Jesus se lewe en bediening
’n Blindgebore man word genees
WANNEER die Jode Jesus probeer stenig terwyl hy in die tempel is, versteek hy hom en verdwyn hy ongemerk. Maar hy verlaat nie Jerusalem nie. Later, op die Sabbat, sien Jesus en sy dissipels ’n man wat al van sy geboorte af blind is toe hulle in die stad loop. “Rabbi, wie het gesondig”, vra die dissipels vir Jesus, “hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?”
Die dissipels glo dalk, soos sommige rabbi’s, dat ’n persoon in sy moeder se baarmoeder kan sondig. Maar Jesus antwoord: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” Die man se blindheid is nie die gevolg van ’n spesifieke fout of sonde wat hy of sy ouers begaan het nie. Die sonde van die eerste man Adam het veroorsaak dat alle mense onvolmaak is en dus aan gebreke, soos om blind gebore te word, onderhewig is. Hierdie gebrek in die man bied Jesus nou die geleentheid om die werke van God te openbaar.
Jesus beklemtoon hoe dringend dit is om hierdie werke te doen: “[Ons] moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is”, sê hy. “Die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.” Binnekort sal Jesus se dood hom in die duisternis van die graf dompel waar hy nie meer enigiets kan doen nie. In die tussentyd is hy ’n bron van verligting vir die wêreld.
Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, spoeg hy op die grond en maak hy met die spoeg ’n bietjie klei aan. Hy smeer dit aan die blinde man se oë en sê: “Gaan was jou in die badwater Siloam.” Die man gehoorsaam hom. En wanneer hy dit doen, kan hy sien! Hoe verheug is hy tog wanneer hy terugkeer, om vir die eerste keer in sy lewe te kan sien!
Bure en ander wat hom ken, is verwonderd: “Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie?” vra hulle. “Dit is hy”, antwoord party. Maar ander kan dit nie glo nie: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man” (NAV). Maar die man sê: “Dit is ek.”
“Hoe is jou oë geopen?” wil die mense weet.
“Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en op my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na die badwater Siloam en was jou. En ek het gegaan en my gewas en ek sien.”
“Waar is Hy?” vra hulle.
“Ek weet nie”, antwoord hy.
Die mense bring die eens blinde man nou na hulle godsdiensleiers, die Fariseërs. Ook hulle begin hom vra hoe hy begin sien het. “Hy het klei op my oë gesit, en ek het my gewas en ek sien”, verduidelik die man.
Die Fariseërs behoort tog seker bly te wees saam met hierdie genese bedelaar! Maar in plaas daarvan veroordeel hulle Jesus. “Hierdie man kom nie van God nie”, beweer hulle. Waarom sê hulle so? “Omdat Hy die sabbat nie hou nie.” En tog wonder ander Fariseërs: “Hoe kan ’n sondige mens sulke tekens doen?” Daar is dus verdeeldheid onder hulle.
Daarom vra hulle die man: “Jy, wat sê jy van Hom, aangesien Hy jou oë geopen het?”
“Hy is ’n profeet”, antwoord hy.
Die Fariseërs laat hulle dit nie vertel nie. Hulle is oortuig dat daar die een of ander geheime ooreenkoms tussen Jesus en hierdie man moet wees om die mense om die bos te lei. Om die saak dus op te los, roep hulle die bedelaar se ouers om hulle uit te vra. Johannes 8:59; 9:1-18.
◆ Wat was vir die man se blindheid verantwoordelik, en wat nie?
◆ Wat is die nag wanneer niemand kan werk nie?
◆ Wat is die reaksie van diegene wat die man ken wanneer hy gesond gemaak word?
◆ Hoe was die Fariseërs verdeeld oor die gesondmaking van die man?