Ek het voltydse diens ’n loopbaan gemaak
Soos vertel deur Max Larson
IN 1910 het my ma, wie se ouers albei gesterf het, Denemarke verlaat en per skip na die Verenigde State gereis. Sy was net 18, het nie Engels gepraat nie en het niemand in die land geken nie.
Toe sy in die stad New York aangekom het, het sy op ’n trein na Suid-Dakota geklim, ’n rit van meer as 2 400 kilometer. In Suid-Dakota, waar daar ’n Deense nedersetting was, het sy die man ontmoet wat my pa sou word. Hulle is op 20 September 1911 getroud.
Vroeg in 1913 het Pa alleen met ’n tentwa na Montana vertrek om op beskikbare grond te boer. Daar het hy ’n blokhuisie met een vertrek gebou. Toe dit in die somer voltooi is, het my ma en my broer Norman, wat net ’n paar maande oud was, per trein gekom om by hom aan te sluit.
Twee jaar later was ’n tweede kind op pad. Soos ek al skertsend gesê het, het ek Ma “gehelp” om die dak met dakspane te dek, want dit was wat sy die dag voor my geboorte met ’n aanbousel aan die huis gedoen het. Die volgende dag, 29 April 1915, toe Pa vir middagete van die land af ingekom het, het Ma gesê: “Ek dink die baba kom.” Ek is daardie middag gebore. Toe Pa egter teen die aand by die huis kom, was Ma op en het sy aandete vir hom gereed gehad!
My suster Jean is drie jaar later op dieselfde plek gebore. Ons gesin het die volgende jaar na die oostelike deel van Montana getrek waar Pa ’n plaas gehuur het. My tweede suster Laverna is in 1921 gebore, en ons vier kinders het op die oop vlaktes van Montana grootgeword.
My lewe word gevorm
My ouers was Lutherane en ons ses het elke Sondag kerk toe gegaan. Maar ’n buurvrou, ’n Internasionale Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies toe genoem is, het weldra begin om Ma te besoek en die Bybel met haar te bestudeer. Na ’n paar jaar het Ma die Bybelwaarhede wat sy geleer het, aanvaar en is sy in 1925 in ’n drinkbak vir perde gedoop. Nòg Pa, nòg ons kinders het haar nuutgevonde geloof aanvaar, maar ons almal was bly om nie meer na die Lutherse Kerk te gaan nie. Moeder het altyd vir ons gesê: “Julle wil Jehovah nie dien nie, maar moet nooit sy wette oortree nie.” Hierdie raad het ons gehelp om uit die moeilikheid te bly.
Ons gesin van ses het op 320 hektaar grond met 14 perde en een trekker geboer. Ons het geen elektrisiteit of lopende water gehad nie en ons moes al ons water by ’n put wat vier kilometer daarvandaan was, gaan haal. Met die droogte in die vroeë dertigerjare en vier jaar van misoeste het ons besluit om na die staat Washington te trek. Ter voorbereiding vir die trek moes ons van die plaastoerusting en huishoudelike artikels van Montana na Washington stuur. My taak was dus om die goederewa te vergesel en toe te sien dat ons perde kos en water op die deurreis kry. Ek het na ses dae uiteindelik by die weskus van Washington aangekom.
Daar het ek Pa gehelp om ’n melkboerdery te begin en te bestuur. Ek het na omtrent ’n jaar, op die ouderdom van 20, op eie bene begin staan en vragmotors vir die vervoer van stompe in die berge bestuur en ook ses maande in Alaska as ’n skeepsmasjinis deurgebring. In 1938 het ek en my suster Jean in Seattle gewerk en op ’n woonboot op Union-meer gewoon. Daardie somer het Ma, wat omtrent 80 kilometer van ons af gewoon het, die jaarlikse byeenkoms van Jehovah se Getuies in Seattle bygewoon. Ons het haar genooi om by ons te bly, aangesien die byeenkomster rein binne loopafstand van ons woonboot was. Sy het dit gedoen, en ons het ingestem om die byeenkoms by te woon.
Ek besluit oor my loopbaan
Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, het Saterdagaand oor die onderwerp “Liefhebbers van geregtigheid” gepraat. Sy toespraak het oor die voltydse bediening, of pionierdiens, gehandel. Bill Griffith, wat langs my gesit het, het na die tyd vir my gesê: “Max, daar het jy dit. Kom ons word pioniers!”
“Goed”, het ek geantwoord. “Kom ons doen dit.”
