees vir sekere persone wat veeleisend word?
15 Soos in die eerste eeu is sulke voorsienings vir verdienstelikes wat dit werklik nodig het. Opsieners is nie verplig om onmatige versoeke toe te staan of om onredelike eise om aandag te bevredig nie. Bejaardes moet ook hulle oog “reg” hou.—Lukas 11:34.
Sien as individue om na hulle belange
16, 17. (a) Waarom is dit belangrik dat ander benewens die ouere manne in die bejaardes moet belangstel? (b) Hoe kan besige verkondigers ‘die tyd uitkoop’ vir die bejaardes?
16 ’n Ruk gelede is ’n bejaarde suster in ’n hospitaal opgeneem. Die diagnose was ondervoeding. “As meer in die gemeente persoonlik in haar belanggestel het”, het ’n ouere man geskryf, “sou dit moontlik nie gebeur het nie.” Ja, ouere manne is nie die enigstes wat in die bejaardes moet belangstel nie. Paulus het gesê: “Ons is mekaar se lede.”—Efesiërs 4:25.
17 Sommige van julle gaan ongetwyfeld reeds gebuk onder persoonlike verantwoordelikhede. Maar ‘moenie net na jou eie belange omsien nie’ (Filippense 2:4). Met behoorlike persoonlike organisering kan jy dikwels ‘die tyd uitkoop’ (Efesiërs 5:16). Kan jy byvoorbeeld ’n bejaarde ná velddiens besoek? Weekdae is besonder eensame tye vir sommige. Ook tieners kan die bejaardes besoek en takies vir hulle verrig. Een suster wat deur ’n jong persoon gehelp is, het gebid: “Baie dankie vir jong broer John, Jehovah. Hy is so ’n gawe mens.”
18. (a) Waarom kan dit soms moeilik wees om ’n gesprek met ’n bejaarde te voer? (b) Hoe kan ’n mens ’n besoek aan of ’n gesprek met ’n bejaarde wedersyds opbouend maak?
18 Groet jy bejaardes by die vergaderinge net vlugtig? Dit is weliswaar nie maklik om ’n gesprek met iemand te voer wat hardhorend is of dit moeilik vind om sy gedagtes uit te druk nie. En omdat verslegtende gesondheid sy tol eis, is nie alle bejaardes opgeruimd nie. Dit is nietemin ‘beter om geduldig te wees’ (Prediker 7:8, NW). ’n Bietjie inspanning kan groot ‘wedersydse bemoediging’ tot gevolg hê (Romeine 1:12, NW). Probeer om ’n velddiensondervinding te vertel. Bespreek ’n gedagte wat jy in Die Wagtoring of Ontwaak! gelees het. Of nog beter, luister. (Vergelyk Job 32:7.) Bejaardes het baie om te vertel as jy hulle die geleentheid bied. Een ouere man het erken: “Dit het my baie goed gedoen om daardie bejaarde broer te besoek.”
19. (a) Wie word ingesluit by ons besorgdheid oor die bejaardes? (b) Wat is sommige maniere waarop ons gesinne kan help wat vir bejaarde ouers sorg?
19 Moet jou besorgdheid oor die bejaardes nie ook die gesinne wat vir hulle sorg, insluit nie? Een egpaar wat vir bejaarde ouers sorg, het berig: “In plaas van ons te bemoedig, is sommige in die gemeente baie krities. Een suster het gesê: ‘As julle aanhou om van vergaderinge af weg te bly, sal julle geestelik siek word!’ Maar sy was nie bereid om enigiets te doen om ons te help om meer vergaderinge by te woon nie.” Ewe ontmoedigend is vae beloftes soos: Sê net as jy ooit hulp nodig het. Dit is dikwels feitlik dieselfde as om te sê: “Word warm, word versadig” (Jakobus 2:16). Hoeveel beter is dit tog om jou besorgdheid in dade om te sit! Een egpaar berig: “Die vriende was wonderlik en ondersteunend! Party sorg ’n paar dae op ’n keer vir Moeder sodat ons nou en dan ’n blaaskans kan hê. Ander neem haar saam na Bybelstudies. En dit bemoedig ons werklik wanneer ander na haar welstand verneem.”
20, 21. Wat kan bejaardes doen om diegene te help wat vir hulle sorg?
