Babilon die Grote—geval en geoordeel
“GEVAL, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.” “Geval, geval het [Babilon die Grote], en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls.”—Openbaring 14:8; 18:2, vgl. NW.
Wat ’n skrikwekkende profesie! ‘Babilon die Grote het geval!’ Hierdie simboliese verklaring wek al eeue lank die belangstelling van studente van die Bybel. Waarom moet dit jou interesseer? Omdat Babilon die Grote se lot, volgens Bybelprofesie, binnekort die hele mensdom sal raak. Soos ons in hierdie tydskrif se nommers van 1 April en 15 April gesien het, word hierdie invloedryke hoer duidelik geïdentifiseer as Satan se wêreldryk van valse godsdiens.a
Maar in watter opsig het sy geval? En wanneer?
Babilon geval—maar nie vernietig nie
Om die volle betekenis van Babilon die Grote se val te begryp, moet ons verstaan wat gebeur het toe eertydse Babilon in 539 v.G.J. geval het. God se volk, Israel, was op daardie tydstip al bykans 70 jaar in gevangenskap. Hulle het verwag om vrygelaat te word, soos hulle profete voorspel het (Jeremia 25:11, 12; 29:10). Hoe opgewonde moes hulle tog gewees het toe Kores die Pers Babilon se ondergang bewerkstellig het en die Jode vrygelaat het sodat hulle terug kon trek na hulle heilige stad, Jerusalem!—Jesaja 45:1-4.
Maar al was Babilon die Grote se mag oor die Jode verbreek, het dit nie die einde van eertydse Babilon beteken nie. Geskiedskryfster Joan Oates skryf in haar boek Babylon: “Kores het Babilon seëvierend binnegegaan, plundering verbied en ’n Persiese goewerneur aangestel en die godsdienstige instellinge en burgerlike bestuur onveranderd gelaat. . . . Dit lyk inderdaad op die oog af of die privaat lewens van Babiloniese burgers baie min onder Persiese heerskappy verander het. Godsdiensvorme het behoue gebly en handelsbedrywighede het gefloreer.” Ten spyte van haar val het Babilon dus steeds gefunksioneer, maar met een groot verskil—God se volk, Israel, is nie meer gevange gehou nie. Hulle het na Jerusalem teruggekeer om ware aanbidding aldaar te herstel.
Omstreeks 331 v.G.J. toe Griekse generaal Alexander die Grote Babilon binnegegaan het, is hy hartlik deur die inwoners verwelkom. Hy het besluit dat hy dit in sy oostelike hoofstad wil omskep, maar het gesterf voor hy sy ideaal kon verwesenlik. Dit toon dat Babilon selfs op daardie stadium nog gefloreer het.
Babilon se val in 539 v.G.J. het dus nie die einde van sy bestaan beteken nie. Dit het nog eeue lank gefunksioneer. Hoe is dit weerspieël in die hedendaagse vervulling van profesieë aangaande Babilon die Grote?
Babilon die Grote val
Dit het sy parallel in die val van die simboliese Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. In die vroeë deel van ons 20ste eeu, voor 1919, moes die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe bekend was, vrygelaat word uit ’n vorm van geestelike gevangenskap aan die idees en gebruike van valse godsdiens. Hoewel hulle valse leerstellings soos die Drie-eenheid en die onsterflike siel verwerp het, was hulle steeds besmet met Babiloniese gebruike. Baie het ’n eiegeregtige gesindheid ontwikkel. Sommige het skepsele verheerlik en hulle oorgegee aan ’n persoonlikheidskultus wat hulle om Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, gebou het. Hulle het sonder enige Bybelse grondslag verjaarsdae en Kersfees gevier. Die kruis was steeds prominent in hulle denke. Sommige het selfs ’n kruis-en-kroon-lapelembleem gedra, terwyl ander die aansien wou hê wat deur die Christendom geniet is. Toe, in 1917, kort na Russell se dood, het ’n groot verandering begin plaasvind.
In daardie jaar het die Wagtoringgenootskap ’n kommentaar oor Openbaring met die titel The Finished Mystery gepubliseer. Hierdie boek het die geestelikes van die Christendom aan die kaak gestel, asook hulle betrokkenheid by die Groot Oorlog wat toe in Europa gewoed het. Sommige van die Protestantegeestelikes, ’n faksie van Babilon die Grote se verteenwoordigers in Kanada, het hierdie aanhalings na hulle politieke vriende in die Kanadese regering geneem en die Bybelstudente van sedisie beskuldig. Op 12 Februarie 1918 is die Wagtoringgenootskap in Kanada in die ban gedoen.