“Jy speel seker, of hoe?” het Bill gevra.
“Nee”, het ek geantwoord. “Nadat ek daardie toespraak gehoor het, is ek oortuig dat dit die regte ding is om te doen.”
“Maar jy’s nie eens ’n verkondiger nie. Jy’s nie gedoop nie.”
“Ja, maar hulle het nou net aangekondig dat daar môre ’n doopplegtigheid gaan wees. Ek sal dan gedoop word.”
Opgewonde is ons toe na die Velddiensafdeling om ons pionieraansoekvorms te kry. Daar het ons broer Van Amburgh, die sekretaris-tesourier van die Genootskap, ontmoet. Toe ons hom vertel wat ons beplan, het hy ons eenkant geneem en soos ’n vader met ons gepraat. “Julle moet dit nou nie doen asof dit ’n eksperiment of ’n avontuur is nie”, het hy gesê. “Julle doen die regte ding, maar pak dit aan asof dit julle lewensloopbaan is.” En daardie raad het my altyd baie gehelp. Ons het dus ons aansoekvorms ingegee, en ek is die volgende dag, 5 Junie 1938, gedoop.
My eerste pioniertoewysing
Ek het my werkgewer die volgende dag, Maandag, in kennis gestel dat ek my werk opgee om ’n bedienaar te word. Ek het daardie eerste week ’n sorgvuldige studie van die Genootskap se jongste boek, getiteld Enemies, gemaak en al die vergaderinge bygewoon. Die tweede week het ek die naasnuutste boek, Riches, bestudeer. En die derde week het ek my pioniertoewysing ontvang, naamlik Raymond, Washington.
Daar het ek en Bill ’n groep van 27 gevind wat vergaderinge in die huis van een van die Getuies gehou het. Ons opdrag was om al die vergaderinge waar te neem en om die verkondigers te help en hulle op te lei om Bybelstudies te hou, iets wat destyds ’n nuwe werk was.
By die eerste Diensvergadering op Donderdag het ek die groepkneg, soos die presiderende opsiener toe genoem is, gevra om die volgende aand saam met my te gaan om ’n Bybelstudie te probeer begin. Hy het gesê dat hy besig sou wees. Ek en Bill het dus alleen gegaan. Op pad terug het ons by ’n kruising gestop om ’n optog van die Amerikaanse Oudstrydersbond te laat verbygaan. Tot ons verbasing was die groepkneg die leier van die optog.
Ek het daardie eerste Sondag my eerste tuisbybelstudie met ’n man begin. Daarna het ek my eerste gemeentelike Wagtoring-studie gehou. Dit was boonop die nommer van 1 Junie 1938 wat teokratiese bestuur in die gemeentes ingevoer het. Van die 27 gemeentelede het net 3 die nuwe teokratiese reëling aanvaar.
’n Gesin van pioniers
Kort nadat ek ’n pionier geword het, het my susters en my broer Norman ook die voltydse bediening betree. Norman en sy vrou het hulle plaas verkoop, ’n 3,7-meter-woonwa gekoop en met hul driejarige dogtertjie, Joan, gaan preek. Terloops, toe hulle in 1941 in Raymond gewerk het, het Norman vir my geskryf dat die 24 wat beswaar gemaak het teen die teokratiese reëling by ’n afvallige groep aangesluit het. Maar daardie eerste Bybelstudie van my was teen daardie tyd die groepkneg!
Norman se dogter Joan en haar man, Maurice O’Callaghan, besoek gemeentes nou al 24 jaar in die kringwerk. My jonger suster, Laverna, het in 1949 die 12de klas van die Gileadsendingskool bygewoon en is na Italië gestuur. As gevolg van die vroeë sukses van die sendingwerk aldaar is sy na Switserland gedeporteer, waar sy en haar man nog steeds woon.
’n Begeerte vir uitgebreide diens
Nadat ek twee maande as ’n gewone pionier gedien het, is ek as ’n spesiale pionier aangestel. Warren Henschel, die ouer broer van Milton Henschel, het op daardie tydstip by my en Bill aangesluit. Milton is nou ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies.
Ek het een aand in die eerste maand van spesiale pionierdiens by Albert Hoffman gaan kuier. Hy was die streekopsiener, of reisende opsiener, en het saam met sy vrou, Zola, in ’n woonwa oorkant die Koninkryksaal gebly. Ons het dikwels gedurende daardie Depressiejare lektuur vir kos verruil. Ek het daardie dag ’n groot mandjie pere vir lektuur geruil en het dus by broer Hoffman aangegaan om te vra of hy daarvan wou hê. Hy was baie bly en het my ingenooi.
