Handhaaf jou geloof en geestelike gesondheid
“Bly vashou aan die patroon van gesonde woorde wat jy van my gehoor het met die geloof en liefde wat in verband met Christus Jesus is.”—2 TIMOTHEÜS 1:13, “NW”.
1. Waarom is goeie fisiese gesondheid ’n waardevolle besitting wat gehandhaaf moet word?
GOEIE fisiese gesondheid is ’n kosbare besitting. Wanneer ons gesond is, kan ons baie dinge doen en die lewe meer geniet. Maar wanneer ons chronies siek of liggaamlik swak is, is die lewe baie moeiliker. Goeie gesondheid moet natuurlik gehandhaaf word. Baie verwaarloos hulle gesondheid of doen dinge wat siekte veroorsaak. Maar gewoonlik het diegene wat goed na hulself omsien feitlik lewenslank ’n mate van goeie gesondheid en krag.
2. (a) Waarom is geestelike gesondheid kosbaarder as fisiese gesondheid? (b) Wat is nodig om gesond in die geloof te bly?
2 Geestelike gesondheid is baie belangriker as fisiese gesondheid. Die beste fisiese gesondheid kan nie God se gawe van die ewige lewe meebring nie. Goeie geestelike gesondheid spruit voort uit rein aanbidding en geloof wat op juiste kennis gegrond is (Johannes 17:3, vgl. NW; Hebreërs 11:6; Jakobus 1:27). Die apostel Paulus het gesê: “Die ou manne moet nugter wees, waardig, ingetoë, gesond in die geloof, in die liefde, in die lydsaamheid” (Titus 2:2). Enigiemand wat gesond in die geloof wil wees, moet hom ywerig inspan en voortdurend waaksaam bly. Bedreigings vir goeie geestelike gesondheid kan uit ons binneste of uit eksterne bronne kom. Ons moet bewus wees van hierdie bedreigings as ons geloof en geestelike gesondheid in hierdie siek wêreld wil handhaaf.
Hoe siek is hierdie wêreld?
3, 4. Hoe word sedesiekte in hierdie wêreld en in mense se dade weerspieël?
3 Dit ly geen twyfel nie dat hierdie wêreld sedelik gesproke baie siek is. Ons sien dodelike siekte in al die “organe” van hierdie wêreld—sy godsdienste, sy politieke stelsels, sy handelsinstellings en sy vermaak. Min mense respekteer God en die wette wat hy vir die mensdom se beswil gegee het. En soos die geskiedenis toon, lei sedeverval sonder uitsondering tot ’n toename in fisiese siektes en probleme. Ironies genoeg wil die meeste mense nie probeer om hierdie siek sedetoestand te genees nie, want hulle hou van die oorsake daarvan.
4 Hoe siek is hierdie wêreld tog nie! In ’n soeke na opwinding of in ’n poging om aan die werklikheid te ontvlug, het baie hulle lewe deur alkohol- en dwelmmisbruik geruïneer. Geweld is aan die orde van die dag, die lewe is waardeloos en gevangenisse is stampvol misdadigers. In baie lande loop die helfte van die huwelike op egskeiding uit. Kinders wat sonder behoorlike ouerlike toesig grootword, word misdadigers. Omdat geslagsonsedelikheid hoogty vier, versprei Vigs en ander seksueel oorgedraagde siektes vinnig.
5. Hoe het Jesaja toestande in eertydse Juda beskryf?
5 God kan dieselfde van hierdie siek wêreld sê as wat hy Jesaja geïnspireer het om van wederstrewige Juda te sê: “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai. Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie.”—Jesaja 1:4-6.
6. Hoe het mense in eertydse Juda en in ons dag gereageer op Jehovah se beroep op hulle om goed te leer doen?
6 Jehovah se beroep op hulle om berou te toon en te “leer om goed te doen”, is deur die meeste mense in Juda veronagsaam (Jesaja 1:16-20). Dit het uiteindelik tot die vernietiging van Jerusalem en die ballingskap van die Jode in Babilon gelei. Net ’n paar getroues uit die siek nasie is deur God geseën en bewaar. In hierdie wêreld wat van kop tot tone siek is, is daar vandag eweneens net ’n paar wat wil leer om goed te doen. Hierdie getroue diensknegte van Jehovah probeer hard om nou geloof en geestelike gesondheid te handhaaf en hoop om in God se beloofde nuwe wêreld volmaakte fisiese gesondheid en die ewige lewe te verkry.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.