20 Ons bejaardes word oor die algemeen goed versorg. Maar wat kan bejaarde Getuies self doen sodat sulke werk met blydskap gedoen kan word en nie al sugtende nie? (Vergelyk Hebreërs 13:17.) Gee julle samewerking aan die reëlings wat die ouere manne vir julle versorging tref. Betuig dank en waardering vir enige vriendelike dade en moenie veeleisend of te krities wees nie. En probeer om opgeruimd en positief te wees al is die pyn wat met bejaardheid gepaard gaan baie wesenlik.—Spreuke 15:13.
21 ‘Die broers is wonderlik. Ek weet nie wat ek sonder hulle sou doen nie’, het talle bejaardes al gesê. Die verantwoordelikheid om vir die bejaardes te sorg, rus nietemin hoofsaaklik op hulle kinders. Wat behels dit, en hoe kan hierdie uitdaging die beste die hoof gebied word?
[Voetnoot]
a Levitikus 27:1-7 bespreek die lossing van individue wat (deur middel van ’n gelofte) as arbeiders aan die tempel ‘geoffer’ is. Die losprys het gewissel volgens die ouderdom. Vir sestigjariges het hierdie prys ingestort, klaarblyklik omdat daar gemeen is dat ’n persoon van daardie ouderdom nie so hard soos ’n jonger persoon kon werk nie. The Encyclopædia Judaica sê verder: “Volgens die Talmoed begin bejaardheid . . . op 60.”
Onthou jy?
◻ Watter reëlings is in die eerste eeu vir bejaarde weduwees getref?
◻ Hoe kan opsieners reël dat bejaardes in die gemeente versorg word?
◻ Hoe kan individue in die gemeente belangstelling in bejaarde broers en susters toon?
◻ Wat kan bejaardes doen om diegene te help wat vir hulle sorg?
[Venster op bladsy 11]
Hulp aan die bejaardes—Wat sommige doen
’n Gemeente in Brasilië het ’n gerieflike manier gevind om in die fisiese behoeftes te voorsien van ’n broer wat naby hulle Koninkryksaal woon: Die boekstudiegroep wat die saal moet skoonmaak, maak ook sy huis skoon.
’n Ander gemeente aldaar het ’n eenvoudige manier gevind om ’n sieklike broer aan die Teokratiese Bedieningskool te laat deelneem. Wanneer dit sy beurt is om ’n toespraak te hou, word ’n broer aangewys om twee of drie verkondigers saam met hom te vat en die broer te besoek. ’n Kort vergadering word met gebed geopen en dan hou die broer sy toespraak. Die nodige raad word gegee. Hoe bemoedigend is hierdie besoek tog nie!
Reisende opsieners stel ’n goeie voorbeeld in die wyse waarop hulle die leiding gee. In een gemeente het ’n bejaarde broer wat aan ’n rystoel gekluister is baie prikkelbaar geword, met die gevolg dat hy selde ’n besoek ontvang het. ’n Reisende opsiener het egter gereël om sy skyfietoespraak vir die broer te kom wys. Die bejaarde broer is tot trane beweeg deur wat hy gesien het. Die opsiener sê: “Dit was vir my ’n groot beloning om te sien hoe ’n bietjie aandag en liefde soveel vrugte afwerp.”
’n Paar ouere manne in Nigerië het ’n herdersbesoek by ’n bejaarde broer afgelê en ontdek dat hy ernstig siek is. Hy is dadelik hospitaal toe geneem. Daar is bevind dat die bejaarde broer omvattende mediese behandeling nodig het maar dat hy dit nie kon bekostig nie. Toe die gemeente van sy behoefte verwittig is, het die verkondigers genoeg geld bygedra om sy onkoste te dek. Twee ouere manne het beurte gemaak om hom per motor hospitaal toe te neem en terug te bring, al moes hulle tyd by die werk vryneem om dit te doen. Hulle het egter die vreugde gesmaak om te sien hoe die broer van sy siekte herstel en tot sy dood sowat vier jaar later hulppionierdiens doen.
In die Filippyne het ’n bejaarde suster geen familielede gehad nie. Die gemeente het reëlings getref om vir haar te sorg gedurende die drie jaar wat sy siek was. Hulle het vir haar ’n woonplekkie voorsien, elke dag vir haar etes gebring en haar gewas.
[Prent op bladsy 10]
Almal kan help om ons bejaardes In die gemeente te eer