Dit was omtrent nege-uur toe hy my begin vertel het van die Bybelhuis (wat nou Bethel genoem word), die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. Sy vrou het uiteindelik gesê: “Weet julle hoe laat dit is? Dit is 4:30.” Ons het die hele nag gesels! Voordat ek in die solder van die Koninkryksaal in die bed geklim het, het ek ’n brief geskryf om ’n Bethelaansoekvorm te vra en dadelik uitgegaan en my versoek gepos.
Ek het elke dag tot Jehovah oor die saak gebid en was verheug toe ek drie maande later ’n uitnodiging na die Bethel in Brooklyn ontvang het. Ter voorbereiding vir die reis het ek my motor aan my suster Jean gegee, wat teen daardie tyd ook ’n spesiale pionier was. Ek het ses dae en ses nagte per bus gereis, deur twee sneeustorms in Montana en die Dakotas, en uiteindelik op 14 Januarie 1939 in die stad New York aangekom.
Betheldiens
Ek is deur die Bethelkneg, Grant Suiter, ontvang en toe na die fabriek gestuur om my by Nathan Knorr, die fabriekskneg, aan te meld. My eerste toewysing was om kartonne boeke in die versendingsafdeling toe te bind. Die tweede week is ek na die rotasiedrukpersvloer gestuur. Broer Knorr het gesê: “As jy binne ses maande kan leer om hierdie pers te bedien, kan jy die operateur wees, aangesien die huidige operateur na ’n nuwe pers toe gaan.” Ek hét geleer en het dit baie geniet om die pers te bedien.
Na anderhalf jaar in die perskamer het broer Knorr eendag na die pers gekom en gesê: “Max, sal jy daarvan hou om in die kantoor te werk?”
“O, broer Knorr, dit is die laaste werk wat ek sou kies. Maar as dit my toewysing is, sal ek my daarop toelê.”
“Meld jou Maandagoggend by my in die kantoor aan”, het hy geantwoord.
Ek is sedertdien nog altyd daar. Ek het eers as broer Knorr se assistent gewerk, maar met broer Rutherford se afsterwe op 8 Januarie 1942 het broer Knorr president geword en is ek as fabrieksopsiener aangestel. Ek was 26 en het net drie jaar Bethelondervinding gehad. Die groot verantwoordelikheid het dus swaar op my gedruk.
Die gesalfde opsieners van die verskillende fabrieksafdelings het my egter liefdevol bygestaan. Hulle nederige, hulpvaardige houding het my liefde en waardering vir sulke persone grootliks verdiep. My hoofbron van bystand en opleiding was broer Knorr. Ek het die voorreg gehad om meer as 35 jaar, tot sy dood in 1977, saam met hom in die bestuur van die uitgewers- en konstruksiebedrywighede van die Genootskap te werk. Hy het merkwaardige bestuursvermoë gehad en het my baie gehelp om my toewysing te volbring.
Voor regeringsamptenare
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was daar ’n groot tekort aan die materiale wat ons nodig gehad het om met ons drukwerk voort te gaan. Ek het gevolglik etlike kere per jaar na Washington, DC, gereis om met Oorlogsproduksierade en Senaatkomitees te vergader. Ek het ’n beroep op hulle gedoen om papier en ander voorrade, en Jehovah het hierdie pogings ryklik geseën.
By een geleentheid het ek my saak gestel deur verskeie bladsye van prominente koerante wat oorbodige items geadverteer het, voor te lê. Ek het die aandag gevestig op ’n volblad-advertensie vir ’n pelsjas in die hoofkoerant van New York en gesê: “Die hoeveelheid papier wat vir hierdie advertensie in een Sondaguitgawe gebruik is, is gelyk aan die totale ekstra gewig wat ons vir die hele jaar vra.”
“Jy het jou punt goed gestel”, het een senator geantwoord. Danksy Jehovah se seën op hierdie reise was dit nooit vir ons nodig om ons perse gedurende die oorlog te laat stilstaan omdat ons papier of ander voorrade opgeraak het nie. Maar ons het natuurlik nie die ontsaglike voorraad papier nodig gehad wat ons vandag moet hê nie.