Die geestelikes in die Verenigde State het nie juis op hulle laat wag om die voorbeeld van hulle Kanadese broeders te volg nie. Binne enkele dae is Wagtoringpublikasies in Los Angeles, Kalifornië, VSA, gekonfiskeer. Toe, in Mei 1918, is lasbriewe uitgereik vir die inhegtenisneming van J. F. Rutherford, die nuwe president van die Wagtoringgenootskap, en sewe ander Wagtoringmedewerkers. Daardie Junie is hierdie Christenmanne met verbasende haas voor ’n hof gesleep en veroordeel. Sewe is tot 20 jaar in ’n strafgevangenis gevonnis, en een tot 10 jaar. Wat was die geestelikes se reaksie? Martin Marty sê in sy boek Modern American Religion: The Irony of It All: “Die geestelikes het teen die Russelliete [later bekend as Jehovah se Getuies] gedraai en gejuig toe hulle hoor dat vonnisse van twintig jaar aan die veroordeelde leiers van Jehovah se Getuies opgelê gaan word.” Die verteenwoordigers van Babilon die Grote het gelag. Hulle het vergeet dat wie laaste lag die lekkerste lag.
In 1918 het simboliese gevangenskap aan Babilon dus ook letterlike gevangenskap vir sommige van Jehovah se volk geword. ’n Vlaag van vervolging van die Bybelstudente het deur die Verenigde State, Kanada en ander lande getrek. Nasionalistiese geestelikes het gereël dat gewelddadige groepe hulle uit die dorpe jaag. Bybelstudente is geteer en geveer en met knuppels geslaan. Keer op keer is hierdie klein groepie opregte Christene skandelike onreg aangedoen.b
Toe, in 1919, was daar ’n onverwagse ommeswaai. Die Groot Oorlog het reeds in November 1918 geëindig. Daar is teen die vonnisse van die beamptes van die Wagtoringgenootskap appel aangeteken aangesien dit ’n regsdwaling was. Tot die ergernis van hulle godsdiensvyande is Rutherford en sy metgeselle uit die tronk vrygelaat. Soos Marty sê: “Daar was geen gejuig deur die ortodokse kerklidmate nie.” Al die beskuldigdes is uiteindelik heeltemal vrygespreek. Die bevooroordeelde Katolieke regter, Martin T. Manton, wat later deur pous Pius XI ’n “ridder van die orde van St. Gregorius die Grote” gemaak is, het vroeër die agt Getuies borgtog geweier en sodoende veroorsaak dat hulle nege maande lank ten onregte opgesluit is. Sy ware karakter het later, in 1939, aan die lig gekom toe hy tronk toe gestuur is omdat hy omkoopgeld aanvaar het!
Met hulle vrylating uit die tronk in 1919 het Rutherford en sy metgeselle na die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap in Brooklyn teruggekeer. Toe het hulle hulself begin herorganiseer vir die grootste Koninkrykspredikingsveldtog van alle tye. Nadat die Bybelstudente die boeie van mensevrees verbreek het, het hulle duidelik besef waar hulle met betrekking tot alle valse godsdiens staan. Babilon die Grote was hulle meedoënlose vyand, en hulle sou bekend moes maak dat sy geval het. Ware aanbidding sou onder die nasies herstel moes word.
Daardie onverskrokke Christene het hulle huis-tot-huisbediening met groter ywer voortgesit. Hulle het valse godsdiens ook aan die kaak gestel deur openbare optogte met plakkate wat gesê het: “Godsdiens is ’n strik en ’n bedrogspul” en “Dien God en Christus die Koning”. Valse godsdiens het steeds gefloreer en gefunksioneer, soos dit in eertydse Babilon die geval was, maar met betrekking tot Jehovah se Getuies, het Babilon die Grote in 1919 geval. Hulle was vry van Babiloniese gevangenskap!
Babilon se kwynende invloed
Nou, 70 jaar later, kan ons sien dat die invloed van Babilon die Grote in baie dele van die aarde gekwyn het. Dit lyk weliswaar of godsdiens steeds in die Verenigde State bloei, waar ’n emosioneler sektor van die bevolking deur TV-evangeliste en godsdienssielkundiges uitgebuit word. Maar selfs sommige van hierdie materialistiese bedrieërs is onlangs ontmasker en in skande gedompel. Godsdiens floreer skynbaar in die Republiek Korea, waar die Christendom se kerke diep by die politiek betrokke geraak het. Babilon die Grote funksioneer klaarblyklik steeds, al het sy “geval”.
Na die wêreldoorloë het ortodokse godsdiens egter sy massa-aanhang in lande soos Duitsland, Denemarke, Swede en Brittanje verloor. Selfs in Katolieke lande soos Italië, Spanje en Frankryk is daar al hoe minder mense wat die tradisionele gebruike van belydenis en bywoning van die Mis nakom. Die getalle van die wat vir die priesteramp studeer, het skerp gedaal. En die blote feit dat die huidige pous dit nodig ag om die wêreld meer as enige ander pous in die geskiedenis te deurreis, is ’n simptoom van ’n kerk wat ’n krisis beleef.
Boonop het die meeste sosialistiese lande godsdiens sedert 1917 op die agtergrond geskuif en die voormalige politieke invloed daarvan afgesny. Op ’n wêreldskaal is tradisionele godsdiens steeds die oorsaak van soveel haat en bloedvergieting dat baie denkers alle godsdiens, hetsy Westers of Oosters, die rug toegekeer het. Ja, die simboliese waters waarop Babilon die Grote sit, die volke onder haar beheer, droog op. Babilon die Grote word geoordeel, en haar teregstelling is naby.—Openbaring 16:12; 17:1, 15.