Geestelike gevare in hierdie siek wêreld
7. (a) Watter gevare bedreig ons geloof en geestelike gesondheid? (b) Wat sê die Skrif oor hoe ons die drie vernaamste elemente wat geestelike gesondheid in gevaar stel die hoof kan bied?
7 Dit is ’n uitdaging om geloof en geestelike gesondheid te handhaaf omdat hierdie wêreld se sedesiekte baie aansteeklik is. Christene moet ook teen hul oorgeërfde onvolmaaktheid stry (Romeine 7:21-25). Daarbenewens ken Satan, “die owerste van hierdie wêreld”, die swakhede van die vlees en is hy ’n aartsversoeker (Johannes 14:30; 1 Johannes 5:19). Hierdie drie vernaamste gevare wat geloof en geestelike gesondheid bedreig—naamlik die vlees, die wêreld en die Duiwel—is gedug. Maar dit ís moontlik om “geen deel van die wêreld” te wees nie, al lewe ons daarin. Ons kan bly ‘wandel deur die gees en nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie’. En ons kan met goddelike hulp ‘staande bly teen die liste van die duiwel’ (Johannes 17:15, 16, NW; Galasiërs 5:16; Efesiërs 6:11; 2 Korinthiërs 2:11). Kom ons kyk nou hoe ons hierdie drie vernaamste elemente wat geloof en geestelike gesondheid in gevaar stel die hoof kan bied.
8. Hoe beskryf Jesus die kragte in ons wat geestelike gesondheid teëwerk?
8 Kragte wat tot sonde kan lei en ons geestelik siek kan maak, maak deel uit van ons onvolmaakte menslike natuur (Jakobus 1:14, 15). Dit is veral die geval in die figuurlike hart. Jesus het gesê: “Van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”—Markus 7:21-23.
9. (a) Watter begeertes setel in die figuurlike hart? (b) Hoe kan ons volgens Spreuke 4:20-23 die hart bewaak?
9 Hoewel die hart die bron van slegte begeertes is, is dit in godvrugtige persone ook die setel van eerbied vir Jehovah en liefde vir wat reg is (Mattheüs 22:37; Efesiërs 4:20-24). Wat ons in ons hart inneem, bepaal of goed of sleg in ons geval die oorhand sal hê. God se Woord vermaan ons: “My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ’n genesing vir hulle hele liggaam. Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—Spreuke 4:20-23.
10. Watter uitwerking het ons vleeslike swakhede op ons emosies en begeertes?
10 Ons vleeslike swakhede het ’n uitwerking op ons emosies en begeertes. Wie het nie af en toe met ontmoediging, ongeduld en liggeraaktheid te kampe nie? As ons hierdie vleeslike neigings onmiddellik regstel, kan ons ons geestelike gesondheid handhaaf. Maar trots en ambisie kan vinnig in die hart wortelskiet. ’n Begeerte na buitensporige genietinge en brasserye kan die oorhand kry. En geslagsdrange, wat weliswaar iets natuurliks is vanweë die manier waarop God ons gemaak het, kan ons op subtiele wyse verlok. Ons kan voorkom dat ons sulke geestelike siekte opdoen deur elke dag die vrug van God se gees in ons lewe aan te kweek en onsself te oefen om te “verafsku wat sleg is” en ‘die goeie aan te hang’.—Romeine 12:9; Galasiërs 5:22.
Eksterne bronne van geestelike siekte
11. (a) Watter wêreldse gesindhede en optrede is uiters aansteeklik? (b) In watter opsig moet ons, volgens Jesus, ons hart oppas?
11 Geestelike infeksie kan van eksterne bronne kom. Dit kan deur mense wat geestelik dood is aan ons oorgedra word (Efesiërs 2:1-3). As ons te na aan hulle is, kan ons hulle gesindhede en lewenstyle aanleer. Vooruitgang op sekulêre gebied, liefde vir geld, die allerbeste materiële besittings en pret is vir mense van hierdie wêreld die belangrikste dinge in die lewe. Maar die begeerte na sulke dinge is uiters aansteeklik en selfs beperkte blootstelling daaraan kan ons geestelik traag maak. Jesus het gewaarsku: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.”—Lukas 21:34, 35.
12. Hoe kan verkeerde idees en leringe geestelike gesondheid in gevaar stel?
12 Hierdie wêreld se verkeerde idees en leringe kan ons ook besmet. Paulus het gewaarsku: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timotheüs 4:3, 4). Valse leringe is soos gangreen (2 Timotheüs 2:16, 17, NW). Wanneer dit intree, gaan ’n gedeelte van jou vlees dood omdat lewegewende bloed van daardie liggaamsdeel afgesny is.