Uitgebreide fabrieksfasiliteite
Twaalf jaar voordat ek na Bethel gekom het, het die Genootskap sy eerste agtverdiepingfabriek te Adamsstraat 117 gebou, en dit het ’n halwe stadsblok beslaan. Maar teen 1949 was dit nodig om ’n negeverdiepingfabrieks- en kantoorgebou op die oorblywende helfte van die stadsblok te bou. Dit het die blok gevul met een groot fabriek waarvan die vloerruimte ongeveer 15 000 vierkante meter is.
Ek is op daardie tydstip aangewys om toesig te hou oor die Genootskap se bouwerk hier by die hoofkwartier. Ons het toe net een gebou vir kantoor- sowel as fabrieksafdelings en een woongebou hier in Brooklyn gehad. Maar nou, 40 jaar later, het ons meer as 10 geboue vir fabrieks- en kantoorafdelings en sowat 20 woongeboue hier in Brooklyn alleen!
Ons het in die vroeë vyftigerjare probeer om die eiendom net oorkant die straat, noord van ons gebou by Adamsstraat 117, te bekom, maar die eienaar wou nie ons aanbod aanvaar nie. Hy wou trouens glad nie onderhandel nie, aangesien hy gedink het dat die Genootskap sy hoë prys sou betaal. Ons het gevolglik ons aandag op die blok oos van ons Adamsstraatfabriek, net aan die anderkant van Pearlstraat, gevestig. Dit was ’n gebied wat uit agt afsonderlike persele bestaan het. Daar moes dus met elke eienaar afsonderlik onderhandel word, maar Jehovah het die weg geopen sodat al agt persele binne een jaar teen ’n gemiddelde koste van slegs $97 (R270) per vierkante meter bekom kon word!
Dit is hier waar die Genootskap in 1955 en 1956 sy 13-verdiepingfabriek te Sandsstraat 77 gebou het. Dit was ons tweede fabriek en dit het ons vloerruimte meer as verdubbel, tot sowat 33 000 vierkante meter. Ons het egter besef dat ons gou meer ruimte sou nodig hê, aangesien die organisasie baie vinnig gegroei het. Ons het dus in 1958 die huidige fabriek op die hoek van Prospect- en Pearlstraat gekoop en dit as ’n pakhuis begin gebruik.
Die enigste plek waar ons toe nog ons geboue deur middel van brûe oor die straat kon verbind, was aan die noordekant waar ons vroeër probeer koop het. Ons het besef dat die eienaar heel moontlik nog steeds sou probeer om sy buitensporig hoë prys te kry as die Wagtoringgenootskap dit probeer koop. Ons het dus iemand anders in die eiendomsbedryf gevra om dit te probeer koop. Hy het ’n koopprys uitgewerk wat aansienlik laer was as die een wat ons aangebied het. Dit is onnodig om te sê dat die eienaar natuurlik woedend was toe hy uitgevind het dat die eiendomsreg later aan die Wagtoringgenootskap oorgedra is.
In 1966 en 1967 het ons ’n tienverdiepingfabriek met ’n vloerruimte van 21 000 vierkante meter op hierdie perseel gebou. Ons het toe vier stadsblokke met fabrieksgeboue gehad—wat almal met brûe oor die straat verbind is. Ons het later in 1983 en 1986 twee fabrieksgeboue oorkant die straat aan die suidekant gekoop, en ons kon ’n brug van 49 meter oor die straat bou wat hierdie geboue met ons ander vier fabrieke verbind. Hierdie ses fabrieke wat met mekaar verbind is, het ’n vloerruimte van 95 000 vierkante meter, of sowat 9 hektaar. Ons het ook in 1983 die kolossale gebou van 93 000 vierkante meter in Furmanstraat gekoop, wat ’n paar blokke daarvandaan aan die waterkant geleë is. Dit huisves tans ons versendingsfasiliteite.
’n Kantoorkompleks word gekoop
Nog ’n interessante ondervinding in my aankoop van eiendom was die Squibb- farmaseutiese kompleks van tien aaneengekoppelde geboue. Na ons dit gekoop het, is vier van hierdie geboue gesloop en is ’n nuwe gebou met ’n bestaande een verbind om Columbia Heights 25 te word, die huidige wêreldhoofkwartier van die Wagtoringgenootskap. Die aankoop van hierdie eiendom het soos volg geskied:
Ons wou teen 1969 ons drukfasiliteite verder uitbrei. Maar die ondernemingsekonomie was goed en nie een van die grondbesitters wat ek in die buurt besoek het, het dus belanggestel om te verkoop nie.