Babilon—Waarom geoordeel?
Op grond waarvan oordeel Jehovah die wêreldryk van valse godsdiens? Sommige dink dalk dat al die skole, hospitale en liefdewerke wat deur verskeie godsdienste gesteun word tog sekerlik sy goedkeuring wegdra. Maar hoe vergelyk al hierdie dinge met die aanklag wat Jehovah teen die wêreld se godsdienste inbring? Laat ons kortliks daardie aanklag en godsdiens se reputasie beskou.c
“Een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (Openbaring 17:1, 2). Soos ons duidelik in ons nommer van 1 April en 15 April 1989 getoon het, kan godsdiens se samewerking met die volksheersers deur die geskiedenis heen ten nadele van die mense, met die gedrag van ’n selfsugtige, ontugtige hoer vergelyk word. Maar dit is nie al waarvan sy aangekla word nie.
“En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus.” “En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (Openbaring 17:6; 18:24). Babilon die Grote moet weens bloedskuld aangekla word omdat sy ware Christene deur die eeue heen gemartel het, met inbegrip van ’n paar wat die moed gehad het om die Bybel in die taal van die gewone mense te vertaal en ook talle wat dit gewaag het om die Bybel te besit en te lees. Die groot Babilon is ook bloedskuldig as gevolg van die ware Christene wat in onlangser tye in tronke en konsentrasiekampe doodgemaak is, hetsy onder Nazisme, Fascisme of ander diktatorskappe. Let op dat die aanklag melding maak van “al die wat op die aarde gedood is”, wat ook die honderdmiljoene dwarsdeur die wêreld insluit wat gesterf het in oorloë en vendettas wat deur die geskiedenis heen deur mense gevoer is wat beweer het dat hulle godsdienstig is.—Vergelyk Mattheüs 23:34-36; 2 Timotheüs 3:5.
God se oordeel teen Babilon die Grote dek ’n ander aspek van haar skuld. Die oordeel sê: “Deur jou towery is al die nasies verlei” (Openbaring 18:23). Interessant genoeg, “towery” vertaal die Griekse phar·ma·kiʹa, wat “hoofsaaklik betrekking gehad het op die gebruik van medisyne, dwelms, towerspreuke; dan vergiftiging; dan towery”.d In geestelike sin het valse godsdiens die nasies vergiftig deur hulle verkeerdelik in valse gode en leerstellings te laat glo, wat hulle aandag van Jehovah en die geskil van universele soewereiniteit afgelei het. Deur sy dwaalleer van die onsterflikheid van die siel het valse godsdiens ook die grondslag gelê vir elke soort spiritisme en towery, wat vrees vir die dode en aanbidding van voorouers meebring. God se veroordeling van Babilon die Grote is geheel en al geregverdig. Soos Johannes geskryf het: “Haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.”—Openbaring 18:5.
Wat moet ons doen?
Wat moet opregte waarheidsliefhebbers nou doen met die oog op Babilon die Grote se gevalle en geoordeelde toestand? Jesaja se profesie wat betrekking het op eertydse Babilon is met selfs groter krag op hedendaagse valse godsdiens van toepassing: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE” (Jesaja 52:11). Hierdie dringende oproep stem ooreen met dié in Openbaring 18:4: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar [Babilon die Grote] uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”
Ja, dit is tyd om alle bande met valse godsdiens te verbreek. Maar waarheen moet ons ons wend as ons uit Babilon die Grote kom? Na die ware aanbidding van Jehovah in eenheid met sy getuies. Miljoene uit al die nasies van die aarde stroom alreeds na die simboliese “berg van die HERE”. Jy word ook genooi om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer en mee te doen aan hierdie ware aanbidding.—Jesaja 2:2-4; 43:10-12.
Nou is die vraag steeds: Wat is volgende op die goddelike agenda as Babilon die Grote geval het en geoordeel is? Wat gaan met Satan se wêreldryk van valse godsdiens gebeur? Ons volgende nommer, die van 15 Mei, sal hierdie vraag aan die hand van Bybelprofesie ondersoek.
[Voetnoot]
a Babilon die Grote kan nie die politiek of groot sake afbeeld nie, aangesien hulle haar val betreur (Openbaring 18:9-11). Die enigste ander vername element van Satan se wêreldstelsel is godsdiens. Haar bande met towery bevestig die godsdienstige identifikasie.—Openbaring 18:23.
b Kyk die 1975 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 94-119, vir verdere besonderhede oor hierdie vervolging.
c Kyk die publikasie Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 235-271, wat in 1988 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap gepubliseer is, vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp.
d W. E. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words. Deel IV, bladsye 51, 52.
[Prent op bladsy 7]
Hoewel Babilon in 539 v.G.J. geval het, het dit steeds honderde jare lank as ’n stad gefunksioneer