13. Wat moet ’n mens doen as geestelike siekte soos gangreen ingetree het?
13 Hoe vinnig versprei gangreen tog nie! Die dokter sal daardie liggaamsdeel dalk moet afsit om te verhoed dat jy doodgaan. As twyfelgedagtes, klagtes of afvalligheid dreig om jou geestelik te besmet, moet jy derhalwe vinnig daarvan ontslae raak! (Vergelyk Mattheüs 5:29, 30.) Vra die gemeentelike ouere manne om hulp. Moenie word soos diegene wat volgens Paulus “’n sieklike sug na twisvrae en woordestryd” gehad het omdat hulle nie ‘met die gesonde woorde ingestem’ het nie.—1 Timotheüs 6:3, 4.
14. Wat sal die ouere manne dalk moet doen om die geestelike gesondheid van die gemeente te beskerm?
14 Ouere manne moet ‘met die gesonde leer vermaan en die teësprekers weerlê’ om die geestelike gesondheid van die gemeente te beskerm (Titus 1:9, 13, 16; 2:1). Miskien kan sulke persone tot geestelike gesondheid herstel word (2 Timotheüs 2:23-26). Maar sê nou hulle bevorder valse lering onberouvol? Dan moet hulle as ’t ware onder kwarantyn geplaas word. Hulle word uitgesit, en ons bly van hulle weg sodat hulle geestelike infeksie nie na ons versprei nie.—Romeine 16:17, 18; 1 Korinthiërs 5:9-13; Titus 3:9-11.
15. Watter twee vernaamste benaderings het die Duiwel gebruik om die geestelike gesondheid van God se volk te probeer ondermyn?
15 Die derde bron van gevaar vir geloof en geestelike gesondheid is die Duiwel (Efesiërs 6:11, 12). Hy probeer vandag nog om die geloof van Jehovah se volk te ondermyn deur vervolging, waaronder gepeupelgeweld, slae, opsluiting en dreigemente van die dood (Openbaring 2:10). Aangesien Satan selde met hierdie taktiek daarin slaag om een van God se diensknegte sy onkreukbaarheid te laat prysgee, gebruik hy die lokmiddels van hierdie wêreld, waarvan hy die god is, in ’n poging om party te laat val.—2 Korinthiërs 4:4; 11:3, 14.
16. Watter verdedigingsmiddele het ons om die Duiwel se aanvalle op ons geloof en geestelike gesondheid te weerstaan?
16 Hoe kan ons die Duiwel se aanvalle weerstaan? Deur die volle geestelike wapenrusting van God aan te trek. Ons moet veral ‘die skild van die geloof opneem waarmee ons al die vurige pyle’ wat Satan na ons skiet, kan uitblus. Ons moet ook in ooreenstemming met Jesus se woorde bid: “Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Efesiërs 6:11-18; Mattheüs 6:13). As ons só bid en ooreenkomstig ons gebede optree, kan ons verwag dat ons hemelse Vader ons sal help om al Satan se vurige pyle uit te blus.
Hoe ons gesond kan bly in die geloof
17. Hoe belangrik is die inname van “voedsel op tyd” en gereelde deelname aan Christelike bedrywighede as ons geestelik gesond wil bly?
17 Voorsorg is ’n belangrike faktor by die handhawing van goeie fisiese gesondheid. Voedsame kos, behoorlike oefening en die algemene versorging van die verstand en liggaam is noodsaaklik. Natuurlike verdedigingsmeganismes teen siekte is sterker in ’n gesonde liggaam. As ’n mens geestelik gesond wil bly, is dit eweneens noodsaaklik om die dieet te volg wat God voorskryf en waardering te hê vir die voedsame geestelike “voedsel op tyd” wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien word. Ons moet die geestelike prulkos van die wêreld verwerp, die Bybel en Christelike publikasies bestudeer en gereeld saam met God se volk vergader (Mattheüs 24:45-47; Hebreërs 10:24, 25). Ons het ook die oefening nodig wat ons kry as ons in die bediening en ander Christelike bedrywighede “altyd oorvloedig in die werk van die Here” is.—1 Korinthiërs 15:58.