Gedurende hierdie tyd het ek na Noord-Carolina gereis waar die papiermeule geleë is wat ons van Bybelpapier voorsien. Daar het ek terloops aan een van die mans by die meule genoem dat ons eiendom in Brooklyn nodig het. Hierdie man se broer was toevallig ’n persoonlike vriend van een van die eienaars van die Squibb-gebouekompleks. Hy het die nodige oproepe gemaak en my toe meegedeel dat ek hierdie man met my terugkeer na Brooklyn moet besoek.
Ek het dit gedoen en die man het bevestig dat Squibb dit oorweeg om mettertyd hulle eiendom in Brooklyn te verkoop en uit die stad te trek. Hy het gesê dat hy ons sou laat weet wanneer hulle gereed is en dat ons dan kon onderhandel. Na etlike maande het die oproep gekom en het hulle vir my gesê dat hulle gereed is om te verkoop en dat ons die volgende dag na hulle kantoor moet kom.
Ek en broer Knorr het bymekaargekom en besluit op die prys wat ons sou betaal. Die volgende dag by die vergadering is ons meegedeel dat die prys nie onderhandelbaar is nie. “Ons wil driemiljoen dollar [R8,3 miljoen] kontant hê”, het hulle gesê. Ons het probeer om nie verbaas te lyk nie, aangesien dit heelwat laer was as wat ons bereid was om aan te bied. Dit is onnodig om te sê dat die koop spoedig afgehandel is. Ons het pas tevore ons nuwe fabriek klaar gebou wat R11 miljoen gekos het, maar toe die Here se volk van ons verdere finansiële behoeftes verneem het, was die fondse gou beskikbaar.
Nog woongeboue
Gedurende die vyftigerjare het ons eiendom oorkant die straat van Columbia Heights 124 aangekoop en in 1959 en 1960 ’n groot nuwe woongebou opgerig. Maar dit is sedert 1965 baie moeiliker om nuwe woongeboue op te rig. Daardie jaar het die regering die gebied waar Bethel geleë is as ’n historiese gebied verklaar. Daar is gevolglik geweldige beperkings op konstruksie- en restourasiewerk geplaas. Met Jehovah se hulp kon ons egter nog altyd in ons behoeftes voorsien.
Ons het byvoorbeeld in 1967 aansoek gedoen om ’n sesverdiepingwoongebou te Columbia Heights 119 te bou. Omdat dit as ’n historiese gebied verklaar is, het ons alreeds ons oorspronklike 12 verdiepings tot 6 verminder. Die plaaslike owerheid het ons egter nou probeer dwing om nog ten minste een verdieping weg te laat.
Ek het in Junie die voorsitter van die Brooklyn-munisipaliteit genader en hy het gesê dat hy ons gebou op ses verdiepings sal probeer hou as ons die fondamente voor die September-vergadering van die Raad vir Konsepraming, die vernaamste stadsbestuursraad, kan gooi. Ons konstruksie-organisasie het so vinnig moontlik gewerk, en teen September kon die fondamente gegooi word.
Die voorsitter van die munisipaliteit het die dag voor ons saak in die openbaar verhoor sou word met my in aanraking gekom. Hy het versoek dat ons twee uur voor die Raad vir Konsepraming hulle openbare vergadering sou open by die stadsaal moes wees om hom privaat te ontmoet. Ek, broer Knorr en broer Suiter, ons sekretaris-tesourier, was dus baie vroeg die volgende oggend by die stadsaal. Terwyl ons bespreek het wat die beste manier sou wees om ons saak aan die Raad vir Konsepraming voor te lê, het ’n tegniese besonderheid opgeduik waarby die Kommissie vir Stadsbeplanning betrokke was. ’n Oproep is gedoen om die saak op te klaar. Die kommissaris van stadsbeplanning het dadelik gesê dat hy die situasie self sou kom behartig. “Aangesien daar heelwat openbare beswaar teen julle saak sal wees”, het hy gesê, “sal ek aanbied om die Wagtoringgenootskap voor die Raad te verteenwoordig.”
Ons was natuurlik verheug oor sy aanbod. Die prosedure voor die Raad vir Konsepraming is dat hulle al die sake op hulle lys vir die dag uitroep, en as daar enige besware is wat aangehoor moet word, word die saak tot die middag uitgestel. As daar geen besware is nie, besluit hulle dadelik oor die saak. Ons saak is vroeg die oggend uitgeroep, en die kommissaris van stadsbeplanning het opgestaan en vir die burgemeester gesê: “Ek wil graag namens die Wagtoringgenootskap optree.”
