Jesus se lewe en bediening
In Betanië, in die huis van Simon
WANNEER Jesus Jerigo verlaat, gaan hy na Betanië. Die reis duur die grootste deel van die dag, aangesien dit ’n klim van sowat 19 kilometer oor moeilike terrein is. Jerigo is sowat 250 meter onder die seespieël en Betanië sowat 760 meter bo die seespieël geleë. Betanië is, soos jy dalk onthou, die tuiste van Lasarus en sy susters. Die dorpie is ongeveer drie kilometer van Jerusalem af teen die oostelike hang van die Olyfberg geleë.
Baie het reeds in Jerusalem aangekom vir die Pasga. Hulle het vroeg gekom om hulleself seremonieel te reinig. Dalk het hulle ’n dooie liggaam aangeraak of iets anders gedoen wat hulle onrein gemaak het. Hulle volg dus die voorgeskrewe prosedures om hulleself te reinig sodat hulle die Pasga op aanvaarbare wyse kan vier. Terwyl hierdie vroeë aankomelinge by die tempel vergader, spekuleer baie oor die vraag of Jesus die Pasga sal bywoon.
Jerusalem is ’n broeines van twis oor Jesus. Almal weet dat die godsdiensleiers hom wil arresteer om hom dood te maak. Trouens, hulle het beveel dat as enigiemand uitvind waar hy is, dié persoon die godsdiensleiers moet laat weet. Hierdie leiers het drie keer in die voorafgaande maande—tydens die Huttefees, tydens die fees van die tempelwyding en nadat hy Lasarus opgewek het—probeer om Jesus dood te maak. Die mense wonder dus of Jesus hom nog ’n keer aan die gevaar gaan blootstel. “Wat dink julle?” vra hulle mekaar. “Sal Hy nie na die fees kom nie?”
Intussen kom Jesus in Betanië aan, ses dae voor die Pasga, wat volgens die Joodse kalender op 14 Nisan val. Jesus bereik Betanië die een of ander tyd Vrydagaand, wat aan die begin van 8 Nisan is. Hy kon nie Saterdag na Betanië gereis het nie, want reis op die Sabbat—van sononder Vrydag tot sononder Saterdag—word deur die Joodse wet verbied. Jesus gaan waarskynlik na Lasarus se huis, soos hy vroeër gedoen het, en bring Vrydagnag daar deur.
Maar ’n ander inwoner van Betanië nooi Jesus en sy metgeselle Saterdagaand vir aandete. Die man is Simon, ’n voormalige melaatse, wat dalk vroeër deur Jesus genees is. Lasarus is een van dié wat saam met Jesus aan tafel is. In ooreenstemming met haar vlytige geaardheid bedien Marta die gaste. Maar Maria is op kenmerkende wyse bedagsaam teenoor Jesus, hierdie keer op ’n manier wat twis wek.
Maria maak ’n albaste fles oop wat ongeveer ’n halwe kilogram geparfumeerde olie, ‘egte nardussalf’, bevat. Dit is baie kosbaar. Trouens, die waarde daarvan is gelyk aan nagenoeg ’n jaar se loon! Wanneer Maria die olie op Jesus se kop en op sy voete uitgooi en sy voete met haar hare afdroog, vul die aromatiese geur die hele huis.
Die dissipels is kwaad en vra: “Waarvoor is hierdie verkwisting?” Dan sê Judas Iskariot: “Waarom is hierdie salf nie vir driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie?” Maar Judas is nie werklik oor die armes besorg nie, want hy het uit die dissipels se beurs gesteel.
Jesus verdedig Maria. “Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het ’n goeie werk aan My gedoen. Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ’n gedagtenis aan haar.”
Jesus is nou al langer as 24 uur in Betanië, en sy teenwoordigheid is algemeen bekend. Baie kom derhalwe na Simon se huis om Jesus te sien, maar hulle kom ook om Lasarus te sien. Die owerpriesters beraadslaag dus om nie net Jesus nie maar ook Lasarus dood te maak. Hulle doen dit omdat baie mense in Jesus glo noudat hulle die een wat hy uit die dood opgewek het lewend gesien het! Hierdie godsdiensleiers is voorwaar goddeloos! Johannes 11:55–12:11; Mattheüs 26:6-13; Markus 14:3-9; Handelinge 1:12.
◆ Wanneer kom Jesus in Betanië aan, en waar bring hy waarskynlik die Sabbat deur?
◆ Wat word by die tempel bespreek, en waarom?
◆ Watter daad van Maria wek twis, en hoe verdedig Jesus haar?
◆ Waardeur word die groot goddeloosheid van die owerpriesters toegelig?