18. Wat is “die patroon van gesonde woorde”, en waarom moet ons dit in ons hart en verstand hou?
18 Jy kan gesond in die geloof bly deur al God se geestelike voorsienings ten volle te gebruik. Soos Paulus vir Timotheüs gesê het: “Bly vashou aan die patroon van gesonde woorde wat jy van my gehoor het met die geloof en liefde wat in verband met Christus Jesus is. Bewaar hierdie voortreflike pand deur middel van die heilige gees wat in ons woon” (2 Timotheüs 1:13, 14, NW). ’n Taal het ’n patroon van woorde. Die “suiwer taal” van Bybelwaarheid het insgelyks ’n patroon wat hoofsaaklik op die tema van Jehovah se regverdiging deur die Koninkryk gebaseer is (Sefanja 3:9, NW). Ons moet hierdie patroon van gesonde woorde in ons hart en verstand hou as ons ons geloof en geestelike gesondheid wil handhaaf. Anders sal dit vir ons al hoe onbelangriker word. Dit het blykbaar in die gemeente in Korinthe gebeur, waar sommige mense weens ’n gebrek aan geestelike begrip ‘swak en sieklik’ was.—1 Korinthiërs 11:29-32.
19. (a) Wat moet ’n mens doen as jy geestelik siek geword het? (b) Wat kan ouere manne doen as iemand geestelik siek is?
19 Wat moet jy doen as jy geestelik siek geword het? Liefdevolle hulp is beslis nodig en is beskikbaar, want Jakobus sê: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het” (Jakobus 5:14). Ja, roep die ouere manne in. As geestelike geneeshere kan hulle jou help om tot die kern van die geestelike siekte deur te dring. Hulle sal die genesende olie van God se Woord sagkens dog doeltreffend invryf. As jy gesondig het maar berou het, kan jy seker wees dat Jehovah waarlik vergewe (Psalm 103:8-14). Wat kan jy verwag wanneer die ouere manne saam met jou en ten behoewe van jou bid? Jakobus antwoord: “En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.”—Jakobus 5:15.
Geestelike gesondheid lei tot die ewige lewe
20. (a) Watter raad het die eerste-eeuse bestuursliggaam omtrent die handhawing van geestelike gesondheid gegee? (b) Wat sal ons help terwyl ons op die seëninge van die nuwe wêreld wag?
20 “Ons wens julle goeie gesondheid toe!” Daardie woorde was die slot van die brief waarin die eerste-eeuse bestuursliggaam van Jehovah se volk “noodsaaklike dinge” gemeld het wat Christene moes nakom. Hulle moes hulle “onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:28, 29, vgl. NW). Daardie voorskrif vir goeie geestelike gesondheid is steeds van krag. En terwyl ons wag op die seëninge van die nuwe wêreld kan ons ons geloof en geestelike gesondheid handhaaf as ons ywerig aanhou om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en Jehovah se naam hoog te hou in hierdie siek wêreld. As ons op hierdie manier besig bly, sal dit voorkom dat ons ongeduldig word om die seëninge van die nuwe wêreld wat nou ophande is te ontvang. Ja, “’n uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ’n wens wat uitkom, is ’n lewensboom”.—Spreuke 13:12.
21. Watter seëninge lê voor vir diegene wat hulle geloof en geestelike gesondheid in hierdie siek wêreld handhaaf?
21 Moenie die wonderlike seëninge verbeur wat Jehovah voorhou aan diegene wat hom liefhet nie. Al die kere wat jy wêreldse invloede weerstaan, met jou vleeslike swakhede gestry en die Duiwel se vurige pyle afgeweer het, sal nie tevergeefs gewees het nie. In Jehovah se nuwe wêreld sal jy self die tyd beleef wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Dit sal ’n werklikheid wees danksy God se voorsiening deur die losprysoffer van Jesus Christus, wat “ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra” het (Mattheüs 8:17; Jesaja 53:4). Jy sal uit die simboliese “rivier van die water van die lewe” kan drink en kan eet van “bome van die lewe” wat blare “tot genesing van die nasies” het (Openbaring 22:1, 2, vgl. NW). As jy jou geloof en geestelike gesondheid in hierdie siek wêreld handhaaf, sal jy met die ewige lewe in volmaaktheid en geluk beloon word.
Onthou jy?
◻ Waarom is dit belangriker om gesond in die geloof te wees as om fisies gesond te wees?
◻ Wat is die drie vernaamste dinge wat geloof en geestelike gesondheid in gevaar stel?
◻ Watter verband is daar tussen goeie geestelike gesondheid en die figuurlike hart?
◻ Wat moet ’n mens doen as jy geestelik siek is?
[Prente op bladsy 16]
Dit is moontlik om selfs in ’n siek wêreld sterk geloof en goeie geestelike gesondheid te hê
[Prente op bladsy 18]
Goeie geestelike gesondheid hang af van ywerige Christelike bedrywigheid en die gereelde inname van geestelike voedsel op tyd