“U weet dis nie ons prosedure om ’n bespreking toe te laat wanneer ’n saak net uitgeroep word nie [gewoonlik word bespreking tot die middag uitgestel]”, het die burgemeester geantwoord. “Ek weet egter dat u baie besig is, Kommissaris, daarom sal ek ’n uitsondering maak en u versoek toestaan.” Die kommissaris het toe voortgegaan om ons saak te stel, en die Raad vir Konsepraming het met ’n eenparige stemming ons versoek goedgekeur. Toe ons die raadsaal verlaat, het die prokureur vir die opposisie in die gang aangehardloop gekom en uitgeroep: “Ek het ’n uur se betoog teen hierdie saak.” Maar hy was te laat! Ons het aangeloop en Jehovah vir die oorwinning gedank.
Ek moet sê dat dit deur die jare heen ’n baie lonende voorreg was om die Genootskap in hierdie sakeaangeleenthede te verteenwoordig. Dit was ook ’n groot vreugde om die ontsaglike toename in die wêreldwye predikingswerk te sien wat die aankoop van al hierdie geboue genoodsaak het. Ek is op 1 Januarie 1977 die vise-president van die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., gemaak, en dit het my baie gehelp om na hierdie sakeaangeleenthede om te sien.
Gelukkig in Betheldiens
Sedert ek in 1939 by Bethel aangekom het, het die Bethelgesin in Brooklyn van omtrent 185 tot meer as 2 800 permanente lede gegroei en by Watchtower Farms tot meer as 900! Ek is al dikwels gevra: “Wat het jou gehelp om die afgelope 50 jaar in Bethel te bly?” My antwoord is altyd: “Ek het nog nooit aan iets anders as Betheldiens gedink nie.”
Verder is daar op die Bethelaansoekvorm wat ek ingevul en geteken het, gevra: “Onderneem jy om in Bethel te bly totdat die Here jou wegneem?” Hy het my nie weggeneem nie, daarom is ek nog hier en put ek genot uit my diens aan Jehovah. Ek was van my toewydingsdag af vasbeslote om voltydse diens my lewensloopbaan te maak.
Gedurende my vroeë jare in Bethel het die reëlings nie voorsiening gemaak vir huwelike nie en daarom was ek, soos baie ander, tevrede om ongetroud te bly en in Bethel te dien. Toe die Bethelgesin se beleid egter verander het en huwelike toegelaat is, is ek op 7 April 1956 met Helen Lapshanski getroud. Sy het in 1951 na Bethel gekom. Ons koester nog altyd mekaar se kameraadskap en wedersydse hulp.
Helen het vroeg in ons huwelik verspreide sklerose opgedoen, en die siekte het in onlangse jare vererger. Maar met behulp van ’n loopraam en ’n batteryaangedrewe rytuig kan sy goed rondbeweeg. Sy het ’n wonderlike, opgewekte gees behou en werk elke dag in die Bethelkantoor.
Terwyl ons grootgeword het, was ek en my suster Jean baie na aan mekaar en het ons dinge saam gedoen. Sy was derhalwe altyd vasbeslote om my te volg, en in 1943 is sy na Bethel genooi. Sy en Russel Mock is in 1952 getroud en hulle dien albei saam met ons as lede van die Bethelgesin.
Ek glo vas dat Bethel die beste plek op die aarde duskant die komende Paradys is. Ek was nog nooit ’n oomblik spyt dat ek voltydse diens my loopbaan gemaak het nie. Wat ’n vreugde was dit tog nie om die groot toename in Jehovah se aardse organisasie te sien en daarin te deel nie! Ek is vasbeslote om Bethel, met Jehovah se hulp, steeds my tuiste te maak en my heelhartig op die bevordering van Koninkryksbelange toe te lê.
[Lokteks op bladsy 30]
“Ek glo vas dat Bethel die beste plek op die aarde duskant die komende Paradys-aarde is”
[Prent op bladsy 24, 25]
Bo: Die gebou te Furmanstraat 360, wat in 1983 gekoop is
Onder: Die gebou te Columbia Heights wat ons in 1969 van die Squibb- farmaseutiese maatskappy gekoop het
Links: Broer Knorr was my hoofbron van hulp en onderrigting
Onder: Teen 1986 het ons ses fabrieksgeboue gehad wat met brûe oor die straat verbind is
[Prent op bladsy 27]
Die fabriek nadat dit in 1949 vergroot is
[Prent op bladsy 30]
Ons troudag